Redakteursbrief: 2016: ʼn Jaar van nuwe hoop

Foto gedeel op die Facebook-blad, "Ek love die Vrystaat"

Foto gedeel op die Facebook-blad, “Ek love die Vrystaat”

Ek twyfel of daar enigiemand onder ons is wat nie nuwe moed skep wanneer ʼn nuwe jaar sy lê onder ons kry nie. Al was die vorige jaar hoe swaar, die terugslae, persoonlik en in die land, hóé groot: op die eerste dag van die jaar kyk ons op, en Boontoe, en probeer weer.

Ek is nie een vir nuwejaarsvoornemens nie, maar iewers in my agterkop het ek my wel voorgeneem om vanjaar my inspirasie te kry uit klein goetertjies: mense wat vir mekaar omgee; ʼn klein bietjie reën na ʼn lang droogte; ʼn vriendelike gesindheid waar ek antagonisme verwag het. En dieselfde gaan ek vir ander mense probeer doen en wees.

Ons deel vroeër vandag op Facebook ʼn foto van ʼn groepie plaaswerkers in die Vrystaat wat kniel en saam bid voor hulle begin plant. Vroeër die week was daar ʼn foto van ʼn boer wat op sy knieë in die reën staan, sy gesig vertrek met emosie. Ek hoor van ʼn vrou wat ʼn klompie bottels water wou by mekaar maak om Vrystaat toe te stuur, en toe sy weer sien, het sy binne ʼn dag 50 000L water en twee vragmotors wat die water Vrystaat toe aanry.

Dís mos inspirasie.

Einde laas jaar leer ken ek oom Johan Oosthuizen, ʼn Maroela-leser, deur my e-posbus. So skryf-skryf raak ons goeie vriende. Einde laas jaar kom maak oom Johan en sy vrou, tannie Maryna, spesiaal hier by Maroela ʼn draai, al die pad van Riversdal af. Hulle het pas verlede jaar van Nederland af hierheen getrek nadat hulle ʼn paar jaar daar by hulle kinders gewoon het. Want, sê oom Johan, hulle glo hulle gaan hiér ʼn verskil kan maak, op hulle oudag. Hulle wil op geen ander plek as in ons mooie land oud word nie.

Vroeg vanjaar ontvang ek ʼn brief van oom Johan af; sy moed-inpraat vir sy vriende en familie vir die jaar wat voorlê. Ek deel dit graag hier onder, met sy instemming. Mag dit die inspirasie wees wat jy nodig het om 2016 met ʼn huppel in jou stap af te skop.

Toe die bobbejaan die wekker van die krans afgegooi het, het hy gesê die tyd vlieg. Dis voorwaar ʼn groot stuk waarheid. So het die oujaar saggies uitgesluip toe die son sak en die nuwejaar het kom groet toe die son teen dagbreek sy kop vuurrooi uitgesteek het.

Na dertien jaar se ver weg in die vertes, was ons hier op Vergenoegd stoksielalleen om dit te beleef. Ons het dit tussen ons ribbes gevoel en dit was goed vir ons want dit het vir ons tyd gegee om te onthou waar ons vandaan kom en te kyk en te dink waarheen ons op pad is. Oujaarsaand se dagstukkie was kosbaar: Die engel het met Hagar gepraat. “Het was een bode des hemels, de Engel des Heren, die deze vraag richtte tot Hagar: Van waar komt gij, en waar zult gij heengaan?” Dan sluit die skrywer af met “Ons antwoord kan slechts zijn: ‘Waarheen Gij my leiden wilt, o my God, naar grazige weiden of naar dorre streken, in donkerheid of in blijdschap. Maar met U! Aan Uw hand. Geen stap meer zonder U.”

My oujaarsdag was volgepak met dinge wat goed vir my binneste was. Vroegoggend het ek ‘n knoppiesdoring en ‘n soetdoring geplant. My seun Peet het die knoppiesdoring vir my gegee en die soetdorinkie het ek daar by Drie Susters in die Karoo onder ‘n groot boom uitgehaal en in ‘n deurgesnyde Cokebottel in nat grond huis toe gebring en aan die lewe gehou. Toe ons vir oulaas by die kinders en familie in Nederland gekuier het, het ek bos- en treurwilgsteggies gesny en hier kom inlê. Die een wat die sterkste gegroei het, het ek by die dam gaan plant.Ek het ook ‘n paar patatranke in die koelte van die laatmiddag geplant.

In die lekker koelte van die nuwejaarsoggend het ek geelhoutboompies geplant wat Peet vir my gegee het. Hy het, toe hulle nog hier rond was, die sade hier duskant Riversdal se steg bymekaargemaak en toe geplant. Toe’t ek die boompies teruggebring en kom plant waar hulle hoort. My presentvyeboom is ook geplant en en toe die son sak het ek die nuwejaarspatatranke geplant.

Dit was twee dae van voluit LEWE. En as die nagdonkerte toegesak het en jy met ‘n moeë lyf op die katel jou lê gekry het, het jy geweet dit was ‘n dag wat nie gemors is nie. Dit wat jy nog wou, is afgehandel en met dit wat jy nog wil doen het jy reeds begin.

En nou lê die steil bulte van die 504de skrikkeljaar, met een dag meer om te doen wat ons moet doen, vir ons voor. Laat ons ons nie blind staar teen die wêreldwye gekke, politieke narrespel en die tragedies wat daarmee gepaard gaan nie. Ons kan maar net radeloos, met verstomming toekyk. Ek en jy kan egter in die klein wêreldjie om ons ‘n verskil maak – ‘n verantwoordelikheid waarvan ons nie durf wegskram nie. Dis ‘n taak wat nie maklik omskryf kan word nie, maar jou hart en verstand sê vir jou wat om te doen.

Dis tyd vir liefwees en omgee, want ons het mekaar nodig. Laat ons in ons harte vir mekaar plek maak. Te midde van die dolle elektronikajaagtog moet ons tyd maak om mekaar in die oë te kyk en na mekaar te luister – terwyl ons mekaar nog het.

Ons moet doen wat ons nog altyd wou doen. Ons moet dalk die wilde perd opsaal en hom moeg ry omdat hy ons nie kon afgooi nie. Tyd is kort en spyt kom altyd te laat.

Mag 2016 vir jou ‘n jubeljaar wees – nie omdat alles perfek is nie, maar juis omdat jy kon oorwin toe die stryd op sy felste was. Mag God se genade op jou toesak soos milde reën na knellende droogte. Mag dit ‘n vet oesjaar wees.    

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Naskrif: Maroela Media het self die jaar op ʼn hoë noot afgeskop ʼn prestasie waaroor ons breëbors rondloop! In Januarie is Maroela Media in ʼn artikel op mybroadband.co.za geïdentifiseer as een van die top 20 webwerwe in Suid-Afrika, bereken op verkeer wat deur die maatskappy Effective Measure gemeet word. Maroela Media het dié prestasie na slegs vier jaar bereik, en is een van slegs twee Afrikaanse webwerwe op die lys “webwerfkonings”. Lekker, Maroela!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Poplap ·

Op facebook word hierdie foto gebruik onder die opskrif “werkers bid saam boere”
Wat as die mense wat hier sit en bid eintlik die plaas eienaars is?
Snaaks hoe ons wil glo dis net wit boere wat gebukkend gaan onder droogte en natuurlik nwt wit boere wat bid.

Jammerte dat mense dit nie net kan insien as mense wat bid nie.

Amanda Van Vuuren ·

15 Januarie

Hello daar Susan, Ek wil net baie dankie se vir die inspirerende boodskap wat jy geplaas het, beginende by die verhaal vd oom en tannie en jou eie boodskap aan ons almal wat julle ‘koerantjie’ graag lees. Baie geluk ook met jul prestasie ek het so’n paar maande gelede op julle ‘koerant’jie’ afgekom en mis nie eendag se nuus ens nie. Daar is so baie verskillende topics ek kan nie eers by hulle almal uitkom op die oomblik nie, maar hoop om dit wel te kan doen id toekoms.
Nogmaals geluk en mag daar ontelbare geseende jare op julle wag!

Groetnis uit Port Elizabeth..

Rina Kotze ·

Baie dankie Susan vir die Inspirerende artikel!
Dis ‘n goeie voorbeeld dat ons mense terugkeer na die Heer toe en uitreik na mekaar in nood, ondanks ras en kleur!
Ek skep sommer nuwe moed en wil saam met boere gaan dans in die reën (het ook op ‘n plaas grootgeword) en my Pa en Broer wat boer en het baie familie wat boer.
Dis maar vir almal ‘n stryd om oorlewing. ek sê dankie vir my Ma wat my geleer het om spaarsamig te werk met water veral!
Met sulke voorbeelde van inspring en help, ondanks hul eie omstandighede, voel ek baie opgewonde!
Dankie vir sulke goeie nuus!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.