Redakteursbrief: Die staatsrede, Rome wat brand, “honourable members” en respek

EFF-LP's word op 9 Februarie 2017 deur veiligheidsbeamptes uit die Nasionale Vergadering verwyder (Foto: Skermgreep uit regstreekse video)

EFF-LP’s word op 9 Februarie 2017 deur veiligheidsbeamptes uit die Nasionale Vergadering verwyder (Foto: Skermgreep uit regstreekse video)

Mens het nie eens woorde om te probeer sê wat gisteraand tydens die staatsrede in die parlement gebeur het nie. Dis soos om ʼn swak fliek te gaan kyk, en vooraf te weet waarvoor laat jy jou in en jou te staal daarvoor met ʼn groot boks springmielies, en dan is die fliek baie, baie swakker as jou stoutste verwagtinge.

Volgens Dirk Hermann van Solidariteit weerspieël die chaos in die parlement die werklike toestand van die staat. Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu, sê op Twitter OR Tambo, wat veronderstel was om gisteraand vereer te word, draai in sy graf om.

Nog iemand deel op Twitter ʼn foto van parlementslede wat heerlik sit en slaap terwyl die staatsrede uiteindelik gebeur, en merk op dat die EFF seker maar hardhandig verwyder is sodat die parlementslede se slapie nie onderbreek word nie. En dan, daardie gewraakte laggie van Zuma, wat sekerlik om al die verkeerde redes in die geskiedenisboeke opgeteken sal word, maak nie saak uit watter perspektief jy jou weergawe van die geskiedenis skryf nie. “We may be separated by many factors, but the nation was in joint disgust when Zuma laughed,” skryf ene Brad op Twitter. Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum, vergelyk daardie laggie van Zuma met Nero wat glo viool gespeel het terwyl Rome brand.

“Dis ‘n “#$%&@ sirkus,” sê die omie by die tafel langsaan waar ek koffie drink terwyl ek my redakteursbrief skryf, in veel minder gesofistikeerde taal.

Joost van der Westhuizen. Argieffoto: Twitter

Joost van der Westhuizen. Argieffoto: Twitter

Zuma se laggie is nog skaars koud, of dis tyd vir Joost van der Westhuizen se gedenkdiens op Loftus Versfeld in Pretoria. Die land het stil geword vroeër vandeesweek met die heengaan van dié groot gees, aanvanklik bekend as rugbyspeler, maar ʼn man wat uiteindelik vir baie meer as sy skrumskakel-talent die harte van Suid-Afrikaners verower het. Joost gaan Loftus waarskynlik voller maak as wat rugby in ʼn lang tyd kon doen. Die manier hoe hy die afgelope vyf jaar die stryd gestry het teen amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ʼn aggressiewe vorm van motorneuronsiekte (MNS), het respek afgedwing by Suid-Afrikaners oor alle grense heen.

Nog iets waarvoor Joost respek afgedwing het, en iets wat ʼn mens minder graag wil onthou, is die manier hoe hy opgetree het nadat ʼn gewraakte video waarin hy seksuele dade met ʼn vrou uitvoer, ʼn klompie jaar gelede aan die lig gekom het. Ek noem dit, al maak verwysings na dié insident Maroela-lesers warm onder die kraag. Want wat belangrik is, is die manier hoe Joost dié insident hanteer het. Hy het erken dat dit hy is in die video, en vergifnis gevra. Daarna het hy die gevolge van sy dade in die oë gekyk toe hy geskors is as rugbykommentator op SuperSport, en hard gewerk om sy verhouding met sy vrou en kinders én sy openbare beeld te herstel. “Jy was en is my eerste liefde,” het die sangeres Amor Vittone, met wie hy getroud was ten tye van die video-voorval en tot met sy dood, ná sy afsterwe gesê.

Respek.

Dis meer as wat ʼn mens kan sê van die man wat ons president is, en wat lag as Rome brand. ʼn Groot geraas in die parlement, teenoor ʼn stil verslaentheid op Loftus. Ontkenning van enige aandadigheid deur ons president, teenoor belydenis van ʼn verkeerde besluit deur ʼn rugbyspeler.

Trots teenoor nederigheid.

Só kies ons ons rolmodelle, nie net op grond van hul dade nie, maar op grond van hul besluite en hul integriteit. Miskien sal die honourable member Jacob Zuma eendag leer dat respek nie afgedwing kan word deur magsvertoon of dreigemente van grondgrype of arrogansie nie. Hy kan so baie by Joost leer. Dis jammer hy het gisteraand te laat in die bed gekom om vandag op Loftus te kan wees.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pellie ·

Die “dis”honourable member sal niks leer nie want in sy oë weet hy alles en is die res van die land uit pas. Inbors is iets waarmee mens gebore word, jy leer dit nie aan nie. Groot respek vir Joost wat die stryd so dapper en eerbare gestry het. Nag ou grote.

Frikkie ·

Ja buiten die geweldige bedrag van ons belasting geld wat uit gegee is op SONA 2017, waar baie geslaap het gedurende die toespraak. Is hulle sekerlik nog ook vir oortyd betaal. Hoekom kan daar nie terug gaan word soos in die verlede waar die staatsrede net na middag ete afgehandel is nie. Koste besparing want dan is almal nog by die werk nie waar nie.

[email protected] ·

Susan, selektiewe omgaan met feite is iets wat ek nie van Maroela Media verwag het nie. Indien julle dan wel oor Joost en die video iets wil sê (wat ek nie dink julle moes nie), wees dan ten minste ewewigtig. Jy is nou so vol lof vir hoe hy dit gehanteer het, maar laat na om te noem dat hy eers heftig alles ontken en andere beskuldig het. Dit is ‘n tragiese misstap, wat ons volkome vergifnis, maar nie ons bewondering nie, verdien.

Hein ·

Dis skokkend om die minste tese skokkend !!

En als is n grap !!
.

De Villiers Hauptfleisch ·

Die chaos gisteraand in die Parlement kan net toegeskryf word aan die afstootlike gedrag en optrede van een man die afgelope jaar of twee en dit is nie eers nodig om sy naam te noem nie. Ons kan nie die EFF of enige ander opposisielede kwalik neem oor wat gebeur het nie. Dit is natuurlik uit blote frustrasie en magteloosheid dat die EFF so optree en al manier om hul afsku en disrespek vir Zuma te toon, want ons weet almal, respek verdien hy nie. Ongelukkig sal ons heelwaarskynlik nog tot 2019 met hom opgeskeep sit.
Oor Joost wil ek nie hier iets sê nie, want `n mens kan hom nie die oneer aandoen om sy naam en die van Zuma in dieselfde asem te noem nie!

Frank ·

As mens so na die videos en fotos van die parlement kyk, wonder mens hoe AL daardie klomp mense R86 000 + pm VERDIEN as selfs kinders by ‘n skool debat beter optree en voorberei.

'n TROTSE ondersteuner ·

“Christog” is reg Susan. Joost het vir ons gewys hoe dit NIE gedoen moet word nie. Hy het aanvanklik ontken dit is hy in die vedeo (en Amor het dapper haar prins op die wit perd verdedig) totdat sy maande later ontnugter is toe Joost bely dit was wel hy in die vedeo. Veroordeel ek Joost. ‘n Duisend maal NEE, want ek het baie meer foute as Joost al begaan. Ons is lief vir jou Joost. Jy en jou pragtige gesin het dapper geveg tot op die einde. Jou laast 6 jaar was jou beste ooit…ons is TROTS op jou en jou ongelooflike gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.