Redakteursbrief: “Ek droom oor ʼn radiostasie vir my gemeenskap”

Susan Lombaard en Tim du Plessis by Klankgolf 2016, Maroela Media se jaarlikse gemeenskapsradiostasieseminaar (Foto: Maroela Media)

Susan Lombaard en Tim du Plessis by Klankgolf 2016, Maroela Media se jaarlikse gemeenskapsradiostasieseminaar (Foto: Maroela Media)

Altesaam 51 mense van Afrikaanse gemeenskapsradiostasies oral oor die noordelike deel van die land is gister en vandag by mekaar by Maroela Media se vyfde gemeenskapsradiostasieseminaar.

Hierdie klink na ʼn doodgewone inleidende sin vir ʼn redakteursbrief, maar dit is glad nie – dis gelaai met betekenis.

“Mense”: Want terwyl ons gisteraand met pizza en wyn saam met hierdie mense kuier, hoor ek die mooiste stories, soos elke jaar. Dis mense wat in hul gemeenskappe, op die platteland, in stede, oral, dinge laat gebeur. Min van hulle doen net een ding; vir die meeste van hulle is hulle betrokkenheid as bestuurder of omroeper by ʼn gemeenskapsradiostasie maar net een van die baie dinge wat hulle besig hou. So deur die aand kuier ek ʼn lang lys goed raak wat hierdie mense doen – dis nou buiten omroeper of radiostasiebestuurder wees: Hulle bedryf voedingsprojekte by hul plaaslike laerskole; hou sopkombuise in die dorp se stadsaal aan die gang; doen naaldwerk (professioneel); verkoop pannekoek vir die skool se eerste rugbyspan se vakansietoer; doen spyseniering; bestuur ʼn hoenderboerdery; neem troufoto’s; bedryf ʼn begrafnisonderneming; neem kinders in pleegsorg; dien op die skool se beheerraad; bestuur ʼn gastehuis.

En die beste is, hulle almal se oë blink. Hoe meer hulle doen, hoe meer kán hulle doen. Hulle kla nie oor verkeer of oor luisteraars wat mor oor hul musiekkeuse of oor lisensievoorwaardes nie. Hulle saai net uit, in Afrikaans, want hulle is passievol oor hulle gemeenskappe, oor Afrikaans en oor goeie radio.

“Gemeenskapsradiostasies”: Nie sommer enige stasie nie. Baie gemeenskapsradiostasies bedryf hulle besigheid met ʼn karige vaste inkomste. Hulle is afhanklik van adverteerders in die plaaslike gemeenskap, en ook van vrywillige omroepers wat nie betaal word vir hul dienste nie. As toerusting breek, moet hulle worsbroodjies verkoop om dit te herstel. As die ateljee nie klankdig is nie, maak hulle ʼn plan met leë eierbokse. As ʼn omroeper hulle in die steek laat, spring hulle self agter die mikrofoon in. Maar hulle doen dit, want hulle het ʼn hart vir die mense vir wie hulle uitsaai. As tannie Gerda se papegaai weg is, help hulle die hele dorp soek tot Kuifie terug is in sy hok. As die dominee se vrou in die hospitaal is, kry hulle almal in hul uitsaaigebied aan die bid en aan die kos aandra.

“By mekaar”: Want glo my, vyf jaar gelede was dié klomp mense dalk by mekaar in een vertrek, maar gʼn niks “by mekaar” in die ware sin van die woord nie. Met die eerste gemeenskapsradioseminaar het hulle dalk in een vertrek gesit, maar kwalik ʼn woord met mekaar gepraat. Hulle het onderlangs agterdogtig geloer na die verteenwoordigers van ander stasies wie se uitsaaigebied raak-raak aan hulle sʼn, en koffietyd het hulle met onopregte praatjies-makery probeer uitvis wat is die ander stasies se besigheidsgeheime. Vandag, vyf jaar later, groet dieselfde mense mekaar soos ou vriende. Hulle kuier tot laataand, en na teetyd sukkel ons om hulle terug in die seminaarlokaal te kry. Dié stasies het in die afgelope vyf jaar begin programinhoud uitruil, omroepers se stemme begin “uitleen” vir die opneem van advertensies, hul uitdagings met mekaar begin bespreek en sommer net kontak gehou om in te val vir koffie as hulle in hul “kompetisie” se uitsaaigebied ʼn draai maak.

“51”: Vyf jaar gelede, toe Maroela Media die eerste gemeenskapsradiostasieseminaar aangebied het, was hier veertien mense – en dit was verteenwoordigers van stasies reg oor die land. Vanjaar bied ons die seminaar aan vir 51 mense in Gauteng, en vroeg in September bied ons ʼn soortgelyke seminaar in die Kaap aan vir net soveel verteenwoordigers van radiostasies in die suide van die land. Dit sê iets van wat hier aangebied word, en die gehalte daarvan – ʼn opleidingsgeleentheid uitsluitlik vir gemeenskapstasies wat Afrikaans as een van hul uitsaaitale het, en wat selde die luukse (en finansies) het om twee dae uit die kantoor te wees vir opleiding. Te danke aan ʼn borg kan Maroela Media elke jaar hierdie geleentheid teen ʼn minimale koste vir die radiostasies aanbied, en boonop vooraanstaande sprekers betrek: Tim du Plessis, Bettie Kemp, Mariëtta Kruger, Coenie de Villiers, Lance Rothschild, Freek Robinson en Niekie van den Berg is maar enkele van die bekendes uit die media- en vermaakbedryf wat in die afgelope paar jaar by die seminaar opleiding gegee het. Ek glo die feit dat die bywoningsgetalle elke jaar styg, is ʼn aanduiding daarvan dat ons met die keuse van sprekers en materiaal die spyker op die kop slaan.

“Maroela Media”: Maar ons is dan ʼn digitale platform. Waarom opleiding vir gemeenskapsradiostasies? Die antwoord is tweeledig.

Enersyds weet ons, uit die meetinstrumente tot ons beskikking, dat ons lesers hoofsaaklik in stedelike gebiede bly. Plattelandse lesers is dun gesaai, om verskeie redes: internetgebruik op die platteland is oor die algemeen laer, as gevolg van beperkte internettoegang en ʼn ander leefstyl. Mense is ook nie so ingestel op nuus nie, en gebruik nog meer tradisionele media as nuusbronne. Dit beteken egter nie dat ons nie hierdie mark wil bereik nie. Afrikaanssprekendes op die platteland is juis vir ons so eie aan wie ons as Maroela is. Hoe meer van hulle Maroela begin lees, hoe lekkerder vir ons.

Andersyds het ons vyf jaar gelede al raakgesien dat gemeenskapsradiostasies vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes iets kan doen wat ons wat Maroela is, nooit sal kan doen nie. Die persoonlike aard van ʼn gemeenskapsradiostasie is iets wat ʼn webwerf nooit sal kan vervang nie. Ons sit hier in die stad, en maak staat op die inligting wat na ons toe kom. Gemeenskapsradiostasies is in die hart van hul Afrikaanse gemeenskap. Hulle praat nie net mét die mense nie; hulle praat sóós die mense. Vir die oorlewing van Afrikaans is Afrikaanse gemeenskapsradiostasies onontbeerlik. As ons dus iets kan doen om hulle hande hoog te hou, ter wille van hulleself en ter wille van Afrikaans, doen ons dit graag.

“Eers droom ek my skildery, en dan skilder ek my droom,” het Wouter Snyman vanoggend vir Vincent van Gogh aangehaal tydens sy aanbieding by die seminaar (Wouter se aanbieding, nie Van Gogh sʼn nie). Só het ons vyf jaar gelede ons Maroela-droom gedroom, en toe ons droom geskilder. En reg oor die land het ʼn klomp mense oor baie jare hulle gemeenskapsradiostasie-skilderye gedroom, en toe geskilder. Dis ʼn voorreg om ʼn deel van hulle prentjies te wees.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Morne Geyser - Overvaal Stereo ·

Dankie vir die moeite met #Klankgolf2016 en dankie vir Maroela Media wat die waarde van gemeenskapsradio besef. Dankie ook vir die laataand kuier met pizza en rooiwyn. Ons waardeer julle!

Theuns ·

Nou moet ons net ‘n Afrikaanse TV stasie ook kry! Die Kyknet kanale is pateties en duur. Dankie aan almal van julle!

Hennelie Rust ·

Ja vir ons ver op ‘n bergplaas,naaste dorp 67km. Uitspandag Saterdag vir die ou grootmense,”n kanaal met alle nuus,die Sport en ‘n paar goeie sepies,soos Binnelanders. Huidig,die kanaal wat die sport by het, Kos ons R759. p.m. N Goedkoper kanaal en ons is in!! en dit sal deur baaaaie, van ons Kykers,goed ondersteun word,want ons doen sommer mondelingse advertensie vir julle!”vir jul Toekoms planne.”

Chris Ws ·

Dankie aan Maroela Media wat nuus op die internet beskikbaar stel vir ons hier op die plaas ver van alles af.Dis net die swak selfoon seine wat pla want as die wind net sterk waai is daar geen sein nie en geen internet nie!Wens die situasie was beter wat dit betref.

Kaufman ·

Ja Theuns en Otter, om n Afrikaanse tv kanaal wat goedkoop of gratis is sal n groot verskil maak. Baie mense kan gladnie kyknet bekostig nie, en tv is n baie belangrike medium vir taal en kultuurontwikkeling.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.