Redakteursbrief: Durban, Centurion, Adelaide: ‘Mens se mense bly jou mense’

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ons ontmoet mekaar vir ontbyt: Dis nou ons gesin van vier, ons hartsvriende wat na 18 maande in Durban terug is in Gauteng, en vriende wat, ná agt jaar in Australië, in Suid-Afrika kom kuier het.

Dis ʼn vreemde reünie. Ons het voorheen nog net een keer almal saam gekuier, nege jaar gelede, om ʼn lang tafel in Ian en Gerda se huis. Toe was ons almal nog ʼn bietjie vreemd vir mekaar. Saam het Ian en Gerda vooraf lank gedink oor die tafelplasings, om seker te maak die geselligheid om die tafel is so interessant moontlik. Gerda het beesstert gemaak, en as ek reg onthou, het Ian verantwoordelikheid vir die tuisgebakte brood aanvaar.

Ons het tot in die klein ure van die oggend gekuier. Ian en Gerda se kinders het later met hul voorkoppe op hul arms op die tafel aan die slaap geraak, vasbeslote om nie ʼn oomblik van die geselligheid te mis nie. Want iets was anders aan dié kuier. Gesprekke is gevoer en profetiese woorde gesê wat van ons vir altyd sou bybly, en ons selfs vorentoe sou help om die regte keuses te maak.

Kort daarna is Ian en Gerda oorsee – vir hulle nie die eerste keer dat hulle in die buiteland sou woon en werk nie. Maar Suid-Afrika bly huis, vertel hulle oor ʼn eg Suid-Afrikaanse ontbyt. Ons lag toe Ian vertel dat hy die vorige dag vir twee minute lank ʼn video geneem het van ʼn stadsraadwerker wat op sy graaf leun, om vir hul vriende in Adelaide te gaan wys.

Knus langs ons sit Gys en Lani. Ons hartsvriende wat die waters in Durban gaan toets het, maar nou terug is. Ons en hulle kinders, wat saam-saam grootgeword het, vergeet van hulle ontbyt en speel uitgelate asof hulle die verlore tyd met hulle groot maters probeer inhaal. Dit voel reg om hulle hier terug te hê. Toe sy eergister in haar motor klim en Gauteng toe begin ry, hamsterhok op die passasiersitplek, toe daal daar ʼn groot verligting oor haar neer, vertel Lani. Asof hulle vir agtien maande met vakansie was, maar nou teruggaan huis toe.

Huis toe, waar jou hart is.

Ian en Gerda se oudste studeer in Singapoer. ʼn Reisiger, soos haar reis-honger ouers. Onlangs was sy vir ʼn vakansie tuis. Pas terug in Singapoer, stuur sy vir haar ma ʼn WhatsApp-boodskap: “Ma, mens se mense bly jou mense”.

Ons ander liewe vriende wat met daardie legendariese kuier in 2006 saam met ons om die lang tafel was, woon nou in Kaapstad. Halrika het ʼn musiekbediening en maak haar en Fanie se pragtige dogtertjie groot. Ons verlang na hulle wanneer ons op Facebook die foto’s sien van die drie mooi blonde mense op die strand. Maar ook hulle is nou waar hul hart is. Waar hulle dogtertjie Tafelberg kan sien wanneer sy vir haar verjaardag ʼn sandkasteel gaan bou.

En hier langs my, sit my man. My rots, die een waarnatoe ek in die aand wil teruggaan om hom alles te vertel wat met my gebeur het. Hy en my kinders en my ouers wat om die hoek bly. My mense.

Ons lag: Ian vertel hoe mooi die Suid-Afrikaanse vroue vir hom is. “Ja, hulle is almal so mooi versorg,” val Gerda hom in die rede. “Nee, hulle is plein móói!” sê Ian. Later is ons ernstiger: Ons praat standbeelde, xenofobiese geweld, werkloosheid. Ian en Gerda vertel ons van hulle moeilike jare in Australië, toe dinge vir hulle wou-wou skeefloop. Maar ook daar het God weer uitkoms gegee. Hulle vertel met vars oë vir ons wat dit nie meer raaksien nie, hoe mooi Suid-Afrika vir hulle is. Hoe vriendelik die mense, en hoe maklik ons lag vir ons eie foute. Lani en Gys vertel van die Engelse gemeenskap waarin hulle moes aanpas in Durban, die multikulturele vriende wat hulle gemaak het, die Engelse kerk wat hulle tuiste geword het.

Vir ons gesinnetjie was die afgelope nege jaar nie sonder uitdagings nie, al was ons net hier in Gauteng. Geleenthede om ons wortels uit te trek het ook oor ons pad gekom. Ons moet keuses maak oor werk, skole, nog kinders. Ons was dikwels onseker en bang; is nou nog soms.

Maar ek kyk na die gesellige klomp om die tafel, en ek weet daar is ʼn paar goed waarvan ons seker kan wees.

Jou mense bly jou mense, waar jy jou ook al in die wêreld bevind.

En waar jy ook al gaan – God gaan saam.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Bruno Stef ·

Tydens my paar weke kuier by my kinders in PERTH het ek talle groepe mense in en om die stad ontmoet wat Afrikaans sprekend is.Dit klink of jy in SA is en word jy aangespreek soos maar net ons Afrikaner tradisie is daar is tot n Afrikaanse winkel waar jy biltong/wors en ander tradisionele produkte kan koop en in Afrikaans bedien word. Klein Pretoria by die see wat n voorreg om jouself daar te kan vestig met n rustigheid om jou.

Johan ·

Susan, dankie! Dis vir my opmerklik hoeveel stories en fotos van hoop nou vertel en gewys word. Joune is deel daarvan. Ek lees vandag elders: ‘ Being positive in a negative situation is not naive. It’s leadership.’ Laat dit so met ons wees!

Johan ·

Susan, dankie! Dis vir my opmerklik hoeveel stories en fotos van hoop nou vertel en gewys word. Joune is deel daarvan. Ek lees vandag elders: ‘ Being positive in a negative situation is not naive. It’s leadership.’ Laat dit so met ons wees!

Peet Schabort ·

Dankie jou skrywe Susan. Mens wonder wie het nie op een of ander manier familie oorsee.
Wat die “plein móói” nooiens van SA betref het ek, so 19jaar oud en my oupa, so 88jaar oud in die tyd van die minirokkies in Middelburg (Tvl) op straat geloop. Daar kom toe van voor ‘n oulike minirokkie aan terwyl oupa voor hom kyk om nie te val . Toe sy hier by hom verbygaan sien hy haar die eerste keer raak. Hy gryp my arm, draai om en kyk haar agterna met die mooiste woorde wat ek nooit sal vergeet hoe om ‘n meisie te beskryf, nl.: “Kyk daardie mooi, jong, fris nooi”. Ek antwoord terug: “Oupa ek het haar al gesien toe sy aangekom het na ons toe”. Hy gee my so ‘n verontwaardige kyk en sê: “En jy sê nie vir my, kom ons loop”.
En daar stap oupa en kleinseun verder . . .

Susan Lombaard ·

Peet, dis mooi! Die “mooi jong fris nooiens” van Suid-Afrika!

Lionel Smit ·

Na 8 jaar in die land van Farao was ek so reg om huistoe te gaan nou einde Junie. Ongelukkig is ons besluite nie altyd die regte besluite nie, en het die lewe n snaakse gewoonte om alles deurmekaar te krap wanneer jy dit die minste verwag. Dis nog nie tyd nie. Nog 2 jaar in Azerbaijan. Wie weet, dalk dan terug. Nie maklik as jy biltong en boerewors en Afrikaans en al daai lekker goed mis nie, maar ongelukkig noodsaaklik as jy nie meer n bestaan in jou eie land kan maak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.