Redakteursbrief: Hoekom laat ons nog kommentaar toe?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Tydens ʼn gesprek by Aardklop se Rede-kabel-gespreksreeks hierdie week het die kwessie van die euwels en deugde van sosiale media en fopnuus Donderdag onder die loep gekom.

Beeld berig vandag (Vrydag, 5 Oktober) dat prof Johannes Froneman van die Noordwes-Universiteit in reaksie uit die gehoor reageer het, waartydens hy ʼn uitdaging aan Netwerk24 gerig het om hul kommentaarplatform te sluit.

Maroela Media was nie self by dié gesprek betrokke nie. Dit, ten spyte daarvan dat ons byna 300 000 volgelinge op Facebook het (die meeste van alle Afrikaanse nuusinstansies naas Huisgenoot en Son), en die feit dat ons interaksie (“engagement”) op Facebook loshande die hoogste is van alle Afrikaanse nuusinstansies (die afgelope week het Maroela se Facebook-volgelinge 56 700 keer op ons Facebook-profiel reageer, met Die Burger ver agter in die tweede plek met 15 800 reaksies). Ek reken hierdie syfers wys dat ons lesers met ons práát, en dat ons na hulle luister. En daarom reken ek ook Maroela Media sou ʼn waardevolle bydrae tot so ʼn gesprek kon lewer. In Beeld se berig oor die gespreksgeleentheid verwys Carla Lewis, hoof van sosiale media by Beeld, na ʼn “eggokamer” wat ontstaan as mense net nuus lees en volg wat hul eie agenda bevestig. Ek vermoed dieselfde tipe eggokamer ontstaan as ʼn mens net met jouself en jou eie mense praat by ʼn geleentheid soos hierdie. Maar dit daar gelaat, ter wille van goeie buurmanskap.

Ek wil eintlik reageer op prof Froneman se uitdaging aan Netwerk24, en die gesprek wat hier in Maroela-geledere daarop gevolg het.

Hoekom laat Maroela nog kommentaar toe?

Dis ʼn vraag wat ons dikwels vir ons self vra (veral die arme joernalis wie se werk dit is om voltyds kommentaar te sit en modereer, siestog).

Kom ons kyk eers na die syfers: In Augustus vanjaar is daar 21 730 keer op Maroela Media se webwerf kommentaar gelewer (ʼn rekordgetal kommentare). Dit sluit nie die kommentare wat outomaties geblok word deur ons outomatiese modereringstelsel as gevolg van kru en onaanvaarbare taalgebruik nie. Van hierdie kommentare is net meer as 15 000 goedgekeur (70%), en sowat 6 500 (of 30%) afgekeur. As ʼn mens na hierdie syfers op ʼn grafiek kyk, is die prentjie onrusbarend. ʼn Mens kan duidelik sien hoe die aantal kommentare meer word, maar ook hoe die aantal onaanvaarbare kommentaar wat uitgevee moet word, óók meer word. Soms raak die geveg wild onder lesers, en veral vir personeel wat naweke aan diens is om die kommentaar-baba op te pas, kan dit ʼn uitmergelende taak raak. Lewis is in die kol as sy sê kommentaar laat ʼn mens voel asof jy “deur die vuilste van mense se psige geswem het en net wil gaan stort”.

Kommentaar op Maroela Media (September 2016 – Augustus 2018)

Waarom sluit ons dan nie ons kommentaar-afdeling nie? Hoekom vir ons self soveel hoofbrekens besorg?

  • Want dis ʼn manier hoe ons in voeling bly met hoe ons lesers voel. Maroela is ʼn gemeenskapsplatform. Dit is ʼn gemeenskap, en vir baie mense die enigste plek waar hulle nog tuis voel, en gemaklik is om in hul moedertaal saam te gesels. Hulle stilmaak? Aikôna. As dit wild gaan in die kommentaar-afdeling, is dit omdat dit wild gaan in die land, en wild gaan in mense se gemoedere en harte. Deur dit stil te maak, neem ons nie die probleem weg nie. Die chaos in die kommentaarafdeling is ʼn weerspieëling van die chaos in ons land.
  • Die kommentaarafdeling is op ʼn digitale blad deel van die storie, of ons daarvan hou of nie. Dikwels ontvou ʼn deel van die storie eers in die kommentaar: Die slagoffer van ʼn misdaadvoorval kom lewer self kommentaar; die ma van ʼn oorledene kom deel haar pyn; iemand wat iets soortgelyks oorgekom het, kom vertel haar storie en dra nuwe nuanse tot die verhaal by. Dikwels word ʼn opmerking in die kommentaar vir ons ʼn wenk vir ʼn opvolgstorie. Met koerante is hierdie onmiddellike ontvou van ʼn storie natuurlik onmoontlik, as gevolg van die tydsgaping tussen die publiseer van die koerant, en die ontvang en publiseer van lesersbriewe in reaksie op beriggewing.
  • ʼn Kommentaarafdeling skep lojale lesers wat gereeld terugkom, omdat hulle kan saamgesels. “Soms begin ʼn mens die artikel lees by die kommentaar om gouer die gevoel van ʼn gebeurtenis te kry,” skryf Reint Dykema.
  • “Die kommentaar bied ʼn geleentheid vir interaksie. Dis die enigste plek waar lesers direk met mekaar te doene kry,” sê een van Maroela se personeellede vir my. “Daarsonder is daar nie ʼn samehorigheid onder lesers nie. Dis ook ʼn teken van aktiwiteit op die webwerf. Ons lesers besef nie hulle is een van 1.2 miljoen mense op die webwerf nie, maar die kommentaar wys vir lesers ‘ek is nie die enigste een wat só voel nie’.”
  • “Ons lesers is verskriklik kwaad en negatief,” sê ʼn ander kollega, wat verantwoordelik is vir die moderering van kommentaar (en wie se naam ek weerhou uit vrees vir haar veiligheid oor almal wat omgekrap is omdat hulle kommentaar uitgevee word!) “Maar die kommentaar help hulle sin maak uit wat in die nuus aan die gang is, en dit hou ons in voeling met hulle.”
  • “Die demokratisering van die media deur middel van sosiale media het die feodale monopolie op menings van die kommentariaat gestop,” skryf Flip Buys in reaksie op Beeld se berig. “ʼn Voorbeeld is toe demokrasie die heerskappy van konings beëindig het, en hulle nie net meer van bo af ondertoe kon opdragte gee nie. Demokrasie is wel morsig, maar nodig. Churchill het gesê die beste argument teen demokrasie is ʼn vyfminutegesprek met die gemiddelde kieser!”

Oor die negatiewe aspekte van kommentaar op ʼn nuuswebwerf soos Maroela Media en Netwerk24 is gewis baie te sê. Maar dit beteken nie daar is niks positiefs te sê nie. By Maroela Media fokus ons op die positiewe, en bestuur die onvermydelike negatiewe wat daarmee saam kom.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

48 Kommentare

jongste oudste gewildste
MAGGIE

DANKIE. KEEP UP THE GOOD WORK MAROELA!!

Blouwilleblom

Ek waardeer dit regtig dat julle die publiek nog die geleentheid bied om ‘n opinie te hê. Dis wel onstellend as die kommentaar persoonlike aanvalle op ander is, maar dis tog belangrik om te sien wat mense se gevoelens is en hoe dit van jou eie verskil, en dalk ook sieninge kan verander as daar gesonde debat is. Ek hoop julle hou dit oop.

Mandjie

Ek verstaan 100% dat vuiltaal, vloekwoorde en beledigings geblok moet word, maar dit voel soms asof ons stem ook geblok word as dit ‘te wit’ of ‘te regs’ is. Daarmee praat ek geen blatante rassisme en die gebruik van verbode woorde goed nie. Dit is asof meeste publikasies wat nog kommentaar toelaat, meer na links neig. Aanvalle op selfs Afriforum, blankes, solidariteit word toegelaat op die kommentaar kolomme om die liberale ‘n kans te gee om te ‘vent’. Dit terwyl meeste ‘regse’ kommentaar wat op dieselfde trant geskryf is summier geblok word. JA ek dink dit is ‘n reuse taak… Lees meer »

Hannelie

BAIE dankie Maroela Media dat ons nog kommentaar kan lewer. Want dit is tog hoe ons werklik voel, dit is soos ‘n uitlaatklep. As jy iemand se seer sien, dan dink jy aan jou eie en besef jy is nie alleen. Wanneer mense so links en regs vermoor word, dan BID ons saam. Wanneer iemand gelukkig is, of opgespoor word, is ons saam bly en BID ons saam om dankie te sê.

Afrikaanse Knaap

Ek het al baie kommentaar gelewer wa gesensor word. Dit gee my gemoedsrus dat ek nie tronk toe sal gaan vir my stellings nie. Dankie vir julle verantwoordelikheidsin.