Reageer só op Malema

bly-kalm-en-stig-n-buurtwag-afriforum

Grafika: Verskaf.

Bly kalm en stig ’n buurtwag!

Ek het die bedenklike voorreg gehad om in lewende lywe na Julius Malema se toespraak tydens sy onlangse hofverskyning in Bloemfontein te luister. Van die opruiende uitlatings wat hy gemaak het, was onder meer: “Afrikaner-boys, die poppe gaan dans. Die EFF kom vir julle.” Ook: “Ons is nie bang vir Afrikaners nie. Wit mense is bang vir die EFF.” As dit nie vir die polariserende aard van sy toespraak was nie, sou ek dit beskou het as een van die beste optredes deur ’n komediant voor ’n klein gehoor wat ek ooit gehoor het.

Malema moet besef dat geweld deur sy ondersteuners ’n reaksie sal uitlok wat uiteindelik tot nadeel van almal in die land sal strek. Hy moenie geweld romantiseer nie. Dit is nie romanties nie, want as jy begin skiet, gaan daar ook op jou geskiet word. Die werklikheid het ook gewys dat dié wat luidrugtig geweldpraatjies maak, die eerste is om weg te hardloop as moeilikheid uitbreek. Verder misgis Malema hom indien hy die selfbeheersing wat minderheidsgroepe tot dusver teenoor sy uitlokkende uitsprake getoon het, as swakheid beskou.

Die vraag is hoe Afrikaners en wit mense moet reageer op Malema se geweldpraatjies. Daar is drie opsies: Afrikaners en ander minderheidsgroepe kan dit ignoreer en afmaak as bloot politieke retoriek; in vrees verval; of kalm daarvan kennis neem en iets daaraan doen.

Probleme word nie opgelos deur dit net te ignoreer nie. Minderheidsgroepe in Zimbabwe het reeds die ignoreer-opsie probeer en die resultaat is daar vir almal om te sien.

Om in vrees te verval is ook nie ’n opsie nie, aangesien dit ’n verlammende uitwerking het. Ons is nie gebore om in vrees te leef nie. Dit is daarom belangrik dat almal wat vreesbevange raak oor Malema se uitlatings ’n oomblik stil staan en die werklikheid in perspektief sien. Die werklikheid is dat Malema en sy volgelinge ’n klein groepie is met meer blaf as byt. Die meerderheid mense in die land glo net soos AfriForum dat daar wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe moet wees en hulle is nie voorstanders van geweld nie. Tydens die verkiesing het die EFF slegs sowat 8% van die stemme getrek. Dus het 92% van die stemmers nie vir die EFF gestem nie. Hoewel Malema graag voor die kameras dreigemente maak, het die werklikheid gewys dat hy nie die dreigemente doeltreffend op grondvlak uitgevoer kry nie. Só het Malema al gedreig om banke en grond grootskaals te beset. Daar het dadels van gekom. Wanneer ’n mens kyk na die aantal ondersteuners wat hy tydens sy optog van 2 November in Pretoria – asook tydens sy hofverskyning in Bloemfontein – kon mobiliseer, is die groep relatief klein. Die vermaaklikheidswaarde vir omstanders is groter as die werklike impak van die deelnemers.

Wanneer ’n klein hondjie jou bestorm hoef jy nie in vrees te verval nie. Maar jy kan hom ook nie ignoreer nie, want hy kan jou aan die hakskeen byt as jy wegkyk. Soortgelyk is die beste manier om op Malema te reageer om kalm kennis te neem van sy uitlatings, hom fyn dop te hou, voor te berei en stappe te neem dat hy nie figuurlik gesproke minderheidsgroepe aan die hakskeen kan byt nie.

Die stappe wat AfriForum neem om Malema se skade te beperk is tweeledig. Eerstens gaan AfriForum volstoom voort om Malema in die howe tot verantwoording te roep. Die wiel van die reg draai ongelukkig stadig, maar AfriForum is gereed om die pad enduit te loop. Benewens die klag van aanhitsing tot geweld waarvoor Malema in Bloemfontein in die hof verskyn het, is AfriForum ook tans besig om voorbereidings te tref om verskeie ander regsroetes te volg soos die verkryging van ’n hofbevel teen Malema se polariserende uitlatings en die voer van ’n saak in die gelykheidshof.

AfriForum is ook nie so naïef om te glo dat die howe al die probleme met Malema sal kan oplos nie. Meer is nodig.

Die laaste ding wat ons egter nodig het, is dat emosies oorkook en mense begin om soos cowboys die strate in te vaar om Malema “op sy plek te sit”. ’n Kalm, gedissiplineerde en welgeorganiseerde selfverdedigingsaksie is eerder nodig. Om jouself te verdedig teen aggressie is immers ’n basiese demokratiese reg. Daarom het AfriForum die afgelope tyd begin om pogings te versnel om gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe soos buurtwagte landwyd tot stand te bring. Hierdie buurtwagte het natuurlik nie ten doel om in konflik met die EFF te tree nie. Dit is eerder ’n poging om ons gemeenskappe landwyd te mobiliseer om kalm binne die raamwerk van die wet misdaad te help bekamp en die veiligheid van gemeenskapslede en hulle eiendom te verseker. AfriForum het reeds 80 buurtwagte tot stand gebring wat volgens streng gedragsriglyne en noukeurig uitgewerkte stelsels reusewerk doen om misdaad te bekamp. Daar bestaan ook gesonde samewerking met talle ander buurtwagte en veiligheidsinisiatiewe wat nie deel van AfriForum se strukture is nie, asook met die Suid-Afrikaanse Polisiediens op nasionale vlak en in verskeie plaaslike gemeenskappe.

Soos enige skoolboelie sal Malema en sy ondersteuners fokus op diegene wat hy as kwesbaar beskou. Welgeorganiseerde buurtwagte sal wys ons gemeenskappe is nie kwesbaar nie en sal Malema twee keer laat dink voordat hy en sy ondersteuners tot onverantwoordelike optrede oorgaan. Binne die huidige omstandighede is buurtwagte dus ’n voorvereiste vir die handhawing van vrede en stabiliteit binne die raamwerk van die wet.

Mense wat bekommerd is oor hulle veiligheid word dus aangemoedig om kalm te bly en betrokke te raak by die buurtwagte in hulle onderskeie gemeenskappe. Indien daar nie een bestaan nie, stig een. AfriForum sal graag help daarmee.

Die Britse regering het in 1939 (in reaksie op die vrees wat oor die komende Tweede Wêreldoorlog onder die land se bevolking ontstaan het) mense tot kalmte geroep deur miljoene plakkate te laat druk met die tema “KEEP CALM and …”. Soortgelyk is AfriForum se beroep dat mense soos volg moet reageer op Malema: “BLY KALM en STIG ’n BUURTWAG.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Rudolph B ·

BRAVO!! Puik artikel, laat my Afrikaner hart voorwaar Warm Klop!!
Doen so voort AfriForum – Doen so voort…

Ampie ·

Ek stem nie heeltemal saam met Kallie nie. Malema het 8% steun gekry na ongeveer ‘n jaar as party. Vandag het hy dalk al 16% steun en so sal dit groei omdat die ANC ‘n swak regering is en hy baie wilde beloftes maak . Nietemin glo ek die ANC en EFF gaan in die toekoms saamstaan en Julius gaan ‘n belangrike rol speel. Sy agenda is neem en geweld soos Mugabe. Dis hierteen wat ons moet planne maak. Om hom af te skryf al ‘n onbenullige grootbek is om jou kop in die sand te druk.

skorra ·

Ampie, jy en Spook se ontledings van die situasie is bes moontlik in die kol. Ek glo egter dat Kallie-hulle ook wel deeglik met so ‘n scenario rekening hou en dit net nie in die beknopte artikel verdiskonteer is nie. Die feit van die saak is egter dat daar op hierdie oomblik geen ander verantwoordelike, haalbare alternatief bestaan vir die oplossings wat in die artikel aangebied word nie. Baie dankie Afriforum vir pro-aktiewe en weldeurdagte leiding te midde van ‘n werklike krisissituasie in ons volksbestaan!

Deon ·

Ek het nie een keer gelees waar Kallie Kriel se dat Malema n onbenullige grootbek is nie so Ampie ek weet nie of ons dieselfde artikel gelees het nie ?

Ampie ·

Ek haal aan: “Die werklikheid is dat Malema en sy volgelinge ‘n klein groepie is met meer blaf as byt”.

Andreas Meyer ·

Malema wys mooi uit dat die “regses” wat so deur die linkse media verguis is, toe al die tyd reg was. Die Kodesa-“Skikking” kon geen oplossing oplewer nie, slegs ‘n glybaan na anti-wit tirannie toe vorm. Maar sien dit positief. Malema se geluide veroorsaak dat mense kan voorberei op die krisis wat nog aan die kom is.

Spook ·

Goeie artikel. Stem net nie saam met jou berusting van dat die EFF n klein groepie is en sal niks kan maak nie. Gaan doen bietjie huiswerk oor volksmoorde reg oor die wereld en gaan kyk met hoe min mense n oorlog/volksmoord begin het, selfs so min as 6000 moordenaars in die begin wat gestyg het met tot 200 000 soldate en hy het baie maar gewillige ondersteuners as dit. Ook n vraag : Hoeveel van daardie 92% wat nie vir Die EFF stem nie gaan hulle probeer keer as hulle gaan begin om ons “Afrikaner Boys” n les te wil leer?

Tina Muller ·

Ek stem saam met Spook. Ons word heeltyd berus terwyl geskiedenis ‘n ander verhaal vertel. In Ruanda was daar ‘paar aanvallers en toe is dit of daar ‘n moordgees die mense beetpak en sommige mense wat nooit sou moord pleeg nie het ook begin help om die minderheidsgroep uit te moor. Ons kan nie net op die geringe getalle van EFF ondersteuners berus nie. Emosies kan hand uitruk veral waar 50% van ons bevolking verarm en werkloos is. Buurwagte is beslis ‘n goeie idee maar dis beslis nie genoeg om ‘n emosionele geesgedrewe volksmoord te stop in Afrika nie want volksmoord word geprommoveer asof dit winsgewend vir almal sal wees en ons 50% werklose jeug is in groot nood sonder enige hoop dat die regering ooit die ekonomie sal kan omdraai.

Leon de Vries ·

Ek dink Kallie Kriel en Afriforum is bewus van gevaar. Hulle organiseer diensooreenkomstig binne die wet. Die ANC kan dalk na die volgende algemene verkiesing Malema en die EFF as ‘n koalisievennoot nodig hê. JZ dan waarskynlik nie meer ‘n faktor nie. (Terloops: Hitler het ook mag met ‘n koalisieregering oorgeneem.) Die moontlikheid bestaan ook dat Malema en die EFF weer met die ANC kan verenig wanneer JZ nie meer leier is nie. Dan kan Malema die leier van die ANC word. Daar is steun vir Malema in die ANC. Na die munisipale verkiesing was daar ‘n berig oor ‘n gesprek tussen Malema en Mantashe. Winnie M-Mandela probeer hard om Malema terug in ANC te kry. Met haar tagtigste verjaarsdagvieringe was Malema prominent. So daar is ‘n wesenlike gevaar, maar Afriforum besef dit en hulle is met die nodige besig. Wat kan ons op voetsoolvlak doen? Moedig mense aan om by Afriforum aan te sluit. Elkeen kan volgens vermoë bydra. Raak betrokke by buurtwagte. JM se uitsprake het ‘n onbedoelde positiewe gevolg vir ons as Afrikaners en ander wat soos ons voel. Afrikaners begin om weer bymekaar te staan. Maar ons moet probeer om meer inklusief te wees en so te funksioneer dat ander Afrikaanse mense en dalk ander minderhede wat ook benadeel word en selfs bedreig voel, gemaklik kan inskakel. Ek is dankbaar vir Afriforum. Mag dit groei en baie sterk word.

Andre Scholtz ·

Ek stem 100% saam met Leon de Vries. Dis presies wat gaan gebeur. Die EFF en ANC is voels van dieselfde kleur. Malema gaan nog President word of ons dit wil weet of nie. Tim Du Plessis het n ruk gelede n baie goeie artikel in Rapport geskryf waar hy hierdie scenario voorspel en ek dink hy is in die kol! Ons moet maar net op ons kniee bly en bly bid. Verdermeer moet ons maar net paraat wees. Bly positief ten spyte van ontstellende uitsprake. Ek weet dis baie moeilik, maar wat anders kan ons doen.

Francois du Preez ·

Ek dink mens moet regtig na die geskiedenis van Zimbabwe gaan kyk om ‘n idee te kry van wat werklik besig is om te gebeur. Die Matabeles was uitgemoor deur ‘n baie klein groepie mense en die res van die land het net stilgebly want hulle was alreeds so erg geintimideerd gewees dat hulle nie waag het om op te staan nie. Malema se doel is om die anc oor te neem. Niks anders nie. Ek wens net mense wil aandagtig luister na sy onderhoud met Rian op Jacaranda. Dit is wel op youtube beskikbaar. As jy gaan sit en die gesprek ontleed sal mens besef hoe gevaarlik hierdie man werklik is. Met die vraag oor plaasmoorde was sy antwoord : “We are past that”. Wat beteken dit werklik? Vandag? Vandag het ons nie ‘n idee waar die eff orals in is nie. Ons moet eenvoudig wys ons is nie bang nie. Ons word geboelie uit alle oorde en ons moet ons voete neersit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.