Redakteursbrief: Gemeenskaps­radiostasies berig van ágter die vlamme

Morné Pietersen (Eden FM), Egbert Brink (Radio Namakwaland) en Brunhild Strauss (Radio NFM)

By Maroela Media se jaarlikse #klankgolf-gemeenskapsradioseminaar kuier ons gister en vandag met radiostasies van oral oor die suidelike helfte van die land: uit die Karoo, die Overberg, Oos-Kaap, Gamkaland, Namakwaland, Kaapstad en voorstede. Tussen sessies oor programsamestelling, radiobemarking, personeelbestuur, radio-etiket en tegniese uitdagings by gemeenskapsradiostasies kúier ons. Dis mos iets wat die Kapenaars, en veral die plattelanders, goed kan doen. Ons lag lekker vir die verskeidenheid streekstaal, aksente en streekseie grappies en uitdrukkings.

Sulke lekker kuiers raak mos maar onvermydelik altyd ʼn bietjie ernstig iewers oor ʼn koppie koffie. Só kom die onlangse brande in die Kaap ter sprake. Die span van Eden FM vertel ons van hul joernaliste wat midde-in die ontsetting van die wegholbrande verslag gaan doen het; van gemeenskapsradiojoernaliste wat in hul motors geslaap het omdat hulle nie ná hul skofte weer by die huis kon uitkom nie. En hoe dié joernaliste na die tyd met somber gesigte vertel het van mense wat skreeu iewers agter die vlamme, van die verskriklikheid om te sien hoe ʼn gesin staan en kyk hoe alles wat hulle het, in ʼn paar minute tot as verbrand.

Ek onthou dat een-of-ander-iemand in die media kort ná die Knysna-brande wysneusig gepraat het oor die gebrekkige mediadekking oor die ramp. Ek kan nie onthou wie dit was nie, maar dié persoon het beslis nie sy of haar oog (of oor) gehou op die verslaggewing wat deur gemeenskapsradiostasies in die omgewing van die brande gedoen is nie. Hulle was dáár, want dis waar hulle woon en werk. Hulle het nie nodig gehad om “by die storie uit te kom” deur die brande en padversperrings te trotseer nie, want hulle was reeds aan die ander kant van die versperrings en brande, op die toneel. Die ramp was hulle sʼn. Dis hulle vriende wie se huise afgebrand het; hulle kerke wat in vlamme opgegaan het; hulle familielede wat alles verloor het. Met hart en siel kon hulle hulle daarin werp om hul luisteraars, wat ten diepste geraak is deur die brande, op hoogte te hou met wat waar aan die gebeur is.

Dis die hart van gemeenskapsradio. Hierdie radiostasies (daar is 56 reg oor die land met wie Maroela Media saamwerk en wat Afrikaans as een van hul uitsaaitale het) is gestig deur mense wat die behoefte aan ʼn radiostasie in hul eie gemeenskap raakgesien het, omdat sekere behoeftes van ʼn gemeenskap bloot nie deur ʼn nasionale of kommersiële radiostasie aangespreek kan word nie. Dit is dalk so dat hul omroeperspan bestaan uit afgetrede Afrikaans-onderwysers, tuisteskeppers met tyd in hul skedule, dominees wat Maandae af het en begrafnisondernemers wie se besigheid afhanklik is van sterftes in die gemeenskap. Maar dis hierdie selfde mense wat verstaan hoe lief antie Toeks van Huis Namakwaland vir haar kat is, en hoekom dit nodig is dat hulle die hele gemeenskap vra om te help soek as antie Toeks se kat die pad gevat het. Dieselfde stasie wat met ʼn mikrofoon by die laerskool se skoolkonsert opdaag om met elke dinosourus, sebra en feeprinses ʼn onderhoud te doen.

Wanneer hulle deur Conrad Sidego, een van die paneeldeelnemers, gevra word wat die uitdagings in hul gemeenskappe is, rits hulle ʼn lang lys probleme, met diep kommer in hul stem: alkoholisme, dwelmmisbruik, MIV, verkragting, huishoudelike geweld. Dis hulle wat die “gemeenskap” in “gemeenskapsradiostasie” verstaan, omdat hulle dit elke dag in die oë moet kyk, en in die stofstrate van hul dorpies iets daaraan moet probeer doen. Vir hulle, sê Conrad, is hul luisteraars nie “die mense daarbuite” nie, en kan die term “gemeenskapsradiostasie” netsowel vervang word met “hartklop-stasies”.

“Partykeer,” sê Conrad Sidego, “lê jou luisteraar in sy plakkershut, en drup die water uit die dak harder as die draadloos langs hom. Maar hy kies om na die stem te luister, eerder as na die water.”

By dié seminaar van ons (ons bied ʼn tweedagseminaar in die Kaap en nog een in Gauteng aan, een keer ʼn jaar) skep ons vir radiostasies die geleentheid om opleiding te kry by die beste kundiges uit die radiobedryf. Die seminaar word gefasiliteer deur Coenie de Villiers, wat met sy eie radiobestuurskundigheid elke gesprek vaardig bestuur. Vyf jaar gelede het daar vyftien of wat verteenwoordigers van gemeenskapsradiostasies by ons eerste seminaar gesit. Vandag sit hier sestig mense, en nog soveel gaan die seminaar in Gauteng bywoon. Dis professionele bestuurders en omroepers wat hul stasies en hul gemeenskappe se belange op die hart dra.

Hier is wat ʼn paar van hulle oor die seminaar vertel – wie weet, dalk dink jy self daaraan om ʼn gemeenskapsradiostasie in jou gemeenskap te begin, en motiveer iets hiervan jou om realiteit van jou drome te maak:

“Vandag was vir my vreeslik leersaam en motiverend. Radiowese is vir my ʼn relatief nuwe ervaring wat ek geweldig geniet. Dankie vir die moeite wat julle in so ʼn aanbieding sit. Ek was vasgevang in elke liewe spreker se praatjie. ‘Vuurvreters’ [die nuutste radiovervolgverhaal] is ʼn wenner!” – Elrese Strauss, Radio Namakwaland (Vredendal)

“Ons voel weer soos jong studente wat die een na die ander rits feite en wenke binne ‘n ommesientjie kan verteer en dan voer hulle ons boonop!” – die span van Radio Overberg

“Ons het #klankgolf2017 vandag baie geniet. Baie geleer! Ons kan dit beslis sien as ʼn opleidingskonferensie waarby nuwelinge en ou hande in die uitsaaibedryf baat kan vind deur sulke opleiding deur gesoute leermeesters in die bedryf.” – Deon Pieterse, uitvoerende direkteur: OracleFM

“Ek is ʼn joernalistiekstudent, maar ek dink ek het vandag meer geleer as deur die laaste drie jaar op universiteit.” – Jo-Gene Strauss, OracleFM

“Vir my, Guilma Stander, Dmitri Murray en Brad Kirsten was dit super lekker vandag. Brad is ʼn ‘soutie’ en het baie waardering vir wat julle doen vir die toerusting van gemeenskapstasies. Die ATKV en Vriende van Afrikaans is elke Vrydag op ons programme en Lapa Uitgewers gaan beslis van my hoor! Dis vir ons lekker om deel te wees van die Maroela- #Klankgolf2017-familie!” – Wanda Bam, Kaapse Kansel

Dalk sien ons jou volgende jaar by ons volgende #klankgolf-gemeenskapsradioseminaar, wie weet!

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Baie van ons in die bedryf kan nie noodwendig die Seminaar bywoon nie. Is daar enigsins ‘n moontlikheid dat die inhoud van die Seminaar aanlyn beskikbaar gestel kan word vir diegene wat nie in persoon dit kan bywoon of gewoon bybring nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.