Redakteursbrief: Dankie, ons 1.6 miljoen lesers!

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Geen draaiboekskrywer sou die afgelope week se plaaslike nuusgebeure in ‘n fliek tot sy reg kon laat kom nie. Elke keer as jy dink nou kan dinge nie nóg vreemder nie, maak die storielyn in onse Suid-Afrika van 2017 ‘n nuwe, bisarre kinkel.

Vals nuus, of “fake news”, vier hoogty. Daar is “nuuswebwerwe” wat nét vals nuus publiseer, en dit verpak as satire – ‘n patetiese verskoning vir sensasiesoekery. Ongelukkig is nuusgebeure in SA so vreemd dat dié vals nuus dikwels minder vals klink as die ware nuus. Om te onderskei tussen vals nuus en ware nuus, raak al moeiliker.

Hoe vreemder die nuus, hoe belangriker is dit vir ons hier by Maroela Media om seker te maak dat jy weet: Dit wat jy op Maroela lees, is die reine, volle waarheid. Ons doel voor oë vir 2017 is eenvoudig: Ons wil jou gebalanseerde, betroubare nuusbron wees. As jy wonder of iets die waarheid is, moet Maroela jou stilhouplek wees. As ons dit publiseer het, is dit die waarheid. En sover dit vir ons moontlik is, onderneem ons om vir jou ‘n gebalanseerde prentjie te gee deur alle kante van ‘n saak te ondersoek.

Ek glo ons slaag toenemend hierin. Terugvoer van ons lesers bevat gewoonlik uitdrukkings soos “ons kan julle vertrou” of “as ek wonder, kyk ek op Maroela” of “Maroela gee regtig om vir sy lesers”. Terugvoer soos hierdie is ‘n riem onder die hart vir die hele Maroela-span. Die feit dat ons lesersgetalle byna onbeheersd groei, is ‘n bevestiging van hierdie mondelinge ondersteuning: Van 1 tot 30 Maart vanjaar het 1.6 miljoen unieke lesers Maroela Media se webwerf besoek. Dis 33% meer as die 1.2 miljoen unieke besoekers in November verlede jaar. Die totale besoeke aan die webwerf vir Maart staan tans op 6.3 miljoen, teen November se 4.5 miljoen – sowat 40% groei. En die aantal bladsye wat ons lesers in Maart gelees het, staan op 14.6 miljoen in vergelyking met November se 10.4 miljoen. As jy hier lees, is jy uiteraard een van die 1.6 miljoen mense wat ons getrou ondersteun. Daarvoor sê ek dankie – mag ons jou vertroue waardig wees.

Net so belangrik soos dit vir ons is om betroubaar te wees, is dit ook vir ons dat ons lesers moet deel voel van ‘n gemeenskap. Dis waarom Maroela se kommentaarfunksie steeds aktief is en waarom ons deelname op die webblad en op sosiale media aanmoedig. Ons ontvang vandeesweek ‘n brief van ‘n leser, , Liezl Leibbrandt, wat ek graag deel, omdat dit so mooi presies verwoord wat ons poog om vir ons lesers te bied:

 Dankie, Maroela Media.

Jy’t ons mense aan die praat.

Met jul kommentaar wat die lesers kan gee, dek jy alle aspekte van menswees. Die mense lag, die mense pik ’n traan, die mense raak boos, die mense is lief, die mense haal ou koeie uit die sloot, die mense raak opgewonde, die mense is wie hulle is. Hulle gee nie voor nie, want hier kan hulle hul mening lug, onaangeraak, in die gemak van hul eie kantoor of by hul huis agter die rekenaar.

Die mense voel nou hulle behoort iewers. Hulle kan hul kwade gevoelens neerpen, hulle kan hulle gelukkigheid deurgee, hulle dankbaarheid. Dit hou nie net op by die artikel nie; mense sê hoe hulle voel en dan antwoord ‘n vreemdeling, of dan tugtig ‘n vreemdeling jou. Jy kry komplimente of bemoediging, of word afgekraak op jou kommentaar. Jy voel partykeer jy’t iets om oor te dink. Dalk het die kommentaar jou lewe op daardie oomblik ‘n beter betekenis gegee.  Dalk was jy in ‘n goeie bui, toe word dit sleg deur die antwoord van ‘n vreemdeling. Hoe dit ook al sy, ek dink die mense hou daarvan.

Met dit als wil ek net sê, ons is uniek, elkeen is uniek geskape, niemand is dieselfde nie.  Die kommentaar is somtyds common en naar. Maar o wee, ons keer altyd terug na ‘n berig om net nog ietsie in te kry. Ons eie lewe val soms uitmekaar, dan gaan ons na Maroela, want daar is vir seker iemand wat slegter af is, dan bring dit vir ons ’n bietjie genesing. Genesing vir iemand wat in soortgelyke situasies was.

Ek is bly vir die positiewe artikels,dit gee mense hoop. ‘n Regte, ware weergawe van wat uurliks, daagliks in die lewe van ons medemens plaasvind. As daar iemand soek is, dan volg ons totdat die persoon gevind is – sommige kere dood, ander kere lewend. Dan het ons weer iets te vertel.

En as dit nie was vir die kommentaar nie, dan sal dit maar jou eie gedagtes gewees het wat jy moes vergader in jou kop. Jy lees die artikel en praat ‘n honderd goed in jou kop. Nou het jy die geleentheid om ander gesprekke uit te lok of saam te stem. Aan al die mense wat so gereeld kommentaar lewer, jy is die sleutel. Ons mense is maar net soos kinders wat in afwagting sit dat sy mamma of pappa vir hom die nodige erkenning gee. Kom ons bou op eerder as om af te breek.

Maroela… jou naam is op almal se lippe.

Jy is ‘n live show vir ons land. Jy is die uitlaatklep!

 

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Ou Vrydenker Kommentator Maroela Malvark ·

Geagte Susan,

Namens die hele soogdier varkerasiegemeenskap ons opbouende gelukwensing aan Maroela Media. Ons varkerasies hou daarvan om met die Suid-Afrikaanse soogdiere Homo sapiens sapiens gedagtes te wissel. Dit is opbouend en wedersyds verrykend. Kommentare is die hartklop van joernalistiek. Ook die varkerasies se kommentare en humor en terggees. Kommentare is pitkos vir vrydenkers.

Sak ·

Liezl Leibbrandt. Pragtige brief en die noodsaaklikheid om met mekaar te redeneer so mooi saamgevat.

Kosie ·

Ja nee wat, my vorige kommentaar ook nie geplaas nie. Tipies, dit was mos kritiek. Hoe word die lesersgetalle nogal bepaal? Die hoeveelheid kere wat die webblad besoek word oor die algemeen of hoeveel unieke lesers daar is (dieselfde IP adres)? Onthou dat dieselfde leser die webblad talle kere op een dag kan besoek.

Janie Monsieur ·

Dagsê Kosie,

Dankie vir jou navraag.

Ons verwys inderdaad na unieke besoekers (waarvan ons oor 1.6 miljoen het hierdie maand). Die unieke besoekers word slegs een keer getel, maak nie saak hoeveel keer per maand hulle die webwerf besoek nie. Hierdie statistiek word amptelik deur die maatskappy Effective Measure gemeet.

Ek hoop dit is nou vir jou duidelik.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Paul ·

Die twee “probleme” met daardie meting bly wel steeds dat ‘n enkele persoon meer as een toestel kan hê waarop hy Maroela lees, en ook darem die teenkant dat meer as een persoon dieselfde toestel kan gebruik om Maroela te lees.
Gestel iemand het ‘n rekenaar by die huis, ‘n rekenaar by die werk, ‘n selfoon en ‘n tablet.
Daardie vier toestelle sal tog almal as ‘n “unieke besoeker” getel word, hoewel dit slegs een persoon is.

Mariné Lourens ·

Dagsê Paul

Dankie vir jou kommentaar. Effective Measure se meetinstrument maak berekenings om sulke dupliserings uit te skakel. Uit hulle deurlopende marknavorsing weet hulle wat die gemiddelde hoeveelheid toestelle is wat die gemiddelde internetgebruiker gebruik. Hulle gebruik hierdie inligting om te bereken hoe dupliserings die syfer opblaas en stel dit dan reg. Dit is hoekom Effective Measure se syfers altyd laer is as Google Analytics s’n – Google Analytics het nie toegang tot hierdie in diepte inligting en duplisering van gebruikers nie en dus skakel hulle nie dupliserings uit nie.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Henning ·

En dan is daar natuurlik ook die moontlikheid dat dieselfde rekenaar gebruik word deur meerdere persone in die familie en/of vriende. Die aantal lesers kan dus moontlik ook meer wees.

Johann ·

En wat as Maroela die dag berig dat hulle 7Milj lesers het?

Kosie ·

Berig ook oor dinge wat swartmense raak (soos moorde op swartes, haglike omstandighede in plakkerskampe, ens.), dan groei jul lesersgetal dalk nog vinniger. Wees egter versigtig – Swartmense sal nie die rassistiese aanmerkings in die kommentare verdra nie.

Frik ·

Ou Koos, soos enige ander koerant skryf Maroela vir sy lesers. Ek koop soms dieselfde dag ‘n paar koerante, en sien dan duidelik hoe die Beeld, Sowetan, Daily Sun en Business Day se inhoud gemik word op hulle onderskeie leserspublieke. Dis normaal en logies. Ons kry mos berigte wat swartmense raak, kyk bv vandag se mooi brokkie oor die swart Polisieman.

Vorster ·

Ek volg graag die nuus op Maroela Media, maar is tog bekommerd dat jul assosieer met iemand soos Leopoldt Scholtz. Die tipe berig soos die een wat hy onlangs oor Trump geplaas het, kan Maroela binnekort in die “fake” nuus kategorie laat land.

Piet Snot ·

Vorster, ek dink dis goed dat Leopoldt se bydraes geplaas word. Ons kan nie net een soort skrywer duld nie.
Al verskil ek soms grondig van hom, glo ek sy stem is allernoodsaaklik om die balans reg te hou.

Chris Visser ·

Ek is een van julle getroue lesers en geniet dit om elke dag “my koerant” te lees. Nou wonder ek – dit moet baie geld kos om elke dag vir ons die nuus te bring, maar ek betaal niks nie ! Hoe verdien julle inkomste, want vir my ander koerante wat ek lees, moet ek elke maand betaal ? Julle het geen advertensies nie en ek is seker die personeel gaan nie hierdie koerant as ‘n “liefdesdiens” beskou nie – iewers moet geld vandaan kom om hulle te vergoed ! Dankie vir ‘n puik koerant.

Mariné Lourens ·

Dagsê Chris

Dankie vir jou kommentaar. Ek stuur dit vir Susan aan en sy sal jou so gou as moontlik persoonlik antwoord.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Fanie ·

Baie waar Chris, hoewel daar wel advertensies is. Bly jy’s ook positief. Maar ek dink Maroelalesers moet gevra word vir klein maandelikse bydraes om ons koerant nog groter uit te bou. Afrikaanse media bly die grootste vermenigvuldiger van Afrikaans en Afrikaanse projekte.

Anton van Nieker ·

As u nuus dan so betroubaar, waarom vertel u nie ook op Maroela die volle verhaal van die loesing wat Afriforum op die lyf geloop het in die Hoogste Hof van Appel i.s. Afriforum se misplaaste poging om ‘n taalbeleid aan die Universiteit van die Vrystaar te prbeer afdwing nie?

Michael ·

Ek lees gereeld julle nuus berigte maar twee dinge pla vreeslik .
1) Die beheptheid met ras en die feit dat julle die persoon se ras net bekendmaak as die skuldiges wit is.
2) Die manier waarop julle die feite “sugarcoat” gee asb die feite soos dit is of dit nou kru taal bevat of nie gee die ware feite asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.