Redakteursbrief: Dink aan die eend

Mariné Lourens, inhoudsredakteur van Maroela Media. (Foto: Janie Monsieur)

Ek het ʼn dik vel. Só sal al my familie en vriende jou vertel. Of ek met hom gebore is en of hy deur die loop van my kinderjare gekweek is, is ek nie seker nie. Maar vir dié eend is dit alles maar water op die rug.

Dié eienskap het oor die jare handig te pas gekom in ʼn beroep waar jy jou eie emosies diep weg moet bêre. Joernaliste. Die wreedaards en ongevoeliges. Die sensasie-soekers. Die aasvoëls wat teer op ander se teëspoed ter wille van ʼn sappige storie. Moenie bekommer nie, ek het hulle al almal gehoor. Water op die eend se rug, onthou?

Ek is al vloekwoorde toegesnou wat ek nog nooit eens vantevore gehoor het nie. Almal van my ma tot my baas is al so beledig dat ek hulle eintlik ʼn drukkie wil gaan gee. Die foon is al meer kere in my oor doodgegooi as wat ek kan onthou, ek is opsetlik om die bos gelei, ek is gedreig, en manlike kollegas moes al verskeie kere as “lyfwag” optree wanneer mense my dalk te lyf sou gaan.

ʼn Vinnige sluk koffie, diep asemhaal en soms selfs ʼn paar trane in die badkamer – en dan gaan jy weer aan. Water op die eend se rug – die nuus wag vir niemand.

Dood, swaarkry en hartseer vul jou dag. Nuusstories oor korrupsie, politiek en bekgevegte op sosiale media is ironies genoeg die welkome afwisseling. Vir emosies is daar eenvoudig geen plek nie. As jy ontsteld raak elke keer wanneer jy met die huilende geliefde van een van Suid-Afrika se moordslagoffers praat, sal jou binneste permanent in ʼn warboel wees. Die nuustrein stoom voort en jý is die enjin.

Eers wanneer jy jou rekenaar afsit en jou notaboekie wegbêre, kom jy tot verhaal. Dan besef jy opnuut wat jy alles vandag gehoor en gesien het.

Jou liewe woef wat jou stertswaaiend by die voordeur inwag, herinner jou aan die ma wie se kind deur ʼn aggressiewe hond verskeur is. Wanneer jy oorkant jou man by die etenstafel sit, dink jy aan die jong vrou wie se man in ʼn lokval doodgeskiet is en wat nooit weer saam met haar sielsgenoot ʼn maaltyd sal deel nie. Die vreemde geluid buite die huis is in jou geestesoog dieselfde man wat gister daardie jong meisie in haar ouerhuis verkrag het.

“Wat is fout, skat?” vra manlief. “Niks nie! Ek is sommer net moeg.”

Skielik voel die eend of die water hom verdrink.

Ons gesels graag oor die nuus en vertel kopskuddend van die jongste skokstorie wat ons pas gelees het. Braak gal om die braaivleisvuur en tik verwoed aan die bitter kommentaar op nuusberigte. Kritiseer die media oor berigte wat geskryf word en kla oor berigte wat nié geskryf word nie.

Maar stop jy ooit om te dink wie aan die anderkant van jou rekenaarskerm sit? Vra jy ooit wie op die bloederige ongelukstoneel moes staan, wie die huilende ma wie se baba dood is probeer troos het ná die ontroosbare verlies, wie ure lank buite iemand se hek gesit het om antwoorde op die publiek se vrae te kry? Wanneer jy vanaand op jou selfoon deur die nuusberigte blaai, dink jy aan die slapelose nagte van die persoon wie se motor vandag deur woedende betogers getakel is sodat jy die ware stand van sake kan weet?

Joernaliste lig nie bloot die publiek in van wat in die wêreld aan die gang is nie. Hulle is die knaldempers in ʼn brose samelewing – die verskansing wat die harde impak trotseer sodat die slag effens ligter aan die ander kant uitkom. Die filter wat die hartseer, trauma en grafiese besonderhede verpak sodat dit in verteerbare vorm by jou aankom.

Joernaliste is meer as ʼn nuusbron – hulle is beraders, raadgewers, speurders, waghonde en vertroosters. Hulle beskerm die weerloses en konfronteer die magtiges. Hulle waagmoed is meer as hul vrees en hul oortuigings is sterker as hul inkennigheid.

Bo alles is hulle ménse. Feilbare mense. Mense wat foute begaan, verkeerde besluite maak en wie se oordeel soms wankel.

Maar mense wat meer trotseer as wat ooit op ʼn rekenaarskerm of in die ink van ʼn koerant vasgevang kan word.

Wanneer jy weer ʼn nuusberig lees, dink vir ʼn oomblik aan die eend.

  • Mariné Lourens is die inhoudsredakteur van Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

LIEZL ·

Dankie vir jul onbaatsugtige dienslewering, Mariné. Jy word waardeer, jy en jou mede kollegas. Julle moet sterk staan. Glo daar sal hande na jul ook uitgereik word, sodat jul staande kan bly. Sê julle te min, dan word jul aangeval, sê julle te veel, dan word jul ook aangeval. Dis nie maklik nie, maar sonder julle, is daar niks vir die lesers om te geniet of te huil of te lag oor nie. Hierdie is jou passie en as dit ‘n passie is, kan niemand dit onderdruk nie.

Ellisras ·

Jy is die op en wakker persoon op ontbyt TV. Weet waarvan sy praat en kom voorbereid. Hou so aan.

nabetragting ·

Vreesloos, mense met integriteit. Dit is hoe ek die Ondersoekende Joernaliste van SA kan beskryf. Julle het slapelose nagte nie oor geld en goed nie, maar oor julle liefde vir die waarheid. Baie dankie vir julle.

nella ·

Marinè, met jou en jul hele Maroela Media span is niks verkeerd nie. Jy is altyd welkom in my TV kamer en sò ook die hele span. Jy “pragtig” !!!!! Ek is ook permanent op Maroela Media op my selfoon en kry al die nuus eerste hands en korrek. Hou so aan, die HELE Maroela Media span, ek waardeer julle altyd.

Ed ·

Maroela julle is die beste. Miskien kan julle ‘n gedrukte uitgawe elke dag publiseer. Of ‘n tv kanaal op die internet begin.

aj ·

Marine vir PRESIDENT !!!

Pioniers, filosowe, recces (verkenners! … voeg dit by die lysie!

KENNIS IS MAG!

Eendjies eendjies staan in 'n ry ·

Mariné, ek vermoed die “publiek” kom in opstand teen die inhoud van die betigte, dit wat die berigte voorafgaan, maw die primêre gebeure. Om kwaad te word vir die nuusdraer is natuurlik verkeerd. Ek persoonlik dink, nee weet, joernaliste speel ‘n groot rol. Ondersoekende joernaliste soos Pauli van Wyk kry nie die krediet wat sy (hulle) verdien nie, om maar een te noem. Iets wat ek wens kon verander, maar ek besef dit kan nie en sal nooit verander nie, is nuusdekking aan ekstremiste, verlinks en verregs. Ek dink hulle kry heeltemal te veel aandag in die media. Dan ook, ‘n groot getal mense kan glad nie onderskei tussen ware nuus en fake news nie. Geensins. Alle “eende” moet aangaan om te “eend”, ons hoenders het jul nodig. Moenie dat die gekekkel of selfs die gekraai van die haan julle weerhou daarvan om n eend te wees nie

Dries du Toit ·

Doen net julle werk onpartydig. Ons wil nie graag weet wat julle persoonlike politieke standpunte nie. Bly net onpartydig en eerlik. Ons is al moeg om te weet waar sekere tv aanbieders se lojaliteit le. Soos Kabous, Johrne en Max en Piet kopdoek

Henry ·

Agge nee wat.
Soos sovele ander beroepe het die joernalistieke djoppie, ook sy skeutjie pyne, maar ook plesiere.
Is mos ‘n gegewe. Dan nie?
Die waarskuwingsklokke moet begin beier wanneer ‘n polisieman, geneesheer, verpleër, vliegtuigloods, onderwyser(es), ingenieur, busdrywer ens ens ens aan’t teem gaan oor al die wonderlikhede wat hulle verrig. Om nie eers te praaaaat wanneer hulle oor al die gewaande en werklike pynlikhede van hul GEKOSE beroep begin teem nie! Laasgenoemde “comes with the job” – soos die Engelse sê.
Mos.
Nietemin.
Hierrie poging is waarskynlik ook vir die snippermandjie bestem.
Alle sterkte en goeie wense.
:-)

Summie ·

Sjoe, nooit so daaraan gedink nie. Baie dankie vir die nuus wat julle aan ons, Jan Publiek verskaf, dit kan nie aldag maklik wees nie. Sterkte met wat julle doen en mag God ons Vader julle die krag gee om aan te hou om eerlike en akkurate nuus deur te gee, en ook om die hartseer wat daarmee saamgaan te kan verwerk.

HenkT ·

Joernaliste moet slegs die feite rapporteer sonder om emosie in die berig in te weef. Hulle is nie opgelei om ‘n emosionele of subjektiewe opinie te lug nie. Gee ons NET die feite (AL die feite) en niks anders nie. Dan kan ons self die emosie inbring of nie inbring nie.
Maar net my 2c opinie want ek het al hoeveel keer gesien hoe joernaliste, wat die minimum opleiding gehad het, (dink hier aan die 30 persenters) hulle bemoei met moeilike onderwerpe en die publiek dan wetend of onwetend met disinformasie, mislei.

Dries du Toit ·

Net so HenkT. En joernaliste moet wegbly by oningeligte swape se opininies soos akteurs en sangers wat in die sogenaamde born-free katagorie val. Hulle wat nie die vaagste benul het van die jare voor 1994 nie maar nou gevra word om kommentaar te lewer net omdat hulle kan sing. Ek was siek nadat n snotkop soos Bouwer Bosch namens my sy ongevraagde omverskoning vir apartheid gaan aanbied het en joernaliste dit goed gedink het om te publiseer.

Dries du Toit ·

En dan is dit ook nog n feit dat die meerderheid joernaliste ook nog in die “born free” katagorie val. Hulle het ook dan nog die verdraaide dogmas van ANC geskiedenis op skool gehad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.