
Dr. Dirk Hermann is die bestuurshoof van Solidariteit. (Foto verskaf)
Solidariteit het Maandag sy volgende stappe bekendgestel om die regering se raswette tot op die hoogste vlak by die Verenigde Nasies te beveg. Hier is dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se toespraak tydens die bekendstellingsgeleentheid.
Raswette moet stop, en die tyd is nóú.
Eskom se ligte is af.
Transnet se treine staan.
Slaggate word sinkgate en riool vloei die strate af.
Ministers word misdadigers en politici plunder.
Hoe het ons hier gekom?
Wanneer ʼn land fokus op hoe mense se velkleur lyk eerder as op dít wat hulle doen, dan eindig dit by ʼn regering wat kamstig “reg” lyk, maar niks doen nie.
Kom ons wees eerlik, raswette het al hierdie veroorsaak.
Dis tyd dat dit gesê word.
Die antwoord is duidelik: Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Daar is van wit vaardige werknemers ontslae geraak weens hulle velkleur. Daar was nie tyd vir institusionele kennis en vaardigheidsoordrag nie, want die maatskappy moet “reg” lyk.
Al hierdie goed word gedoen onder die vaandel van mooi woorde soos regstelling, gelykheid, diversiteit en transformasie.
Die uitkoms is ongelykheid, plundering, selfverryking en die vernietiging van ʼn staatsdiens.
Die land is op die afgrond. Daar is nie meer plek vir vasklou aan ras nie. Dis tyd vir die beste – swart, bruin, Indiër óf wit. Ons kan niks anders bekostig nie. Wat die kleur van die hande is wat ons vanaf hierdie afgrond terugtrek maak nie saak nie. Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Noudat die ras-nasionaliste die staatsdiens vernietig het, kom hulle vir die privaat sektor. Mal raskwotas word gestel met enorme strawwe as jou onderneming nie “reg” lyk nie.
Amper 500 000 wit, bruin en Indiër-werknemers moet waai om die rasmonster te paai.
Mense kan nie bly en werk waar hulle wil nie – in die naam van diversiteit moet elke provinsie, stad, dorp en onderneming presies dieselfde lyk.
Gelukkig is dié mal rasplanne tydelik deur die krag van die gemeenskap gestuit, maar hulle gaan weer kom. Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
SEB (in Engels bekend as BEE) het verander in ‘Black Elite Enrichment’. Die elite ‘black Africans’ wil nóg hê en hulle vat dit by die armes – wit, bruin, Indiër én swart. Die land is kwaad. Uiteindelik plunder die swart elite onder die dekmantel van “breë ekonomiese bemagtiging” en drink hulle duur sjampanje in hulle blouligbrigades terwyl swanger vrouens op staatshospitale se vloere lê en hulle babas in kartonbokse probeer versorg.
Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Sportspanne op skool moet eers “reg” lyk voordat daar aan wedstryde deelgeneem mag word. Spanne word letterlik uit wedstryde geskop as hulle te wit of te swart is – ongeag wat die telling is. Behoeftige studente se kleur bepaal of hulle beurse kry. Dit eindig by swart studente wat wit studente keer om by Tukkies in te gaan, want Suid-Afrika is nou ‘blacks only’.
Waarom is dit verkeerd om wit studente by die hek te keer, wanneer die parlement wet na wet proklameer wat wit mense in alle ander areas keer?
Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Die ras-nasionaliste het welsyn na “velsyn” verander, met die kleur van jou vel wat bepaal of jy hulp ontvang. Die regering help slegs jong, swart werklose mense met hulle jeugprogramme – jong, wit werkloses is op hulle eie. Tydens die Covid-19-pandemie moes jy en jou onderneming swart wees om hulp te ontvang. Alhoewel die siekte nie velkleur raakgesien het nie, het die regering steeds. Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Solidariteit het ʼn klag by die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie gaan lê om hierdie malligheid stop te sit. Suid-Afrika is by verre die mees rasgereguleerde land ter wêreld. Al waarna ons regering kyk, is jou velkleur.
Die ras-nasionaliste oortree alle internasionale standaarde, daarom begin die VN met ʼn verhoorproses. Eers kyk die VN of dit moontlik is om ʼn ooreenkoms plaaslik te bemiddel.
Dertig organisasies beraadslaag en besluit saam dat Suid-Afrika ʼn plek moet wees waar jou velkleur minder moet saak maak as dit wat jy doen. Hofsake begin en druk op die regering word onuithoudbaar groot.
Weens hierdie druk kon Solidariteit ʼn ooreenkoms met die regering bereik, voortspruitend uit die VN-klag.
Niemand mag op grond van hulle ras afgedank word nie.
Ras mag nie meer die enigste faktor wees nie.
Rasstellende aksie moet tydelik wees en vaardighede moet in ag geneem word.
Die land begin skuif na ʼn plek waar dit wat jy kan doen eerder in ag geneem word as jou velkleur.
Alhoewel dit ʼn groot deurbraak is, is die oorlog teen raswette nog nie verby nie.
Nou gaan ons verder. Solidariteit gaan weer ʼn klag by die VN lê. Ons veg voort en harder. Die VN en Solidariteit se ooreenkoms met die regering sê raswette moet tydelik wees. Ons wil nou die einde sien. Dit is tyd.
Einde November gaan Suid-Afrika en Solidariteit weer voor die VN verskyn. Solidariteit neem hulle vorige sukses nog verder. Hierdie keer vra ons duidelik: Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Soos met die vorige wen moet ons weer vir die VN wys Solidariteit het plaaslike steun. Nie bietjie nie, báie. Honderdduisende mense. Honderdduisende wat moeg is vir die toestand waarin die land tans is. Honderdduisende mense wat glo dat dit wat jy doen belangriker is as jou velkleur. Honderdduisende mense wat saam sê: Raswette moet stop. Die tyd is nóú.
Ons durf nie ophou veg voor álle raswette stop nie. Die tyd is nóú.
Dankie, Solidariteit !
ek stem saam.
Die wêreld stel nie belang in 5 miljoen (blank en kleurlinge) minderheid nie. Dis dieselfde spulletjie wat die ANC jare gelede ondersteun het. Nee wat, as ons iets wil doen, moet ons dit self doen en laat gebeur.
Die huidige benaadeeldes moet net saamstaan, die Springbokke moet weier om te speel as die kwota sisteem nie geskrap word nie ,die universiteite moet geboikot word wat nie almal op meriete vir sekere rigting laat studeer nie.Die media moet hulle politieke korrektheid staak en die feite gee soos dit is.
Die huidige benadeeldes is verknog aan sport. Sondagaand is hulle vasgenael voor die kassie.
Afrikaners en ander minderhede is op hul eie. Onderdrukking gaan net erger word. Jy klop aan die verkeerde deur. Die VN is nie ons redders nie. Was ook nog nooit. Moet ook nie te veel steun uit eie geledere verwag nie. Ons ou volkie se prioriteite is ongelukkig besig om te verander. Trouens, dit lyk of ons ons lot aanvaar.