Redakteursbrief: Die mense wat my liefhet …

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Verlede week, op Vrouedag, doen ek ʼn praatjie by Akademia se vroueontbyt. Voor die tyd vra ek vir hulle waaroor ek moet gesels. Ons praat hierdie kant toe en daardie kant toe, en tussen die reëls hoor ek: “Enigiets, net nie die liefde nie …”

Ek lag lekker, maar te dankbaar, want ek sou regtig nie graag ʼn uur lank oor liefde wou gesels nie. Daarom gesels ek toe oor vyf vroue wat my inspireer en ʼn les wat ek by elkeen geleer het: Coco Chanel, die mode-ikoon;  Antonia Brico, die eerste vrouedirigent van ʼn simfonieorkes; Sheryl Sandberg, hoof operasionele beampte van Facebook; Ester van die Bybel, wat haar man gestaan het teen die magtige koning Ahasveros; en onse eie tannie Poppie van Laingsburg, wie se bekende roosterkoeke gesorg het daarvoor dat sy binnekort Italië toe gaan.

Terwyl ek vooraf oplees oor dié vyf vroue kan ek nie anders nie as om raak te sien dat hulle alles behalwe perfek was of is. Coco Chanel is byvoorbeeld berug vir die manier waarop sy mense, veral mans, gebruik het om sukses te behaal. En Sheryl Sandberg se reputasie het groot skade gely met die Facebook-skandaal, hoewel dit nie heeltemal duidelik is tot watter mate sy bewus was van ongerymdhede nie.

Net vroeër hierdie week het ek so ʼn alles-behalwe-perfek-oggend. Op pad skool toe sê ons oudste iets in ʼn stemtoon wat al my verkeerde knoppies druk. Kleinboet sien uit my liggaamstaal hier kom moeilikheid, en hy skuif agtertoe, tot ver in die hoekie, asof hy bang is die bloed gaan op hom spat. Daar bars behoorlik ʼn mini-oorloggie in die kar uit. Vyftien minute later stop ons by die skool, almal uitgeput en ontsteld.

Ek bly sit voor die skool nadat hulle uitgeklim het. Kwaad vir myself; te kwaad om dadelik werk toe te ry. Ek tel my foon op en blaai ingedagte deur Facebook. Dis kultuurkwartaal vir almal wat, soos ons, kultuurkindertjies het. Oral op Facebook sien ek foto’s van kinders wat sing, wat sertifikate ontvang, wat op ʼn verhoog ʼn handdruk by ʼn beoordelaar kry. Tussenin sien ek foto’s van vriendinne wat saam met hul kinders koekies bak, met die honde stap, baljaar op die strand en slaaptydstories lees. Alles so mooi.

Later die oggend skryf ek op Facebook: “Vanoggend het ek as ʼn ma alles verkeerd gedoen. Ek ry werk toe van die skool af met ʼn knop in my keel terwyl ek trane afvee en my grimering probeer red vir my eerste vergadering, met die wete dat daar twee hartjies is wat heeldag gaan seer wees. Soms kry ons as ma’s dit nie reg nie. Veral as ons werk en ons vanaand eers die kans kry om reg te maak en vergifnis te vra. En soms moet ons dit sê, waar almal dit kan hoor. Die lewe is nie net perfekte ma’s met perfekte lewens en perfekte, presterende kindertjies nie. As ons nie eerlik is hieroor nie, stel ons aan ons self, aan mekaar en aan ons kinders standaarde wat onbereikbaar hoog is.”

Ek huiwer vir ʼn oomblik voor ek dit publiseer. Dis darem ʼn vreeslike blootlê van my persoonlike swakhede hierdie, so in die openbaar. Maar ek doen dit tóg.

Die reaksie deur die loop van die dag oorweldig my. Een vriendin daag sommer vroeg-vroeg by my kantoor op met ʼn bos tulpe en ʼn mooi kaartjie. ʼn Ander vriendin troos met 2 Korintiërs 12:9: “My genade is vir jou genoeg.”

Talle ander skryf op Facebook: “Dankie, ons voel ook so.” Verskeie mense knoop met my gesprekke aan oor sosiale media en die gevare van die geweldige hoë standaarde wat dit aan ons en ons gesinne stel.

Laatmiddag stap ek by die voordeur in. In die voorportaal staan ons seun en wag, mikrofoon in die hand, ingeprop by die klankstelsel. “Dames en here,” kondig hy aan, luid genoeg dat die hele buurt kan hoor. “Ons verwelkom nou tuis, die beste mamma in die hele wêreld!”

Ek laat val alles en hou hom styf vas. Ek is lank al vergewe. Ousus kom kruip onder my arm in vir haar deel van die groepsdrukkie. Ek dink aan die res van 2 Korintiërs 12:9 wat ons so maklik mis: “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”

En ook, oor die liefde: Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

As dié klein drama hom moes afspeel in die week voor die Vrouedagontbyt by Akademia het ek dalk tóg oor die liefde gesels. Want ons kan lang praatjies maak oor die verskil wat vroue in die werkplek maak; oor geslagsongelykheid in die werkplek; oor die uitdagings wat vroue in ʼn beroepsomgewing in die gesig staar. En ons is geensins perfek nie. Maar die een ding wat ons as vroue tafel toe bring, is die liefde. Onvoorwaardelik. Vir ons gesinne, ons kollegas, ons vriendinne, ons kennisse, selfs vreemdelinge.

Die liefde vergaan nooit nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Oosthuizen ·

Is dit nie wonderlik nie! Ons liewe Vader staan die spulletjie so en bekyk en ek dink Hy sê begrypend: “Toemaar my kind, ek verstaan en ek sal ‘n plan maak om alles te herstel!” En toe maak hy ‘n plan. ‘n Plan van liefde en vergiffenis. ‘n Seun wat sy liefste mamma by die huis verwelkom en sy sus wat kom inkruip om die groepsdrukkie te vervolmaak. En ons liewe Vader staan weer en Hy kyk en hy glimlag tevrede. Dis Sy karakter: Om wat verkeerd loop weer reg te maak. Wonderlik, gelooflik!

Linky ·

Johan, jy kon dit nie beter gestel het nie. Ons aanbid n God van Liefde!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.