Redakteursbrief: Dankie – jy is een van 2 miljoen Maroela-lesers

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Aan die begin van 2019, toe Maroela op ʼn gemiddeld van 1,5 miljoen unieke lesers elke maand gestaan het, het ons besluit om op te hou om ons sukses aan syfers te meet.

Hoekom? Want as ʼn mens die hele tyd besig is om koppe te tel, vergeet jy soms van die harte wat deur dié 1,5 miljoen lesers verteenwoordig word.

Ons gemeenskap was nog altyd die kern waarom dinge vir ons by Maroela gedraai het. Respek vir mense se privaatheid in ʼn hartseer oomblik, soos wanneer ʼn jong lewe weggeneem is in ʼn enkele oomblik van onbesonnenheid, weeg swaarder as ʼn “scoop”. Maar as ʼn mens die hele tyd besig is om lesers te tel en syfers dop te hou, kantel die skaal baie maklik anderkant toe.

Natuurlik hou ʼn mens steeds ʼn oog op die syfers. Dis immers ʼn waardevolle maatstaf daarvan dat ʼn mens vir jou lesers inligting gee wat vir hulle waardevol is. Maar wanneer ons maandeliks joernaliste beloon vir goeie stories, soek ons vir ʼn storie wat met groot sensitiwiteit hanteer is, wat knap nagevors of geskryf is, of wat ʼn nuwe of ander insig tot ʼn storie gebring het.

Met hierdie fokus op gehalte inhoud vir ons Maroela-gemeenskap het die syfers in 2019 stil-stil gegroei. In April was ons ʼn bietjie verbaas toe ons 1,5 miljoen unieke lesers* skielik opgeskuif het na 1,8 miljoen. En toe, in Junie, steek Maroela Media vir die eerste keer 2 miljoen unieke lesers verby. En in Julie, toe ons agt jaar oud word, gebeur dit wéér, met twee ekstra rekords daarby: Maroela Media bedien vir die eerste keer meer as 20 miljoen bladsye** in een maand, én ontvang meer as 8 miljoen*** besoeke in een maand. Met hierdie syfers is Maroela Media loshande die grootste Afrikaanse nuusplatform in die wêreld.

Boonop het Maroela Media in Julie ʼn rekordmaand met advertensie-inkomste gehad – ʼn teken daarvan dat die Afrikaanse gemeenskap stadig maar seker besig is om weer die vertroue van sakeondernemings te wen.

Digitale platforms reg oor die wêreld spook om ʼn besigheidsmodel te vind wat werk. Sommige platforms – plaaslik en internasionaal – kies om ʼn betaalmuur in plek te sit, waar die aard van die verhouding tussen die platform en sy leser ʼn suiwer besigheidsooreenkoms word: Ek gee inhoud en jy betaal daarvoor. Dié model (net soos die gratis model) het sy uitdagings. In ʼn artikel wat in Mei vanjaar op digiday.com gepubliseer is, getiteld “The Guardian looks to its future as it makes first operating profit in years,” word die grootste uitdaging met ʼn betaalplatform verwoord: “For publishers with hard paywalls, the kind of article that drives a person to subscribe is completely different from the kind that is aimed at attracting mass, typically fly-by audiences who come across the article from a range of different platforms but won’t likely return. Paywalled articles are typically investigative, analytical, and most importantly – not found anywhere else on the web.”

Ander, soos Maroela Media, kies ʼn gemeenskapsmodel waar verskeie besigheidsinisiatiewe deurentyd ondersoek en geïmplementeer word om verskeie inkomstestrome te skep waarmee uitgawes gedek word, sodat ons inhoud gratis aan ons gemeenskap kan gee. (Nee, ons joernaliste werk nie “verniet” of “vir die liefde van die saak” nie.) Advertensies – steeds ʼn belangrike bron van inkomste in digitale media – is een inkomstestroom. Maroela-ondersteuners – waar ondersteuners Maroela kan ondersteun met ʼn vrywillige eenmalige of maandelikse bydrae – is nog een. En dis dalk moeilik om te glo, maar ten spyte van moeilike ekonomiese omstandighede in die land is Maroela se ondersteunersbasis besig om daagliks te groei.

Maar waarom is mense bereid om te betaal vir iets wat gratis is?

Omdat dit gaan oor ʼn groter saak – gemeenskaplike belang in die voortbestaan van ʼn mediaplatform wat gebalanseerde, betroubare, gehalte inhoud sonder sensasie publiseer. Dit, plus respek vir ons lesers en ons gemeenskap, is gelyk aan lesers wat lojaal is en vrywillig bydra om die wiele aan die rol te hou. Dis ook die geheim agter The Guardian se suksesvolle model: “The success of their membership model is evidence of reader appetite for quality and trust in media brands that stick to the principles of what they stand for,” lui die artikel oor The Guardian op digiday.com.

Die lojaliteit van Maroela se lesers, in ruil vir die gehalte inhoud wat ons graag wil publiseer, is duidelik uit onder meer die hoeveelheid interaksie (of “engagement”) wat Maroela se volgelinge op Facebook met die handelsmerk het: Volgens Facebook se statistiek het Maroela se volgelinge weekliks 1,9 miljoen keer interaksie met die handelsmerk op Facebook; die meeste van alle nuusplatforms wat Facebook-profiele het. (Om dit in perspektief te plaas: Die Afrikaanse nuushandelsmerk met die tweede meeste interaksie het die afgelope week 683 000 interaksies gemeet – minder as ʼn derde van Maroela sʼn.)

Net soos The Guardian moet Maroela ook deurentyd dink aan maniere om nie net ʼn inkomste te genereer nie, maar ook om aan die uitgawekant met groot omsigtigheid te werk. Gelukkig vir ons hou die digitale era, wat gratis nuus so ʼn uitdaging maak, allerlei voordele in as die nuuskantoor vir dié era gerat is. ʼn Joernalis wat ʼn eenvoudige storie opvolg, het deesdae dikwels nie nodig om in ʼn motor te spring en na ʼn ander provinsie te jaag om eerstehands met ʼn slagoffer te gesels nie, veral as die storie voor die hand liggend en foto’s digitaal beskikbaar is. Natuurlik sorg ons dat ons daar is as ʼn beskuldigde in ʼn omstrede saak in die hof verskyn, as dit belangrik is om self met die slagoffers te gesels, of as ʼn indiepte- of profielstorie gedoen word. Maar deur heelwat van ons werk uit die kantoor te doen, kan ons met ʼn groter verskeidenheid bronne gesels, drie keer seker maak van ons feite, stories vinniger publiseer, ʼn baie groter aantal stories per dag publiseer as wat die geval sou wees as ons, soos in die ou dae, agter elke storie moes aanry, en les bes, heelwat bespaar aan die uitgawekant.

Maar eintlik – met ʼn lang draai – wou ek vandag sommer net sê: Dankie dat jy een van Maroela Media se 2 miljoen gemeenskapslede is. As jy ʼn ondersteuner is, sê ons dankie. As jy soms ʼn nuuswenk stuur of ons stories deel op sosiale media, dankie. As jy ʼn vurige Maroela-aanhanger is wat ons T-hemde dra en ons blikbekers gebruik om jou boeretroos mee te drink, dankie.

Ons verbintenis aan jou, in ruil vir jou lojaliteit en ondersteuning, is dat ons sal aanhou om gebalanseerde, betroubare nuus met integriteit te publiseer, en om die stories te gaan soek wat jou hoop sal gee vir jou en jou kinders se toekoms in SA.

Saam maak ons dié ding werk.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

Voetnotas:
* Unieke besoekers: ʼn Leser word slegs een keer per maand getel, ongeag hoeveel keer hy die webwerf besoek.
** Bladsyvertonings: Die aantal bladsye, of stories, wat in ʼn maand deur besoekers aan die webwerf gelees is.
*** Besoeke: Aantal kere wat die webwerf in ʼn maand besoek is – ʼn leser wat meer as een keer die webwerf besoek het, word dus meer as een keer getel.

Alle syfers word gemeet deur Narratiive, ʼn industriestandaard platform in die mediabedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Bridget ·

En so baie baie dankie dat julle ons op hoogte hou met die nuus elke dag en dit nogal GRATIS waardeer dit uit my hart uit

marco polo ·

Dankie Maroela, julle is een van die min webtuistes wat ek in China kan lees en julle hou my op hoogte van nuusgebeure in SA. Ek geniet ook die kommentaar van mede-lesers, dit gee mens n goeie idee van hoe mense oor sake voel. My enigste kritiek is julle sensors wat kommentaar vir onbenullighede blok. Dit voel soms asof my kommentaar geblok word as julle net my naam sien. Kom ons kyk of hierdie een deurgaan.

Dawie ·

Dis juis om daardie rede dat ek opgehou het om kommentaar te lewer. Meeste van die kommentaar is deesdae in enige geval so voorspelbaar dat dit nou al vervelig geraak het.

Johan Oosthuizen ·

As dinge om jou donker word, soek jy ‘n straal lig. As die lewe duur raak, wens ‘n mens daar is nog iets wat jy verniet kan kry. As ‘n mens keelvol raak vir gemorsnuus, soek ‘n mens nuus wat jy lekker kan afsluk. So kan ek aangaan! Maroela is ‘n koele lafenis, ‘n koel briesie in ‘n wêreld wat jou moeg en moedeloos laat. Duisend Boerehartdankies!

Lena Jonk ·

Genoeg dank kan in woorde nie uitgedruk word nie. Maroela Media ek sal julle blad gereeld lees want dis my mense en daar word nie fopnuus versprei deur slaafs na te volg wat party giftige nuuskanale vanaf oorsee versprei nie. Hier oorsee is julle blad alreeds baie gewild ek vertel dit vir elke Afrikaner hier. Baie voorspoed en Seen word julle toegebid. Dankie ook vir die gereelde dagstukkies, dis altyd padkos. Baie groete.

Stephan de S ·

Baie geluk MM. Dit doen my hart goed om te hoor vd positiewe statistieke……en om te dink watter wonderlike kommunikasie-middel julle vir Afrikaners geword het. Laat ons mekaar verdra…..al die verskillende persoonlikhede,sienings,idees,stuitighede,dwaashede,prekery,spogtery ens ens. Dit sal goed wees as mense altyd vrymoedigheid het om deel te neem, interaksie te hê sonder veroordeling. Vir sommige kan die oordra v hul woede/ontevredenheid/bitterheid/frustrasie/onkunde lei tot genesing. Mag MM van krag tot krag gaan en n al groter rol speel in die opbou v Afrikaners…..wie weet wat die moonlikhede is en wat bereik gaan word. Sterkte en wysheid vir die redakteur wat rigting moet aangee en besluite neem.
Ek het nogal bietjie simpatie met Marco Polo wat oor sensuur praat…..n paar v my opmerkings is al geblok en ek het dae lank nagedink oor wat moontlik die rede kan wees.

Leon - Centurion ·

Baie geluk met die sukses. Stem saam Dawie en Morco Polo rakende kommentaar.

Nuus24 het hulself in die voet geskiet met “paywall”.

P G Slabbert ·

Dankbaar en baie geluk en voorspoed . Hoop jul kry miljoene dankies !

Dawie ·

Hulle het nogal, maar onthou jy kan 30 dae gratis toegang kry. ;p

Annalize ·

Julle onderskat jul leserstal. Ek deel daagliks jul berigte na meer as 75 000 met slegs 3 plasings. Dankie Maroela julle is tops!

Bokram ·

Lekker man,hou so aan.Eerste ding wat ek elke oggend doen is eers maroela se nuus lees.

Amelia ·

Heel eerste soggens, reguit Maroela toe vir vars nuus.Baie dankie Maroela eks bly ek kan n klein bydrae maak elke maand tot hiedie blad.Mag julle voort bestaan en net van krag tot krag gaan.

Pienkes du Plessis ·

Ek lees u blad gereeld, maar kan nie begryp hoekom u so ‘n rigiede sensuur-beleid handhaaf nie. Ons, u lesers, is gewoonlik verantwoordelike en betreklik ingeligte individue wat deel wil wees van die nasionale debat. Dit doen Maroela oneer aan om menings te “blok” waarvan u nie hou nie.

Gogga ·

Ek wil ook net BAIE dankie sê vir al jul berigte en nuus wat daagliks geplaas word, want ons bly op klein dorpie waar ons nie eers meer Die Volksblad ontvang nie, maar deur Maroela Media bly ons op hoogte vd nuus !BAIE DANKIE , ek WAARDEER dit !!

Ansie Geldenhuys ·

Baie geluk Maroela! Dit is en bly my plekkie van nuus lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.