Redakteursbrief: Betaalde of gratis nuus – die beginsels bly dieselfde

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ons almal weet vry en gratis is nie dieselfde ding nie. In Engels sou mens nog kon wegkom met ʼn woordspeling tussen “press freedom” en “free press”, maar in Afrikaans is ‘n vrye pers en gratis pers wêrelde van mekaar verwyder.

Die afgelope week is Persvryheidsdag gevier. Suid-Afrika het, volgens Verslaggewers sonder Grense, agt plekke opgeskuif op die Wêreldpersvryheidsindeks vir 2017. As jou wenkbrou nou die hoogte in wip, is dit te verstane. Die afgelope jaar is kwalik gekenmerk deur persvryheid in Suid-Afrika, met die regering se kritiek oor “gebrekkige nuusdekking” wat die ANC geniet, pogings om die Snoerwet deur te druk wat soos ’n swaard oor die media se kop hang, planne vir die instelling van ʼn mediatribunaal en ander vorme van mediaregulering, en die SAUK-8-debakel wat as ʼn laagtepunt in Suid-Afrikaanse mediavryheid en spesifiek dié van die openbare uitsaaier beskou kan word. Hoe Suid-Afrika dit reggekry het om agt plekke op dié indeks op te skuif, laat mens saamstem dat die indeks in wese sy geloofwaardigheid verloor het.

Aan die ander kant moet ʼn mens onthou dat die media, ten spyte van, wyd berig het oor ʼn groot hoeveelheid omstrede nuusgebeure in die afgelope jaar, en dat ʼn gegrom van regeringskant in die media se rigting dit geensins kon regkry om die media die swye op te lê nie. Inteendeel – groot ongerymdhede in regeringskringe en ander sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing het in die afgelope jaar aan die lig gekom, juis te danke aan die stem van die media. Met ander woorde, hoewel die regering dreig om die stem van die media stil te maak, is Suid-Afrikaanse wetgewing en ander regulasies wat die media beheer, steeds in ons, die media, se guns (vir die oomblik, ten minste).

Aan die ander kant moet ʼn mens realisties wees daaroor dat Suid-Afrika se verbetering op die Wêreldpersvryheidsindeks waarskynlik ook te danke is aan ʼn verswakking in die posisies van sommige van die ander 180 lande wat deur die indeks gemeet word. Volgens Verslaggewers sonder Grense word lande op die indeks onder meer gemeet op grond van die vlak van vryheid wat joernaliste ervaar, onafhanklikheid van die media, wetgewing, en die veiligheid van joernaliste in die betrokke land. Volgens die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste is daar, byvoorbeeld, sowat 100 joernaliste wat sedert 2011 in die Siriese konflik ontvoer is.

Hoe ook al – terug na gratis pers versus ʼn vrye pers. Met die onlangse Huffington Post-debakel is talle vrae gevra oor die geloofwaardigheid van gratis mediabronne. Een van die argumente wat aangevoer is, is dat ʼn mens betaal vir goeie gehalte joernalistiek. Die stelling: As jy nie betaal nie, kan jy nie kwaliteit verwag nie.

Die teendeel hiervan laat my glimlag: Met ander woorde, as jy betaal, kan jy kwaliteit verwag? Allermins waar – of dit nou in ʼn restaurant of in die media is.

ʼn Mens moet baie versigtig te wees om parallelle te trek wat niks met mekaar uit te waai het nie. ʼn Media-instansie se keuse tussen ʼn gratis of ʼn betaalmodel is bloot die instansie se ekonomiese enjin. ʼn Media-instansie wat ʼn betaalmodel in plek het, genereer ʼn inkomste uit lesers se intekenfooie. ʼn Media-instansie wat ʼn gratis model in plek het, genereer ʼn inkomste uit advertensies, borgskappe en ander inkomstebronne. Hierdie inkomste – hoe dit ook al gegenereer word – stel ons in staat om ons kernbesigheid, naamlik die publiseer van nuus en ander inligting, te bedryf.

Net so word daar soms geargumenteer dat digitale media nie te vertroue is nie, en dat dit net die gedrukte koerante, soos van ouds, is waarop ʼn leser kan peil trek. Maar dieselfde argument as hier bo geld hier ook: Die keuse van medium is irrelevant as dit by betroubaarheid kom. Die medium is bloot die formaat waarin nuus en inligting aan ʼn leser, kyker of luisteraar gebied word. Daar is geen verband tussen die formaat waarin nuus aangebied word, en die betroubaarheid van daardie nuus nie.

Om te sê dat net “hoofstroommedia” of “media met ʼn betaalmodel” vertrou kan word, is ʼn gevaarlike stelling om te maak.

Dit gesê: Hoe maak ons by Maroela Media seker dat die nuus wat ons vir jou gee, akkuraat en betroubaar is? Dis alombekend dat die druk in ʼn digitale nuuskantoor groot is. Nuus breek dikwels op sosiale media nog lank voor dit deur ʼn media-instansie gepubliseer of uitgesaai word, en die versoeking om ʼn “lekker storie” blitsig te publiseer voor die feite behoorlik nagegaan is, is groot. Boonop is een van digitale media se voordele terselfdertyd sy kruis: Terwyl lesersgetalle absoluut meetbaar is op ʼn digitale platform, is daar ʼn bietjie van ʼn verslawing daarin om te sien hoe die aantal mense wat op die webwerf is, skielik die hoogte in skiet wanneer ʼn sterk storie gepubliseer word. Is ons eerste met ʼn storie, is die toename in verkeer wat hier reg voor ons oë gebeur, soveel groter. Vir enige joernalis is dit lekker. Sipho Hlongwane, hoof van Huffington Post se blog-afdeling, se ingenome twiet oor hul webwerfstatistiek wat die hoogte in skiet elke keer as hulle “Shelley Garland” se omstrede blog oor wit mans en stemreg op sosiale media deel, is ʼn bewys hiervan. Om die vooruitsig van dié lekkerte eenkant toe te skuif en eers inligting na te gaan en weer na te gaan terwyl jou vingers jeuk om die “publiseer”-knoppie te druk, is vir enige joernalis soos ʼn kind wat ʼn blik kondensmelk in sy hande het: die gaatjie is reeds gemaak, maar die eerste teugie mag nog nie geneem word nie, al loop die taaigeit reeds tussen jou vingers deur.

Daar is ʼn fyn balans tussen die druk om “eerste te wees” aan die een kant, en die nodigheid om eers feite na te gaan aan die ander kant. Dis ekstra belangrik vir ons as digitale mediahuis, wat ons daarop roem dat ons vir ons lesers gebalanseerde, betroubare nuus gee, om seker te maak van ons feite en daarmee te help om die beeld van digitale media as onbetroubaar te help beveg. Ons doen dit só:

  • Die beginsels van etiese joernalistiek geld steeds, ongeag die medium. Ons herinner mekaar en ons self voortdurend hieraan.
  • Feite word met verskeie bronne bevestig voor dit gepubliseer word. As ons nie bevestiging van inligting het nie, wag ons met ʼn berig tot ons seker is. Hierdie bronne moet natuurlik betroubare bronne wees: naasbestaandes van slagoffers, ʼn polisiewoordvoerder ensovoorts.
  • Daar is oop, gemaklike kommunikasie tussen almal wat deel is van die redaksionele span. As ons twyfel oor ʼn feit, of ʼn hoek waaruit ʼn storie aangepak word, of die geloofwaardigheid van ʼn bron of skrywer, praat ons dit deur tot ons klarigheid het.
  • Ons is feilbaar, en ons weet dit. Iets soos dit wat Huffington Post oorgekom het, kan met enigiemand gebeur. Ons mag nooit dink ons is verhewe bo die maak van foute nie. Maar wanneer ons foute maak, moet ons dit erken en verskoning vra, en regstel sover moontlik.
  • Ons beroep ons op die kundigheid van die wyse gryses wat voor ons die pad gestap het. Terwyl ons weet dat die meestal jong lede van die joernalistieke span in ons kantoor ʼn intuïtiewe aanvoeling vir digitale en sosiale media het wat ʼn vorige geslag mediamense kwalik sou kon aanleer, weet ons ook dié vorige geslag beskik oor wysheid en kundigheid wat net met jare se ondervinding in die mediabedryf kom. Met ʼn hele paar van dié wyses handhaaf ons ʼn goeie verhouding. Sommige skryf vir ons; ander hou ons met ʼn valkoog dop en huiwer nie om ons te laat weet as hulle reken ons beriggewing was swak, of die taalgebruik in ʼn berig is twyfelagtig, of die balans van ons beriggewing is ʼn bietjie versteurd nie. Aan dié opbouende kritiek steur ons ons beslis.

Jy het laastens, as Maroela-leser, die troos dat integriteit, ʼn passie vir goeie gehalte nuus,  en die mate van idealisme wat eie is aan die karakter van elke joernalis, nie iets is wat met ʼn groter salaris gekoop kan word nie. ʼn Joernalis is iemand wat glo deur wat hy skryf, kan hy die wêreld ʼn beter plek maak. Of dit in digitale of gedrukte formaat is, en of mense betaal om te lees wat hy skryf, of nie: Die beginsels bly dieselfde.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Lena Jonk ·

Dankie vir die mooi en duidelike uiteensetting Susan. Ons bly in die buiteland by my kinders as gevolg van gesondheidsprobleme en die jare wat ook maar tel. Ons geniet Maroela Media al vir baie jare, het al so baie lesers van hier af wat die koerant lees vir wie ons van koerant vertel het. Hier is so baie Afrikaners feitlik om elke hoek en draai.

Baie voorspoed daar met die pragtige eg Afrikaanse koerant, ons bid ook baie vir SA.
Dankie ook vir jou harde werk om dit vir ons moontlik te maak so ver oor die diep waters.

Vaalseun ·

Susan, baie dankie vir jou, jou span en julle medewerkers se pragtige publikasie. Thomas Carlyle sê in Frederik die Grote min of meer, “Genialiteit is die buitengewone vermoë om moeite te doen.” Ek dink julle val binne daardie definisie.

Du Toit Maritz ·

Julle “mededinger” in die Afrikaanse mark vra glo R100 per maand. Ek kan nie verstaan hoekom mens dit sou betaal as jy dieselfde nuus, sonder ‘n politieke agenda, by julle kan kry nie. Julle joernalistieke standaarde is boonop hoër, en julle webwerf is heelwat meer gebruikersvriendelik. Dankie daarvoor!

Boerseun ·

Want dis nie polities korrek nie, en leopold copy paste plaas nie sy twak op daai blog nie

Kolgans ·

Alle nuusblaaie het ‘n politike agenda, party “verskuil” dit net beter as ander.

Frans ·

Susan, dankie vir die waarheid. Ek is so lief daarvoor. Hoekom kan hulle nie Thuli Madonsella president van die land maak nie en vir jou die nuwe hoof van die SAUK. Ons het eerlike mense met ń goeie karakter in leierskap posisies in hierdie land nodig om ń voorbeeld vir ons jeug te wees. Die Bybel leer ons egter, eers moet die afval kom, dan kom die einde. Groete

Willie Maree ·

Susan, aan jou en jou span ons hartlike gelukwensinge. Ons is hier aan die Suidkus van KZN, die lydende party aan n gebrek aan betroubare Afrikaanse nuusblad. Julle het reeds ‘n groot groep volgelinge in ons omgewing (merendeel pensioenarisse) en julle betroubare nuus is ‘n riem onder die hart. Ons is trots op julle span

Ou Joernalis Vlakvark ·

Beste Susan, baie dankie vir hierdie insette. Geseënd is die joernalis wat die ROEPING beleef om die bevordering van reg en geregtigheid na te streef: Om ‘n kultuur te bevorder van “doen aan andere wat jy verlang hulle ook aan jou moet doen.”

Mag alle Afrikaanse nuusmedia groei van krag tot krag, ongeag of die lesers betaal al dan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.