Reaksie op plaasmoorde

Argieffoto: Maroela Media

Deur ds. Johan Schütte

Op Maandag 21 Augustus 2017 begin die werksweek met die nuus dat daar die afgelope naweek vier boere in vyf afsonderlike aanvalle vermoor is. Volgens TLU-SA staan die statistiek vir 2017 op 277 aanvalle waarin 55 boere vermoor is.

Dit vul ’n mens met afgryse om hiervan te hoor, maar blykbaar is dit nie vir almal ewe afgryslik nie. Waarom is mense so stil? Het mense so afgestomp geraak vir hierdie konstante stroom van boerebloed wat deur ons geliefde land vloei, dat daar nie meer daarop gereageer word nie? ʼn Vuil bekgeveg by Spur waar ʼn man dreig om ʼn vrou te klap, oorheers die nuus vir drie maande! Maar ʼn bejaarde egpaar wat kaal uitgetrek word en met warm olie en strykysters gemartel word, word net so terloops op enkele nuuskanale genoem…

Moord op boere in Suid-Afrika is so oud as wat die Westerse beskawing in die land is. Die geskiedenis leer ons ook dat dit nie altyd verdra word nie. Iewers kook die pot oor en die stroom bloed word ʼn Bloedrivier.

Daar word talle redes en verskonings aangevoer vir die al groter wordende bloedbad, maar die feit bly staan dat dit onaanvaarbaar is. Dit blyk dat daar ʼn doelbewuste uitwissing van boere plaasvind. Die verskoning dat dit “gewone misdaad” is, strook net nie met die wreedheid waarmee die aanvalle gepaard gaan nie. Opruiende uitsprake van politieke leiers moedig eerder die vlaag aanvalle en moorde verder aan as wat dit ʼn demper daarop plaas.

Die Suid-Afrikaanse regering, elke verkose parlementslid en elke amptenaar in die staatsdiens, word daarom daaraan herinner dat hulle nie bloot verteenwoordigers van die mense is en dat die kiesers hulle verantwoordelik sal hou nie, maar dat elkeen ook ʼn verantwoordelikheid het teenoor God wat van elkeen rekenskap sal eis. Of jy God nou erken of nie, Hy het dit so beskik dat daar in hierdie wêreld owerhede moet wees wat die wanordelikheid van mense moet bedwing deur wette en staatsinstellings.

Die owerheid het die verantwoordelike roeping ontvang om kwaaddoeners te straf en om diegene wat goed doen, te beskerm. Tans wil dit egter lyk asof kwaaddoeners ter wille van politiekery beskerm word. Ons wil die regering oproep om hierdie dwase speletjie, wat tot nog meer bloedvergieting gaan lei, stop te sit. Die owerheid behoort daadwerklik op te tree teen enige aanhitsing tot grondbesetting of geweld teenoor boere.

Die verantwoordelikheid om sorg te dra vir elke inwoner van hierdie land is ontsaglik groot en wanneer dit nie nagekom word nie, is daar liters bloed wat van die owerheid se hande geëis sal word. Wêreldse regters sal ook eendag voor die regterstoel van God te staan kom om rekenskap te gee van hul regspraak. Die onreg teenoor ons boere sal nie vir altyd geduld word nie.

Dit is duidelik dat die SAPD se landelike veiligheidsplan nie suksesvol is nie. Ons versoek daarom die instelling van spesialis-eenhede vir landelike veiligheid en dat plaasaanvalle, wat reeds as prioriteitsmisdaad verklaar is, daadwerklik as sodanig hanteer sal word.

Ons wil elke boer, sy familie en gemeenskap oproep om in algehele afhanklikheid van die Here deel te neem aan openbare verset teen die huidige bloedvergieting. Raak betrokke by u plaaslike boerevereniging en plaasveiligheidsnetwerk en wees nog meer paraat. Oefen druk uit op u plaaslike owerheid en neem deel aan die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

Bo alles moet ons deurentyd by ons huisaltaar voor die Here stil word en ons in gebed tot Hom wend. Hier aanbid ons die lewende God wat oor lewe en dood beskik. Hier doen ons voorbidding vir ons families en ons gemeenskappe. Hier doen ons voorbidding vir die owerheid, sodat dit die Here mag behaag om hulle te rig in al hul weë sodat ons ʼn rustige en stil lewe kan lei in alle Godsvrug en waardigheid.

Soos die Here se kinders in die dae van Nehemia, toe die stad Jerusalem herbou is, en elkeen met die een hand op die spies gebou het en sy swaard aan sy heupe gedra het, moet ons in Suid-Afrika bou en werk. Ons bid nie net vir veiligheid nie, maar moet ook gereed wees om onsself te bewapen en om mekaar daadwerklik te beskerm.

Teen Vrydag 25 Augustus 2017, het die aanvalle gestyg na 282 en nog ʼn boer se bloed is deur die Afrika-grond opgeslurp…

Here, ons wend ons tot U wat gesê het:

“Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld.”

 

Ons bid saam met Dawid:

Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet?

Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?

Hoe lank sal ek planne beraam in my siel,

met kommer in my hart oordag?

Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef?

 

Aanskou tog, verhoor my, HERE, my God!

Verlig my oë,

sodat ek nie in die dood inslaap nie;

sodat my vyand nie kan sê: Ek het hom oorwin nie,

en my teëstanders nie juig as ek wankel nie.

 

Maar ek – op u goedertierenheid vertrou ek;

my hart sal juig oor u heil.

Ek wil sing tot eer van die HERE,

omdat Hy aan my goed gedoen het.

 

HERE, hoor ʼn regverdige saak, let op my smeking;

luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe.

Laat my reg van u aangesig uitgaan;

laat u oë regverdig sien.

 

Ek roep U aan, want U verhoor my, o God!

Neig u oor tot my, luister na my woord!

Maak u gunsbewyse wonderbaar,

o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!

 

Bewaar my soos ʼn oogappel;

verberg my in die skaduwee van u vleuels

teen die goddelose wat my geweld aandoen,

my doodsvyande wat my omring.

 

Hulle het hul gevoel afgesluit;

met hul mond spreek hulle hoogmoedig.

Nou het hulle ons in ons gang omsingel;

hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek.

 

Hy is soos ʼn leeu wat begerig is om te verskeur,

en soos ʼn jong leeu wat in skuilplekke klaar lê.

 

Staan op, HERE,

gaan hom tegemoet,

werp hom neer;

red my van die goddelose met u swaard;

met u hand die manne, o HERE,

van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is

en wie se buik U vul met u verborge skat;

wie se seuns daarvan nog sat is,

wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly.

 

Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou;

ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.

 

AMEN

 

– Psalm 17:1–15

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Theresa ·

Menige Suid-Afrikaner huil oor die moord op boere en kleinhoewe bewoners. Ook natuurlik oor ander wat geroof, gemartel en vermoor word. Ons hoop ons trane op en hoop en glo dit sal beter gaan. Maar dit gaan net slegter. Oral word bohaai gemaak oor goed waar mense leef, maar vir altyd sal vashaak. Geregtigheid is afwesig. Terugkry meer in beheer oor situasies wat howe se tyd roof. Bid die gebed daagliks; saans. Glo in verbetering, maar neem deel aan ‘n doelwit wat dit sal meebring. Fokus op die feite – dis skrikwekkend, maar waar en smeek dat dié wat die uitvoer van opdragte of drifte en drange – gestuit sal word deur die krag van ons almal se gebede. Sulke afgryslike dade kan deur die Here gestuit word in Sy naam, met Sy wil. Maar ons MOET vra en doen.

Kom Ons Boks ·

Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! Om te handhaaf en te hou.
Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry…

JC ·

Dankie!
Prys die Here, ons enigste heil, en brug na vrede in ons geliefde vaderland.
Ek verwag konserwatief geskat nog ten minste so 250 kommentare op hierdie pragtige artikel van die dominee…

Mien ·

Dankie ds. Shutte. Stem saam met u dat ons mense afgestomp geraak het. Dit is ook waar dat beuselagtige snert meer publisiteit en kommentare kry as plaasmoorde. Heel waarkynlik gaan daar ook weinig kommentaar by hierdie treffende skrywe van u wees. Dankie vir Psalm 17 wat my weer laat besef hoe groot Sy genade is.

Ou Toppie ·

Ek dink die tyd om te bid is verby – dis tyd om ten alle tye bewapen te wees, en wees gereed om terug te skiet ! Die booswigte is nie bang vir die polisie of die howe nie, hulle moet dus leer om bang te wees vir hulle bedoelde slagoffers.

Robert ·

Ek dink die tyd om te bid is juis nóú! Met gebed én geweer bewapen, moet ons die skurke begin aanvat!

Therese van Schalkwyk ·

“Waarom is mense so stil?”
Uiteindelik vra iemand die vraag wat tot in die buiteland gevra word.
Bravo, ds. Johan Schütte!

Geen petisie, sms-veldtog, webkommentaar of enige sending na die VN sal soveel indruk maak as bv. ‘n vreedsame optog deur honderdduisende swartgeklede Suid-Afrikaners met wit kruise nie. Die wêreld moet sién wat gebeur …

Magteloos woedend met die lees van elke nuwe moord op ons mense. Die nuwe Suid-Afrika was veronderstel om ‘n “Beter Lewe vir Almal” te beteken, maar die teenoorgestelde is waar.
En na buite lyk dit of dit só aanvaar word …

tamboti ·

Vir die wat glo en bid, julle bid verkeerd!
Bid vir ‘n leier wat ons uit hierdie verdrukking kan lei met meer as net gebed en geduld. Gaan kyk na die geskiedenis, vryheid en vrede kom met ‘n geweldige en bloedige stryd, nie met mooi praat en kompromie nie.

CG ·

Tamboti. Stadig Broer! Het al oorlog beleef? Het jy al gesien hoe vrouens gillend hardloop nadat hulle dorpie gebombardeer is? Stadig, my maat!

Haan ·

Si vis pacem para bellum.
IF YOU WANT PEACE, PREPARE FOR WAR.

Positief ·

Aai tamboti,is daar geensins positiwiteit in jou nie? Ek glo en bid. En verseker nie verkeerd nie. Ons God gee wysheid en Krag. Verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart. Suid Afrika,hou aan bid en glo! Met God spring ons oor n muur. Vrug van die gees,onthou,nie met geweld. Sterkte en dankie vir n uitmuntende geskryf ter bemoediging. N leier wat Godvresend is,dis wat nodig is. N leier wat eers God nader in plaas van ore uitleen aan n godelose.

Peet J ·

Ons vorige NP regering het soos die leier mnr. de Klerk erken dat hy ‘n bloedbad voorkom het sou daar nie ‘n oorgawe van die land aan die ANC op daardie stadium nie ‘n regering nie plaasgevind het nie.
My vraag is :-op grond waarvan onderhandel jy dan met jou teenstanders ANC SAKP instansies wat jou , jou mense en jou land met ‘n bloedbad dreig sou jy nie aan laasgenoemde se voorstelle gehoor wou gee nie. Dit kom mos neer op rewolusionere dreigemente dat onderhandelings onmiddellik stopgesit moes word. Ons geestelikeleiers was ook vir een of asnder rede nie genader om insae te lewer tydens die belangrike samesprekings nie . Hierdie onuithoudbare situasie waarin ons witmense on tans bevind is volgens my kortsigtige besdluite wat deur die onderhandelaars geneem is en wat deur ons geleerde mense oor ons self gebring het Ons regering NP het sy rug gedraai op die Almagtige God wat ons voorouers met die gelofte van bloedrivier gevra het vir ons verlossing . Gaan lees maar die Gelofte en vergewis jouself.

CG ·

Ai, Danie. Ons praat van moord en marteling en afhanklikheid van God. Nou val jy uit met “witbrood onder die arm”.

Koos van der Lith ·

Dankie Ds Johan vir die puik artikel en dat midde U druk program daar nog tyd gemaak word om bemoeienis te maak met dit wat belangrik is vir die voortbestaan van ons Boervolk.
Dit is nou tyd om terug te keer na Hom wat ten spyte van al die swaarkry nog vir ons sorg, wat ons deur Bloedrivier gehelp het en ook weer sal help. Hy bly immers ons Vader en sal ook na die wat “onhoudbaarheid” beleef, omsien,sou hulle hul tot Hom bekeer. Moord gaan ook nie lewenstandaard verbeter nie, dit mag dalk net later ontaard in “n geveg wat weer “n Bloedrivier” sal ontketen en ons weet almal hoe die lewensverliese verloop het.
Ons bely saam met U ons afhanklikheid en vertrou dat ons almal vanaand weer Psalm 17 sal gaan lees!!

Johan van Coller ·

Het iemand al gedink aan die idee om mense in die wit plakkers kampe te vra of hulle as bywooners op plase wil woon ,om te help met sekuriteit vir bejaarde mense/ boere en om te help op die plase?
Sal die Israel formula van kiboetse nie n oplossing wees vir ons volkie nie?

Sann ·

Johan, dis nie ‘n slegte gedagte nie, maar dis net nie altyd prakties uitvoerbaar nie. Ons moet bv voorsiening maak vir verblyf om so huisgesin te kan huisves. As dit iemand is met kinders, sal daar koshuis en reiskoste ter sprake kom wat jy nie van die “bywoner” sal kan verwag om te betaal nie. Mense wat uit ‘n plakkerskamp kom is gewoonlik nie in ‘n goeie selfversorgende fase van hulle lewe nie. Hulle het reeds te veel basiese middele verloor, wat nodig is om op ‘n plaas te kan oorleef (onthou, die dorp is meestal redelik ver en dit verg beplanning en geld om vir jouself en jou eie noodgevalle te voorsien. As ouer mense sulke “bywoners” inneem, gaan hulle eintlik ‘n groter verantwoordelikheid hê as wat hulle dalk voor sou kans sien… Maar dalk sou dit ‘n baie leersame “gap year” vir sommige skoolverlaters kon wees, wat plaaslik op die plase gaan werk, eerder as om dit dmv oorsese kontrakte te doen. Ons moet beslis al hierdie moontlikhede verder deurdink.

Eish ·

Johan, dis n puik voorstel. Daar is so 600 000 verarmde blankes en die getalle groei met 7500 jaarliks.

JC ·

Goeie idee Johan:)…Solidariteit…maak ‘n plan…tjirp tjirp…tjirp tjirp…

johnny_walker ·

want ons praat te veel en doen te min , skerp jou veiligheid op
1 kry n hond wat in jou huis slaap , verkieslik naby jou slaapkamer , hond buite beteken niks hulle vergif hom
2 pistool aan jou sy of op jou bed kassie as jy slaap , weet dit is nie lekker om een te dra nie , maar weet jy wat is nog minder lekker ? , in jou kluis beteken dit niks , die krimineel gaan jou nie kaans gee om eers dit uit die klus te gaan haal nie
3 word deel van die buurt of plaas wag , kry n radio , een radio roep laat talle in kennis , een foon oproep stel net een mens in kennis , en hy is dalk nie by sy foon nie , vinnige aksie red lewens
4 booby trap jou huis , daar is baie truuks , kyk maar net op die internet rond
5 baie buite ligte op startegiese plekke , hou huis binne donker , jy will hulle daarbuite sien , voor hulle jou binne sien
6 as jy op baie gevaarlike plekke bly reel dat n buurman jou ten minste drie maal n dag teks en seker maak jy is reg , gebruik kode woorde
7 kry profesionele manne verkieslik van die buurtwag om jou sekuriteit na te gaan en te kyk vir swakplekke , jy kan altyd verbeter

JC ·

Dankie johnny, presies. Die wapen in die kluis skep ‘n valse illusie van veiligheid, totdat die booswigte opdaag en dit teen die eienaar daarvan gebruik word. Dra dit en hou dit naby jou!!!!!!!!!!!!!!

Riena ·

Kry meer kinders sodat die erwe van ons vaadre vir ons kinders erwe bly. Beskerm ons grond deur dit te beset deur eie geledere. Vervang die boere wat vermoor is met `n volk wat opstaan in ywer en getalle. Dit help nie ons word minder hoofsaaklik deur eie toedoen nie.

JC ·

Dankie Riena, dis wonderlik om sulke positiewe kommentaar te hoor:)
Ons moet net daad by woord sit.

Bokkoms ·

Johan vC, ek dink jy het ‘n punt beet. Ek dink self dis tyd dat ons op strategiese manier moet laer trek en dit baseer op ‘n kibboets model. Dit het bewys effektief te wees in Israel, ‘n land met wie se mense ons baie gemeen het. Vol punte vir die idee.

Andrea ·

Ek stem 100% saam! Ons is so hardkoppig; gryp gou ons ossewaens en trek weg as ons die buurman se rokie sien. Ek weet dis hoe ek is. Maar dit gaan nou oor oorlewing. Wie sal so ‘n struktuur beplan en in die lewe roep? Afriforum?

Boerseun ·

???? Die is TLU. En darm is ek n Boer, die afrikaaner wil deel wees van n reenboog nasie.

Boervrou ·

Dankie Ds. Vir n pragtige boodskap. Dis absolute skreiend dat ons boerevolk so uitgemoor word oud en jonk. Mag Ons Vader ons aansien in sy genade. Ons harte bloei saam met al die families. Mense asb . Wees paraat. Stem saam met Johnny Walker .

Vlam Boyant ·

Pragtige boodskap, maar ek dink dis tyd “It’sTime” dat iets daadwerkliks gedoen word. Almal praat net!!

John ·

Die Vader se dikwels in die Bybel Sy arm is nie te kort om te help nie, maar hoe (be)nader ons Hom? Ons wat ons Afrikaners noem, waarvan baie Franse Hugenote is, ons en ons dominees sal ons moet verootmoedig en ons afdwalinge bely. Ons sondes is net dit wat die Vader sondes noem en nie dit wat die rewolusionere magte in Afrika of vreemde gelowe in ons gewetens probeer inprent nie. Ons predikante het in psigiaters/priesters ontpop, ipv om die Woord te verkondig. Koning David het op die moeilike manier geleer om eers sy eie sondes raak te sien voor hy sy volk kon aanspreek of om Hulp te vra. Ons kan nie net ons hande in die lug gooi en dan moet die Vader maar net doen nie. Die groot vraag is waarom doen Hy nie? Ons moet Hom vra? Ons regering laat vreemde gode in hul midde toe. Nou verwonder ons ons dat die vreemde gelowiges nie Christelike waardes aankleef en uitleef nie en nog erger, doen ons dit? Gee/welsynswerk is mensgemaakte sonde-vergewingsmeganismes. Ons hulp is van die Here en ons moet net presies doen wat Hy vra. Wat die na-apartheidsregering nou gebruik om ons te vernietig is ons gewetens maw ons vernietig onsself tot sy voordeel. Is die Vader nie ook die Afrikaner, wat Hy hier geplant het, se Vader nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.