Redakteursbrief: Gelukkige Nederlandse kinders en hul geheime

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Volgens ʼn artikel wat ek hierdie week op die webwerf Finding Dutchland lees, is kinders van Nederland die gelukkigste in die wêreld. Dié artikel is saamgestel op grond van bevindings deur Unicef se mees onlangse “Child well-being in rich countries”-navorsing.

Dis die redes hiervoor wat my fassineer. Sommige maak sin en is iets waaruit ons op eie bodem lesse kan leer. Party is interessant, maar nie noodwendig prakties in Suid-Afrikaanse omstandighede nie. En dan is daar ander wat doodgewoon bisar is.

So is Nederlandse kinders se ontbyt glo een van die redes waarom hulle so gelukkig is. Enersyds is ʼn sny lekker brood met botter en sjokoladevlokkies glo ʼn heel goeie, gebalanseerde en algemene ontbyt. Watter kind sal nié gelukkig wees as hy brood met botter en sjokolade vir ontbyt kan eet nie? Maar andersyds, op ʼn ernstiger noot, word dié ontbyt as ʼn gesin saam genuttig. Dié klein bietjie kwaliteit-tyd wat gesinne saam het in die oggend, dra wesenlik by tot kinders se sekuriteit en geluk. Dié kinders wat saam met hul ouers ontbyt eet, presteer ook beter op skool en toon minder gedragsprobleme as hul ontbytlose eweknieë. Dit maak heeltemal sin, en daar is geen rede waarom baie Suid-Afrikaanse gesinne nie dieselfde kan doen nie. In sy boek Bringing up boys sit dr. James Dobson ook ʼn lang lys voordele uiteen wat kinders geniet in gesinne wat minstens een ete ʼn dag saam aan tafel eet: hulle voel veiliger, hulle gemoedstoestand is beter en hulle is minder geneig om onder groepsdruk te swig.

Nog ʼn rede vir dié gelukkige Nederlandse kindertjies is skynbaar dat die mammas so gelukkig is. In ʼn artikel deur Ellen de Bruin in die New York Times sê sy onder andere die Nederlandse mammas is so gelukkig want “… we are free to use soft drugs here, we can pretty much say anything we like”. Nou toe nou.

Oumas in Nederland speel volgens dié artikel ʼn belangrike rol in kinders se lewe. Waar moontlik, het Ouma minstens een keer per week ʼn beurt om na die kleinkinders om te sien. Dit gee pa’s en ma’s ʼn bietjie asemskep-tyd, wat weer bydra tot hulle algemene vlak van geluk. Volgens ʼn artikel wat op die Legacy Project se webwerf gepubliseer is, het kinders in wie se lewe ʼn oupa en/of ouma ʼn aktiewe rol speel, ʼn beter selfbeeld en beter emosionele en sosiale vaardighede. Hulle hanteer groepsdruk beter en presteer ook beter op skool. In Suid-Afrikaanse omstandighede, waar die ekonomie ons dikwels nie ʼn ander keuse laat as om saam met ʼn oupa of ouma op een erf te bly nie, het dit dalk tyd geword dat ons so ʼn saamwoon-situasie begin benut vir die voordele wat dit kan inhou.

In Nederland is die klem in die vroeë skooljare grootliks op die leerproses en die kennis wat ʼn kind opdoen, en nie soseer op die kind se prestasie nie. Dié fokusverskuiwing laat kinders toe om minder gespanne te wees oor hul prestasie, en die leerproses meer te geniet. Hoewel dit in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel waarskynlik nie ʼn wyse besluit sal wees om hierdie filosofie te implementeer nie, is dit tog iets waarop ouers kan let. Ons kultuur is prestasiegedrewe en soms is ons waarskynlik nie eers bewus daarvan dat ons ons kinders baie subtiel druk om te presteer nie.

Ek hoop jy het ʼn paar nuwe idees oor hoe om hierdie vakansie die kleingoed gelukkig te hou – of jy nou vir hom sjokoladesmeer op sy brood smeer, en of jy ʼn ouma invoer om hom te kom besig hou. Geniet die rustyd!

Groetnis

Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

rinus ·

Baie dankie vir die oulike verslag geniet jou dag!!! Groete nog n Kasie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.