Redakteursbrief: Die Julia’s in jou lewe

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

“Sê liefde vir die kindertjies.”

Só groet my huishulp my. My liewe Julia, wat my kinders help grootmaak het; wat vir ons sop maak vir koue wintersaande; wat onthou om my petunias op die stoep water te gee as ek vergeet.

Ek weet nie of ek haar weer gaan sien nie. Julia is baie siek.

Glo my as ek sê ons het gedoen wat ons kon. Ons huisdokter behandel haar al vir maande, en het haar al vir verskeie toetse en x-strale gestuur. Niks het ons ʼn definitiewe antwoord gegee nie.

Julia het tien jaar gelede met haar moederlike lyfie by my huis ingestap, rondgekyk en gesê: “Moenie worry nie, ek sal hierdie huis regruk.” Dit het sy gedoen, en saam daarmee diep in ons harte gekruip. Ons het dosyne kere op mekaar se skouers gehuil en net so baie saam gelag. Tussen ons was daar geen ongemaklikheid nie – ons kon spot oor witmens-geite en swartmens-geite, want dis met groot deernis gedoen. Net sy kan my man se hemp stryk presies soos hy daarvan hou, en net sy weet hoe om die grasvlekke uit die kinders se skoolklere te kry. Ons het vir mekaar en mekaar se gesinne gebid, raad gegee en skaamteloos ingemeng.

Toe ek haar verlede week gegroet het, was haar lyfie brandmaer en haar klere het soos ʼn sak aan haar gehang. Sy het gevra of sy ʼn week by haar familie kan gaan rus om behoorlik gesond te word ná ʼn rondte longontsteking. Die afgelope maande se behandelings en aanvullings het geen hond haar-af gemaak nie, maar dalk sou behoorlike rus die ding doen.

Ek het pas met haar gesels, en ek dink ek het haar gegroet. Sy het die afgelope week nog swakker geword en nog meer gewig verloor, sê sy. Sy kan amper nie meer staan nie. Sy is in goeie sorg – ʼn familielid is ʼn mediese dokter wat baie mooi na haar kyk – maar selfs hy is dronkgeslaan en kry nie antwoorde uit die rits toetse wat hy laat doen het nie.

Ons het dalk vir oulaas saam gehuil, nou net. Sy huil oor sy nie weet wie na ons gaan kyk en wie my tee gaan maak presies soos ek daarvan hou nie. En ek huil oor my tweede ma en my vertroueling, en oor my magteloosheid om ʼn mens vir wie ek so lief is, se swaarkry beter te maak.

Dis nie net ek wat ʼn Julia in my lewe het nie. Daar is baie Julia’s in hierdie land van ons. Vroue wie se hande vir niks verkeerd staan nie; wat snags hul kop neerlê met die wete dat hulle iemand anders se lewe ʼn bietjie geriefliker gemaak het, al leef hulle self in armoede. Ons kla maklik oor hulle en vergeet dat hulle ook bekommerde ma’s en trotse oumas is. Ons aanvaar hulle as vanselfsprekend, tot die sop skielik anders proe en die kousbolletjies slordig opgerol is omdat hulle nie meer daar is nie.

Hierdie maand, Vrouemaand, wil ek hulde bring aan elke huiswerker in ons land wat soggens vroeg opstaan en in uiterste weerstoestande op ʼn oorvol bus klim om betyds vir werk te wees. Dis vroue wat ons gunstelingresepte memoriseer omdat hulle ongeskoold is, en wat smiddae die huis se deur tevrede agter hulle toetrek as elke venster blink en elke kussing pof. Vroue wat uitgelewer is aan ʼn ontoereikende mediese stelsel en leë politieke beloftes, maar wat, ten spyte daarvan, dit regkry om nie bitter te wees nie en hul vreugde te vind in dié van ander.

Ek bid dat Julia iewers ʼn laaste bietjie krag kry om te veg teen dit wat in haar liggaam aan die gang is. En mag jy, namens my, mooi kyk na die Julia in jou lewe.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Johan Oosthuizen ·

Sestig jaar terug het my moeder ‘n losieshuis bedryf en, ja, Julia het die wasgoed versorg. Daar was nie ‘n wasmasjien nie. Net ‘n groot sinkbad, en ‘n wasplank. Sy het op ‘n groot tafel gestryk en die strykyster is op die primusstofie warmgemaak. ‘n Vrolike, altyd laggende Julia se werk was haar vreugde en trots.

Eendag het sy saggies gefluister: “Kleinbasie, jy moet by my huis kom tee drink.” Nouja soiets was ondenkbaar, maar ek het die uitnodiging aanvaar. Saterdagoggend het ek statte toe gestap en Julia het my by die ingang van die lapa ingewag. “Jy moet kom kyk, ek het vir jou reggemaak!” het sy gese. Ek is agter haar aan in ‘n hut in en daar was dit: ‘n Netjies gedekte tafel – koppies en pierings, teepot, suikerpot en melkbekertjie. Fyn porselein met blommetjies en goue randjies. Daar was ook ‘n bak soetkoekies wat sy in haar houtstoofoond gebak het. Alles spesiaal vir haar kleinbasie. Dit was ‘n heerlike, prettige, onvergeetlike kuiertjie.

Daardie dag is my hart verruim en tot vandag toe pluk ek die vrug van verruimde harte. Dis al wat hoop gee te midde van ‘n hedendaagsese gekke politieke narrespel. Herinneringe aan die Julias en outa Jonasse en gevolglike wedersydse RESPEKbetoning kan vandag red wat te redde is.

Bruno Stef ·

Ek skryf die kommentaar AGV die ooreenkoms tussen jou skrywe en n bediende wat vir my dogter en skoonseun n paar jaar terug met hulle verblyf in Bedfordview gewerk het.Haar naam is ook Julia wat n uiters betroubare mens was en die twee kleinkinders baie bederf het.Die tweede keer dat my skoonseun gehijack was het die kinders besluit om Australie toe te emigreer permanent en omdat my skoonseun in Australie gebore was en onmiddelik burgerskap kon kry tesame met my kleinkinders. Julia het kontak bly behou met my dogter en Ouma en ons het tot ons ontsteltenis die week n oproep van haar gekry nadat haar huis in Sebokeng gedeeltelik deur n petrolbom verwoes is.Sy het baie gehuil en Ouma was maar die enigste een wat raad kon gee daarom het ons die kinders in Australie gekontak en tesame het ons haar ondersteun so goed as wat ons kon.Ek kan net byvoeg dat sy n enkelouer is en deur die jare haar kinders geleerdheid kon gee wat met my kinders se geldelike ondersteuning.Die ergste is dat haar oudste dogter Saterdag beroof is van haar bankkaart en die rekening ook leeg getrek is.In SA is daar baie welwillendheid vanaf blanke kant maar dit is besig om vinnig weg te kalwe onder die huidige regime en hulle misdadige meelopers

hettie ·

Baie dankie vir die mooi brief. So veel van ons het saam met n ‘Julia’ groot geword. So baie waarvoor ek dankbaar is en mooiste herinneringe vir ewig in my hart drae.

Jeanette van der Merwe ·

Ons as gesin het ook ñ Julia gehad! Sy het help kinders grootmaak, gedeel in ons “lief en leed”. Met my man se derde Gullian Barré, totaal verlam, het ou Julia my getrou bygestaan en gehelp! “Kulu”, was vir ” haar alles…..die dag wat my oudste dogter erg hartseer was as gevolg van ñ liefdesverhoufing wat doodgeloop het, was Julia daar! ” Miesies, ek moes net keer, nonnie Del wou by die dam val” (die swembad) Daar gesit en “treur”…..Dankie Here vir onse Julia! Afgetree, goed versorg en ñ paar jaar gelede oorlede….nou saam met haar “Kulu”!

Jeanette van der Merwe ·

Baie dankie vir julle puik berigte!! Ek geniet Maroela Media!

Eliza-beth ·

Ek het al twee sulke “Julia’s” in my lewe gehad. Vir die een sorg ek nou nog, al is dit al jare sedert sy weg is uit my diens. Nou wil ek sommer tranerig raak…

Engela ·

Waardeer jul Julia…wanneer jy in ñ nuwe land bly en jou eie Julia moet wees, besef jy eers ten volle hoeveel ligter sy die lewe vir jou maak!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.