Redakteursbrief: Dankie aan jóú – een van Maroela se 1 miljoen lesers

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Maroela Media

Ons vier vandag by Maroela Media ʼn groot mylpaal: meer as 1 miljoen lesers het in Junie vanjaar Maroela Media gelees. Dis die eerste keer dat Maroela die 1 miljoen-kerf verbysteek.

Uit ʼn nuusoogpunt was dit ʼn groot maand met baie nuus: die politiek, die ekonomie, misdaad, geweld, rassisme, betogings, plaasaanvalle, terreur en taalkwessies het alles ʼn rol gespeel om joernaliste by media-instansies landswyd op hul tone te hou. Boonop was die media vir ʼn slag sélf deel van die nuus – eers met die beskikbaarstelling van die Reeva Steenkamp-moordtoneelfoto’s en media-instansies se keuse om dit te publiseer al dan nie; toe met die SAUK se besluit om geen beeldmateriaal oor gewelddadige betogings uit te saai nie, en die skorsing van drie senior SAUK-personeellede as ʼn direkte gevolg hiervan. Meer as genoeg leesstof om 1,13 miljoen lesers regdeur die maand aan die lees en saampraat te hou.

Om dit in perspektief te plaas: Maroela Media is nog nie eens vyf jaar oud nie, en is nie net die jongste Afrikaanse mediahuis nie – dis boonop die eerste Afrikaanse mediahuis wat as digitale mediaplatform ontstaan het en nie sy oorsprong in die gedrukte media het nie. Dit beteken toe Maroela in Augustus 2011 sy eerste artikel publiseer het, was elke leser ʼn splinternuwe leser; nie een van ons lesers het voorheen ʼn Maroela-koerantweergawe gelees en bloot na ʼn digitale weergawe van die koerant toe geskuif nie. Elke leser wat Maroela ontdek het, het ʼn besluit geneem om dié nuwe digitale mediahuis – toe nog ʼn splinternuwe konsep in SA – te bly lees en te bly ondersteun.

Wat ons hier by Maroela se harte stil laat word oor dié baba wat die afgelope vyf jaar uit sy skoene en bo alle verwagting heen tot ʼn reus gegroei het, is egter nie die rekordgetalle nie. Dis die 1 138 328 mense wat gekies het om deel van die Maroela-gemeenskap te wees. Dié 1,13 miljoen lesers bestaan uit Afrikaans- én andertaalsprekers van reg oor die land en in die buiteland. Dis gewone mense wie se stories ons daagliks vertel. Mense wat hulle hartseer met ons deel, wat hul geliefdes se foto’s vir ons aanstuur en wat ons vertrou om die krisisse van hulle dag-tot-dag-bestaan met respek en integriteit oor te vertel aan ons lesers.

Dis mense wat Maroela lees omdat hulle bly is dat ons besluit het om nié die Reeva Steenkamp-foto’s te publiseer nie, en wat ons ondersteun omdat ons glo nuus moet verniet wees. Dis mense wat trots is op hul kultuur en taal, en wat hand en tand sal veg om dit in universiteite en skole te behou.

Dis mense wat ʼn verhouding het met God, nie skaam is om dit te se nie en wat dieselfde waardes graag wil sien by die nuusinstansie wie se nuus hulle kies om te lees. Dis mense soos Celia wat verlede week op my redakteursbrief die volgende kommentaar gelewer het: “Maroela is vir ons soos ʼn reddingsboei op ʼn stormsee! Dankie vir wat julle doen, julle staan vir die waarheid en Christenskap. Die nuus is maar hartseer en sleg, maar ons verkies die waarheid en om nie mislei te word nie. Ons kan saamstaan en bid vir mense wat in nood verkeer en slagoffers van plaasmoorde – sonder julle sou ons nie van hulle geweet het nie. So erg as wat die nuus is ek kies ek om te weet. Ek bid daagliks vir elkeen waaroor Maroela ons inlig. As almal van ons net kan saamstaan in gebed teen hierdie bose – ons kan ʼn storm losbid!

Die rede hoekom ons lesersgetalle aanhou groei, is omdat al meer mense aanklank vind by dié digitale gemeenskap – ʼn e-koerant in ʼn moderne baadjie, met ʼn outydse onderrok wat stewig uitsteek.

Daarom: aan jou, ons leser, ʼn groot dankie. Ons weet jy het ander nuuskeuses, maar dat jy kies om jou gewig by ons in te gooi.

Die Maroela-span verdien om genoem te word by ʼn viering van sukses soos hierdie. Teen die nuuskantoor se muur is ʼn reuse-groot silhoeët van ʼn maroelaboom waarteen die teikens vir elke maand en vir die jaar aangedui is, en die arme joernaliste se tafels is só geskuif dat hulle nie kan kop oplig sonder om te sien waar ons voor of agter is nie. Nie net hulle nie, maar ook die res van die span werk ongelooflik hard om van Maroela ʼn sukses te maak. Gesprekke oor werksaangeleenthede op die WhatsApp-groepe wat ons vir kommunikasie gebruik, hou ʼn mens dikwels laatnag nog wakker soos jou foon piep wanneer iemand ʼn storiewenk deel, ʼn mening gee of ʼn kreatiewe idee voorstel.

Aan vrywillige spanlede wat hand opsteek wanneer hulp na-ure nodig is, is daar altyd ʼn oormaat – of dit nou hulp is met die nagaan van leserskommentaar oor naweke, of die afskuur van ʼn nuwe raadsaaltafel in die aand ná werk. Die 1 miljoen-rekord is vir elke Maroela-spanlid wat nooit ophou werk nie, ʼn stewige klop op die skouer.

ʼn Groot dankie ook aan Maroela Media se direksie, aandeelhouers, medewerkers, rubriekskrywers, vryskutskrywers, adviseurs en ondersteuners. Ons sukses sou nie moontlik gewees het sonder julle wat die afgelope vyf jaar in Maroela bly glo het nie.

Wat hou die toekoms in? Ons is self nie seker nie. Die digitale- en sosialemediawêreld verander te vinnig en is te wispelturig om voorspellings te kan waag. Maar ons is nie bang nie. Dis immers in net soveel onsekerheid dat Maroela vyf jaar gelede sy eerste storie publiseer het.

En kyk waar staan ons nou.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Maroela Media se span wat die 1 miljoen- unieke gebruikerskerf behaal het

Maroela Media se span wat die 1 miljoen- unieke gebruikerskerf behaal het

Voor v.l.n.r. Adéle Changuion (aktualiteitsjoernalis), René Roux (inhoudskoördineerder), Nico Strydom (nuusredakteur), Susan Lombaard (uitvoerende hoof/redakteur), Suné van Heerden (inhoudsredakteur), Leonie Bezuidenhout (administratiewe beampte), Kobus Bezuidenhout (webmeester)

Agter v.l.n.r. Phillip Bruwer (senior joernalis), Brendon Staniforth (advertensiebemarker), Elreze Lessing (internskap), Christo Brits (digitalebesigheidsbestuurder), Mariné Jacobs (senior joernalis), Cyril Blackburn (joernalis), Annelize Brits (projekbestuurder), Landi Malan (sosialemediakoördineerder), Keren van den Berg (projekbestuurder)

Afwesig: Este Meyer-Jansen (ondersoekende joernalis), Marius Vermaak (ateljeebestuurder), Milan Bye (webtuisteskepper).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Snuffels ·

Baie Geluk Maroela. Dankie vir al die nuus daagliks. Dit is ‘n voorreg vir my om gratis Afrikaanse nuus daagliks te kan lees.

Vriendelike groete

Sann ·

Baie geluk met die mylpaal, maar veral met die gehalte van julle diens. Julle verdien elke mooi kompliment wat Flip Buys se artikel julle toedig. Ek kuier graag onder hierdie Maroelaboom. Mag julle nog meer van krag tot krag gaan, want ons koelteplekkies raak baie skraps vir Afrikaans.

Celia Tjaden ·

Baie geluk Maroela! Ons is nie altyd bewus van al die harde werk agter die skerms nie. Miljoen stemme se: Ons waardeer julle veral in hierdie tye! Ons voel ons behoort aan iets standvastigs al is ons voete onder ons volk uitgeruk. Ja,ons weet nie wat voorle nie, maar ons is nie alleen nie.
Lekker om julle almal te sien!
Sterkte vorentoe!. En baie seen. Lank lewe Maroela!

Pauline Pienaar ·

Baie geluk!! Lekker om met julle die pad te kan stap. Doen so voort.

Francie ·

Baie geluk en baie dankie ,ook vir die hoë standaard wat julle deurentyd handhaaf.
Ek wil egter ook elke leser wat positiewe kommentaar lewer bedank, en ‘n spesiale groot dankie vir elkeen wat so nou en dan in tipiese eiesoortige aweregse humor kommentaar lewer wat mens vir die res van die dag hier binnekant wil laat giggel van lekkerkry .

Tc ·

Ek so bly dat ek so paar maande gelede Maroela Media ontdek het!!!Ek kuier elke dag vir ure by julle lees omtrent als wat daar is!!!Lank lewe Maroela Media!!!!!!Mag ek n voorstel maak asb,kan julle nie ook n humor “button” in bring met goeie Afrikaanse grappe ek glo dit sal ook baie mense laat glimlag in die deurmekaar land van ons!!

Weereens baie geluk en dankie aan julle almal!!!

Juffrou ·

Puik span! Puik werk!
Baie dankie. Baie geluk! Doen so voort asseblief. Verslind alles!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.