Red jouself

geld 7

Argieffoto.

Die gort was gaar nadat mnr. Johann Rupert onlangs by ʼn jaarvergadering van Richemont gesê het die regering se beleid van “radikale ekonomiese transformasie” is bloot ʼn kodewoord vir diefstal. Die gewone groepering en omtrent elke vleuel van die ANC, het die uitspraak veroordeel.

Die omgewing waarbinne “radikale ekonomiese transformasie” deesdae bevorder word deur huidige en aspirantpresidentskandidate, moet in die volgende konteks gesien word:

  • Volgens die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, kos staatskaping die algehele fiskus R150 miljard tot R250 miljard.
  • Volgens Ebrahim Patel,  minister van ekonomiese ontwikkeling, beroof  korrupsie die algemene bruto binnelandse produk jaarliks van sowat R27 miljard, met ʼn gevolglike verlies aan 76 000 werksgeleenthede.
  • Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Gesertifiseerde Bedrogondersoekers se uitvoerende hoof, Jaco de Jager, sê korrupsie kos die land sowat R105 miljard per jaar.

Dit alles is astronomiese bedrae en ’n mens lig nie eens meer ʼn wenkbrou oor die reuseverliese nie. Die feit is dat mnr. Rupert die versiersuiker van nóg ʼn mislukte ideologie gestroop het en die onding by sy naam genoem het: diefstal. Niks meer nie, niks minder nie.

Tydens dieselfde geleentheid het mnr. Rupert ook gesê dat ekonomiese ongeregtighede uitgewis moet word en dat meer geleenthede geskep moet word vir swart sakelui om te floreer. Dit is korrek en dit moet ondersteun word. Maar bemagtiging moet en kan vanuit eie geledere gebeur en dit kan nie die staat se rol wees nie. Nog minder deur  ʼn verdagte “radikale ekonomiese transformasie”-ideologie, wat al so besmet is deur diefstal, staatskaping en wanbestuur dat die ideologie net soos soveel ander op die puinhoop van mislukkings gaan beland.

Afrikaners het in hul geskiedenis ook bitter swaar getrek. Vanuit eie geledere en sonder hulp van ʼn goedgesinde staat is grootskaalse armoede doelbewus en planmatig in die 1930’s aangepak.

In ʼn uittreksel uit die boek, Historikus – ʼn Outobiografie, haal prof. Hermann Giliomee vir dr. Anton Rupert aan, wat hom beantwoord op die vraag of hy aan enige Afrikaanse maatskappy kon dink wat deur ’n Engelse maatskappy “bemagtig” is. Dr. Rupert se antwoord was: “Ek kan nie dink aan een geval nie en ek is baie dankbaar daaroor.”

Enige staatsinmenging is gedoem en hierop reageer prof. Giliomee in dié uittreksel van sy boek soos volg: “Die ANC het voor dit aan bewind gekom het ’n studie van bemagtiging in Maleisië gemaak, waar die staat die Chinese maatskappye verplig het om maatskappye wat deur Maleiers opgerig is te bemagtig en ook aan hierdie Maleisiese maatskappye voorkeurbehandeling met kontrakte te gee. Die argitek van hierdie beleid van Maleisiese bemagtiging, wat die ‘New Economic Policy’ genoem is, was Mahathir bin Mohamad, wat later eerste minister geword het. Toe hy in 2003 ná dertig jaar uit die politiek tree, het Mahathir gebieg dat hy misluk het in sy doel om die Maleiers as die ‘meerderheidsras’ ekonomies suksesvol te maak – ’n ras wat deur die Chinese en ander gerespekteer word. Die sakelui het steeds van die ‘kruk van staatskontrakte en regeringsdwang op Chinese maatskappye afhanklik gebly’.”

Wat ʼn verskriklike aanklag is dit nie teen staatsinmenging en dwang nie. Transformasie, swart ekonomiese bemagtiging of selfs “radikale ekonomiese transformasie” – al is dit diefstal – gaan nie werk as dit deur die regering afgedwing word nie.

Geskiedenisbronne dui op die geweldige omvang van Afrikaners wat ekonomies uit die dieptes van armoede opgestaan het. By nadere ondersoek was eie ingryping en die eie ekonomiese redding enorm: In slegs 10 jaar, vanaf 1939 tot 1949, het Afrikaner-besighede van 5% tot 11% van die nasionale besighede gestyg. Afrikaner-industrieë styg van 1 239 tot 3 385 en die omset van £6 miljoen tot £44 miljoen. Kommersiële ondernemings/handelaars styg in dié tydperk van 2 428 tot 9 585 en omset styg van £38 miljoen na £204 miljoen.

In professor Fransjohan Pretorius se boek, Geskiedenis van Suid-Afrika, word gesê Afrikaners se per capita-inkomste was die helfte van die Engelssprekendes rondom 1933. Elf jaar later in 1944 sê die voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut met trots: Die koopkrag van die Afrikaner is £120 miljoen pond per jaar. Dit alles het gebeur voordat die fokus na politieke bemagtiging gelei het en die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem het.

Die lesse is daar – ʼn volk red homself – vanuit homself en nie met “radikale ekonomiese transformasie” nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Eish ·

Insiggewende artikel, dankie.

Ek het ongelukkig nie veel hoop dat ontwikkeling langs die beproefde weg sal plaasvind nie. Die afkeer in die Westerse waardestelsel blyk so erg te wees dat geensins enige raad uit die oord aanvaar word nie. Al die randeier gevalle met n treurige suksesverhaal word nader getrek.

Die feit dat staatskaping en korrupsie sulke afmetings aangeneem het en voortspoed op die koers, toon n algehele gebrek aan wil by die regerende party en sy ondersteuners om die vloedgolf te stuit. Die massas se verwagtinge van demokrasie en die resultaat op voetsoolvlak, is die enigste element wat moontlik n kentering tot gevolg kan hê. Selfs dit is n skoot in die donker indien die optrede gadegeslaan word tydens betogings, die stroop van winkels wat aan buitelanders behoort, boendoehowe, eerlikheid en integriteit.

Dis maar n sware dag in die land se geskiedenis. Dit sal verseker ook van kwaad tot erger gaan. Ongemaklike plek om jou oudag in deur te bring.

Afrikaanse Knaap ·

Dankie vir die goeie artikel Jan.
Ek kan nie my mening lig nie want dat kan ek my werk verloor.

Piet Badenhorst ·

Radikale Ekonomiese Bemagtiging is ook n erkenning dat hul nie op gelyke voet kan kompeteer nie.
Selfs nie na 23 jaar van enorme eensydige bevoordeling nie.

Piet Snot ·

Dit, Piet, is ‘n ding wat my fassineer. Die meerderheid word teen die minderheid beskerm, en kan tsv ‘n simpatieke staat steeds nie die mas opkom nie.
Ai jai jai.

Anoniem ·

Radikale Ekonomiese Bemagtiging soek ‘n kortpad om ryk te word. Lang jare se harde werk en opoffering is nie deel van die plan nie.

Louis Botha ·

Dit sal gaaf wees as hierdie stuk ook in Engels geplaas kan word.
Dit sal ń heelwat groter getal lesers kan bereik wat hieruit sal kan leer.

willie ·

Piet en ander Piet slaan die spyker so op die kop! Mens hoef niks meer te sê nie!

John ·

Miskien moet groot aksie/betogings nou reeds plaasvind om ons te beskerm teen dr Z as president aangesien ons reeds weet hoe ver ons grondwet tekort skiet om presidente uit hul verslawende Oosterse sykussings te lig. Haar sienswyse oor die landsekonomie is gister gepubliseer; ‘n skrikaanjaende blik op wat wag soos om die Reserwebank te nasionaliseer so ook alle grond en plaaslike banke. Die depressiewe pikswart kop-tot-tone-uitrusting vir die fotosessie/’begrafnis’ spreek boekdele. Daar is ‘n punt in enige stryd wat nie oorskry moet word nie, ander word dit ‘n bloedige verloorsaak. Hierdie wese se ratte is vasgeslaan en die remme afwesig. Voordat so ‘n ‘voertuig’ spoed optel, moet klippe voor die wiele gerol word anders verander dit ‘n doodsaak. Hitler het ook begin as ‘n potsierlike ou snormannetjie: ‘n karakter uit ‘n strokiesboek… Dit was glo ‘n pragtige oggend in New York, die oggend toe die vliegtuie in die Trade Centre vasgevlieg het… Die duiwel wag altyd vir mooiweer om mense onkant te betrap…

Kom Ons Boks ·

Slegs die waarheid het trefkrag, en hierdie artikel loop oor daarvan. Duitsland moes ook van niks opbou na WW2 en in ‘n kwessie van net ‘n paar jaar ‘n ekonomie gebou wat die meeste in Europa vir geruime tyd op jaloers is (Europa as geheel het na WW2 se verwoesting en mense slagting ook virtueel geen ekonomie gehad nie). Sekere groeperinge van mense het dit eenvoudig om iets van niks te maak en die res wat die gawe het om niks van iets reg te kry.

Willie ·

Daar is groot nou eenmaal verskille tussen die vermoëns van die verskillende volke. Die eenvoudigste manier om dit te sien is bloot deur te kyk wat elke volk tot stand gebring het oor die eeue. Dit is deel van die inhoud van elke siel wat uit ‘n bepaalde volk voorkom. Elke volk dink en redeneer op sy eie wyse. Maar belangrik is dat daar binne elke volk goeie en slegte mense is. Die slegtes wil altyd die ander uitbuit. Dit is nou ongelukkig so dat in sekere volke die uitbuiters dit baie makliker het as by ander volke. Hoe meer ontwikkeld ‘n volk is, hoe moeiliker is dit vir die slegtes om die ander uit te buit. Vra jouself die vraag; wie was en is nog die dryfveer van die meeste oorloë oor die afgelope eeue. Nie die arm onderontwikkelde volke nie, maar slim “evil” mense wat weet hoe om die grootste massa mense te beinvloed en op te sweep om ander volke aan te val. Kyk net wat doen die VSA vandag met ander state dwars oor die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.