Redakteursbrief: Hier om te bly

Op die plaas Foto: Susan Lombaard

Op die plaas Foto: Susan Lombaard

Ek ken ʼn boer.

Ek en sy vrou was grootword-maats. Ons het saam in die plaasdam op hulle plaas geswem en agterna op die wal in die son gelê. As ons strooptyd saam met haar pa agterop die bakkie lande toe gery het, was die stof grinterig tussen ons tande. In die aand, as ons pajamas aantrek voor ons doodmoeg in die bed neerval, het die mieliepitte uit ons tekkies en broeksakke geval waar dit ingekruip het terwyl ons in die sleepwa vol gestroopte mielies gespeel het.

Sy het vir ʼn kort tydjie groener weivelde gaan verken, weg van die plaas, terwyl sy op Tuks studeer het. In dié drie jaar het ons mekaar minder gesien, en weg van mekaar gegroei: Ek, die plattelandse Puk, en sy, die Tuks-stadstudent.

Toe ontmoet sy haar man op ʼn toe-oogafspraak. ʼn Landboustudent met vriende met byname soos Tor en Ploeg. Sonja is as jong bruidjie terug plaas toe, dolgelukkig.

Vir Niel was boer die enigste ding wat hy ooit wou doen. Toe ons hom die eerste keer ontmoet, het ons geweet dié boer met die hoëveld-blou in sy oë is nie gemaak om enigiets anders te doen as boer nie.

Ons mans het mekaar gou gevind, en ek en Sonja was dankbaar dat ons die vriendskap kon voortsit.

Op die plaas Foto: Susan Lombaard

Op die plaas Foto: Susan Lombaard

ʼn Week gelede kuier ons en hulle saam op ʼn Bosveldplaas. Dis al vyftien jaar of wat vandat Niel en Sonja trou aan mekaar beloof het. Twee bulletjies is uit dié huwelik gebore; die derde is op pad. Ons kuier saans om ʼn vuurtjie van Bosveldhout. Ons hoor die vlakvarke in die donker raas; verkyk ons aan die nagapies wat in die boom bokant ons koppe rondwip en skrik toe ʼn troppie mak sebras doodluiters uit die donker aangestap kom en by ons vuurtjie kom kuier.

Ons praat, soos mens maak, oor die land; oor wat vir ons voorlê en wat ons te doen staan.

Die drome in Niel se oë het plek gemaak vir ontnugtering en teleurstelling. Hy vertel ons van veediefstal wat dit amper onmoontlik maak om sy troppie stoetbeeste veilig te hou. Van swendelaars wat sy goedhartigheid uitbuit. Maar ook van hoe die boere van die omgewing saamstaan om misdadigers te help aankeer.

Hy vertel van sy stoetkoei wie se uier en oorplaatjie hulle in ʼn bloekombos opgetel het. Dis al wat oor was van haar.

Terwyl ons langs die vuur sit, lui sy foon. Sy luitoon is die fluit van ʼn ooruil. Dis die Boesman wat sy vee oppas. Daar was twee mans by die beeste wat weggehardloop het toe hulle hom sien, sê hy. Niel bel sy skoonpa om te gaan kyk. Dan sit hy lank stil en kyk in die vuur.

Hy laat my dink aan ʼn man wat deur sy groot liefde verraai is. Die grond van hierdie land het ʼn ander minnaar gekry. Hy is kwaad en seergemaak, maar minder lief kan hy nie vir haar wees nie, al sê sy verstand vir hom hy moet pasop. Hy weet nie wat soek hy nog hier, in hierdie verhouding nie. Daar is ander wat meer vir hom sal omgee. Maar mens kies nie vir wie jy lief is nie.

Die volgende dag ry ons ʼn draai in die bos. Ons stop en stap ʼn entjie na ʼn uitkykpunt op die damwal. Die drie seuntjies – hulle twee en ons enetjie – staan in ʼn ry en piepie dat die stofwolkies in die lug opslaan. Hulle is vuil, van kop tot tone. Hulle is kaalvoet en as een in ʼn doring trap, haal een van die ander dit vir hom uit. Loopneusies word aan hempsome afgevee. Elkeen het ʼn tak in die hand of ʼn knipmes in die sak.

“Ek hóú daarvan,” sê hy. “Ons laaities moet met die aarde speel.”

Hy buk en pluk ʼn grashalm. “Assegaaigras,” sê hy. “Goeie weiding. Voedsaam.”

Later, toe ons in die geel laatmiddaglig aanry, laat hy sy arm by die venster uithang. Sy handpalm vee deur die lang gras. Half toevallig, liefkosend, asof hy vergeet het dat hy kwaad is vir haar.

Hy is, soos baie van ons, hier om te bly. Want sy hart sal dié land nie kan los nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Adriaan ·

Ai, Susan, hoe klop my hart tog warm toe ek jou boodskap lees, dis hoe ek voel oor hierdie land en sommer ook my NG Kerk en my dorp waarin ek bly. Dankie dat jy woorde aan my gevoel gegee het.

Carl ·

Dankie Susan hierdie is ‘n baie mooi storie! Dis raakvat woorde.

N ·

Die behoefte om weer `n eie grondjie te besit word net verder deur jou skrywe gevoed, maar aai die politieke onsekerheid!!

Mariki van heerden ·

n Mens se hart word terselfdertyd warm en seer as jy dit lees. Ons twee seuns woon in JHB en waardeur hulle al gegaan het agv uitbuiting en dit nogal deur Afrikaners, laat mens net besef dis alles genade as jy staande kan bly. Ek en my ander helfde woon al 13 jaar in UK en baie mense verstaan nie waarom nie. Ons is baie eensaam maar ook gelukkig en wil so graag he dit moet net goed gaan met almal in SA. Sterkte vir almal!

Johan Oosthuizen ·

Die stuk gryp my in die hart. Ons is nou dertien jaar in gie buiteland – hoofsaaklik Engeland. Ons het aanvanklik besluit om in Engeland te bly. By 70 verby moet mens besluit waar jy vir die res van jou lewe wil bly. Jou laaste jare word korter en tyd is te kort om te mors. Baie raai ons ten sterkste af maar iets is daar aan die gebeur. Ja, dinge lyk nie goed nie maar ek hoor tog ‘n nuwe “magtige dreuning, oor die veld kom dit wyd gesweef” en in my hart brand “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”. My doodkry is min en daar’s werk wat gedoen moet word. Ek is dit aan my kleinkinders verskuldig.

chris ·

Ja nee wat so raak gevat. Die gemeenskaplike ietsie wat saam met die bloed in ons are vloei ek dink dit is regtig uniek in ons.

Johannes ·

Susan, jy skryf pragtig. Jy het baie talent. Jy het my soveel jare terug gevoer na vele soortgelyke ervaringe wat ek ook beleef het. Jy kan gerus meer vir ons skryf. Baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.