Redakteursbrief: Afrikaans groet drie reuse

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Dit was ʼn hartseer week vir Afrikaans. Die skynbare geveg teen Afrikaans op sommige universiteitskampusse tersyde, het Afrikaans vandeesweek drie reuse gegroet.

Ons het afskeid geneem van die skrywer Leon Rousseau, wat in die ouderdom van 85 jaar oorlede is. Die meeste van ons, veral dié wat al ʼn raps langer in die tand is, het grootgeword met Storieman se klokkie-klank wanneer jy ʼn bladsy moet omdraai. Rosseau was die samesteller van dié reeks kinderboeke in druk en klank. Sy Fritz Deelman-boeke was die Harry Potter van ons jeugjare. Sy biografie oor Eugène Marais, Die groot verlange, is iets waarvoor Afrikaans hom altyd dankbaar sal wees. Ons treur oor hom, maar ons is dankbaar.

Dr Anton Prinsloo is ook oorlede, ná ʼn lang siekbed. Te danke aan dr. Prinsloo is duisende eg-Afrikaanse uitdrukkings, spreekwoorde en bygelowe opgeteken, om vir ons en ons kinders behoue te bly. Dr. Prinsloo se sin vir humor en sy passie vir dit wat eie aan Afrikaans is, het hom ʼn geliefde man in Afrikaanse taalkringe gemaak. Bundels soos Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Die aap in jou koffie en Bygelowe en waar hulle vandaan kom het in die afgelope klompie jaar uit sy pen verskyn – die produk van intense navorsing en ʼn amperse begogeldheid met die Afrikaanse taal en die oorsprong daarvan. Ons groet jou met dankbaarheid, dr. Prinsloo. Afrikaans is ryker te danke aan jou.

Ons groet ook vir Aardklop, een van die groot Afrikaanse kunstefeeste. Daar waar die plattelandse tannies vir vyf dae hul mans en kinders tuis kon los, hul vreemde klere uit die motbolletjies kon opdiep en saam met hul vriendinne kon kom fees hou, boeke koop, wyn drink en die kunste kon waardeer. Vir talle wat nie maklike toegang het tot die kunste en teaters nie, was dit soos ʼn oase waar hulle hul dors vir die fynere Afrikaanse dinge kon kom les, sodat hulle versadig is en kan deurdruk tot volgende jaar se fees. Maroela het self ʼn nederige begin by Aardklop gehad – vier jaar gelede toe Maroela in sy kinderskoene was, moes ons die feesbestuur mooi vra om Maroela-lipsalf en -sonskerm op die feesterrein te mag uitdeel. Verlede jaar, tydens die laaste Aardklop, was ons ʼn volwaardige mediaborg. Vir wat Aardklop vir Maroela Media beteken het, sal ons elke bestuurder, borg en organiseerder ewig dankbaar wees.

Ons groet drie reuse in die Afrikaanse taal-, kunste- en kultuurwêreld, maar ons weet hul nalatenskap gaan vir dekades nog in Afrikaans se groei gesien kan word.

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.