Redakteursbrief: Hoop ten spyte van vlaag plaasaanvalle

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

In die afgelope 18 dae was daar reeds minstens 30 plaasaanvalle in Suid-Afrika. Tydens hierdie aanvalle is minstens 11 mense vermoor. Die skokkendste hiervan was waarskynlik die grusame moord op twee egpare, Gert Smuts en sy vrou Paulina, albei in hul 70’s, en hul seun Louis en skoondogter Belinda, albei in hul 40’s, op die plaas Modderbult in Mpumalanga. Louis en Belinda se kinders het in hierdie aanval hul ouers én grootouers verloor. In nog ʼn voorval buite Hartbeespoortdam in Noordwes is ʼn vrou deur aanvallers gedreig met verkragting, en ʼn pistool is teen haar agtjarige dogtertjie se kop gedruk.

My eie meisiekind is 10, en my seuntjie 7. Toe ons meisiekind vyf was, het daar een keer ʼn rower wat by bure probeer inbreek het, oor die muur gespring na ons toe, en in haar pophuisie in die tuin weggekruip. My dogtertjie het gehoor toe ons iemand daarvan vertel, en sy het tot vandag toe nooit weer in haar pophuis gespeel nie.

Die trauma waardeur hierdie agtjarige dogtertjie gegaan het, is verskriklik en ondenkbaar.

ʼn Soektog na mediadekking wat aan hierdie 30 plaasaanvalle gegee is, lewer nie veel op nie. Met die uitsondering van Maroela Media is daar net hier en daar en slegs oor die mees grusame plaasaanvalle en -moorde verslag gedoen deur digitale nuuswebwerwe en hul gedrukte eweknieë.

Dit wil blyk dat plaasaanvalle deesdae dieselfde status geniet as padongelukke – ʼn minimum lewensverlies of ʼn bepaalde graad van grusaamheid word vereis voor so ʼn aanval as nuuswaardig beskou word.

In 2016 het die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Khomotso Phahlane, dit tydens ʼn mediakonferensie duidelik gestel dat plaasmoorde vanaf verlede jaar as prioriteitsmisdaad beskou sou word en die aandag sou kry wat dit verdien.

Met 15 aanvalle in twee en ʼn halwe weke wil dit egter lyk asof sommige media en sommige polisielede ewe min aandag en prioriteit aan plaasaanvalle en plaasmoorde gee.

Die resultate van ʼn navorsingstudie wat Maroela Media in 2016 gedoen het om Afrikaanssprekendes se moraal te probeer bepaal, beaam wat ons reeds weet: 99% van die respondente het saamgestem dat die land se regering korrup is; 80% het aangedui dat hulle en hul geliefdes nie veilig voel in die land nie, en 77% het min of geen hoop gehad dat die land se ekonomie en finansies reggeruk kan word. Van almal wat die vraelyste voltooi het, het 84% gesê dat hulle baie meer angstig is as ʼn paar jaar gelede en 90% het aangedui dat hulle nie dink hulle kinders het ʼn toekoms in SA nie. ʼn Mens kan hierdie persentasies afspeel teen plaasaanvalsyfers, wat maar een van die faktore is wat tot gevolg het dat mense onveilig voel en angs ervaar.

Maar uit die navorsing wat gedoen is, is daar ook enkele ligstraaltjies wat ʼn mens gerusstel dat Afrikaanssprekendes nie heeltemal hopeloos geword het en moed opgegee het nie.

Altesaam 70% van die respondente het aangedui dat hulle voel hulle kan private produk- en diensleweringsinstansies vertrou. Ongeveer 67% van die respondente het gesê hulle stem tot ʼn groot mate of volkome saam dat hulle die vrugte daarvan sal pluk as hulle hard werk, en 72% het gesê hulle glo hul toekoms is in hul eie hande, ten spyte van omstandighede in die land. Altesaam 91% het aangedui dat hulle Afrikaanssprekend is, en trots is daarop. Gevra oor hoe hulle hul eie identiteit sien, het die grootste persentasie geantwoord dat hulle hulself in die eerste plek sien as Christene, en eers daarna as Afrikaans, Suid-Afrikaners of Afrikaners.

Ons moet bly vertrou dat Afrikaanssprekendes, ten spyte van terugslae en aanslae, nuwe hoop sal kry in hul identiteit as Christene en in hul karakter as hardwerkende landsburgers wat hul toekoms in hul eie hande neem. Mag jy, ten spyte van die misdaadstatistiek, ook deel wees van die statistiek van dié wat nie gaan lê nie.

Groetnis, en sterkte
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sann ·

Baie dankie vir die bemoediging. Julle is beslis ook Ligdraers, en daarvoor admireer ons elkeen wat MM laat werk. Ons het mekaar bitter nodig in die dae wat kom.

Jaycee ·

Dit is by herhaling dat ek dankie se vir nuusmedia soos MM wat hierdie soort misdaad aan die groot klok hang. Die feit dat ander nuusmedia nie veel hieroor berig nie dui vir my daarop dat hierdie tragedie wat in ons land afspeel so alledaags geword het dat hierdie nuusmedia moontlik hulle optrede regverdig deur daarop te wys dat daar is ook baie ander nuus is en omdat spasie beperk is, kan hulle nie te veel oor hierdie gebeure berig nie. Verder kan hulle met stellings kom dat daar ook baie ander soort misdade in die dorpe, stede en op die platteland gepleeg word, wat nuusdekking werd is en dat hulle nie te veel fokus op plaasmoorde kan plaas nie.
Natuurlik is daar sekere meriete in hierdie argumente maar wat alles deurmekaar krap is die feit dat hierdie plaasmoorde meestal teen blanke boere gerig is, dat die booswigte meestal swartes is en dat die misdaad gewoonlik met buitensporige aanranding en selfs marteling gepaard gaan. Dit gee hierdie misdaad beslis ‘n rasse-element en geoordeel aan die sosio-politieke situasie in ons land is dit dus redelik dat die emosies en gesindhede wat by blankes deur hierdie misdaad opgewek word, nie net plaasbewoners nie maar ook blankes in stede en dorpe, ‘n voedingsbron vir rasse-haat sal wees. Om in nuusdekking op hierdie soort misdaad te fokus kan hopelik uitloop op meer konstruktiewe maniere en planne, veral van regeringskant af, oor hoe om dit te bekamp en derhalwe rasse-verhoudings te verbeter.

Johan ·

Ons moet vir julle dankie se Susan.

Julle moet wel asb dink daaraan om n gedeelte re maak waar jul alle fotos, naam en area waar n persoon gesoek word ophou as rekord. Dan kan ons ook op rekord kyk ndien iemand gewaar word of as iemand by n mens kom werk soek.

Rynhardt ·

Al die politici het voor ’94 die fondament gele vir die wrede moorde wat vandag in SA plaasvind op blankes.Ek vind dit net verstommend dat sekere dommes in ontkenning leef m.b.t.hul politieke “helde”.Die twee vrae wat opkom is eenvoudig.Gaan Afrikaners ruggraat toon teen wrede moorde op ons mense of gaan ons niks doen, sodat ons blankes heeltemal uitgemoor kan word?

Naamloos. ·

Blankes kan maar net nie meer saam staan nie. Wat gaan dit help om nou te probeer opstaan?Dis te min , te laat. Ons wittes kan mekaar dan nie eers meer verdra of vertrou nie en vertrap mekaar om kop bo te hou. Ons dae is getel.

Ben ·

Nee wat, ek moedig my kinders aan om landuit te gaan. Gelukkig is hul al drie hoogs gekwalifiseerd – en hulle gades ook. Dan gaan kuier ek eerder vir hulle en my kleinkinders in veiliger Australië.

Dan ·

Baie goeie brief, Susan! Dankie aan MM dat jul berig oor meeste aspekte waaroor die ander media doodeenvoudig swyg.

Janneman ·

Dankie Susan, ek stem met alles saam maar jy bied nie n oplossing nie.
Die waarskuwing “as Mandela sterf….” begin nou eers gestalte te kry. Ons is kanonvoer van haatdraende mense wat hul self wil verryk in die kort termyn – en niemand in die buiteland gaan hulle daaraan steur nie.
Ek glo n massa groot trek is ons enigste oplossing – die keer terug Wes-Kaap toe. Ek glo die Wes-Kaap kan 7miljoen mense huisves – ja water is n probleem maar ons het die nodige kundigheid om damme te bou.
Laat die res van SA vergaan en Zim toe vlug vir n beter lewe!

Ou Afrikaner Vlakvark ·

Geagte Me. Lombard,
Baie dankie vir hierdie redakteursbrief. Dit is skokkend om elke dag te verneem van die wêreldwye eindlose moorde, opstande, magstryde, korrupsie, uitbuiting van die medemens en slawerny en dit in die 21ste millenium ongeag al die tegnologie!
Ons lewe in ‘n donker wêreld van ontaarde en korrupte mense en onreg en ongeregtighede. Die hele lewe is ‘n stryd tussen die goeie en die slegte. Maar ons moet ligdraers wees, helder sterre wat skyn in hierdie donker wêreld en sout vir die mensdom wees. Hierdie wêreld is nie bestem om ooit ‘n utopia te wees nie. Maar elkeen van ons kan ‘n opbouende verskil maak, reeds hier en nou. Die vraag is hoe?

Estelle ·

Baie dankie dat jul ons op hoogte hou van alle nuutste nuusgebeure. Ons moet weet wat in die wereld aangaan en die nuus sien ons soms net in Maroela nuus. Voorspoed en sterkte vir wat nog gepubliseer moet word. Afrikaans is my moedertaal en ek is trots daarop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.