Redakteursbrief: Gee jou strikdas en bou ʼn brug

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Dit was ʼn moeilike maand vir Suid-Afrika. Onrus op universiteitskampusse het ongekende afmetings aangeneem. Betogings oor dienslewering het landswyd plattelandse dorpe tot stilstand gebring. Die begrotingsrede en spanning op regeringsvlak en binne die ANC het ons op die punt van ons stoel gehou. Die land het getreur saam met die familie van die slagoffers van die Lily-mynramp. Verskeie plaasaanvalle het plattelandse gemeenskappe in rou gedompel, en daarmee saam het die knellende droogte nog kwalik skiet gegee. Voedselpryse begin reeds styg. Derduisende gesinne se toekomsplanne is onherroeplik verander met die sluiting van Highveld Steel in Witbank, en Telkom se planne om sowat 6 000 poste te sny. Die onteieningswetsontwerp is in die parlement goedgekeur, en sprake van groter regeringsbeheer oor skole se beheerliggame het ouers warm onder die kraag.

Ook nader aan ons eie lyf het ons die spanning en hartseer van ʼn moeilike maand gevoel. Die Aardklop-kunstefees se aankondiging dat die fees nie weer aangebied gaan word nie en die afsterwe van Leon Rousseau, Fanie Smit, Kupido, Annique Theron en Anton Prinsloo was ʼn groot slag vir Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap. Saam met die spanning oor Afrikaanse onderrig op universiteite en skole het talle Afrikaanssprekendes krom geloop onder bekommernis.

In Maroela Media se leserstatistiek, meer as op enige ander plek, kan ons die effek van so ʼn moeilike maand op ons lesers sien. In plaas daarvan dat al die nuus mense noop om meer te lees, lees hulle minder. Dis asof mense ʼn versadigingspunt vir slegte nuus bereik en hulleself dan daarteen beskerm deur dit te vermy. Dis goed so; mens kan nie konstant gekonfronteer word met slegte nuus nie.

Boonop was daar in Februarie min goeie nuus – of dalk was die joernaliste net so besig om al die harde nuus te dek dat hulle nie tyd gehad het om te soek vir goeie nuus nie. Slegte nuus het mos die manier om in ʼn nuuskantoor te beland, maar goeie nuus word selde deur die publiek as “nuus” gesien, en dit verg dus ʼn bietjie meer van ʼn nuusspan om dit uit te snuffel.

Die media kon darem berig oor die enkele ligpunte: Die hooggeregshof in Pretoria het beslis dat die SAPD plaasaanvalstatistiek bekend móét maak. R2,5 miljoen vir droogtegeteisterde boere is deur die Manna vir die Boere-konsert ingesamel, en ʼn boer het 18 000 eiers aan Solidariteit Helpende Hand geskenk om as deel van hul noodverligting in Witbank aan te wend. Nóg tonne kos is vir die projek geskenk. In Pretoria het lede van die gemeenskap gehelp om ʼn vrou te red wat haar eie lewe wou neem. ʼn Paar dae oue babaseuntjie is deur ʼn beeswagter in die veld gevind en na veiligheid gebring. ʼn Ander babaseuntjie wat uit die Worcester-hospitaal ontvoer is, is teruggevind. Pravin Gordhan het sy nek styf gemaak en gewys dat hy nie geïntimideer sal word nie. Na groot onrus is akademiese aktiwiteite by Kovsies hervat sodat studente hul studies kan voortsit, en ʼn stewige ronde onderhandelings tussen uiteenlopende partye het, wonder bo wonder, tot ʼn ooreenkoms gelei wat gesorg het dat onrusbarende besluite oor die UP se taalbeleid vir eers gestuit is, en dat die kampus ook weer kon heropen.

Dan is daar die goeie nuus wat veral op sosiale media wyd geloop het. Dis die nuus en foto’s van studente op kampusse regoor die land wat, te midde van onrus, geweld, betogings en rassespanning, besluit het om geweld met vrede te beveg. Vir dié studente bestaan daar nie iets soos rassegrense nie. Honderde studente van alle rasse het, toe spanning op die UP en Kovsies op ʼn hoogtepunt was, op hul kampusse byeengekom om saam te bid. ʼn Klompie studente van Tuks het ook begin om elke oggend douvoordag ʼn roete om die kampus te stap terwyl hulle vir die universiteit bid. Op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het die Pukke self skoongemaak ná betogers asblikke op die kampus omgekeer het.

Vir ontstoke buitestaanders landswyd het die studente gewys hulle sal nie bang wees nie, want hulle weet waar hul Hoop vandaan kom.

En vir my het Valentynsdag die heel mooiste storie opgelewer vir Februarie 2016 – ʼn maand wat in die land se geskiedenisboeke opgeteken sal word om talle redes. Dis ʼn storie van liefde, maar ook van menslikheid en meelewendheid oor ouderdoms- en rasgrense. Dis die mooi storie van Karabo John Moa, ʼn deeltydse student van Rustenburg, wat vir ʼn bejaarde man sy strikdas gegee het. Die bejaarde man was in ʼn winkelsentrum op soek na ʼn strikdas wat hy kon dra wanneer hy sy vrou vir ʼn spesiale Valentynsdag-ete uitneem, en het Karabo voorgekeer en gevra waar hy syne gekoop het. Karabo was so geraak deur die man se liefde vir sy vrou na soveel jare dat hy summier sy strikdas afgehaal en vir die oom gegee het.

Wat ʼn mooi storie.

Ek vertrou dat jy ook ʼn mooi brugbou-storie het om te vertel wanneer die slegte nuus langs die braaivleisvuur jou wil oorweldig. En as jy nie een het nie, kyk uit vir geleenthede om jou eie storie te maak.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sterrenberg Bester ·

Neem kennnis: “Daar is groot moeilikheid oppad al wil ons dit graag ontken”. Selfs die natuur is besig om ons te troef, om nie die alledaagse eise eers te noem nie. Temidde van alles is hardwerkende mans en vroue besig om die gom van die land te wees. Ons spoeg en plak die onmoontlike aan mekaar, of dit by die skool is of die Universiteit, hospitaal of die winkel op die hoek – waar ookal jy jou bevind is gewone mense besig om wondere te verrig. Ek wil my strikdasse vir hierdie held(inne) aanstuur. ONS beleef uitdagende tye, tyd wat aan God3 behoort en Hy alleen beskik oor die lotgevalle van Volkere. Die Afrikaner het nog altyd en sal altyd ‘n spesiale plek in Suider Afrika speel. Die ANC het ons ‘n wonderlike guns bewys deur dit onmoontlik te maak vir Afrikaner mans om vooruit te gaan in die ekonomie. Ons is van die staatsdiens “job” bevry en losgelaat in die vrye mark. Ons moes vinnig leer en harde lesse inneem, maar vandag is die Afrikaner baie beter af as 20+jr gelede. “Boer maak ‘n plan” sal ons instaat stel om die grootste struikelblokke in ons beste geleenthede te verander (met God3 se hulp natuurlik). Hou maar dop, die ANC gaan nie Mei 2017 haal nie. Te danke aan groot druk sal ‘n sterker Afrikaner opstaan en ons “grondgebied terugeis” so help my God. Geniet dus elke geleentheid met groot dankbaarheid teenoor God3 want Hy is in beheer. VASBYT

Anonoom ·

Dankie vir die moeite om die silwer randjie uit te wys. Verskoon my Grieks: “Oute ti ton anthropinon haxion on megalaes spondaes.”.

Johan Oosthuizen ·

Dis soos koel water uit die bergfontein op ‘n snikhete dag as daar op die positiewe in plaas van die negatiewe gelet word. Daarom het ek al vir 20 jaar nie televisie in my huis nie, koop ek geen koerante nie en mors nie my tyd met sosialemedia nie. Ek skaar my by die mense wat die bul by die horings pak om die duisternis deur lig te verdryf. Ek hou my besig en skaar my by die mense wat ‘n verskil kan en wil maak.

Daar is genoeg mense wat siek en sat is om daarmee saam te leef dat die stert die hond waai. Dis tyd dat kragte saamgesnoer word om die hond die stert te laat swaai. Nie heethoofdig nie maar koel, nugter en berekend.

Die Afrikanervolk is ‘n duurgekoopte volk wat hom vasgeloop het in ‘n nuwe Dingaan en dit het tyd geword dat ‘n nuwe gelofte afgele moet word – nie vir ‘n veldslagoorwinning nie maar ‘n geesteskragoorwinning. “Leer my Heer, die regte wee. Wys die regte pad my aan.”

Ek glo: Met ons LAND en met ons NASIE sal dit wel wees. GOD REGEER.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.