Red jou aftredebeleggings, sê nee vir Regulasie 28

Argieffoto (Foto: nattanan23, Pixabay)

Deur Suzean Haumann

Die meeste individue met beleggings in produkte vir aftrede wat nog nie afgetree het nie, is bewus van Regulasie 28. Kortliks is dit ʼn beperking op bateklaskeuses in die belegging, en in die besonder ʼn beperkte blootstelling aan bateklasse wat beter presteer, spesifiek buitelandse bates.

Ondanks die beperkinge van Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse, het verskeie fondse aanvaarbare opbrengste aan beleggers gelewer. Maar deur selfs net ʼn klein bietjie risiko in te bou, kan ʼn groot verskil aan die algehele opbrengs maak. Dit kan in die besonder ʼn groot verskil vir jonger beleggers maak wat nog dekades vir spaar beskikbaar het.

Regulasie 28 is op 1 Julie 2011 amptelik in werking gestel. ʼn Vergelykende voorbeeld – die storie van twee beleggings – is ʼn handige manier om die impak daarvan te verstaan: die prestasie van ʼn belegger se aftreefonds vergeleke met ʼn diskresionêre portefeulje, wat onderhewig is aan valutabeheer.

Vir die voorbeeld, is ʼn optimale portefeulje vir ʼn tydperk van agt jaar saamgestel. Met die gebruik van ʼn gemiddelde-variansie metode vir die optimale uitslag – ʼn kwantitatiewe hulpmiddel wat vir optimale batetoewysing voorsiening maak deur die balans tussen risiko en opbrengs te oorweeg.

Die optimale portefeulje is 100% in buitelandse bates belê (sien grafiek):

Grafika: Verskaf.

Hoewel die Regulasie 28-portefeulje die laagste risikogradering het, sal die belegger in hierdie portefeulje ʼn beduidend groter opbrengs verdien het, met groter risiko, as die volle belegging vir agt jaar in die buiteland belê was.

Grafika: Verskaf.

Daar is baie goeie redes om in die buiteland te belê. Die voordele van diversifisering, die vermindering van blootstelling aan die risiko’s van ontluikende markte en ook die risiko’s van wisselvallige geldeenhede en die behoud van bestedingsvermoë in geldeenhede soos dollar, pond of euro. Maar hoe moet beleggers te werk gaan om in die buiteland te belê?

Die antwoord hang van ʼn belegger se persoonlike omstandighede af, sy/haar houding ten opsigte van risiko en ook langtermyn- finansiële doelwitte. Dit is dus noodsaaklik om ʼn finansiële raadgewer te raadpleeg wat beleggingsopsies kan identifiseer wat aan die belegger se bepaalde vereistes sal voldoen.

Daar is baie opsies beskikbaar. ʼn Effektetrust wat buitelandse bates insluit, byvoorbeeld ʼn gebalanseerde fonds of multibatefonds wat aan Regulasie 28 voldoen en toegelaat is om tot 30% in buitelandse bates te belê.

Deur die gebruik van hierdie tipe fonds, stel beleggers in der waarheid ʼn professionele bestuurder aan wat die tyd, ervaring en toegang tot inligting het om te besluit wanneer en hoeveel om namens die belegger in die buiteland te belê, en in watter bateklasse.

Dit is moontlik nie die beste oplossing vir alle beleggers nie. ʼn Mandaat sonder beperkings verbeter die opbrengste van ʼn multibate- (gebalanseerde) portefeulje met beperkte hoër risiko. In hierdie geval is ʼn internasionale effektetrust wat in rand belê word ʼn goeie opsie.

Dit is ʼn regstreekse belegging in onderliggende fondse en beleggers hoef nie hul individuele buitelandse allokasie te gebruik nie. Die belegging word in rand gedoen en wanneer die belegging onttrek word, is die betaling in die plaaslike geldeenheid. Die belegger trek voordeel uit buitelandse belegging, maar is steeds aan politieke risiko in Suid-Afrika blootgestel.

Belegging in ʼn internasionale effektetrust wat internasionaal geregistreer is, is waarskynlik ʼn beter opsie. Beleggings is direk in ʼn internasionale fonds en die geldeenheid waarin beleggings gedoen word (bv. pond, dollar of euro).

Baie Suid-Afrikaners hou van internasionale fondse wat in rand belê weens ʼn persepsie van die kompleksiteit van aansoeke vir belastingklaring en ook klaring deur die SA Reserwebank om direk in die buiteland te belê.

Danksy die bestaande reël dat beleggers jaarliks tot R1 miljoen in ʼn internasionale fonds kan belê sonder om vooraf toestemming te kry, beteken hulle kan sonder beslommernis in internasionale fondse wat internasionaal geregistreer is belê, en sodoende hul blootstelling aan die risiko’s van Suid-Afrika verminder.

Bykomend tot die jaarlikse diskresionêre allokasie van tot R1 miljoen, kan beleggers ook tot R10 miljoen per kalenderjaar (dus R11 miljoen in totaal) in die buiteland belê. Om die groter allokasie te benut, word klaring van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Reserwebank vereis.

Die risiko’s vir beleggings in Suid-Afrika is wyd bekend – politieke spanning, swak ekonomiese groei en beleidsonsekerheid, om ʼn paar te noem. Beleggers wat ouer as 55 is, moet dit ernstig oorweeg om hul beleggings in aftreeannuïteite en/of bewaringsfondse wat blootgestel is aan Regulasie 28, te onttrek. Die prestasie van die plaaslike mark teenoor internasionale markte die afgelope drie na vyf jaar vertoon nie goed nie en hou dikwels nie eens by die heersende inflasiekoers by nie. Dit is ʼn groot bedreiging vir hul uiteindelike kapitaal vir aftrede en hul toekomstige lewensstandaard.

Raadpleeg ten alle tye ʼn gekwalifiseerde, ervare finansiële beplanner om die beste keuses vir persoonlike omstandighede te maak.

  • Suzean Haumann is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner® by Brenthurst Wealth Tygervallei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

B ·

Wat is die gem opbrengs oor bv 5 en 10 jaar van ‘n gebalanseerde portefeule in die buiteland, SONDER om die wisselkoers in ag te neem? (Kom ons se VSA en enige Europese fonds?)

Ek het ‘n gevoel dis in die algemeen minder as 5%, en dat die wisselkoers die grootste (moontlike) rede vir groei of waarde stabiliteit is?

B ·

Volg – ek het bietjie gaan kyk – rente in die VK is 0.75%, en inflasie is 1.7%, en oorsese beurse se opbrengs so 7% gem.
Ek stem 1000% saam afgelope 3j was ‘n absolute fiasko maar wie se ons is nie naby aan die onderpunt van die siklus, en moet nou maar die storm uitry?
(Sommer net ‘n paar vra, want almal stel voor skuif oorsee maar daar is min praktiese en verstaanbare gevallestudies, meestal teoretiese modelle ens)
Sien uit na opvolg artikel met ‘n paar fisiese voorbeelde :)

Anti Kommissie ·

Terwyl die skrywer mens oorweldig (vir my in elk geval) met finansiele terme, wil ek twee klippe in die bos gooi.

1. Die voorbeeld werk vanaf ‘n fiktiewe scenario wat vanaf die verlede tot die huidige werk. Maar geen finansiele raadgewer kan met 100% sekerheid (maw 0% risiko) die belegger verseker dat jy ‘n opbrengs van 19% ind ie toekoms gaan kry nie.

2. Ons moet onthou finansiele raadgewers word betaal (kry kommissie) vir hul advies en kennis. Geen probleem daarmee nie. Maar wat is daardie advies werd? Is dit geregverdig om ‘n raadgewer ELKE MAAND kommissie te betaal, terwyl die raadgewer nie werklik self besluite neem nie, maar dit net weer in een of ander fonds gaan inpomp, waar die werklike raadgewer wat besluite neem or die fonds, iemand anders is? Ek is nie teen kommissie nie, maar ons as publiek dink ek oorbetaal sekere raadgewers vir hul “advies” wat eintlik deur ander adviseurs geneem word.

Makelaar ·

Ons as finansiele adviseurs moet n volhoubare diens lewer aan ons kliente, daarom die fooie, asook:
1. Ons is nog nie gemagtig om fooie, bv. soos n prokureur, te vra om n klient te sien nie.
2. Ons moet ons eie brandstop ingooi om na u toe te ry Mnr. Klient. Brandstof is nogal duur deesdae. Die voertuig se paaiement moet ook betaal word.
3. Ons het ook kantoor personeel en ander uitgawes wat betaal moet word.
4. Dan word ons tot op Sondae aande gebel om inligting te gee.
5. Ander kostes gaan ek nie eers noem nie bv. jaarlikse kostes om deel te wees van finansiele instellings bv. die FPI.
Ons kennis is net so kosbaar soos enige ander professionele beroepsmens s’n, maar die publiek wil nie betaal vir ons dienste nie. Hulle is gemaklik om tot 5% fooi te betaal vir n huis wat verkoop word, maar vra ons tussen 0.5% en 5% om hulle geld te belê, is dit n skande. Snaak as iemand afsterwe, bel die familie ons makelaars baie gou om te help met die boedel, polis-eise ens, ens, ens.?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.