Redakteursbrief: Het jy al ʼn huis help afbrand?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ons het almal met meer as ʼn tikkie ongeloof toegekyk hoe gebeure in Coligny die afgelope twee weke afgespeel het. Dit was soos ʼn vervolgverhaal vol intriges; elke hoofstuk bevat ʼn nuwe kinkel. Hoe verder die “storie” ontvou, hoe meer raak ʼn mens bewus dat daar meer is as wat in hoofstuk 1 geblyk het. Wat het regtig daar langs die sonneblomland gebeur? Waar is die enigste ooggetuie heen? Hoekom is die nadoodse ondersoek so slordig gedoen? Later, ʼn paar hoofstukke verder: Wie sit werklik agter alles…? Is daar dalk ʼn verskuilde agenda; ʼn party (of meer as een party) wat die gebeure in Coligny gesien het as ʼn goue geleentheid om ʼn ander, geheime doel te probeer bereik…?

Die drie huise wat tydens die onrus aan die brand gesteek is, het amper terloops by ons verbygegaan. Ons was almal geskok toe dit gebeur het, maar gebeure het daarna so vinnig verder ontwikkel dat dit maar net nóg ʼn insident in die groter verhaal geword het. Ek is nie eers seker of iemand vir brandstigting in hegtenis geneem is nie.

Vanoggend sit ek en wonder hoe verloop só iets, as jy deel van die skare is wat ʼn huis aan die brand steek, of ʼn dorp verwoes en plunder. Mens staan immers nie in die oggend op en dink “vandag gaan ek ʼn huis afbrand” nie. Ek dink dis iets soos dié (met geen poging om te verwys na hoe die gebeure op Coligny verloop het nie):

ʼn Jong man wat in ʼn plakkerskamp woon, wil by ʼn boer op die plaas langsaan ʼn hoender gaan koop.

“ʼn Hoender kos R75,” sê die boer.

“Dis te duur – ek het nie R75 nie,” sê die man.

“Dis nie my probleem nie, dis wat my hoenders kos,” sê die boer.

Die jong man stap weg, hy is honger, en nou is hy omgekrap ook. Langs die pad kom hy ʼn vriend van hom teë.

“Hoekom lyk jy so beneuk?” vra sy vriend.

“Die boer hier agter vra R75 vir ʼn hoender,” sê die jong man. “Dis ʼn belaglike prys. Ek dink hy is onregverdig. As ek ʼn hoenderboer was, sou ek baie minder vir hoenders gevra het.”

Hy stap aan om iewers anders iets te ete te gaan koop. Maar sy vriend stap verder, in die rigting van die boer se plaas. Langs die pad loop hy twee ander vriende raak.

“Daai ou daar anderkant vra belaglike pryse vir sy hoenders,” sê hy vir hulle. “Kom ons gaan kyk bietjie daar.”

Daar aangekom, staan hulle die plaashuis só en bekyk.

“Kom ons gooi ʼn venster stukkend,” sê die een. “Dit sal hom leer.”

Hy tel ʼn klip op, en gooi. ʼn Vensterruit breek klaterend. Die ander lag. Nog een tel ʼn klip op en gooi na ʼn ruit. Dis nogal pret. Nou raak dit ʼn speletjie om te kyk wie die meeste ruite kan raakgooi.

ʼn Groep verveelde skoolkinders hoor die geraas en stap nader. “Wat maak julle?” vra hulle.

“Ons gooi die boer se vensters stukkend,” verduidelik een. “Hy verdien nie vensters nie. Hy is onregverdig.”

“Onregverdige mense verdien nie ʼn plek in die samelewing nie,” sê een van die nuwelinge wat pas aangekom het. “Ek is seker hierdie ou verwaarloos sy melkbeeste. Kom ons steek sy huis aan die brand.”

Dis vir ʼn paar oomblikke stil. Almal wonder ʼn bietjie. Dis darem nie wat hulle in gedagte gehad het nie. Dan vlieg ʼn brandende bol materiaal van agter af oor hulle koppe.

“Waarvoor wag julle?” skree iemand van agter af. “Hierdie boer is boos. Sy kinders ook. Komaan, help my!”

Nog ʼn bol vlamme land op die huis se dak. Dan trek een deur ʼn gebreekte ruit. ʼn Gordyn begin smeul en vat vlam. Rook en vlamme borrel by die ruite uit.

Nog ʼn klomp mense het intussen aangesluit. Hulle is van ʼn politieke party en het dadelik die geleentheid raakgesien om die onstuimigheid uit te buit tot hul eie voordeel. “Ons haat hierdie man,” skree hulle. “Hy is ʼn dieremishandelaar en ʼn rassis!”

Die skare raak opgesweep. Klippe en brandende materiaal vlieg nou van alle rigtings deur die lug. Hulle lag en skree. ʼn Brandweerwa kom van agter aangejaag, maar die skare is nou groot genoeg dat hulle kan keer dat die brandweerwa tot naby die boer se huis kom. ʼn Groepie aan die agterkant, wat nie naby genoeg is om te help verwoes nie, omsingel die brandweerwa en begin dit heen en weer wieg.

Die jong man wat die hoender by die boer wou koop, het die rook uit die plakkerskamp gesien en teruggekom. “Wat maak julle?” skree hy van agter af. “Die man het niks aan my gedoen nie, sy hoenders is net te duur!”

Maar die geraas en chaos is so groot dat niemand hom hoor nie. Hy skud sy kop en stap weg.

Die brand versprei vinnig. Later staan almal net en kyk; dis nie meer nodig om enigiets te doen nie. Dis ʼn lekker partytjie. Die skare lag en gesels, en maak grappies oor die boer, sy hoenders en sy melkbeeste. Toe die vlamme bedaar, begin dit vervelig raak. In klein groepies begin die oproeriges wegstap.

Die twee wat die eerste klippe gegooi het, loop en gesels oor wat nou net gebeur het.

“Voel jy sleg?” vra die een.

“Nee, natuurlik nie,” sê die ander een. “Ons het net elkeen ʼn klip gegooi. Ons het nie die boer se huis afgebrand nie.”

Agter hulle staan die boer verslae en wonder waar sy gesin vanaand gaan slaap.

 

Ons kyk op die aandnuus na die verslaggewing oor Coligny, na die videomateriaal van die brandende huis en die oproerige skare, en skud ons koppe veroordelend. “Barbaars,” sê ons.

Dis nie net in dorpe soos Coligny en ander plattelandse dorpies wat gebeure soos hierdie soms afspeel nie. Die afgelope paar weke, terwyl ons bespiegel oor die gebeure in Coligny, speel ʼn klomp Coligny’s op sosiale media af. Ek hou dit dop.

“Wat jy sê, is twak,” skryf ene Santie – dalk met goeie reg – en plaas ʼn skermskoot van Werner, ʼn Facebook-vriend van haar, se sosialemedia-inskrywing.

ʼn Vriend van Santie sien dit raak. Sjoe, dis darem erg dat Santie so te na gekom word, dink hy, en deel die inskrywing op sy eie Facebook-blad. Hy vergeet per ongeluk om die skermskoot waarna Santie verwys het, en waaroor sy omgekrap was, by sy eie plasing aan te heg.

“Werner is boos,” skryf hy. “Ek haat hom.” Om sy punt te versterk, plak hy ʼn foto by van Werner wat besig is om ribbetjies te eet. “En boonop is hy ʼn dieremishandelaar,” voeg hy tong in die kies by. “Kyk hoe lê hy weg aan hierdie ribbetjies.”

Die eerste ruit het gespat.

Iemand anders sien dit. “Het julle geweet Werner is ʼn dieremishandelaar?” skryf sy op haar eie Facebook-blad. “Gaan kyk maar, daar is oral bewyse daarvan op die internet.”

Die gordyne begin smeul.

Kort voor lank het die oorspronklike storie talle stertjies. Werner is ʼn monster wat klein diertjies seermaak. En kyk na hierdie video waar hy met sy kinders speel – hy behoort ʼn bietjie gewig te verloor voor hy op kamera verskyn! Daai broek pas hom glad nie. En hy moet sommer ʼn ander haarstyl ook kry.

Intussen het Santie – wat ook ander verantwoordelikhede het en vir ʼn dag of twee iewers anders besig was – agtergekom hier is ʼn ding op sosiale media aan die gang, en haar naam word genoem.

“Wat maak julle?” vra sy. “Dis glad nie wat ek gesê het nie!”

Maar die geraas is nou so groot dat niemand haar meer hoor nie. Dit maak in elk geval nie saak wat haar mening is nie. Dis ʼn lekker paartie dié.

Die huis brand lustig.

Na twee of drie dae begin die brand op sosiale media bedaar. Santie se vriend, wat die eerste gesê het “Werner is boos,” voel ʼn klein bietjie skuldig. Is dit sy skuld? Nee wat, troos hy homself vinnig. Ek het net een keer iets gesê. Dis nie so erg nie. Dis die ander ouens se skuld.

Die ander klomp raak ook op ander plekke besig. Die brand is uitgewoed; die opwinding is verby. Daar is ander huise wat smeul, en waar hulle ʼn bietjie hulp kan gaan verleen om dinge lekker aan die gang te kry. Niemand voel skuldig nie. Hulle het mos net saamgesels, dis al. Buitendien het Werner dit verdien. Elkeen slaan sy eie rigting in.

Eenkant, agter hulle, staan Werner en kyk na sy uitgebrande huis, en wonder waar sy gesin vanaand gaan slaap.

Het jy al ooit gehelp om ʼn huis af te brand? Ek het al.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Namgrl ·

Ek het nou al 3 keer prober skryf, en elke keer, na my eerste sin het ek uit gevee. Susan, absoluut goed gese. Ek sien nog geen kommentaar hier nie omdat ons elkeen seker nou baie mooi moes dink, en dink, en dink – en tot by die slotsom kom – ons het tog elkeen, hetsy direk of indirek gehelp om ‘n huis af te brand. Ek sit nou hier bitterlik skaam vir myselwers – my gedagtes dwaal ver…ver in die verlede, ek hoop die ‘huise’ wat ek help afbrand het, lyk nou soos kastele. Ek hoop ook dat die verlede in die verlede sal bly – ek wil nie weer ‘n helper wees nie.

Dankie vir hierdie goeie openbaarlike leesstuk.
Namibie

johann ·

Baie jare gelede is ‘n bejaarde tannie beloon vir haar ‘ongeluksvrye’ jare met haar motor-maar vra iemand wat weet hoe sy bestuur,hoeveel ongelukke het sy agter haar gelaat?

JJ ·

Susan,
al wat ek kan se is dankie – jy het my oe weer oopgemaak en gewys hoe vining kan ek ook deel word van die huis wat brand – en hy kan lekker brand nie waar nie – will ook net se jou skryf vermoe is uitsteekend ek geniet altyd jou rebriek. sterkte vir jou voorentoe

Johann ·

Ek het jou verloor met die laaste gedeelte en hoe jy dit met die plaasbrande aan mekaar stik, dalk is ek te veel van ‘n realis. Ongeag, dit is chaos met die maak en breek en brand kultuur as ek nie my sin kry nie. Genadiglik staan my huis nog.

johann ·

Baie jare gelede is ‘n bejaarde tannie beloon vir haar ‘ongeluksvrye’ jare met haar motor-maar vra iemand wat weet hoe sy bestuur,hoeveel ongelukke het sy agter haar gelaat?

Pieter en Diana Smit van De Rust ·

Hoe en wie kan die Thebele kerel tot verantwoordelikheid bring. Gaan hy maar net aan en doen dit weer. Die Engeslse gesegde s iets soos if you deal with a mose be a sgentle as a mouse and when you deal with a dragon e as fearsome. Salhulle verstaan as mens nou dieselfde aantal huise in hulle gebied gaan afbrand en vernietig/ He onnosel is onnosel want hoe kan ‘n gemenskap se waardes aangespreek word. Massa emosie is soos emosie, dit het nie rede nie. Ons kan eintlik niks doen nie. Net daarby leer hoe om dit beter self te hanteer. Mens hou nie op beskerm voor die gevaar nie heeltemal weg is nie. Gevaar in so ;n geval is mos darem duidelik..

GB Jordaan ·

Hoe hard slaan hierdie redakteursbrief my voor die bors! Dis so lekker (en maklik) om ‘n vuurtjie aan die brand te steek of om vet op ‘n reeds brandende een te gooi. Dis nog makliker om verontskuldigend van die brandende huis weg te stap. Hierdie stof tot nadenke is skitterend verwoord. Joernalistiek op sy beste!

Jan ·

Nee, my barometer in die lewe laat my van die goed en die kwaad onderskei. Ek het ook nie nodig om in woede saggies te tweet of huise af te brand nie.

Jan ·

En wat baie teleurstellend is, is dat vroegdag is twee negatiewe kommentare verwyder. Daar was geen fout mee nie, die een was net baie teleurgesteld in die rubriekskryfster se siening en hoe sy uitdrukking gegee het.

Jammer dat die kleure so janniepas wys.

Leendert ·

Susan, gaan lees op Netwerk24 van die lammetjies wat die betogers in Coligny weggevat het.

Gatvol ·

Susan, dit is werklik n baie goeie saamgevatte storie, oor hoe so iets kan gebeur……..
As ek nou iets kan byvoeg, en vra……
Gestel, die boer was tuis, toe hulle begin het om die huis te bestook met brandende materiaal, en die boer, probeer sy lewe/ eiendom beskerm en hy skiet op die klomp…..
Dan sal hy op die einde aangelka word van moord/ poging tot moord.
En al wat hy weet is, mense wil sy eiendom verwoes, vir geen rede nie.

Richardt ·

Goed geskryf, en stof tot nadenke.

Een verkeerde daad regverdig nie n ander (opvolg) verkeerde daad nie.

Ons tonge is baie skerp en ons is baie selfreverdigend. Dog, baie uitgesproke as ander dieselfde optree.

Moet nie teëstribbel as die redakteur se brief aan jou deur klop nie, word net stil en dink diep daaroor.

Bly jy só, of verander jy?

Sann ·

Die klein vuurtjie, wat ‘n groot bos aan die brand steek. Wie sy tong kan beheers…. Dit hoef nie altyd stilte te wees nie, maar die regte woord op die regte tyd, soos hierdie een.

John ·

Ons verstaan eenvoudig nie dat alle mense op aarde verskil nie. Ouers verstaan meestal nie eens hul eie kinders nie en mense wat gedink het hulle het mekaar lief, skei binne ‘n paar maande. Ons moet ophou dink vir ander en ophou wonder hoekom doen ander mense so of so. Wit en swart dink verskillend oor ‘n saak en interpreteer sake anders. My Ma wat verskeie swart tale kon praat, het gewaarsku dat swartes enige geskenk verdag vind en dadelik wonder: Hoekom gee die persoon dit verniet vir my en waar het hy my ingeloop? Ons het die land as geskenk oorhandig; soos bang verloorders. Ons gaan dit vir die res van ons dae ontgeld… tensy ons natuurlik bereid is om te veg vir dit wat ons toekom… Is ons wittes bereid?

linda botha ·

Courtney Pieters’s body found in shallow grave
about 1 hour ago
Monique Mortlock…..Die lyk van die vermiste 3 jaar oue Kaapse dogtertjie is in n vlak graf naby haar huis gevind ! Pateties hoe kindertjies vermoor word !

Johann ·

Na Coligny sal baie dinge in die land, veral persepsies nie dieselfde wees nie. Invloede van buite Coligny het anargie veroorsaak. Gaan lees die relaas in Beeld van 13 Mei. Die nedersetters was aanvanklik net ongelukkig oor dienslewering en toe gebeur die ongeluk. As julle nie toegang tot Beeld het nie, gaan klik op Pressreader en lees al die gratis berigte daar in die taal van jou keuse.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.