Redakteurs nog altyd in spervuur

Jean Oosthuizen, voormalige redakteur van Die Kerkbode.

Jean Oosthuizen is nie afgedank omdat hy ‘n slegte joernalis is nie. Maar dis nie die punt nie.

Redakteurs en ander senior redaksielede se voortydige uittredes is meer dikwels weens ideologiese verskille, of omdat die blad nie genoeg verkoop en geld maak nie. Dis min of meer hoe dit werk. Wêreldwyd.

In die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek het ‘n hele paar mense se redakteurskappe al vir een van bogenoemde redes tot ‘n einde gekom. Nie dat base maklik die eerste rede sal erken nie, maar as jy verliesmakende publikasies bedryf, is jou Mercedes vir seker in gevaar.

Dink maar aan Willem de Klerk, Dirk Richard, Harald Pakendorf (almal van die voormalige Perskor), Arrie Rossouw en Lizel Albrecht (albei Media24-redakteurs) en Thys Human. Almal is weg by hul koerante – soms met ‘n alternatief binne die maatskappy om die pot aan die kook te hou, soms nie.

Maar die redes vir die “skeiding van weë” is effe aan die verander. In ‘n politiek sensitiewer era moes ‘n Afrikaanse redakteur baie fyn trap. Die stryd tussen die “verligte” en “verkrampte” faksies van die Nasionale Party het sy tol meer as een keer geeis.

Vandag is die ideologiese verskille minder en die aandrang op winsmakende koerante allesoorheersend, wat dit dalk die nuwe ideologie maak.

Willem de Klerk is by die Transvaler in die pad gesteek en by Rapport het hy (onder groot druk) self geloop. Sy politieke standpunte het by albei ‘n rol gespeel, maar agter die skerms het daar ook ‘n stryd gewoed wat selfs erger klink soos dié wat, volgens berigte, nou by Bybel-Media woed.

In sy nagelate memoirs vertel De Klerk:  “Dit het baie moed, taaiheid, vernedering en angs gebring om weerstand te bied teen verkrampte drukgroepe, die Regering se onbehaaglikheid met my rigting en sommige lede van die direksie se klagtes oor my koers.”

Daarna volg ‘n sirkulasieskandaal, De Klerk se posisie word onhoudbaar en hy bedank. Hy trek dit terug, maar word later tog deur Marius Jooste afgedank na beskuldigings van ‘n komplot teen hom (Jooste).

By nabaat skryf De Klerk: “Ek het hom nie soseer gehaat nie (trouens, ek het hom op ‘n bisarre manier liefgehad), maar ek het sy styl gehaat en die Perskorwêreld wat hy geskep het: die vuil gange, toilette, binnepleine en kantore: die verslete armoedige meubels in kantore, in kontras met die common luukse van sy kwartiere: die verdwaasde personeel op alle vlakke van Perskor wat in vrees en bewing voor hom kruip en op al sy dwaasheid ja sê – o, ek het hulle verag – die Duimpie Oppermans en Koos Buitendags en letterlik almal in Perskor was so: ‘n impotente klomp diensknegte, gestroop van vryheid en manlikheid en persoonlikheid: die chaotiese bestuur deur dekreet, alles struktuurloos, slordig, ad hoc en alles word bepaal deur die Dada se stemming van die dag: die klimaat van agterdog, negativisme en haat wat swaar in daardie gebou gehang het.”

Die afdanking was dus dalk ‘n bevryding uit ‘n situasie wat erger was as botsende ideologieë of verneukery met sirkulasiesyfers.

Later, in 1987, bedank hy onder druk by Rapport. Daaroor skryf hy: “Die redes vir my bedanking het ek aangegee dat die dalende sirkulasiesyfers aan my gewyt word (wat waar is) en dat politieke druk op my om meer NP-propagandisties te wees my aanstoot gee, my politieke gewete belas, my geloofwaardigheid aantas en my versper in my funksie as koerantredakteur.”

Hy beweer ook dat Naspers, wat Rapport destyds om die helfte met Perskor besit het, hom vir twee jaar lank getreiter het met kritiek dat Rapport “nie aan hul verwagtinge voldoen nie … Hulle wou van my ontslae raak om volledige beheer oor Rapport te kry … Nog ‘n waarheid is die politieke druk, want PW Botha en baie van sy kabinet het Rapport uitgekryt vir te links en vir my spesifiek as iemand wat die NP-politiek beduiwel. Selfs FW (sy broer – red.)het hieraan meegedoen”.

Ook Richard en Pakendorf het daardie paadjie gestap. Albei is as redakteur van Vaderland kant toe geskuif  weens hul “linkse” politieke standpunte. Richard het in die biblioteek gaan sit en ‘n boek geskryf voor hy met pensioen weg is. Pakendorf moes egter op relatief jong leeftyd sy eie potjie krap, onder meer as TV-aanbieder en vryskutjoernalis. Hy is tot vandag toe as politieke kommentator bekend.

Thys Human was egter regs en het in Oggendblad sterk teen PW Botha se hervormings standpunt ingeneem. Maar danksy Jooste se ondersteuning, bly hy in die redakteurstoel tot met die blad se sluiting in. Hy is na Jooste se dood met ‘n skeidingspakket daar weg.

Daarna volg ‘n kort redakteurskap van die NP-SWA se blad Die Suidwester, maar Human vertel dat hy daar gou moeilikheid gekry het (met “PW se agent” Eben van Zyl) en sluit hy aan by die SWAUK as kommentaarskrywer. Hy bly daar tot net na Swapo se oorwinning in Namibië  se eerste demokratiese verkiesing einde 1989. Vir ‘n regse Suid-Afrikaner was daar kwalik plek in die nuwe Namibië!

Arrie Rossouw het redakteur van Die Burger geword en met nuwe idees die multimedia-omgewing aangepak. Hy was dalk te veel van ‘n joernalis en te min van ‘n entrepreneur en is in sy vroeë vyftigs die woestyn in. Liza Albrechts het op 34 redakteur van Rapport geword, maar dit het in ‘n taai ekonomiese omgewing nie lank gehou nie. Dalk was sy net nog nie reg vir die pos nie. Wie weet? Soos met alle soortgelyke gevalle, hang dit af van wie jy vra.

So was dit ook met my toe ek in 1983 as assitent-redakteur van die Kerkbode  my finaal vasgeloop teen diegene wat die NG Kerk se apartheidsdenke wou handhaaf. Nee, ek is nie afgedank nie, het ek by navraag aan die Cape Times gesê. Maar dit was net tegnies waar.

Die establishment wou my uit hê en het my eintlik met geen keuse gelaat nie. So ook “skei die weë” tussen Kerkbode en Oosthuizen terwyl hy eintlik meen hy is afgedank. En daarmee is die helfte nog nie vertel nie en is die storie dalk nog nie verby nie.

Feit bly: geld en ideologie maal redakteurs (en nuusredakteurs) fyn as hulle nie baie mooi trap en boonop omgesukkelde base vermy nie.

Bron: http://mediamense.co.za

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Johannes Froneman

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Prof. Johannes Froneman is hoogleraar in kommunikasiestudies aan die Noordwes-universiteit (Potchefstroom), en verteenwoordig die Demokratiese Alliansie in die Tlokwe-stadsraad, Potchefstroom.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Thys Human ·

Net ‘n klein regstelling. Dit is waar dat Marius Jooste my ondersteun het in die opsig dat hy my reg erken het om as redakteur teen ‘n beoogde nuwe NP-beleid standpunt in te neem – aangesien dit nog nie beleid was nie.

Oggendblad het egter in die slag gebly toe Perskor met Naspers geskik het oor ‘n groot eis wat ingestel is oor Die Transvaler (Oggendblad se ouer susterkoerant) se gekoook met sirkulasiesyfers. Die skikking het behels dat Perskor albei oggendkoerante sou sluit. O/blad se sirkulasiesyfers was nie gekook nie!

Marius Jooste was toe reeds oorlede en ek het nog vir ses maande sonder enige pos of taak by Perskor rondgehang voordat ons wee geskei het – want Koos Buitendag en Willem van Heerden wou my nie naby ‘n tikmasjien toelaat nie!

En ek dink ek moet ook duidelik maak dat ek myself nie as regs sien nie. Dit is waar dat ek my steeds beywer vir oorlewing van die Afrikanervolk, maar selfs van my vriende beskou my as “verlig” en dalk selfs liberaal – veral oor godsdiens en sulke goed.

Johannes Froneman ·

‘Skuus, Thys. Die “regs” was bloot shorthand vir konserwatief of regs van die regering. En nou weet ons dat konserwatief en liberaal glad nie teenoorgesteldes is nie. Maar ook dit is ‘n etiket, wat ek nie graag om enigeen wil hang nie. Netnou is ek regs omdat ek op Maroel skryf, links omdat ek ‘n lid van die DA is, sonder mening omdat ek ‘n NGK-lidmaat is…

Terloops, gaan loer gerus op my webblad mediamense.co.za waar meer oor hierdie geskiedenis vertel word, ook uit die eerstehandse pen van Thys Human.

Henri ·

So “die kerk” hanteer sy redakteurs maar net soos “die wereld.”

Johannes Froneman ·

Met voorbehoud: Ongelukkig ja.
Maar ons moet darem versigtig wees om een kerk se hantering van een joernalis voor te hou as hoe “die kerk” met mense werk. Feit is dat kerke almal nogal puntenerig is wie namens hulle uitsprake maak, dus wie hul media beheer.
Ironies genoeg is die NG Kerk ‘n reformatoriese kerk, wat die reg van almal erken om ‘n mening na te hou. Ons het geen pous of Vatikaan nie.
So wat is die status van ‘n blad soos die Kerkbode? Ou argument. Ek sal natuurlik argumenteer teen die benaming “amptelike blad”, want dan word die blad se standpunte “amptelike standpunte”. En dit is die algemene sinode se werk om namens die kerk standpunt in te neem. Sê wie? Het streeksinodes en ringe en kerkrade dan nie ook reg om standpunte “amptelik” in te neem nie?
Moeilike argument. En dit maak dit so deksels riskant om binne die kerk joernalis te wees!

Riaan ·

Dit is vir my niteressant om te sien hoeveel media”coverage” die storie gekry het – ek het nog nie baie kommentaar vanaf die kerk gesien nie – ander kerkbode staflede se siening op die affere sal sekerlik interessant wees.Die Woordfees het definitief gebaat uit die skandaal met ekstra publisiteit, sien daar is tog ook voordeel getrek uit ander kringe.

H J Bester ·

Die opmerking in die artikel oor Thys Humas se redakteurskap by Die Suidwester-koerant in Suidwes-Afrika en sy vertrek na onafhanklikheid omdat daar “kwalik plek vir ‘n regse Suid-Afrikaner in die nuwe Namibië was”, is nogal beduidend.

Ja, dis is so dat die politiek wel sterk “links” of vernuwend geneig het met ‘n verreikende implikasie dat dit ‘n diep skeuring in die geledere van die blankes veroorsaak het. Maar die vernuwings-denke en proses het wel op die ou einde geseëvier en het die wonde in blanke geledere oor die jare weer herstel. Die massas blankes is vandag almal “verlig” en grootliks meelewend in die politieke arena. Dit was omtrent ‘n kwessie van “if you can’t beat them, join them” – maar darem nie heeltemal gekapituleer nie – eerder wel baie meelewend op alle fronte. Vandag pluk die blankes die vrugte van hul vars en meelewende benadering voor, tydens en na onafhanklikheid. Hulle speel steeds in groot rol in alle sfere van die samelewing, is deurgaans welvarend en is Afrikaans, as omgangstaal nog springlewendig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.