Redakteursbrief: “Hy sit my siel in my lyf in trig”

Susan Lombaard

Susan Lombaard

Daar is selde ʼn tekort aan kreatiwiteit hier in Maroela se kantore.

Inteendeel: met die hoeveelheid kreatiewe idees wat daagliks hier uitgedink word, kan ons ʼn spannetjie van ʼn paar honderd sterk vir die volgende 50 jaar of wat aan die gang hou. So ʼn kwart van dié idees vind hul weg tot by uitvoering. Die res is bloot te groot, te verregaande of net te veel.

Daar is mos party kantore waar mens instap en dadelik slimmer voel, net oor jy in die teenwoordigheid van sulke slim mense is. Ons gaste sê dikwels as hulle hier by Maroela is, voel hulle sommer ʼn bietjie kreatiewer te midde van koffiewalms, deurmekaar gedinkte hare en notas wat teen mure en op vensters geskryf staan.

Maar dan is daar dae wat ons werklik raap en skraap om ons kreatiwiteit en entoesiasme op ʼn groot genoeg hopie te kry dat ons deur die dag kan kom. Vandag voel vir my soos een van dié dae. Dis koud buite, die koffie het ʼn bietjie bitter in die pot beland en na ʼn paar weke van onophoudelike, baie harde werk lyk en voel ons almal so ʼn bietjie soos rugbyspelers ná ʼn harde wedstryd.

Dit laat my dink aan die storie van die eerstejaar- Chemiestudente op die Puk ʼn klompie jaar terug wat ʼn baie taai eindjaareksamen aan ’t skryf was. So 20 minute in die vraestel in spring daar skielik ʼn mooi jong dametjie in die voorste ry op en gil: “Ek kán nie! Ek kán net nie meer nie!” en sy hol uit die eksamenlokaal uit. Die eksaminatore stoei om die studente weer tot bedaring te kry na dié uitbarsting, maar na ʼn rukkie is almal weer rustig en skryf hulle verder eksamen. Tot so ʼn halfuur of wat voor die einde van die vraestel, toe ʼn manstudent agter in die lokaal opspring en bulder: “Ek kán nie! Ek kán net nie meer nie… Maar ek móét!” En hy gaan sit en skryf verder.

Daar is dae wat ons motivering om aan die gang te bly, nie die een of ander wyse aanhaling van ʼn filosoof of ʼn Bybelkarakter is nie, maar eenvoudig: “Ek kán nie! Ek kán net nie meer nie… Maar ek móét!”

In sulke uitgeputte tye soek ons dikwels inspirasie uit die Woord. Dis vir tye soos dié wat God seker gemaak het daar is doodeenvoudige verse wat amper dieselfde klink as dié manstudentjie se kwinkslag. Verse soos “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil. 4:13) of “Hy gee my nuwe krag” (Ps. 23:2). Verse waaroor ons nie eers hoef te dink as ons te moeg is vir dink nie; wat sê “Jy móét, ja, maar jy móét darem nie alleen nie.”

In sy Griekwapsalms (Psalm 23) sê Hans du Plessis dit so mooi: “Hy sit my siel in my lyf in trig.

Mag jy ʼn kreatiewe week hê!

Psalm 23 (uit: Griekwapsalms)
Hans du Plessis

Die Jirre is my Skawagter wat my nou
innie dradewerke van sy proewe hou.
Hy sal my mos nooit verloor lat lê
en al sil ek ok niks oor my hê
en al wei ek wyd warie wind begin:
Hy lei my na waterse tissennie deine in;
Hy sit my siel in my lyf in trig;
Hy breekslat slang se hoepelrig!
U melk my beker vol wa ek loop lê:
in my land wa ek baas stan sê,
maak u opslagstrale vamy tegeparty,
ma ekken U sal onder die doringse bly!

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Samuel Fourie ·

Oom Eddie Pienaar waarsku. Moenie laat die kleinkinders jou onthou as die “grumpy” oupa nie. Lag Chrisjan ons jongste. Dis al oupa wat hulle het!!!
Groetnis uit `n vrekkoue Orange Free State. No oranges,nothing is free and it`s in a terrible state, so se my buurman, Witkop

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.