Redakteursbrief: Hier’s die Maroela-app waarvoor jy gewag het (en dis gratis)

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Maroela Media

Toe ons jongste, amper 7, anderdag ʼn gewone lessenaarrekenaar sien, sê hy: “Mamma, is dit ʼn outydse rekenaar?”

Ja, mens kry al outydse rekenaars. As jou rekenaarskerm dikker as drie sentimeter is, of jou muis het ʼn draad wat iewers indruk, het jy waarskynlik ʼn outydse rekenaar – al is hy dalk net ʼn jaar of vier oud.

As mens ʼn digitale mediahuis is in die tyd waarin ons lewe, is dit nogal ʼn uitdaging om nie “outyds” te word nie. Waar tydskrifte tien jaar gelede so elke twee of drie jaar hulle mashoof ʼn bietjie opgedollie het vir ʼn nuwe voorkoms, en dalk van glans- na matpapier oorgeskakel het as die “papiermode” verander het, moet digitalemediaplatforms, soos ons, deesdae daagliks op ons tone wees om seker te maak ons bly by met die nuutste neigings. En hoewel dit belangrik is om mooi te lyk vir ons lesers, is die funksionaliteit aan die agterkant 80% van dít wat Maroela “outyds” kan laat oorkom.

Só het Maroela Media besluit om die begin van die jaar vir ons slimfoon-app ʼn splinternuwe voorkoms en agterkant te gee, nes die dae toe Oupa die plaashuis elke jaar of drie met kalk afgewit het en die dak ʼn nuwe laag verf gegee het. Dan het Ouma sommer die geleentheid uitgebuit om die ekstra hande op die werf binne die huis ook in die werk te steek: die houtvloer kort ʼn goeie afskuur. En die klavier moet soontoe skuif; ʼn klavier hoort nie teen ʼn buitemuur nie.

Al was ons eerste app eintlik nog splinternuut, skaars twee jaar oud, was die tegnologie waarop dit gebou was, reeds besig om “outyds” te raak. Boonop was daar allerlei nuwe neigings in nuus-apps besig om internasionaal kop uit te steek. Ons het vir maande lesers se terugvoer oor ons app gedokumenteer, en deeglik navorsing gedoen oor ander nuus-apps, plaaslik en internasionaal, voor ons besluit het hoe ons nuwe app sou lyk en watter funksionaliteit dit sou bied. Dis omtrent soos daai vyf verskillende kleure verf wat Ouma tydsaam in die verfwinkel gaan bestudeer om die regte skakering vir die vrykamer te kry terwyl Oupa moedeloos in die bakkie sit en pyp rook.

Vyf jaar gelede nog, toe Maroela Media afgeskop het, was dit vir ʼn digitalemediamaatskappy genoeg om bloot ʼn webblad en ʼn Facebook-blad te hê. Daar was maar min besoekers wat die webwerf van slimfone af besoek het; tablette het nog nie eens bestaan nie.

Skaars ʼn jaar of wat later kon ons sien hoe die statistiek van lesers wat Maroela vanaf slimfone besoek, stadig maar seker begin toeneem, en besoeke van rekenaars begin afneem. Ons het inderhaas ʼn selfoonvriendelike weergawe van die webwerf ontwikkel en uitgerol. Maar ons was skaars klaar, toe is “responsive” webwerwe die nuwe ding (vir dié wat nie weet nie: dit verwys na ʼn webwerf wat só ontwikkel is dat dit aanpas na gelang van die grootte van die skerm waarop dit gelees word, sonder dat enige grafika, teks of ander elemente skeefgetrek word of vreemd vertoon). Dit was gelukkig toe hoeka tyd om ʼn bietjie huis skoon te maak en meubels rond te skuif, en ons het toe sommer in 2013 die geleentheid gebruik om die Maroela-webwerf oor te bou met ʼn nuwe laag verf aan die voorkant, en ʼn splinternuwe “responsive” ontwerp aan die agterkant.

Skaars was die tweede laag verf droog, toe moet ons begin woeker met die eerste weergawe van Maroela se app. Want toe is die aantal besoeke vanaf slimfone besig om met ʼn stewige spoed die aantal besoeke vanaf rekenaars in te haal, en ʼn gewone webblad wat net bloot leesbaar is op jou slimfoon, is nie meer genoeg nie. ʼn Slimfoongebruiker wil mos sommer so in die ry, tussen die ratte wissel deur, op sy app loer vir die jongste nuus, en dan wil hy nie eers rondblaai en soek nie. Daar was dus, helaas, gʼn tyd vir hande was, tee maak en op die stoep sit terwyl ons ons handewerk bewonder nie. Ons moes maar so in die draf ʼn beskuitjie met ʼn paar slukke boeretroos afsluk en verder arbei, dié keer aan ons eerste slimfoon-app.

Intussen staan die werk op die res van die plaas natuurlik nie stil nie. As daar ʼn sprinkaanplaag in die lande is, moet ons ʼn ligte vliegtuig huur en plaagdoder spuit (dis nou die handjievol lesers wat met hul lelike kommentaar en taalgebruik ons harde werk wat geil op die lande staan, ongedaan probeer maak). As ʼn windpomp onklaar raak en die dam loop leeg, moet ons loop kyk wat haper (dis natuurlik die adverteerders wat soms maar ʼn bietjie aanmoediging nodig het om in Afrikaans te adverteer – ʼn stroompie wat liefs nie moet opdroog nie.) As die skaap geskeer moet word, spring almal in en kom help wol sorteer of dra koffie aan (dit is daai lekker projekkies, soos Maroela se Grootste Afrikaanse Liedjie-veldtog, wat ons aanpak omdat dit is wie ons is). As jou buurman bel om te sê jou stoetbul wei lustig tussen sy koeie en die grensdraad lê plat, spring jy in jou bakkie en jaag om te red wat te redde is (dit verwys na die webwerwe wat sommer, sonder om te vra, Maroela se inhoud kopieer, op hul eie webwerwe plak en dit aanbied asof hulle dit geskryf het). En so dan en wan moet ʼn mens darem ʼn blaaskans vat en ʼn kermis of kerkbasaar of die buurman (aan die ander kant) se oudste dogter se troue bywoon; die oujongnooi-enetjie met die kinkel in die neus wat gedink het sy gaan nooit ʼn man kry nie (dit, natuurlik, al ons lekker kuiertjies en leer-mekaar-ken-tydjies met ons lesers op sosialemediaplatforms soos Facebook en Twitter).

Só gaan daar maklik ʼn jaar verby wat jy so nou en dan skaaf en skuur aan die dingetjies wat in die plaashuis pla, en as jy weer sien, is die huis – of die app – “outyds”, en jou kinders skaam hulle morsdood wanneer die maats kom kuier. Dié dat ons toe die begin van vanjaar van voor af begin en ʼn splinternuwe app bou. Aan die een kant soek ons die nuutste, beste tegnologie uit, wat moet verseker dat jy die nuus so glad en maklik moontlik kan lees terwyl die app so min moontlik van jou data opvreet. Aan die ander kant moet die ding darem iets vir die oog wees ook. En gebruikers moet instinktief verstaan hoe dit werk en watter funksionaliteit daar alles ingebou is.

As jy dié brief op jou slimfoon lees, is die kans goed dat jy reeds die nuwe app geïnstalleer het. (As jy nog nie het nie, gaan loer gerus op die Apple App Store of Google Play Store vir jou gratis Maroela-app – maak seker jy laai die tabletweergawe op jou tablet af en die slimfoonweergawe op jou foon.)

Ons hou asem op om te hoor wat jy dink. Ons dink hy’s lekker, nes Maroela. Hy lyk dalk ʼn bietjie anders, want ons weet as jy in die ry by die bank staan en gou die nuus op jou foon wil lees, is jy nie lus vir fieterjasies nie – jy wil met een oogopslag sommer só sien wat Malema nou al weer aangevang het, wat jy vanaand vir aandete kan maak en wie pas die wêreldrekord in bokdrolspoeg verbeter het. So ons het die strooikussinkies en kaggelfieterjasies in die opstal gelos en vir jou net die nodigste in die app ingebou.

Ons brand om van jou te hoor. Jou briefie of poskaart gaan nou dalk nie via die poskantoor by ons uitkom nie, maar ʼn e-pos is net so goed. Toets die splinternuwe Maroela-app so oor die naweek.

Wees regverdig en gee jouself darem ʼn dag of twee kans om gewoond te raak aan hoe dinge nou werk, en speel ʼn bietjie met die verstellings (jy kan nou kies in watter volgorde jou kategorieë op die app moet vertoon, en jy kan selfs kategorieë wat jy nie wil lees nie, afskakel). Dan stuur jy vir ons ʼn e-pos na [email protected], of gaan maak ʼn draai in die app-winkel en gee vir ons app ʼn punt uit vyf. Tik sommer jou sinnetjie terugvoer daar ook, sodat die res van die wêreld dit ook kan sien.

En as jy klaar is, vertel jy op sosiale media vir al jou virtuele bure en mede-gemeentelede van daai lekker, gratis Maroela-app wat hulle ook kan aflaai. Want mens eet mos nie alleen koeksisters nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Herman ·

Uitstekende app! Ek geniet dit baie om op hoogte van Suid Afrikaanse nuus te bly hier uit Saudi.
Hou so aan, Susan. Jy en jou span doen n bakgat job!

Juanette Eagleton ·

Eks absoluut mal oor Maroela, en was ek nou bly om te lees oor die nuwe app. Ongelukkig, met ‘n Windows slimfoon, is daar nie ‘n app nie. Wat ‘n jammerte!!

Professor Plofstof ·

Beste Susan, ek geniet jou redakteurs briefie geweldig, maar die “app” / “toep” wil op my foon nie werk nie. Ek het nog so een wat ek saam met ‘n pak ontbyt graankos as ‘n aanbieding gekry het. ‘n Mens kan warempel met die ding bel en selfs ook nog oproepe ontvang!

Tills ·

Baie dankie die nuwe app is tops! Die oue het so tussen die artikels gerol nes jy nog die vinger naby hou, hierdie nuwe een is ‘n groot verbetering! En die titelblad gee die inhoud met ‘n oogopslag, ek is mal oor die nuwe app!
??????

Andre Louw ·

Die nuwe App werk baie goed, veral op n tablet. Dankie!

Koos ·

Die app is goed .Ek hoop net julle wil die nuus begin weergee soos dit is net die feite en ophou om so polities korrek te wees en wat van ‘n thumb up en thumb down om saam te stem of nie

johann cb ·

By die tegnologie afdeling het ek genoem dat die skrif baie klein is en nie vergroot as jy op jou foon of tablets daarop klik nie. Hoe stel ek dit reg? Ek is bysiende en dra gewone en leesbril.

Sune van Heerden ·

Dagsê Johann

Dankie vir jou terugvoer. Die tegniese span stel ondersoek in.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.