Red Afrikaans: Wolraad Woltemade se les

Uitstalling van Raslouw Onderwys in die mall@reds-winkelsentrum

Uitstalling van Raslouw Onderwys in die [email protected]

Deur Leonard van der Dussen Besturende direkteur van Indicato Inligting

Dit het in 2016 uiteindelik begin deurdring dat die nuwe Suid-Afrika se regering die staat se skole, universiteite en al die staatseiendom besit en daarmee maak wat hy wil; en vir Afrikaans en die kwessie dat Suid-Afrika sy hedendaagse bestaan grotendeels in Afrikaans verkry het, geen respek het nie.

Nou is daar benoude oproepe om onderwysinstellings op te rig waar in Afrikaans onderrig kan word. Solidariteit het Sol-Tech al goed op dreef, en Akademia wat as universiteit daargestel word, is aan die gang. Dit was opvallend in die Toekomsberaad van 2015, asook die meer onlangse #OnsBou-veldtog dat daar nie spesifiek vir die oprigting van onafhanklike skole voorsiening gemaak is nie. En tereg ook. Een organisasie, ’n vakbond wat eintlik reeds buite sy kerndoel as vakbond optree en intree in die Suid-Afrikaanse samelewing, kan nie alles doen nie.

Die kultuurlose onderwys waarbinne die meerderheid van Afrikanerkinders die afgelope dekades geskool is, maak dit nodig om kortliks te vertel wat Wolraad Woltemade gedoen het, voordat dit op die huidige situasie toegepas word: ’n Skip het in die winter van 1773 in Tafelbaai op ’n sandbank geloop en is geleidelik deur die branders verwoes. Hoewel die land betreklik naby was, het sterk strome, golwe en die koue water veroorsaak dat net die sterkste swemmers die land bereik het. Wolraad Woltemade het op die situasie afgekom en die benoude matrose wat nog op die skip was jammer gekry. Terwyl ’n skare toeskouers en soldate niks verder probeer waag het nie, het hy sy perd, Vonk, in die water gedruk en uiteindelik twee-twee matrose sewe keer agtereenvolgend land toe gebring. Die skip het uitmekaar begin breek. Toe hy die agtste keer ingaan, het die paniekerige matrose die versoek om net twee op ’n slag af te spring en aan die perd se stert vas te hou, geïgnoreer. Toe ses van hulle tegelyk hulle gewig aan Vonk vastrek, het die uitgeputte perd ondergegaan en so het hy en sy barmhartige dapper ruiter verdrink.

Benoudheid wat in paniek omsit, kan die gewilligste ridder op sy perd verongeluk. Die Afrikaanse gemeenskap kan nie van Solidariteit verwag om benewens tegniese opleiding en die oprig van ’n universiteit, ook nog die omvangryke Afrikaanse skoolonderwys te moet aanstig, bestuur en finansier nie. Dit sal inteendeel ’n Woltemadiese fout wees, potensieel dodelik vir verdere redding van dit waarop tans gefokus word.

Solidariteit moet maar vir homself praat oor waar hy in elk geval reeds by skoolonderwys betrokke is, soos deur Helpende Hand, maar dit sal ’n strategiese flater wees om by die direkte hoofstroom-skoolonderwys betrokke te raak. Om skole op te rig is ’n kapitaalhonger en bestuursintensiewe  besigheid.

Solidariteit is ’n lede-organisasie wat weliswaar baie doen, maar wat skoolonderwys betref, moet gebou word op wat reeds bestaan vir Afrikaanse volkseie onderwys en Christelik-Afrikaanse onderwys. Saamtrek en optimale benutting van hulpbronne in hierdie omgewing is deurslaggewend belangrik om van fragmentasie en gevestigde belange na samewerking en gemeenskaplike belang te beweeg.

Hoe die huidige paniekerige sieninge wat heeltyd net Solidariteit raaksien en as redder aanstel, oorreed gaan word om kalm te raak, maar ook daadkragtig te raak met die nodige moed self kapitaal in te sit en in Afrikaanse skoolonderwys te belê, sal nog gesien moet word. Onderwys en kapitaal is sinoniem. Oproepe vir “doen dit” en “doen dat” is daar baie, maar vra ’n man om saam te kom risiko neem en kapitaal insit, en dit raak skielik stil en die kamer word leeg. Dit sal moet verander van “julle moet” na “ek gaan dit doen”.

Die naam Wolraad se betekenis strek na “goeie raad gee”. Lees dalk weer ’n keer wat hierbo staan.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

HEVW ·

Ek voorspel baie matrose sal onwillig wees om vir hul reddingsgordels en reddingstoue te betaal en sal in die see van kultuurloosheid sonder hul taal verdrink. Gemaksigtigheid en materialisme het n verlammende en bedwelmende invloed.

JC ·

Goeie en ingeligte artikel :-) Belangrike punte wat gemaak word. Steun eerder die reeds gevestigde CVO en ander privaat skole! Solidariteit/Afriforum reeds belas met baie aangeleenthede-laat Solidariteit/Afriforum eerder fokus op Tersiere onderwys.

Frans Jacobs ·

Ten einde vir die CVO beweging om suksesvol te wees sal dit nodig wees om die huidige finansieringsmodel te her sien om voorsiening te maak vir eksterne kapitaal. Verder sal daar ook gekyk moet word om groter inspraak aan onderwysers te gee . Tans is hulle geheel en al blootgestel aan die wense van die ouers

Disselboom ·

Is nou bang om te klink soos een van die wat net opdragte uitdeel, maar kan Maroela Media nie dalk so lysie gee van die rolspelers wat wel in Afrikaanse skoolonderwys betrokke is nie? En dalk ‘n rol speel om beleggers, skenkers en Afrikaanse privaatskole by mekaar uit te bring?

Sukkel bietjie om op die foto van die Raslouw Onderwys-uitstalling besonderhede te kry. En wonder bietjie of dit nou regtig nodig is om ‘n plek soos Centurion met ‘n hele paar Afrikaanse openbare skole met ‘n privaatskool te lol?

Marius ·

Van die land se beste onderwysers is by ons Afrikaanse staatskole. Hulle salarisse en pensioen word steeds deur die staat betaal. Ons moet baie mooi dink voor ons hierdie skole in die steek laat en almal CVO skole met gebrekkige infrastruktuur en fasiliteite begin ondersteun, en ek het niks teen hierdie skole nie. Solank as wat ons die huidige Afrikaanse skole ondersteun en die taalbeleid van die skool Afrikaans bly omdat die meeste ouers dit so wil hê sal hierdie skole bly presteer en vooruitgaan. Dis juis ouers wat na privaatskole toe hardloop wat ons bestaande goeie Afrikaanse skole bedreig, en nie andersom nie. Ons Afrikaanse skole is nog steeds Christelik gefundeerd, maar ek wil dit onomwonde stel: Die Christelike waardes wat ek vandag het, het ek by moederskoot geleer en nie by die skool nie. Dis te belangrik om in die hande van die skool te plaas. Daarby sê ek nie doen weg met godsdiens nie. Daar is mooi tradisies wat Christelike oorspronge het.

Otter ·

Belangrike punt wat hy maak: elk is self verantwoordelik. As mens dié besef beskou jy die wêreld anders (soos Woltemade).

Disselboom ·

Die gesprek moet breër as die CVO-skole gaan. Daar is ander onafhanklike Afrikaanse skole wat meer gedrewe en relevant is, en alternatiewe opsies op die verouderde modelle van “verenigings” soos die BCVO gee. Bv Euphorbia (Naboomspruit?), Laeveld Akademie (Nelspruit), Laerskool Raslouw/ Hoërskool Raslouw, Sandton Akademie. Daar is waarskynlik meer van hulle.

Zirk ·

Net vir interresantheid. Weet iemand dalk hoeveel duisend kinders word tuis onderrig.?

Danie ·

Solidariteit en Afriforum het strukture om die private afrikaanse skole aksie te fasiliteer. Bv om te begin onderhandel met die bestaande privaat skool organisasies. Ek glo die bestaande private skole soos die CVO skole sal bereid wees om saam te span as hulle gaan uitbrei en voordeel (fasiliteite, kurrikilum navorsing) daaruit trek. ‘N baie groot skool organisasies het tog meer kapitaal beskikbaar en finansiële bystand as ‘n klein organisasies. Die afrikaanse staatskole se fasiliteite is op gebou uit die ouers uit. Ons moet strategies kyk. Ons moet nou begin daarmee. Die hele wêreld lê oop voor ons om te help. Nie net ‘n handjie vol mense in Suid-Afrika nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.