Redakteursbrief: Die kankerlyertjies se superhelde

Die span saam met Ollie die nar

Die span saam met Ollie die nar

Maroela Media se personeel kuier gister, vir Kankerbewustheidsdag, by die pediatriese onkologie-afdeling van Unitas-hospitaal in Centurion. Daar is tans so 16 kinders, wat wissel van twee tot 16 jaar. Ollie die Nar en Ruan Wepener, sanger en ambassadeur van die Sunflower Fund, kuier saam met ons.

Ons het maar almal vooraf ons harte vasgehou oor wat ons te wagte kan wees, maar die atmosfeer in die saal is minder neerdrukkend as wat ons verwag het. Die verpleegpersoneel is hartlik en warm, en hul positiwiteit is aansteeklik. Ons stap saam met Carina Fourie van Unitas se beradings- en kinderondersteuningsdienste deur die saal, ontmoet die ouers en die kleingoed een-een. Carina draai geen doekies om nie: dié enetjie het limfkanker en is al vir sewe maande hier. Daardie enetjie is twee, en is maar verlede week gediagnoseer. Ons deel geskenkies uit; probeer geselsies maak met die kinders wat allermins lus is vir ʼn klomp vreemdelinge wat hulle probeer opbeur. Hier en daar glimlag enetjie darem.

Nadat ons almal ontmoet het, kom ons in die saal se kuier-area bymekaar. Ollie vou lawwe ballonne vir die kinders en Ruan tokkel vrolike wysies op sy ukelele.

ʼn Sesjarige seuntjie drafstap onder die klanke van “Somewhere over the rainbow” verby ons buitentoe – die reuk van die hospitaal maak hom verskriklik naar. Sy ma draf agterna met sy drupstaander.

ʼn Dogtertjie in pienk pajamas lê met haar kop op haar pa se skouer. “Ek wil nie, ek wil nie,” kerm sy, tot hy haar terugvat kamer toe. Die dogtertjie se ma is hoogswanger met ʼn tweeling, vertel Carina my later. Hul meisiekind is pas gediagnoseer en is maar aan die begin van haar behandelingspaadjie. Die tweeling kom nou enige dag.

Ollie die Nar en Ruan Wepener, sanger en ambassadeur van die Sunflower Fund (Foto: Maroela Media)

Ollie die Nar en Ruan Wepener, sanger en ambassadeur van die Sunflower Fund (Foto verskaf)

Ollie die nar se oë is mistig. Hy kyk anderpad.

Ons probeer geselsies maak met ʼn ma wat in ʼn hoek by die venster sit. Die donsies van nuwe hare slaan deur op haar seuntjie se kop. Hulle is net Frans magtig, so ons kom nie ver met die gesprek nie. Maar sy glimlag moedig en bedank ons in Engels, asof ons enigiets gedoen het.

ʼn Ma van ʼn tienerdogter druk ʼn Barbie-DVD in haar skootrekenaartjie. Sy beantwoord die vrae wat ons haar blondekop-meisiekind vra, sommer namens haar. Dit spaar haar kind die inspanning.

ʼn Alarm op een van die kinders se drupstaander gaan af. Sy ma staan op en verstel behendig aan ʼn pypie of twee, en druk ʼn knoppie om die alarm stil te maak.

Ek stap in die gang af en bied aan om vir ʼn seuntjie wat liewer wou gaan lê, ʼn storie te lees. “Nee dankie, tannie,” sê hy terwyl hy grawe in sy sakkie lekkernye.

“Ons is nog maar nuut hier,” sê sy ma verskonend. “Hy is baie skaam. Maar hy eet skielik so vreeslik baie! Dis ʼn newe-effek van die medisyne.”

Toe ons begin liedjies sing, kyk die meeste kinders lusteloos toe. ʼn Mamma spring op en begin dans, klap haar hande, trap met haar pantoffel-voete ʼn aansteeklike ritme op die teëlvloer uit en sing uit haar maag saam. Die kinders en ander ma’s lag vir haar.

Ek vra vir Carina hoe die ouers maak as hul kinders vir maande in en uit die hospitaal is met kankersimptome en -behandeling. “Hulle maak maar planne,” sê sy. “As dit moontlik is, hou een van hulle op werk. Of hulle kom sit hier in die hospitaal en probeer ʼn paar ure se werk elke dag op ʼn skootrekenaar gedoen kry. Party moet planne maak om ʼn ouma of ʼn ‘nanny’ of iemand anders te kry om om die beurt by hul kinders te kom sit. Dis nie maklik nie.”

Geen opoffering is te groot nie, dink ek, terwyl ek kyk hoe ʼn ma ʼn handdoek oor haar skouer gooi sodat haar naar seuntjie teen haar kan aanleun.

Elkeen van hierdie kinders het hul eie superheld, hier in die saal. Ons bring vandag hulde aan elkeen van hulle.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

  • As jy ʼn verskil in die stryd teen kanker wil maak, registreer as stamselskenker by die Sunflower Fund. Doen dit sommer vandag nog. Die skenkingsproses is glad nie traumaties nie – dis soortgelyk aan bloed skenk, maar neem net langer. Daar is tans maar sowat 70 000 geregistreerde beenmurgskenkers in SA, terwyl die kans dat jy ʼn versoenbare weefseltipe het, maar een uit 100 000 is. Dus: Hoe meer geregistreerde skenkers, hoe beter die kans dat iemand in nood ʼn gepaste skenker kan kry. Besoek sunflowerfund.org.za vir meer inligting. Lees hier meer oor die stamselskenking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Diep waters ·

So het ons Maartmaand laas jaar ook die pad begin loop met my vrou se kanker. Op ouderdom 72jaar is daar vrede met haar toestand.
Die babas en jonges is waarmee ek sukkel om te verstaan. Die begin van ‘n lewe en dan dit.
Ek/ons bid ook vir julle in hierdie tyd waar ook julle lewens in ‘n oogwenk ‘n handomkeer ondergaan. Tog stuur die Here sovele aardse engele om jou te help in hierdie tyd van uiterste nood.
Die personeel en dokters by Mediclinic Vereeniging is ook van uitstaande gehalte.
Dankie vir almal wêreldwyd wat so omgee en die deernis waarmee julle optree.

Hannetjie Kruger ·

Dankie vir wat julle beteken vir weerlose kindertjies! Dit was erg toe ek my mammie verloor het en die stryd wat sy gestry het! Dis erger om die kindertjies te sien !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.