Redakteursbrief: Grondgrype, Zuma-optogte: Só skei jy vals gerugte van waarheid

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Verlede week was 1 April – Aprilgekkedag. In teenstelling met vorige jare het bitter min media-instansies vanjaar Aprilgek-artikels gepubliseer. Onuitgesproke was almal dit eens: Die ware nuus is bisar genoeg dat dit nie nodig is om nóg stories uit te dink nie.

Dis jammer, want in die verlede was dit groot pret om te probeer ontsyfer watter stories die waarheid is, en watter deur ʼn kreatiewe joernalis uitgedink is.

Tesame met die ongelooflike, maar waar nuus wat die afgelope aantal maande in SA afspeel, het die opkoms van fopnuus (“fake news”), in Suid-Afrika veral sedert die begin van 2016, dit nog moeiliker gemaak om tussen waarheid en verdigsel te onderskei. Net die afgelope week se nuusgebeure rondom die beplande EFF-grondgrype en anti-Zuma-aksies het ʼn vloed vals nuus tot gevolg gehad: SMS’e met foutiewe inligting oor waar optogte en grondgryp-aksies gaan plaasvind; WhatsApp-boodskappe, sommige daarvan verdraaide verwerkings van geloofwaardige instansies se nuusflitse wat dan met dié instansie se naam onderaan uitgestuur word; Facebook-plasings met stories wat op fopnuus-webwerwe gepubliseer is, maar wat ontdaan is van enige waarheid. Ten tye van Zuma se terugroep van die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, uit die buiteland verlede week, het gerugte op digitale en sosiale media die ronde gedoen dat Gordhan afgedank gaan word tydens ʼn kabinetskommeling, maar niemand was seker nie.

Ten tye van die kabinetskommeling laat die aand van 30 Maart, het stories op sosiale media versprei oor watter ministers almal in die pad gesteek sou word of reeds was, nog lank voor enige amptelike aankondiging gemaak is. Boonop was die presidensie se kommunikasie aan die publiek en die media so gebrekkig dat dit nie eens as ʼn betroubare bron van inligting gebruik kon word nie. Die mediakonferensie wat laatnag sou plaasgevind het, het nooit plaasgevind nie; nuuskanale wat die konferensie regstreeks sou uitsaai, is droëbek huis toe; en ʼn mediaverklaring wat uiteindelik deur die presidensie uitgereik is, was mosterd na die maal, want teen dié tyd was inligting oor die kabinetskommeling reeds oral op sosiale media beskikbaar.

Die afgelope twee dae is dit nog eens so. Gister was talle gemeenskappe gespanne oor beplande EFF-grondgrype, en met goeie rede. Die ongegronde boodskappe wat op sosiale media as die waarheid versprei is, het niks gehelp om gemoedere te kalmeer nie. Uiteindelik was daar ʼn paar insidente van grondgryppogings, maar dit is vinnig in die kiem gesmoor, en die “oorlog” wat sou uitbreek, volgens die boodskappe wat so wild rondgestuur is, het toe nooit uitgebreek nie. ʼn Klompie Suid-Afrikaners sit nou met ʼn goeie voorraad blikkieskos en gebottelde water.

Skaars was die storm oor die EFF en hul beplande grondgrype op 6 April agter die rug, of nuwe gerugte doen die ronde. Hierdie keer is dit vandag se beplande aksies en optogte as deel van die #ZumaMustFall-beweging. Volgens een van die SMS’e wat gisteraand van ʼn “betroubare” bron ontvang is (dit sou later blyk dat ook dié bron se naam onregmatig onderaan die boodskap gebruik is), sou al die snelweë in Gauteng geblokkeer word, en mense is aangeraai om liefs tuis te bly en te sorg dat hulle alles by die supermark aangeskaf het wat nodig is om te oorleef. Terwyl vandag se aksies (dankie tog) glad nie rasgebaseer is nie, en vir die eerste keer in ʼn lang ruk protesaksies is wat deur mense van alle tale, velkleure en rasse ondersteun word, het sommige van die fopnuus wat daaroor gesprei is, dit al weer reggekry om dit na ʼn ras-ding te laat klink. Heelwat aksies is wel landswyd uitgevoer; paaie is versper en talle optogte is reeds aan die gang. Maar die inligting wat vooraf op sosiale media en per SMS en WhatsApp versprei is, en wat werklik vandag aan die gang is, is baie ver van mekaar verwyder.

Maroela Media se nuusspan doen groot moeite om seker te maak dit wat op Maroela gepubliseer word, is die waarheid. Inligting soos dié oor gister en vandag se gebeure en aksies, wat ʼn groot invloed het op mense se dag-tot-dag-aktiwiteite en veiligheid, word met ʼn vergrootglas nagegaan en met verskeie bronne bevestig voor dit gepubliseer word. Ons sal eerder té versigtig wees, as om inligting te publiseer waarvan ons nie 100% seker is nie. Aan die ander kant kan ons ook nie te lank wag voor inligting gepubliseer word nie, want dan kom ons ook nie ons belofte aan ons lesers, om hulle ingelig te hou sodat hulle ingeligte besluite kan neem, na nie. Die balans tussen terughou en publiseer is baie fyn.

Terselfdertyd het jy, die leser, ʼn groot verantwoordelikheid om te onderskei tussen fopnuus en die waarheid. Die realiteit van sosiale media is dat jy, met jou slimfoon in die hand, dieselfde mag het as ʼn Sondagkoerant van ouds se voorblad. Wat jy kies om op sosiale media te sê of te deel, of die boodskappe wat jy kies om aan te stuur, het die potensiaal om soos ʼn veldbrand op die internet te versprei. En net soos ʼn veldbrand kan dit groot skade maak as jy nie jou woorde fyn kies nie; of as jy nie ʼn oomblik tyd neem om seker te maak dit wat jy aanstuur, is die waarheid nie.

Maar hoe onderskei ʼn mens tussen ware en fopnuus? Natuurlik laat die publiseerders daarvan dit so eg moontlik lyk, juis om mense daarmee om die bos te lei. Hier is ʼn paar rigtingwysers wat jy kan gebruik wanneer jy ʼn boodskap ontvang of ʼn artikel op die internet lees en jy twyfel oor die egtheid daarvan:

  • Kyk of jy kan sien wat die oorspronklike bron van die nuus of nuusbrokkie is. Indien geen bron aangedui is wat jy kan nagaan nie, moet liefs nie aanstuur nie.
  • Is daar ʼn datum by die nuusbrokkie of artikel? Soms is fopnuus nie soseer vals nie, maar wel ou nuus. Maroela Media het in 2015, byvoorbeeld, ʼn storie gedoen oor vloede in die Krugerwildtuin. Tydens die droogte in 2016 het iemand op dié ou storie oor die vloede in ons argiewe afgekom, en dit weer begin versprei asof dit nuwe nuus is. Die storie het rekordlesersgetalle gehaal. As die persoon wat dit oorspronklik begin versprei het, of die derduisende mense wat dit daarna gedeel het, die moeite gedoen het om na die datum te kyk, sou hulle gesien het dis ʼn stokou storie.
  • Kom die storie op ander plekke ook voor? Die stories in fopnuus is gewoonlik van verregaande aard – ongelukkig nie iets wat dit in SA noodwendig kwalifiseer as fopnuus nie. Maar sulke verregaande nuus word onmoontlik nie net deur een nuusbron gedra nie. ʼn Groot storie word baie vinnig deur alle gerekende nuusmedia opgetel en gepubliseer. As die storie waaroor jy wonder, dus nie op ander mediaplatforms ook voorkom nie, is dit waarskynlik fopnuus.
  • Is die URL (die webadres) van die storie korrek? Fopnuuswebwerwe se webadres is dikwels geregistreer om byna dieselfde te lyk as ʼn ander, gerekende nuuswebwerf, om jou om die bos te lei. ʼn Voorbeeld is die fopnuuswebwerf http://t1meslive.co.za, teenoor Times Live se korrekte adres, http://timeslive.co.za – hier is die i met ʼn 1 vervang, en as jy nie mooi kyk nie, kyk jy dit maklik mis.
  • Maak op Twitter ook seker gebruikersname is korrek gespel. Dis maklik om ʼn Twitternaam te skep wat ampertjies dieselfde lyk as ʼn ander persoon (gewoonlik ʼn meningsvormer) sʼn, maar net met ʼn karakter verskil. Gaan die gebruiker se profiel na om seker te maak dis die ware Jakob wie se twiet jy deel.
  • ʼn Nuuswebwerf wat sy sout werd is, gee altyd erkenning aan bronne van inligting. Indien ʼn storie geen verwysings na bronne bevat nie, of indien elke storie bloot verwys na “anonieme bronne”, is daar ʼn slang in die gras.
  • Kyk na die advertensies wat op die webwerf voorkom. Advertensies op fopnuuswebwerwe sal dikwels produkte van twyfelagtige aard adverteer (byvoorbeeld pornografiese inhoud of dobbelwebwerwe). Ware nuuswebwerwe se advertensies is darem gewoonlik van geloofwaardige, bekende maatskappye en produkte.
  • Doen navorsing oor die skrywer van die artikel. Soek op die internet vir ander artikels wat ook deur die persoon geskryf is, en maak seker hy of sy werk vir ʼn nuusinstansie waarvan jy weet en wat jy vertrou.

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies van 2002 spesifiseer dat die Internetdiensverskaffersvereniging (of ISPA) ʼn mandaat het om webwerwe wat vals inligting publiseer, te sluit. Indien jy op ʼn webwerf afkom wat fopnuus publiseer, meld dit aan by die ISPA. Heelwat van die fopnuuswebwerwe wat ʼn paar weke gelede nog in bedryf was, is reeds nie meer aktief nie. Ongelukkig skiet nuwe fopnuuswebwerwe soos paddastoele in hul plek op.

Ten slotte: Kies vir jou een primêre nuusbron waarmee jy gemaklik is en wat jy vertrou. Natuurlik sal dit ons harte bly maak as jou keuse Maroela Media is, maar selfs dan is dit belangrik dat jy verskeie nuusbronne lees ter wille van balans. As jy egter een primêre nuusbron het wat jou nog nooit in die steek gelaat het nie, en jy twyfel oor nuus wat jy iewers anders raaklees, kan jy altyd kyk of jou nuusbron van keuse iets daaroor publiseer het. Jy kan hulle (of ons, dan) selfs kontak om die storie waaroor jy twyfel, se egtheid na te gaan. In ʼn see van internet-inligting help ons graag om jou op die spoor van betroubare, akkurate en gebalanseerde nuus te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

nunu ·

Ek sien dit so. As nuus nie van bronne kom soos Maroela Media, Beeld, Huisgenoot, Ons Buurtwag se Whats Up Groep nie, dan steur ek my nie daaraan nie.

Leon van Rensburg ·

Dankie Susan,

die eerste ding wat ek doen in die aand as ek nie kan slaap nie is om op julle webwerf in te gaan om te sien wat ek gemis het. Alvoor ek enige e-pos die volgende oggend lees is ek reeds deur Maroela.

Dankie daarvoor.

Leon van Rensburg
Klerksdorp

Louis Prinsloo ·

Dankie en dit word hartliks waardeur. Mense wat valse nuus versprei het nie die vaagste benul watter gevolge daarin is nie. So of hulle hulself daarin verlekker om te sien hoe mense verward raak en reageer, geen hart of siel wat almal veilig wil hou rakende die egte waarhede nie

Jacobus Krynauw ·

Maroelamedia ís voorwaar ‘n stastmaker. Baie dankie vir julle betroubare inligting. Doen so voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.