Redakteursbrief: Die Amy-Leigh’s wat nooit gevind word nie

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Die land is vandeesweek geruk deur die nuus van Amy-Leigh se ontvoering. Binne ure het Amy-Leigh ʼn huishoudelike naam in elke huis en kantoor geword.

Ons en ons kinders, en sekerlik jy ook, het saam gebid vir haar veiligheid. Daardie nag onrustig geslaap, elke nou en dan wakker geskrik en gelê en bid teen die verskrikking wat die donkerkop-dogtertjie iewers op ʼn ander plek deurgaan.

Want dit kon netsowel jou kind gewees het.

Maar dit was nie, dit was iemand anders se kind. En sy is veilig gevind, ongeskonde, hoewel waarskynlik erg getraumatiseer. Ons sê ʼn dankie-gebed, bespiegel ʼn bietjie saam soos die intriges oor die ontvoering ontvou en verdiep, en vergeet van Amy-Leigh.

Op 2 September, op dieselfde dag van Amy-Leigh se ontvoering, berig Soweto Urban dat die agtjarige Amahle Thabethe al 110 dae weg is sedert sy in Mei naby haar ouerhuis in Soweto deur ʼn onbekende man eenkant toe geroep is en toe verdwyn het.

Amahle het ten minste nog ʼn naam, maar sy is deel van ʼn ander gemeenskap, so die nuus staan so ʼn bietjie verder van ons harte af, nie waar nie?

Daar buite, hier in SA, is duisende Amy-Leigh’s en Amahle’s. Te midde van korrupsie, plaasaanvalle, xenofobiese geweld, armoede en ʼn magdom ander uitdagings in ons land is die woord “mensehandel” een wat selde opduik.

Natuurlik is ons verlig dat Amy-Leigh gevind is, maar ons durf nie vergeet van die duisende Amy-Leigh’s en Amahle’s daar buite wat nog gered moet word nie.

Volgens A21, ʼn internasionale, niewinsgedrewe organisasie wat hom beywer vir die bekamping van mensehandel en ook in SA werksaam is, is mensehandel die vinnigste groeiende kriminele aktiwiteit ter wêreld, en genereer dit R1 967 730 000 000 (gee dié een vir Zuma) per jaar. Slegs 1% van mensehandelslagoffers word gered. Mense – veral kinders en vroue – word verkoop vir prostitusie, pornografie, gedwonge arbeid, as kindersoldate en vir onwettige handel in organe.

Dit gebeur hier in ons land ook, elke dag. In ons gemeenskap.

Bron: A21

Hoekom weet ons dit nie? Want die kriminele is slim. Die slagoffers (en hul gesinne) is gewoonlik weerloos en naïef; arm en desperaat. Hulle word gelok met ʼn advertensie vir ʼn werksgeleentheid (43.4%), word verlei deur ʼn “kêrel” wat hulle aanlyn ontmoet het (9.6%), word mislei deur ʼn vals immigrasiebelofte (2.6%), of word verkoop deur ʼn familielid (dikwels hul eie ouers) of vriend wat hulle ʼn beter lewe iewers anders belowe het (19.8%). Slegs in 5.8% van mensehandelgevalle word die slagoffer brutaal ontvoer. Dwelmafhanklikheid wat slagoffers desperaat maak vir ʼn inkomste speel dikwels ʼn rol. Die slagoffer se familie is gewoonlik maar te bly dat hulle kind geholpe is aan ʼn goeie man of ʼn goeie werksgeleentheid iewers anders, en vra nie te veel vrae as hulle nooit weer van hom of haar hoor nie.

Ons wil nie hierdie syfers hoor en verteer nie, reg? Ons het genoeg trauma om te verwerk en genoeg uitdagings om te bowe te kom. Maar miskien is mensehandel op ʼn vreemde manier een van die uitdagings in ons land waaraan ons wél iets kan doen. As ʼn mens na die syfers hierbo kyk, voel dit oorweldigend: waar begin ek?

Dalk by die jong, potensiële slagoffertjies van mensehandel oor tien jaar van nou af. Die dogtertjie in jou kind se klas wat nooit lekker ruik nie, en wat dalk net nodig het te kom kuier en ʼn naweek in ʼn liefdevolle omgewing deur te bring. Die tienermeisie in jou tienerdogter se graad wat gespot word omdat sy arm is en ʼn puisiegesig het; wat nooit opkyk nie – wat dalk net ʼn drukkie of ʼn glimlag nodig het om te begin glo sy is iets werd. Sodat sy dit nie eendag vir die eerste keer by ʼn onbekende man met ʼn sak vol geld hoor nie.

Ons kan so baie doen. Ons dien ʼn God van liefde, en sy opdrag aan ons is baie eenvoudig: Wees lief vir Hom en lief vir jou naaste. Wees net lief vir dié om jou wat swaarkry. Leer jou kinders liefhê en nie veroordeel nie. Leer hulle om hulle broodjies te deel, om maats wat sukkel met klaswerk te help, om die enetjie wie se arm gebreek is se tas te dra, om onwaarskynlike vriende te maak en hulle huis toe te nooi, om speelgoed weg te gee, om komplimente uit te deel, om weerlose maats teen boelies te beskerm.

Jy, of jou kind, is dalk onwetend die volgende een wat ʼn Amy-Leigh of ʼn Amahle gaan red.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

Voetnota

Hoe weet ek dat iemand moontlik die slagoffer van mensehandel is?

  • Dis duidelik dat die persoon deur iemand anders beheer word
  • Die persoon het beperkte beweegruimte en word altyd deur iemand anders vervoer
  • Die persoon het ʼn gebrekkige inkomste
  • Die persoon is ʼn buitelander met uiters beperkte Engelse taalvaardighede, buiten terme van ʼn seksuele aard
  • Die persoon kom angsbevange, depressief of uitermatig onderdanig voor
  • Sy of haar gesondheid is sleg, of sy/hy is duidelik ondervoed
  • Die persoon het nie enige amptelike identifikasie nie
  • Sy of hy toon tekens van fisieke mishandeling
  • Daar is duidelike middelafhanklikheid
  • Die persoon het geen vertroue in enigiemand nie
  • Hy of sy het min of geen persoonlike besittings
  • Daar is duidelike tekens van ʼn ongesonde afhanklikheid (selfs heldeverering) van ʼn ander persoon
  • Die persoon vertel dat hy of sy deur ʼn valse werksaanbod om die bos gelei is en vasgevang voel in sy of haar huidige situasie.

As jy vermoed iemand is die slagoffer van mensehandel, moenie huiwer nie. Skakel die A21-krisislyn by 0800 222 777.

(Bron: A21 Suid-Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Christa Britz ·

Ek durf en ek is verlig dat Amy-Leigh gevind is. Waar val jy uit suster! Miskien net daardie sinnetjie gaan “rephrase”. Ek is hartseer en kwaad vir elke liewe kind wat verdwyn of wegraak. Ek voel dat baie, baie meer gedoen kan word om hierdie kinders op te spoor ! Ek is bly oor elke kind wat wel gevind word.

Sune van Heerden ·

Dagsê Christa

Ons vra om verskoning – dit was glad nie ons bedoeling om te sê dat ons nie verlig is oor die feit dat Amy-Leigh gevind is nie – natuurlik is ons uiters dankbaar en verlig hieroor. Ons het die betrokke sin gewysig om seker te maak dat die korrekte betekenis oorgedra word.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Malva ·

Bravo… kon dit nie beter gestel het.
Oopkop sinvolle boodskap. My hart bloei vir die duisende onsigbares.

Wikkel ·

Die media het ‘n baie groter ophef gemaak van Amy-Leigh…..

Japie ·

Dankie Susan dit is n baie goeie artikel en baie goed geskryf

susan ·

En Amy Leigh se ma en die ontvoerder vriendinne. Hoe siek HET mense geword
By my werk ‘n vrou wie se seun weg is haar oë is dof en haar lyf is moeg.

Binx ·

Wag tot waarheid uitkom mense, dán gaan julle eers geskok wees. Hou media volgende week fyn dop. Volle ware storie gaan julle briesend maak.

LouE ·

Baie dankie vir hierdie inligting. Aan die een kant is dit waarskuwend, maar aan die ander kant haal dit wind uit die paniek-seile, misinformasie en bangmaakstories uit. Dit is broodnodige inligting.

Agie ·

Dankie Susan
Al my nagmerries is in woord geskilder
Nie net my kleinkinders nie. Ek bid sommer vir die kinders wat nie name het nie
Dis ver by erg verby

Sanet Redgard ·

Elke kind op hierdie aarde is spesiaal en elke kind se verdwyning behoort so opgeblaas te word in die media dat die skelms se broeke moet bewe. Ons wette behoort ook as afskrikmiddel te dien! ‘n paar jaar agter die tralies sal nooit werk nie. 30 jaar is nog vir my te min!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.