Redakteursbrief: Hoe lyk jou gemmerbroodmannetjie?

Susan Lombaard

Susan Lombaard

Foto’s van Jordan volg onderaan die brief. Netnou haak ʼn paar lede van die Maroela-span in die gang vas met hulle koffiebekers en gesels oor die nuus van die week, en toe oor Jordan Pelser, ʼn dapper vierjarige seuntjie wat teen ʼn baie aggressiewe vorm van leukemie baklei. Maroela dek al vir ʼn rukkie van tyd tot tyd nuus oor Jordan se vordering. ʼn Paar keer die afgelope paar maande moes Jordan lewensnoodsaaklike bloedoortappings kry, maar dan was daar eenvoudig nie bloed vir sy bloedgroep (A-) beskikbaar nie. Telkens het sy ma op sosiale media gepleit dat mense gaan bloed skenk om Jordan se lewe te help red.

Jordan is ʼn regte klein klits van ʼn kleutertjie, net soos myne. Op die foto’s wat sy gesin uit die hospitaal op Facebook deel, dra hy Spiderman-pajamas, geniet hy hom gate uit wanneer ʼn hond van Paws for People in die hospitaal by hom kom kuier, en hanteer hy sy tablet met groot selfvertroue.

Maar dan is daar die foto’s wat nie soos my seuntjie lyk nie. Foto’s waar ʼn pypie aan Jordan se lyfie gekoppel is terwyl hy chemoterapie ontvang; waar hy met toe ogies in ʼn donker hospitaalkamer lê wanneer hy baie ernstig siek is omdat hy iets eenvoudigs soos ʼn griepvirus opgedoen het; wanneer sy gesiggie vertrek is van pyn wanneer ʼn voedingsbuisie geruil moet word; wanneer hy in trane vasklou aan sy kleinboet Chris wat vir ʼn paar dae kom kuier het, maar weer moet huis toe gaan.

Verlede week vertel Jordan se ma dat die psigoterapeut wat hom weekliks besoek, vir hom ʼn gemmerbroodmannetjie gebring het om te versier met verskillende kleure versiersuiker. Elke kleur versiersuiker verteenwoordig ʼn ander emosie, verduidelik sy vir Jordan. Dié gemmerbroodmannetjie moes hy dus met versiersuiker verf om sy eie emosies uit te beeld.

Die verstommende eindproduk was ʼn gemmerbroodmannetjie wat van hoek tot kant vol geluk geverf is. Daar was klein kolletjies hartseer, woede en pyn, vertel sy ouma op sy Facebook-blad, maar te midde van Jordan se omstandighede het hy gekies om sy gemmerbroodmannetjie te verf met die kleur wat geluk verteenwoordig.

Ek staan stil voor die twee groot lesse wat dié klein lyfie my hierdie week geleer het: Ek verf my eie gemmerbroodmannetjie, ongeag wat met my gebeur. En deur bloed te skenk, red ek nie sommer enige lewe nie; ek red ʼn lewe van ʼn klein vegtertjie soos Jordan.

Kuier lekker saam met Maroela, en mag jy die positiewe nuus en die goeie stories tussen al die hartseer en ontstellende nuus raaklees en kies om dit te waardeer. En skenk bloed!

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Nota: Besoek Jordan se Facebook-blad om uit te vind hoe jy ʼn bydrae kan maak tot die trustfonds wat gestig is om sy mediese kostes te help dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.