Redakteursbrief: Die oom in die koffiewinkel

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Tussen twee afsprake weg van die kantoor drink ek vinnig koffie by ʼn koffiewinkel en haal e-posse en werk in. Dit was ʼn besige week. Tussen die begrotingstoespraak en die koronavirus het die joernaliste gewip om by te bly.

By ʼn tafel skuins oorkant my kom sit ʼn ou oom. Hy lyk soos my oupa gelyk het. Sy polshorlosie sit los aan sy arm. Op sy hande bult die are, en sy armhaartjies krul die lug in. Sy grys hare is netjies gekam met ʼn paadjie aan my kant. Daar is diep kepe in sy wange. Sy mond is plooierig, asof dit al baie gelag het. Die lense van sy silwerraambril blink.

Hy wag lank vir diens; die jongmense in oefen- en werksklere om hom word eerste gehelp. Hy kan nie sy hand baie hoog lig om die kelner se aandag te trek nie. Naderhand sit hy met sy lyf skuins gedraai in sy stoel. Uiteindelik sien iemand hom raak; hy beduie dat hy ʼn koppie koffie wil hê. Warm melk, asseblief.

Sy selfoon is in sy bosak, maar hy kyk nie daarna terwyl hy vir sy koffie wag nie. Hy kyk vir die mense om hom. Nou en dan kyk hy vir my, maar hy staar nie, hy kyk sommer net.

Toe sy koffie kom, gooi hy met ʼn bewerige hand melk by en lig die koppie baie stadig en versigtig na sy mond. Slurp ʼn slukkie om die temperatuur te toets.

Ek staan op en stap nader. Dag, Oom. Kan ek ʼn bietjie sit?

Natuurlik, beduie hy en stoot vir my die stoel uit.

Ek stel myself voor. Vertel my van oom se kinders, en oom se kleinkinders.

Hy gesels maklik. Die tannie is al ʼn paar jaar oorlede. Hy bly nog alleen in hulle meenthuis. Sy een dogter gee Engels in China en die ander een is ʼn fisioterapeut in Kaapstad. Sy kom darem gereeld kuier, maar hy wens hy kon die kleinkinders sien grootword. Hy het ʼn hondjie, en laatmiddae gaan stap hy met haar in die buurt. Maar dis nie meer veilig nie, so hy stap net as daar baie ander mense in die straat is.

Hy was ʼn Engels-onderwyser by ʼn vooraanstaande skool. Sy skoolkinders was sy lewe. Ná sy aftrede het ʼn hele klomp van hulle met hom kontak gehou, maar deesdae raak die geselsies maar skaars – hulle almal is besig; hy verstaan dit.

Hy kook nog self – dit was altyd vir hom lekker om vir die tannie te kook, veral naweke. Hy dek die tafel, al is dit nou net vir een, en sit ʼn servet en ʼn waterglas reg. Gelukkig is sy sig nog goed en kan hy nog baie lees. Hy gaan een keer ʼn week biblioteek toe en lees lekker op die Kindle wat sy dogter vir hom vir sy verjaardag gegee het.

Vroegmiddag, voor hy met die hondjie gaan stap, rus hy op sy leunstoel in die middagson voor die venster. Soms hoor hy kinders wat uitbundig raas as hulle van die skool af kom, maar hulle pla hom nie.

Nou en dan kry hy ʼn geleentheid saam met die buurvrou wanneer sy kom inkopies doen. Dan laai sy hom hier af, en hy drink ʼn koppie koffie terwyl hy vir die mense kyk. Hy ken mense; hy kry die jongmense so jammer as hulle die heeltyd aan die draf is en spring as hulle selfone lui. Niemand sit ooit net stil en praat met mekaar nie. Hy kan sien as iemand hartseer is of ʼn slegte dag het; dan bid hy in sy stilligheid vir hulle.

Dit alles verbeel ek my, maar ek stap nie regtig nader nie; dit sal darem baie vreemd wees. Die oom drink die laaste slukkie van sy koffie, haal sy beursie uit en skuif ʼn noot onder die rand van die piering in. Hy glimlag vir my toe hy opstaan, sy kierie nader trek en versigtig wegstap. Ek is spyt.

ʼn Studie wat Helpende Hand onlangs bekend gestel het, toon 40% bejaardes se kinders kom haal hulle nooit vir uitstappies nie, en kom besoek hulle nooit.

Daar is ʼn storm wat om ons woed waaraan ons nie veel kan doen nie. Maar dan is daar die dinge wat ons wél kan doen, soos om koffie te drink saam met ʼn bejaarde oom wat ons glad nie ken nie.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

  • Lees hier meer oor die bevindinge van Helpende Hand se studie oor die behoeftes van bejaardes, en oor hoe jy betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Strandloper ·

Age nee man…bars jy my babbel nou met jou laaste paragraaf! Jy klink na n mens, mens persoon…ek dare jou praat volgende met hom… Dankie vir die lekker lees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.