Redakteursbrief: Dit gaan góéd met Afrikaans

Die seminaargangers saam met van die Maroela-spanlede in Pretoria op 12 September 2014

Die seminaargangers saam met van die Maroela-spanlede in Pretoria op 12 September 2014

In Lusikisiki, Transkei is ʼn Christenskool waar ʼn groepie Xhosaleerders Afrikaans as derde taal neem.
Só laat weet Truda Fouché, een van Maroela se lesers, my in die week. Truda vertrek die naweek Lusikisiki toe om die matrieks te gaan help voorberei vir hul Afrikaanse eindeksamens. Afrikaanse lees- en leerboeke is dringend nodig, vertel sy. Ek vra ʼn bietjie rond, en dieselfde dag nog laat weet drie Afrikaanse instansies, onder meer AfriForum en Helpende Hand, dat hulle sal help om Afrikaanse boeke vir die skool aan te skaf.

Net verlede week het ons hier by Maroela ons derde Afrikaanse gemeenskapsradiostasieseminaar gehou. 19 stasies van regoor die land het dit bygewoon. Drie jaar terug was dit maar ʼn handjievol radiomense wat bymekaar gekom het. Vanjaar gons dit behoorlik soos die klomp nuus uitruil. Ons spits ons ore en hoor hoe hulle gesels oor onderlinge ooreenkomste vir die uitruil van programme en stemme, uitdagings by hul stasies en snaakse insidente met luisteraars.

In die afgelope drie jaar het ons so om die beurt by al dié stasies regoor die land gaan kuier – van Radio Lichvaal, Radio Laeveld en Radio Rosestad tot by Kaapse stasies soos Radio Namakwaland, Radio Weskus en Radio Overberg. Sommige van dié stasies het trots gespog met hulle moderne, goed toegeruste ateljees. Ander het net so trots gespog met klein, donker ateljees wat uitgeplak is met eierdose vir klankdigting.

Hulle almal doen dit vir Afrikaans. Baie van hulle maak nie ʼn sent nie.

Maandag hierdie week hou die FAK ʼn geleentheid by die Voortrekkermonument in Pretoria om die 100ste herdenking van genl. Koos de la Rey se dood te vier. Daar behoort so ʼn honderd mense op te daag, reken hulle. Later mik hulle vir ʼn paar honderd. Kort voor die geleentheid verskuif hulle die geleentheid inderhaas na die senotaafsaal, om voorsiening te maak vir die amper 1 000 mense wat toe opdaag om dié groot Afrikanerleier met die sagte hart se dood te herdenk.

Ek sien Afrikaans oral om my gebeur. By die garage in Ou Johannesburgweg, Centurion, waar ek graag petrol ingooi omdat die petroljoggies so mooi Afrikaans praat. In die stapels en stapels Afrikaanse boeke en CD’s wat ons maandeliks by Maroela ontvang vir resensie-doeleindes. Op Afrikaanse letterlappe en in geskenkwinkels. Op T-hemde, bufferplakkers, koffiebekers, kos-etikette en verpakking.

“Afrikaans sit kruisbeen in jou hart,” sê iemand gister vir my. Of soos ons vyfjarige seuntjie gister vir my sê: “Mamma, ek het vir Anneli op haar mond gesoen. En met daai soen het ek haar uit Christiaan se hart uit gesteel.”

Sê dít nou in enige ander taal.

Ek hoop jy geniet hierdie week Afrikaans, en al die lekkertes wat dit inhou. Dit gaan góéd met ons mooie moedertaal.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willawragtag ·

Julle terg julleself. As amptelike taal bestaan Afrikaans omtrent nie meer nie. Afrikaanse regslui gebruik dit omtrent nie meer nie. Akademies word omtrent niks meer in Afrikaans gepubliseer nie. Die taal het meer as net kunsfeeste en cd’s nodig om erkenning te geniet

Daan ·

Dit moet een van die swakste skrywes wees wat ek in ’n lang tyd gelees het. Afrikaans verkeer onder geweldige druk. Vroeër jare het restourante soyskaarte in Afrikaans gehad, ’n mens kon in Afrikaans bank, inkopies doen, goeie televisie kyk, selfs voertuie se gebruikershandleidings was in Afrikaans. Net omdat ’n paar swartes Afrikaans leer gaan dit goed? Jy maak seker ’n grap. Padpredikante, advertensies, hoër gebruik van Afrikaans bestaan óf nie meer nie, óf dit gaan drasties agteruit. ’n Paar kwasi-sangers wat in geradbraakte taal sing gaan Afrikaans nie red nie.

Jakoos ·

Daan, ek sien nou eers jou kommentaar op hierdie stuk van die redakteur – en nou verstaan ek jou kort reaksie daar onder nuuskommentaar. Ek dink jy is volkome reg. Dit gaan NIE goed met Afrikaans nie.

Ek het eintlik net hier kom inloer om vir Maroela mooi te vra om noukerig aandag te gee aan die foto’s wat hulle plaas. Ek kyk pas weer na Netwerk24 se webblad en ek wonder of die koerante soos Beeld besig is om “swart” koetrante te word – net soos netwerk wemel van swartes se doen en late en foto’s. Dan is ek so dankbaar dat ek al 15 jaar gelede opgehou het om Beeld (en kort daarna Rapport) te koop.

Peter Rossfour ·

Haai Susan!

Ek wens ek kon jou siening dat dit goed gaan met Afrikaans deel, maar as ek so om my kyk dan wonder ek of jy nie dalk n rooskleurige bril dra nie. Miskien wil jy maar net, soos seker elke ander Afrikaner, glo dat ons taal en ons kultuur nie onder intense druk verkeer nie, nie daagliks aangeval word nie, maar ongelukkig moet ek met Daan saam stem, Afrikaans word doelbewus onderdruk en uitgeroei. Ons pragtige mooi en kosbare Afrikaanse taal en kultuur is vinnig aan die verdwyn. Wat Daan sê is ogelukkig waar.

Ja, toegegee daar is diegene wat met radio stasies en dies meer die stryd voort sit, maar dit is n druppel in die emmer. In watter restaurant is daar nog n Afrikaanse spyskaart, watter suiwer Afrikaanse programme is oor op televisie, en wys tog asseblief vir my een advertensie op die kassie wat in Afrikaans gemaak is. Of kyk ek straks nie genoeg televisie nie?

Nee wat Meisie, ons is omring, en die laer word al hoe kleiner, een van die dae gaan ons net een of twee waens oorhê om om ons te trek. En dan gaan ons dalk moet doen wat Oom Herklaas van daar anderkant Garries met sy ou vrou Tant Lenie, gedoen het toe sy so lank met haar inkopies gedraal het. Ek dink dis n Tolla grapple, maar dit kom daarop neer dat toe oom Herklaas nadat hy uiteindelik laat die middag uit die oog uitstap na n hele paar knertsies en sien dat sy twee spog donkies, Vaalbek en Valentyn, soos Bonsaai donkietjies plat op hul mae lê van die heel dag in die intense hitte staan, besluit om terpentyn te koop en aan te smeer, die twee trek diere soos wafferse resies perde voor die kroeg wegtrek dat die klippe spat, en Tant Lenie agterna hardloop en skreeu,”‘Herklaas wag vir my!”, die ou oom wat nou sy hande vol het met die ywerige donkies die bottel terpentyn oor sy skouer gooi en skreeu, ‘Lenie! Smeer aan en kom!”

Ek weet net nie waarnatoe ons sal moet “kom”nie.

Susan, my Ouma het altoos vir ons as kinders gesê, “Van lag kom huil!” Dit breek my hart om dit nou aan jou oor te vertel, my vrou het so pas, terwyl ek hierdie insetsel tik, vir my kom sê dat een van ons dierbaarste vriendinne se bejaarde moeder gisternag gruwelik op haar plaas vermoor is.

Nou word ek gedwing om te vra, “Gaan dit goed met ons Afrikaners?”

Sjert ·

Dankie Susan vir ‘n spatsel positiewe inligting oor ons Lewende Taal!

Ek dink nie dat daar veel siele is wat die feit sal betwis dat Afrikaans sedert 1994 ‘n opdraande stryd in hierdie droewe land moet voer nie. Terselfdertyd is daar talle bewyse dat ons taal ten spyte van vyandighede, veral vanuit die huidige regime se geledere, steeds sterk staan en selfs uitbrei. Die enkele voorbeelde wat jy hierbo noem, illustreer dit.

Ons taal en sy gebruikers het veel groter bedreigings na die Anglo Boere Oorlog (ABO) beleef, as dit waarmee hierdie regime tot dusver vorendag kon kom. Ons voorouers het die aanslae en terugslae oorleef en die Taal het inderdaad sterker anderkant uit gekom

Daar was indertyd ook ‘n aantal Jan Salie’s en Martie Martelgatte wat altoos die einde van Afrikaans voorspel, be-kerm en be-ween het. Nietemin het die meerderheid Afrikaners lustig voortgegaan om die taal te praat, te skryf, te lees, te sing en te wat ookal.

En daarom is ons vandag steeds hier. En daarom is die taal in ons bloed en niere. En daarom sal ons met alles tot ons beskikking, voortgaan om ons taal te koester, te beskerm en te bevorder. Met dieselfde geesdrif as dit waarmee ons voorouers dit gedoen het en wat verseker het dat ons taal vandag steeds aan’t groei is.

Is maar hoe dit is…

Lidia van Niekerk ·

Ek het die bostaande opmerkings gelees en ek voel ek moet iets sê. Ek was nou onlangs op reis na Kaapstad, spesifiek Bellville waar ek by ‘n vriendin gekuier het Van Randburg tot by Colesberg , moes ek Engels praat, in die winkel en eetplek by die vulstasies en ook met die petroljoggies.
2 Weke in die Kaap en sy omgewing wat ingesluit het Gordonsbaai, Die Strand, Houtbaai, Darling, Yzerfontein en Bellville het ek Afrikaans gepraat en is gehelp en bedien in Afrikaans. Ons taal sal oorleef.

Daan ·

Linda, waar in die Kaap kan jy in Afrikaans studeer? Ek dring aan op Afrikaans wanneer ek myself tussen Randburg en Colesberg bevind. Ek slaan nie sommer gelate oor na Engels nie.

Ons taal sal dalk oorleef vir ’n wyle maar internasionaal is reeds bewys dat indien ’n taal sy hoër funksies verloor (d.w.s. akademiese gebruik, regsgebruik ens.) gaan hy uiteindelik uitsterf. Dit is net ’n kwessie van tyd.

Peter Murray ·

Geagte Mevrou/Mejuffrou die redakteur, en mede lesers!
Ek het geleer “alles in die lewe is maar relatief”. Wat vir die een mooi lyk, lyk vir die ander lelik. So het ek ook die redakteur se mooi verhaal oor “dit gaan goed met Afriklaans” gelees, en aanvanklik “lekker gekry,” maar later “nie meer so lekker gekry nie.”
As ek ‘n voorbeeld kan noem; as mens in Natal kom en openbare dienste word in Afrikaans aangebied, voel mens dadelik dankbaar vir die gebruikers wat jou in jou moedertaal bedien. Maar, as jy in die middestad van Pretoria kom, en geen winkelier kan of wil met jou Afrikaans praat nie, dan is daar mos ‘n groot skroef los! Dit het met my in 1988 gebeur. Ek was vir ‘n week lank in die hoofstad, en ek kon byna net met my familie (wat in Lynnwood Manor gewoon het) in Afrikaans praat. Ek het middestad toe gegaan om my kamera, wat ‘n tegniese probleem ontwikkel het, vir herstelwerk in te handig. Niemand kon my verstaan toe ek Afrikaans gepraat het nie. En toe ek na Engels toe oorslaan, was die Engelsman so onbeskof en onprofessioneel, dat ek maar omgedraai en geloop het.
In 1960 in Natal het ‘n vriend van my ‘n winkel binnegestap om iets te koop. Toe die verkoopsman ewe arogant vir hom sê hy moet Engels praat, sê my vriend vir hom in Engels:”Listen, if my language is not good enough, then my money is also not good enough!” Hy het sy banknoot in die lug geswaai en ons het die winkel verlaat.
Ek het 3 jaar in Kaapstad-Tuine gewoon, en 3 jaar in Die Paarl. In daardie 6 jaar se tyd het ek minder Engels gepraat as die 6 dae in Pretoria. Kan die lesers nou sien wat ek bedoel? Mens kan nie altyd veralgemeen nie. Die lewe is maar relatief.
Maar, wat my grensloos irriteer, is om deesdae na die radio- en televisieprogramme in Afrikaans te luister. En omdat die elektroniese media so ‘n geweldige sterk invloed op ons mense se taalgebruik het, is dit soveel meer belangrik om die taal reg te gebruik. (Om my aannames te illustreer, wil ek een of meer voorbeelde noem. Ek hoop nie die redakteur gaan my sensor nie, want daar mag dalk een of meer woorde in my voorbeeld wees wat ontoelaatbaar is).
* In 1960 se goeie Afrikaans: “My pa en my ma het verhuis. Hulle woon nou in hul strandhuisie by die see.”
* In die 21ste eeu se swak Afrikaans: “Maai pô anne maai mô het verhaais. Halla woon nou in halla strônthaaisie baai die sia.”
Toe ek in die vyftiger- en sestigerjare op skool was, het ek nooit sulke soort Afrikaans gehoor nie. Ook nie in die sewentiger- en tagtigerjare nie. Maar vandat ons ‘n nuwe regering gekry het, was dit asof alles radikaal verander het.
Ek het nog nie handdoek ingegooi nie. Ek glo nog steeds Afrikaans sal oorleef, maar dit sal deur ‘n gedurig krimpende getal Afrikaners gepraat word. Pleks van 3-miljoen, sal slegs ‘n paar duisend Afrikaners oor 50 jaar ‘n goeie, standaard-Afrikaans praat.
Ek het voorheen baie koerant gelees (om politieke redes boikot ek deesdae liewer sekere koerante), en die gehalte van die taal was redelik goed. Maar sedert 1994 het die taal sodanig verswak, dat ek dit nie meer kan doen nie. Nie net het joernaliste se taal verswak nie, maar dit is veral lesers, in hul kommentare, wat my gruwelik ontstel.
Dit is een ding om ‘n tikfout te maak (ek tik dikwels twee letters op my rekenaar se sleutelbord gelyk, omdat my artritisvingers maar styf en krom is, en nie altyd reg tik nie), maar dis ‘n ander ding as jy doelbewus spelfoute herhaal. Ook die verkeerde sinsbou, grammatika, en ander taalfoute wat lesers maak, is totaal onaanvaarbaar.
Eendag, toe ek iemand (waarskynlik ‘n jongman) probeer reghelp oor sy spelfoute, was hy taamlik omgekrap en sê:”Spelling is nie belangrik nie!” Toe sê ek vir hom, as hy ‘n spelfout in my e-posadres maak, sal ek nooit sy pos ontvang nie. Nie eers ‘n komma of ‘n punt mag verkeerd wees nie. En, daar is tog ‘n verskil tussen ‘n “boer” en ‘n “Boer”. Eersgenoemde is ‘n beroep, en laasgenoemde is die naam van ‘n bevolkingsgroep.
Ek, as iemand wat op die platteland opgegroei het, vind dit baie snaaks as stedelike Afrikaners so geweldig sterk onder die invloed van die Engelse taal is. Hulle wil gedurig woorde wat een begrip is, in twee of drie los woorde opbreek. Adresse word ook op die Engelse manier aangedui, byvoorbeeld: 30 Smuts Laan, pleks van Smutslaan 30. So is daar duisende voorbeelde van hoedat Afrikaans oor die afgelope 50 jaar ‘n metamorfose ondergaan het.
Ek hoop net nie my naasbestaandes gaan sulke skryffoute op my grafsteen maak nie, want ek sal sowaar uit my graf opstaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.