Redakteursbrief: Die gewoongeit van mense

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

In die motor op pad skool toe vanoggend vra ek my kinders waaroor hulle dink ek my redakteursbrief moet skryf vandag.

“Skryf oor die mense van die dam, Mamma!” sê ons oudste, Isabel (10). “Mamma het laas naweek vir hulle gesê Mamma sal oor hulle skryf!”

Ek het, ja.

“Die mense van die dam” klink nogal soos ʼn tranetrekkerstorie. Dis glad nie. Ons kuier verlede naweek saam met ʼn klompie ander ouers van die skool by ʼn huis langs Bronkhorstspruitdam, vir een van ons jongste, Josua (6) se maatjies se verjaardag. Die kinders speel in die vlak water, en die verjaardagmaatjie se pappa vat hulle vir lekker draaie op die dam met sy boot. Die seuns is in hulle element. Die ma’s sit met hulle wit wintersbene in die son en die pa’s braai en vertel grappies. Doodgewoon.

So tussen die kuiery deur vra een van die pa’s grappenderwys ek moet bietjie oor hulle ook skryf op Maroela. Ek sal, sê ek.

Want te midde van die doodgewoongeit van so ʼn kuier met mense wat ek skaars ken, word ek telkens geroer oor die harte wat in doodgewone mense skuil.

As mens in die mediabedryf is, is jy maar altyd op die uitkyk vir stories, so jy hou fyn dop. Jy sien raak hoe die luidrugtigste van die klomp pappas se gesig sag word wanneer sy blonde meisiekindjie haar op sy knie tuismaak. Jy hoor as die stilste van die klomp mammas laataand eers, in die donker langs die vuur, vertel van die hartseer wat haar oorgekom het, lank gelede.

Ons bied verlede week ons gemeenskapsradioseminaar vir radiostasies in die Kaap aan. Coenie de Villiers fasiliteer die seminaar en radiostasies van so ver as Namibië en Vredendal is daar om die seminaar by te woon. Ons sprekers is vooraanstaande mense uit die media- en uitsaaibedryf, om seker te maak “ons” stasies se mense kry die beste opleiding moontlik in dié twee dae.

Die tweede oggend sit ons klompie Maroela-personeel saam met Coenie en die sprekers wat die vorige aand al aangekom het en ontbyt eet by die gastehuis, voor die seminaargangers begin opdaag. Een van ons sprekers, ʼn bekende naam en gesig in die mediabedryf, skitter in sy afwesigheid. Ons sit nog en wonder of ons dalk moet gaan klop en seker maak hy is wakker toe hy by die trappe afgestorm kom, in ʼn sweetpakbroek en met deurmekaar hare. “Kan iemand my asseblief kom help,” vra hy benoud, maar so waardig moontlik. “Ek kry nie my stortkraan oopgedraai nie!”

Doodgewoon.

Net so doodgewoon soos adv. Busisiwe Mkhwebane, waarskynlik ons land se volgende openbare beskermer. ʼn Doodgewone vrou met drome, met vrese oor of sy die posisie waardig gaan wees. Nes haar voorganger, adv. Thuli Madonsela, geliefd vir haar onverskrokkenheid terwyl sy die afgelope sewe jaar in dié posisie was. Iemand wat nou doodgewoon droom oor meer tyd vir haarself en haar familie, waarskynlik, of vir lees en musiek luister.

Wanneer ʼn Maroela-leser onderaan ʼn storie oor ʼn plaasaanval vurige kommentaar met ʼn stewige skeut rassisme lewer en ons die kommentaar uitvee, wonder ek altyd wat is dié mens se storie.

Want daar is altyd ʼn storie. Dis ʼn doodgewone mens, daai. Nes die slagoffer, en nes die aanvaller.

As ek krapperig raak met die kassiere wat gaap terwyl sy traag my inkopies skandeer, wonder ek oor haar doodgewoongeit. Oor hoe laat sy vanoggend al moes opstaan om betyds vir werk te wees, en oor haar bekommernisse oor haar kinders se skoolfonds en huiswerk. Dan sit ek liefs ʼn wag voor my mond.

As ek geïntimideer voel deur die hoeveelheid onthaalvertrekke in die huis van een van ons kinders se skoolmaats, dink ek hoe baie dinge alles agter die deure in dié huis gebeur. Of hoe min, dalk. Dalk drink hulle kitskoffie. En dalk het die gesin baie lank laas sáám kitskoffie gedrink.

Ons mag nooit ons eie en mekaar se doodgewoongeit vergeet nie. As ons dit onthou, maak dinge net soveel meer sin.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kaufman

Ek wonder ook gereeld oor ander se stories, oor aannames maak. Ek het al geleer om uit te vra en myself in ander se skoene te plaas en te probeer dink soos hulle, as ek mense beter wil verstaan. Dit werk.

Johann

Wanneer is dit ‘doodgewoongeit’ en wanneer is dit ‘doodgewoonheid’? Of is dit soos ‘geite’ van mense? Ek kry nie die ‘geit’ ene as spelling en betekenis nie.

Johannes Meintjes

Moord en doodslag kan nie met doodgewoongeit of rassisme opgelos word nie. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar om bo doodgewoongeit uit te styg en ons samelewing langs die dam, in die stad en op die plaas met volle rentmeesterskap in stand te hou. Weg met moord en doodslag!

Ou Vlakvark, Ou Bosvark, Ou Erdvark, Ou Ystervark en Ou Krimpvarkietjie

Ja-nee, ons varkerasie soogdiere ontspan ook vele kere dood- en lewegewoon langs die dam en lees doodgewoon Maroela Media se nuusberigte en al die kommentare van die doodgewone kommentatore op die nuusberigte en rubrieke. En in die doodgewoongeit van so ‘n ontspanning wonder ons doodgewoon wat aangaan in die harte van doodgewone mense van die soogdierspesie Homo sapiens sapiens. En ons wens daar is doodgewoon en doodgewoongeit en doodgewoontgeit en doodgewoontheid baie meer humor in daardie doodgewone menseharte.

humor

As u nie die woord doodgewoongeit in die woordeboeke kry nie, besef dan die skryfster probeer dan om so n strepie humor in te klits.