In Desember verlede jaar, toe vryheid nog ʼn vanselfsprekendheid was, ry ek en my man tydens ʼn wegbreeknaweek verby ʼn padpredikant naby Bergville in KwaZulu-Natal wat wys: Kaalvoetvrou-monument – diékant toe.
My man draai af sonder dat ons daaroor praat; hy ken my.
Ons ry ver deur die vlaktes. Dis ʼn trietsige dag. Beeste staan met hul boude wind se kant toe gedraai en die flou sonnetjie breek net nou en dan deur die wolke. Af en toe pluk ʼn rukwind die bakkie eenkant toe. Die weiding is geil – groot genade midde-in die landswye droogte.
Van waar mens stop, is dit nog ʼn ent se stap tot by die Kaalvoetvrou-standbeeld. Ek trek my baadjie stywer om my lyf. Flertse wind ruk aan ons klere. Die veldgras lê platgewaai langs die voetpad.
Van ver skrik ʼn mens as jy haar sien, so alleen op die vlakte, al weet jy sy is daar. Eers sien jy net die silhoeët van haar kop en skouers en jy dink: Wat maak ʼn mens alleen in hierdie verlatenheid?
Dan kom jy nader en jy sien dis sy.
Sy staan op die rand van ʼn krans van waar sy uitkyk oor ʼn vlakte aan die voet van die Drakensberge. Haar gesig is diep in haar kappie, verskans teen die wind. Haar lyf is skraal en haar rok dun. Sy is kaalvoet, natuurlik, en besig om ʼn tree vorentoe te gee; haar rug gekeer op KwaZulu-Natal, op pad terug na die Vrystaat.
Sy is Susanna Smit, vrou van die Voortrekkerpredikant eerwaarde Erasmus Smit en suster van die trekkerleier Gerrit Maritz. Sy was deel van Piet Retief se trek wat Natal as hul nuwe tuiste gekies het. Tydens die moeilike tog Natal toe was Susanna die een wat gesorg het dat die trek se kinders se opvoeding nie agterweë bly nie. ʼn Mens kan jou indink hoe die groepie kinders om Susanna versamel het: dalk met ʼn wakis as tafel, soms in snerpende koue met ryp wat knars terwyl die wawiele spore daarin los, en soms in die hittige son met die beskutting van ʼn wa-seil as enigste skadu, terwyl hulle leer lees en skryf, somme maak en naaldwerk doen. Daar was seker dikwels groot protes: Die veld het immers gewag om ontdek te word, en huistakies wat as verskoning kon dien, soos water wat aangedra moes word en vee wat moes opgepas word, was daar seker genoeg.
Ná talle ontberinge en groot lewensverlies op pad na en in Natal was Susanna die een wat in 1843 ʼn groep van 400 vroue gelei het in ʼn afvaardiging na die Britse kommissaris van Natal, Henry Cloete. Hulle het hom vertel van hul swaar lewe op die grens en die uitdagings van hul daaropvolgende trek na Natal. Ek is seker hulle het hom vertel van hul babatjies en kinders wat langs die pad begrawe is; van huwelike wat tydens ʼn staning langs ʼn rivier voltrek is; van geliefde pa’s en seuns en broers wat hul lewe langs die pad vir vryheid gegee het. “Ons vryheid is vir ons belangriker as ons lewens,” het hulle vir hom gesê. En toe het Susanna volgens oorlewering dié woorde geuiter: “Ons stap liewer kaalvoet terug oor die Drakensberge as om onder die Britse vlag te staan.”
Ek kyk vandag na die foto’s wat ek geneem het daar by Susanna se standbeeld in die veld. Haar skraal lyf in die wind. Haar hand gestut op haar knie; haar benerige voete stewig geplant, op pad terug Vrystaat toe. Daar is nie opstand of veglustigheid in haar houding nie, net vasberadenheid en ʼn stil krag wat ʼn knop in jou keel los.
Ek wens ek kon haar ken, het ek gedink terwyl ek langs haar staan en my man vir my ʼn foto neem.
Vandag weet ek: Ek ken haar.
Susanna is in elke vrou wat in 2020 haar kinders se opvoeding in haar eie hande geneem het. Sy is die ma wat ʼn koek bak en self mooimaak as haar kind verjaar, en wat saam met hom cowboys en kroeks speel omdat sy maats nie kan kom partytjie hou nie. Sy is die een wat opstaan as dit nog donker is om huis aan die kant te maak, en haar rekenaar aansit om ʼn stuk werk gedoen te kry voor haar kinders wakker word en sy juffrou moet speel.
Susanna is my kollega wat uit haar eie skraal koskas, met haar man wat nie tans ʼn inkomste verdien nie, ʼn kospakkie bymekaar sit om vir ʼn gesin te gaan afgee wat niks het om te eet nie.
Susanna is my kind se musiekjuffrou wat kreatiewe planne maak sodat hulle klavierlesse nie agter raak nie.
Susanna is my buurvrou wat vir my ʼn sakkie avokado’s voor die deur kom los.
Susanna is my vriendin wat laatnag tien brode bak en dit op asblikdag stewig toegedraai op die sypaadjie neersit.
Susanna is my bejaarde ouers se buurvrou wat vir hulle ʼn skinkbord vol kookkos en nagereg gaan afgee, omdat sy weet ek kan dit nie doen nie.
Susanna is die huishulp wat haar eie gesin alleen los en inbly by haar werkgewer, nie net sodat sy vir haar eie gesin kan voorsien nie, maar ook sodat sy die gesin waar sy werk, kan dien.
Susanna is die pakker by die winkel wat agter haar masker vir my glimlag en sê: “Please stay safe.”
Susanna is elke ouma wat alleen in ʼn woonstel of aftreeoord haar tyd op haar knieë deurbring, biddend vir haar kinders en kleinkinders se gesondheid.
Susanna is die dokter en verpleegster wat vandag pasiënte met Covid-19 in ʼn Kaapse hospitaal se hoësorgeenheid liefdevol gaan versorg.
Susanna is die Maroela-leser wat vanaand haar koskas gaan oopmaak, ʼn hol kol op haar maag gaan kry oor wat sy sien, en dan ʼn smaaklike maaltyd gaan opdis uit ʼn pakkie soja.
In 1843 het Henry Cloete dalk simpatiek na Susanna Smit en die ander vroue se pleidooi geluister, maar hom nie daaraan gesteur nie. Ten spyte van Susanna se dapper woorde het sy later in Natal gesterf, onder die Britse vlag. Sy het nooit werklik kaalvoet teruggestap oor die Drakensberge nie. Maar in haar hart was sy vry – geen vlag en geen regulasie kon haar keer om vry te wees nie. Sy het nie nodig gehad om te veg vir haar haar vryheid nie, en sy het nie nodig gehad om dit te bewys nie – dit is net hoe dit was.
Susanna is ek en jy.
Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media
Dankie vir die insiggewende berig, dit gee ‘n mens stof vir nadenke.
Dankie vir die artikel en foto’s. Wie het geweet van haar beslis nie ek.nie. Nog ‘n eerbare getuienis van ons voorsate.
Wat n wonderlike, betekenisvolle storie.
Dit roer die hartsnare. Dankie Susan Lombaard dat jy dit met ons gedeel het.
So pragtig en treffend geskryf, dankie daarvoor.
Die Tjeggiese skrywer Milan Kundera meen dat vroue (die ewig-weibliche), die “destiny”, die toekoms van die mensdom is, en dat ons mans tot ‘n groot mate net meeganers is.
Of dit nou waar is of nie, as mens kyk na ons geskiedenis lyk dit of niks sou gebeur het sonder vasberade vroue nie. Mans praat maklik van stryd en wapens opneem, maar vroue dra gewoonlik die swaarste las. Maar dan is hulle miskien fisies en emosioneel beter toegerus vir stryd en swaarkry?
Dankie Susan, pragtige skryfstuk, wens ons kon dit by elkeen inprent watter offers gebring was op die pad van Suid Afrika. Dit is die moeite werd om af te draai en n wyle by daardie monument te gaan vertoef – ons het dit soortgelyk ervaar
Yster vrou!!! Jou meisies van vandag, neem kennis. Dit kos baie murg in jou pype. Jong seuns julle moet die voorbeeld stel, dit is waarom jy ‘n man is. Ons gaan nog moet uithaal en wys!!
Sela Susan!
Pragtig geskryf … 2020 Sussana. Ek hoop en bid daar het nog iets van daardie Sussana oorgebly…
So WAAR, so baie WAAR..! ek sien hierdieSusannas elke dag om my….sonder om lof te vra..
Doen sy net haar plig. of doen sy wat haar hand vind om te doen.? Die werklike doeners onder
ons,
En elke man kan gerus onthou—elkeen van ons mans is uit ‘n vrou gebore….!
Baie dankie Susan! Met hierdie een het jy diep geskryf. Voortreflik verwoord! Jy laat ‘n mens lewe tydens ‘n pandemie sien. Hierdie verskrikking bring die mooi na vore. Die tye van ek vir my en jy vir jou maak plek vir ons vir ons. “Hier’s my hand!” sê mense vir mekaar. Dit laat ons lewe sodat ons kan LEWE!
So mooi…????
Dit is baie insiggewend ek het nog nooit gehoor of kennis gehad dat daar so n monument is nie,die mense het moed en deursettingsvermoë gehad vandag is ons te bang om in n artikel of berig die ware feite te gee ,ons is te bang om te sê hoe ons voel.Ek wonder wat sal ons nageslag van ons gaan dink.