Redakteursbrief: Die wonder en tragedie van stories

Susan Lombaard (Foto: Anne Grace Photography)

Ek word vanoggend vieruur wakker van ʼn hond wat ʼn draai wil loop. Terug in die bed hoor ek ʼn ambulans iewers in die verte skree. Ver, maar ek kan hoor hoe kom dit nader, seker op die snelweg, en beweeg weer weg. Op pad Unitas toe, dalk.

Iewers het iemand se lewenstorie nou net heeltemal verander.

Tipies joernalis wonder ek: Gaan iemand se pa dalk nie vanaand by die huis aankom nie? Het ʼn dronkbestuurder dalk pas iemand anders se lewe beëindig? Was daar ʼn tragedie wat hom iewers in ʼn huis afgespeel het – ʼn gewapende roof, dalk, of gesinsgeweld? Is ʼn vrou besig om lewe te skenk aan ʼn perfekte baba?

Want eintlik is stories goed. Dis die gom wat ons lewe aanmekaar hou. Die Woord is immers vol stories – ware verhale – en Johannes begin ook sy weergawe van die Evangelie met “In die begin was die Woord…”

Vir my was die begin ook stories. My ma het met haar karige onderwyseres-begroting vir my en my boetie ingeteken op Daan Retief, en dit was die hoogtepunt van my maand as my ma my met die grys sleuteltjie posbus toe stuur (Posbus 567, Ogies, 2230) omdat sy weet dis die dag wat my Daan Retief-pakkie in die pos gaan wees. In die kar op pad huis toe het ek al die pakkie oopgemaak (dit was altyd ʼn gesukkel om die wit plastieklint sonder ʼn skêr oop te kry) en aan elke boekie geruik en gevoel. ʼn Storieboek, ʼn aktiwiteitsboek, ʼn feiteboek. Maar ek het nie dadelik gelees nie. Dié lekkerte het ek gebêre vir later wanneer ek alleen is, en ek het dit so bietjies-bietjies versprei deur die volgende paar dae.

Dan was daar die dorpsbiblioteek. Wat ʼn plek. Die magiese daarvan om by die deur in te stap, die boeke te ruik, en my te verbeel hoe duisende stories en woorde rondom my dwarrel en draai, gereed om ontdek te word. Toe ek die jeugafdeling twee keer deurgelees het, het die biblioteektannie my toegelaat om by die volwasse afdeling uit te neem – natuurlik onder haar streng oog. En as daar nuwe jeugboeke ingekom het, het sy dit in ʼn boks onder haar toonbank weggesteek sodat ek dit eerste kon uitneem.

Wanneer ons per trein by my oupa en ouma in Noupoort in die Karoo gaan kuier het, was die biblioteekhemel nog beter. Dit was skuins oorkant my grootouers se huis in Shawstraat, die hoofstraat. Vroeg die eerste oggend van ons vakansie, as my ouma klaar op die koolstoof vir ons mieliepap met fyn biltong en koffie vir ontbyt gemaak het, het ek op die stoep gaan wag om te sien wanneer die biblioteektannie oopsluit, en dan is ek oor die straat. In die somer was dit reeds snikheetwarm; in die winter het die ryp nog wit op die gras van die oop erf langs my oupa en ouma se huis gelê en het my asem wolkies gemaak terwyl ek oor die pad draf.

ʼn Uur of wat later is ek terug huis toe met my stapeltjie skatte onder my arm. In die somer het ek saam met my oupa op die koel, diep stoep gesit en lees op ʼn blou bankie wat nou in my eie tuin staan. In die winter was die melamientafel in die kombuis voor die koolstoof my leesplek, of onder die outydse vereduvet op my bed in die kamer met sy blou-en-wit waskom en wasbeker op die spieëlkas.

Soms het ek en my boetie dieselfde dag nog al ons boekies deurgelees, en dan is ons laatmiddag weer terug biblioteek toe om ander te gaan uitneem. Nee, het die biblioteektannie naderhand gesê; dis darem nie moontlik nie. Julle moet darem ʼn dag of drie aan hierdie boeke lees. Maar my bedaarde, wyse oupa – ouderling in die NG-gemeente en gerespekteerde afgetrede polisieman op die dorp – het sy hoed opgesit en sy kierie gevat, sag fluitend oor die straat gestap en met die biblioteektannie gaan gesels. Die volgende dag kon ons weer twee keer op ʼn dag ons boekies gaan omruil.

As laerskooldogter onthou ek hoe my ma my soms saans moes smeek om te gaan bad terwyl ek besig was om ʼn boek te lees. Dan is ek skelmpies met die boek bad toe, en het ek daar lê en lees tot die water yskoud was, tot my ma se frustrasie. Die uiteinde was dat sy elke aand wanneer ek gebad het, op die toiletdeksel gesit en vir my gelees het. Dit was kosbare tyd saam met haar wat ek vandag nog koester. En dan was daar slaaptydstories, wat ononderhandelbaar was in ons huis. En ook oggendstories saam met my pa, nou dat ek daaraan dink. Vandag nog, as ek soms nie kan slaap nie, druk ek ʼn oorfoon in my oor en lê en luister ʼn boek, tot die leser se stem my aan die slaap sus en die woorde ʼn vae gesuis in my onderbewussyn word en ek die volgende dag die plek moet soek waar ek laas ophou volg het.

So is stories ʼn goue draad deur my lewe. Wanneer ek by my ander oupa in ʼn stokou buurt in Johannesburg gaan kuier het, het hy my op sy knie getel, my aandagtig aangekyk met sy donkerblou oë, en my gevra watter stories ek alles geskryf en gelees het sedert hy my laas gesien het. As ek goed gedoen het in opstelle of skryfkompetisies, was hy die eerste een om te hoor.

Eers ná sy dood het ek sy eie storie gelees, soos hy dit opgeteken het – daaroor is ek hom oneindig dankbaar. Hy vertel onder andere hoe hy, as brandarm aangenome plaaskind, ʼn liefde vir stories en skryf gehad het. Dit was natuurlik glad nie iets wat aangemoedig is by ʼn plaasseun in die 1920’s en 1930’s nie, maar hy het hom nie laat afsit nie en het stories geskryf wanneer hy kans kry. Een keer het hy sy moed bymekaar geskraap en een van sy stories ingeskryf vir ʼn skryfkompetisie. Sy onderwyser – ʼn wyse man; ek wens ek kon weet wie hy was – het gesien hoe stomp sy potlood was, en hoe vuil die papier waarop die storie geskryf was. Ná skool een dag het hy vir Boelie (my oupa se bynaam met geen verwysing na sy geaardheid nie!) teruggehou, hom sy hande laat was, vir hom ʼn skoon vel papier en ʼn skerp potlood gegee, en hom laat sit om sy storie oor te skryf.

Daar wen my oupa toe die eerste prys met sy storie.

Maar die aand van die prysuitdeling is my oupa skoonveld.

Die volgende dag roep die onderwyser hom knorrig na sy tafel toe. “Waar was jy gisteraand?” wil hy weet. “Jy weet mos jy moes die eerste prys kom ontvang?”

Skaam laat sak my oupa sy kop en kyk na sy vuil voete. “Meneer,” se hy, “ek het nie skoene gehad om aan te trek nie…”

Vir die eerste keer in sy lewe, skryf my oupa, het hy ervaar hoe ʼn onderwyser emosie wys. Sy meneer het hom hard nader getrek, hom teen sy bors vasgedruk en gesê: “My liewe kind, hierdie talent sal ons nie laat verlore gaan nie.”

Die einste oupa vertel hoe hy eenkeer, nog nie lank by sy aangenome plaasouers nie, sy kop in ʼn wawiel se naaf gedruk en vasgesit het. Dit was al laatmiddag en hulle was ver van Heidelberg, die naaste dorp. Sy ma het so goed sy kon handdoeke tussen die naaf en sy kop ingedruk en my arme oupa het heel nag huilend met die naaf om sy kop probeer slaap. Vroeg die volgende oggend is hulle met die donkiekar dorp toe. Die plaaslike dokter was niemand anders nie as die bekende digter AG Visser – volgens my oupa se vertelling ʼn geliefde en gerespekteerde man in die gemeenskap. Toe my oupa huilend met die naaf om sy kop van die donkiekar afklim, het dr. Visser hom een kyk gegee, begin lag en vir hom gesê: “Nee wat, ou seun, ek kan niks vir jou doen nie. Julle moet maar na die loodgieter toe, hy sal kan help!”

En so hou stories – ons almal s’n – net nie op nie.

Wanneer ons onderhoude met joernaliste doen, het ek ʼn paar gunstelingvrae.

Wat is die storie wat jy al geskryf het wat jou hart die diepste geraak het?

Watse boeke lees jy? Wat lees jy op die oomblik?

As jy een droomstorie kon kies wat jy enige plek in die wêreld kan gaan doen, en begroting was nie ʼn oorweging nie, wat sou dit wees? (Hierdie vraag het ek gesteel by my kollega, Esté Meyer Jansen, wat dit jare gelede een keer in ʼn onderhoud vir ʼn kandidaat gevra het. Sedertdien broei ek nog al die tyd oor wat my eie antwoord op hierdie vraag sou wees.)

Hulle antwoorde vertel my meer van hulle karakter, persoonlikheid en passing met Maroela se redaksiekantoor as tien ander vrae in dieselfde onderhoud.

Jy sien, Maroela-leser, ons as die Maroela-span is diep bewus van die feit dat ons elke dag met ander mense se stories besig is. Wanneer ons die term “storie” gebruik, is dit met die grootste respek. Dit verwys nie na iets lig of fiktief nie, maar na die feit dat dit deel is van iemand se lewensverhaal. Elke artikel wat ons skryf, is deel van iemand se storie. En solank ons onthou dat ons stories skryf, nie net berigte nie, onthou ons dat daar mense aan die ander kant van daardie storie is. Mense met seer, soms intense pyn en verlies. Mense wat moet ontrafel hoe hulle aangaan ná die tragedie wat hulle getref het. Mense wat wonderwerke beleef en dit met die wêreld wil deel. Mense wat wil keer dat iemand anders in dieselfde strik trap. Mense wat korrupsie en ongerymdhede wil ontbloot. Mense wat bitter hard gewerk het om ʼn sukses te behaal, ten spyte van terugslae en teenstand. Mense wat lief is vir hulle gemeenskap, hulle bure, hulle land. Mense wat ʼn verskil wil maak, maar dalk nie weet hoe anders as om net hul eie storie deur ʼn platform soos Maroela met die wêreld te deel nie.

En daarmee wil ek sommer onvoorwaardelik ons as ʼn Maroela-span daartoe verbind dat ons altyd met respek met jou storie sal werk. As jy nie wil praat nie, wag ons tot jy reg is. En as jy ʼn oor nodig het, luister ons. As jy vra dat ons iets nie moet vertel nie, eerbiedig ons dit. Want dis jou storie, nie ons s’n nie. Ons het net die voorreg om dit in woorde om te sit en dit met die wêreld te deel, sodat jy ʼn bietjie minder alleen kan voel of iemand anders se dag ʼn bietjie beter kan maak.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patch ·

Ek het op Witbank groot geword en twee weekliks het my ma ons geneem om boeke uit te neem. Dit was altyd ‘n hoogtepunt. Die skool se mediasentrum was ook een van my gunsteling plekke en ek was in Std 5 ‘n media prefek, vir my ‘n groter eer as gewone prefek. Ek verslind boeke van kindsbeen af, Engels en Afrikaans. Boeke maak ‘n ander fantasie-wêreld vir my oop en ek vorm altyd prentjies in my kop.
Dankie Susan vir hierdie mooi artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.