Redakteursbrief: Dankie, Here, vir die reën

boer-dans-reën

Foto: Erin Palm Photography

Onder die boom voor die venster waar ek sit en werk aan my einde van die jaar-direksieverslag is ʼn verbleikblombos. Dit blom vanjaar met oorgawe, vir die eerste keer vandat ek dit tien jaar gelede daar geplant het. Die soet reuk hang die tuin vol. Die grasperk, waar daar ʼn paar weke gelede kolle bruin grond was soos die gras gekwyn en later heeltemal verdwyn het, slaan lemmetjiegroen deur onder die laag kompos wat ons verlede week in die tuin ingewerk het. Vroegoggend, nog voor dit begin skemer word, sing voëls raserig en uitbundig in die groot bome om ons huis.

Alles en almal is dankbaar vir die reën.

Ek het ʼn klompie jaar van my kinderlewe op ʼn plaas grootgeword, en al het ons nie self geboer nie, onthou ek hoe ná ʼn boeregemeenskap aan die natuur lewe. Ek het vroeg-vroeg geleer dat dit ʼn goeie reënjaar gaan wees as die vinke hulle nessies ekstra hoog in die wilgerbome se takke vaswoel. Ek onthou dat die weer presies om drieuur in die middag begin opsteek het: ná die skoolbus my afgelaai het, so net voor drie, moes ek vinnig deur die plaasdam-swembad spring as ek wou swem, want teen halfvier, klokslag elke dag, het ʼn Hoëveldse storm uitgebars. Ek onthou baie keer se vassit met ʼn motor op ʼn modderige plaaspad. Geen boer het omgegee om ʼn trekker te stuur om te help uittrek nie, want voertuie wat in die modder vassit, is ʼn teken van ʼn goeie reënjaar. (As dit ʼn báie goeie reënjaar was, het die trekker wat tot jou redding gekom het, soms ook vasgesit.) Ek onthou die groen skynsel van mielieplantjies wat opkom in ʼn nat mielieland en beeste wat stertkant na die reën met gedweë koppe omlaag staan tydens ʼn donderstorm. Ek onthou dat ek soms, as ek klavier oefen terwyl dit reën, eers moes ophou, omdat ek myself nie kon hoor bo die geraas op die sinkdak nie. En ek onthou die reuk van nat grond en die kleur van die lug wanneer die son uitkom ná ʼn storm.

Soms het dit vir ʼn paar weke nie gereën nie. Dan het die groen mielieplantjies se blare silwerig begin word en omgekrul. Boere het langs die pad gestop en tussen die mielies gaan hurk en die grond tussen hul vingers gevryf.

Maar dit was nooit baie lank droog nie. Nou en dan was daar ʼn minder goeie oesjaar, maar selde was daar ʼn misoes.

Nooit was daar ʼn droogte soos die droogte van 2015/2016 nie.

Ek is dankbaar dat ek nie die afgelope jaar se droogte as deel van ʼn plaasgemeenskap beleef het nie. In die stad, met net hier en daar ʼn idee van die ontsetting van die droogte wanneer ek deur die platteland ry of iewers op ʼn plaas kuier of foto’s sien, was dit erg genoeg. En ons het daaroor geskryf in die nuus, en só min of meer ʼn prentjie van die omvang van die droogte dwarsoor die land gesien. Maar ek dink die herinneringe wat mens bymekaar maak in een droogteseisoen is net so baie soos in ʼn leeftyd van goeie reënseisoene; selfs in die stad. Ons sal eendag ons kinders vertel van dié droogte. Ons sal hulle vertel hoe ons die lug dopgehou het vir tekens van weer wat opsteek; hoe ons stil gebid het wanneer daar ʼn wolkerigheid uit die regte rigting en op die regte tyd aankom; hoe ons mekaar se oë vermy het as dit oortrek sonder dat ʼn druppel val.

Maar vir nóú is ons dankbaar, want dit reën.

Groot dele van die land het nog groot verligting nodig, en kundiges reken dit kan ʼn hele paar jaar neem voor damme weer goeie watervlakke bereik. Ons hou aan vertrou dat die goeie reën van die afgelope twee weke gaan aanhou en gaan uitbrei na die gebiede wat nog droog is. Dit neem egter nie weg van die wonder van die reën wat reeds geval het en nog steeds val nie, selfs al is daar kitsvloede, tornado’s en skade wat met die groot reën gepaard gaan.

Dis nie net met reën wat ons ʼn tyd van oorvloed beleef nie. Hier by Maroela is ons harte vol dankbaarheid. Volgende week gaan ek spog met rekordsyfers wat ons vanjaar behaal het, en oor al die mylpale wat ons bereik het. Maar vandag wil ek net dankbaar wees, want God se guns was groot vanjaar. Ek dink aan elke goeie aanstelling wat gemaak is – die regte mense wat op die regte tyd hul CV’s gestuur het, selfs al het hulle nie altyd geweet van poste wat beskikbaar is en dringend gevul moet word nie. Ek dink aan die kameraadskap in ʼn span wat onder intense druk werk. Ek dink aan al die kere vanjaar wat ons met ʼn storie op Maroela ʼn verskil kon maak; kon help om geld in te samel vir ʼn siek kind wat dringend geopereer moet word, of om ʼn verlore verloofring terug te kry, of om ʼn hond en sy eienaar met mekaar te verenig, of om ʼn beurs vir ʼn belowende matrikulant in moeilike omstandighede te help reël. Ek dink aan die mooi terugvoer van lesers, gewoonlik net wanneer ons dit nodig het. Aan die oom wat onlangs vir my so ʼn mooi briefie geskryf het, net om te sê hy bid vir my, en die knop in my keel oor ek weet hy doen dit regtig.

Ek dink aan die mense en die kennis tot ons beskikking – mense wat hul tyd en raad en kundigheid gee, sonder om iets terug te vra daarvoor. Dié wat skryf wanneer ons hulle vra om te skryf, al is hulle eie skedules tjokvol. Almal op wie se knoppie ek en my span kan druk as ons regsadvies nodig het, of ʼn vinnige stukkie kundigheid oor ʼn bepaalde onderwerp vir ʼn storie soek. En ek weet dis nie sommer toevallig nie – dis alles guns en groot genade.
Vandag, dus, wil ek dankie sê, vir ʼn God van Voorsiening wat ook sorg vir tye van oorvloed. Vir ʼn oomblik vergeet ons eers van die droogte agter ons, van die moeilike omstandighede in die land, van die misdaad waaroor ons elke dag moet skryf, en ons onthou net dat Hy ons baie liefhet.

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid; om sy Naam ontwil.
Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly tot in lengte van dae.
Psalm 23, 1953-vertaling

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Ellie ·

Ek is n getroue Maroela Media leser. Hierdie pragtige stuk, so diep uit die hart uit met woorde wat so raak beskryf, maak my opreg dankbaar dat ek hierdie webblad n paar keer op n dag besoek. Baie dankie Susan en gaan voort met die goeie diens wat julle aan die publiek verskaf. Altyd met n positiewe gesindheid, al kry julle soms aaklige kommentaar op julle berigte.

Mien ·

Dankie Susan. Dit wat jy hier geskryf het, is hartroerend mooi.

Ilse ·

Dit is so lekker om in Afrikaans te kan lees. Dié stuk het my hartsnare geroer. Mooi so.

Elsa van Eck ·

Jou verhaal neem my terug na my jare van grootword tyd op ons plaas tussen Schweizer-Reneke en Vryburg. Dit was my grootste plesier om na ‘n bui reën kaalvoete in die stroompies te speel, nie eens ‘n kameeldoring in my voet het my gestop om dit net weer na ‘n volgende bui reën kaalvoete in die stroompies te speel nie.

Nanette ·

Sekerlik een van dié mooiste foto’s wat hierdie jaar gepubliseer is..

Francie ·

‘n Verbeikblombos – kan iemand my asb. hier help, is dit ‘n pragtige Afrikaanse naam vir ‘n “yesterday, today and tomorrow”- struik?

CHRISTA ·

Prys die HERE vir sy grootse genade, sy grootse liefde en goedheid teenoor ons!!!

christa ·

Dankie Vader vir U onfeilbare Liefde en Genade net omdat U vir ons so Lief is Dankie vir die wonderlike reen .

Marietjie ·

Dankie vir die opbouende berig. Dankie vir julle almal wat so hard werk om vir ons vars nuus te bring. En ja, dankie Vader vir ons reën en dankie vir dit wat nog sal val op droë damme en velde

Zirk ·

Susan, jy skryf so na my hart. Dis net ‘n plaaskind wat alles soo raak kan neerpen. Dis so fyn waargeneem, dit maak my eintlik bewoë.
Al wat ek net nog kan byvoeg is die wonderlike geure wat my sal bybly van ná ”n reënbui; die reuk van karoobossies, die reuk van nat koringstrooi, die geur van vars gebaalde lusernhooi binne ‘n toe skuur. Daar is geen geur op aarde wat daarby kom nie. Groete en sterkte, Susan veral met met jou wonderlike skryftalent.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.