Redakteursbrief: Is daar nog goeie nuus?

Die tsunami in 2004 Foto: Wikimedia Commons

Gister publiseer ons die mooiste storie op Maroela Media: Oor ʼn Indonesiese meisietjie wat met haar familie herenig is nadat sy 10 jaar gelede, as vierjarige dogtertjie, deur ʼn tsunami meegesleur is.

Ek vertel dit graag, want dalk het jy dit nie gelees nie en dis te mooi om te mis: Jannah Raudhatul en haar sewejarige boetie is op 26 Desember 2004 meegesleur toe groot golwe hul huis in Aceh getref het. Hul ma, Jamaliah, en pa het die tsunami oorleef, maar het lankal aanvaar dat hulle nooit weer hul kinders sal sien nie.

Jamaliah (42) se broer het in Junie vanjaar ʼn meisie in ʼn vissersdorpie opgemerk wat net soos Jannah lyk. By navraag het hy uitgevind sy is een van die slagoffers van die 2004-tsunami, en het op een van die verafgeleë eilande, suidwes van Aceh, beland. ʼn Visserman het haar gered en vir sy ma gegee om te versorg. Jannah is Woensdag, tien jaar nadat sy weggespoel het, saam met haar ouers terug na haar ouerhuis. Haar boetie, Arif Pratama Rangkuti, het na bewering ook die tsunami oorleef, maar kon nog nie opgespoor word nie.

Meer as 170 000 mense van Aceh is in die 2004-tsunami oorlede. Maar Jannah het oorleef.

Uit die aard van ons Bybelse fondasie is dit vir ons belangrik om die goeie nuus ook met ons Maroela-lesers te deel. Maar ek moet hard soek na nog sulke goeie nuus-stories op Maroela Media. Die naaste wat ek daaraan kom, is ʼn motorfietskampioen wat in ʼn botsing oorlede is, kort nadat hy, volgens sy familie, sy hart aan die Here gegee het. Tydens die ongeluk het ʼn boks teksverse wat in sy motor was, geskeur, en honderde Bybelversies het op omstanders neergereën. “Selfs tydens sy dood het hy getuienis gelewer,” sê sy familie. Hierin, en in die feit dat sy vyfjarige seuntjie wonderbaarlik oorleef het en nie eens seergekry het nie, kry die familie hul troos.

Op ʼn donkerder noot het ʼn boervrou van Greytown en haar buurman twee gewapende mans wat haar en haar man vroeër die week op hul plaas oorval het, doodgeskiet. Stories soos dié gee hoop, hoe verwronge dit ook al is.

In elkeen van dié stories sit daar ʼn klomp hartseer agter die oënskynlike goeie nuus. 170 000 mense se dood skep die konteks vir een gelukkige storie wat wêreldwyd opslae maak. ʼn Pa wat ontydig deur ʼn onverskillige taxi-bestuurder sy lewe verloor het, gee selfs na sy dood vir sy familie hoop, omdat hulle weet hulle sal hom eendag weer sien. ʼn Bang vrou op ʼn plaas besluit tot hier toe en nie verder nie, en gee hoop aan duisende boere wat soms magteloos voel om hulself te beskerm.

Ongelukkig oorheers die slegte nuus die goeie nuus, op enige nuusplatform. Die realiteit is dat ons lesers veel eerder die slegte nuus lees: 12 000 mense het byvoorbeeld gister [Donderdag] die storie gelees oor die twee plaasaanvallers wat doodgeskiet is, terwyl slegs 1 200 mense die storie oor Jannah gelees het. Die rede hiervoor is duister. Ons kry talle versoeke van lesers wat vra dat ons meer goeie nuus publiseer, maar as ons dit wel doen, is die reaksie daarop nie waffers nie.

Ons sal egter nooit ophou om goeie nuus te publiseer nie. Soms het selfs die spannetjie joernaliste ʼn blaaskans nodig met so ʼn lekker positiewe storie. En as daar dan 1 200 van ons lesers is wat ʼn lekkerder dag het omdat hulle Jannah se storie gelees het, is ons in ons skik.

Maak gerus ʼn punt daarvan om vandag uit te kyk vir die goeie nuus, nie net op Maroela nie, maar ook op ander nuusplatforms. Dalk gee dit jou iets anders om vanaand langs die braaivleisvuur te vertel, en skep jy ʼn bietjie hoop by iemand anders wat dit nodig het.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

** Het jy ʼn goeie nuus-storie? Stuur gerus vir ons ʼn wenk by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kyla ·

Susan, baie baie dankie, ons (ek) waardeer julle moeite. Maroela is al publikasie wat ek lees omda julle perspektief altyd baie goed is.

Pietsnot ·

Susan, ek het so ‘n spesmaas gehad, maar die woorde “Uit die aard van ons Bybelse fondasie…” het jul grondslag vir my bevestig. Dís nou vir my goeie nuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.