Redakteursbrief: Is vroue beter bestuurders as mans?

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

ʼn Studie wat onlangs deur die navorsingsmaatskappy Gallup gedoen is, het interessante bevindings oor vroue as bestuurders aan die lig gebring. Die studie het bevind dat vroue beter is daarmee om hul werknemers te betrek by prosesse in die werksomgewing. Boonop is bevind dat vrouebestuurders self baie meer betrokke is by wat in hul afdeling of maatskappy aangaan as mans in bestuursposisies.

Respondente wat aan die studie deelgeneem het, het voorts gesê hulle ervaar dat vrouebestuurders hulle meer gereeld positiewe terugvoer gee oor hul prestasies in die werksplek, en ook meer gereeld met hulle gesels oor hul professionele doelwitte, ontwikkeling en vordering.

Volgens ʼn artikel oor dié navorsing wat in April vanjaar op die webwerf Business Insider gepubliseer is, is een moontlike verklaring hiervoor dat vrouebestuurders steeds harder moet werk daaraan om hul natuurlike talente in die werksplek effektief aan te wend, omdat leierskaps- en bestuursposisies steeds oorwegend deur mans beklee word. Hoewel inklusiewe en empatiese leierskap dus vir vroue skynbaar natuurliker kom as vir mans, moet hulle steeds harder daaraan werk om hulself te bewys as bestuurders.

Hiermee kan ʼn mens natuurlik nie die sterk punte wat mans as bestuurders na die werksplek bring, miskyk nie. Manlike bestuurders se vermoë om taakgerig te wees en om te fokus op die doelwitte wat bereik kan word, ongeag die hindernisse in hul pad daarheen, is alombekend. En volgens dieselfde studie deur Gallup verkies 33% van die respondente steeds mansbestuurders, teenoor 22% wat vrouebestuurders verkies. Oor die redes hiervoor kan ʼn mens maar bespiegel.

Ek is persoonlik van mening dat vroue se natuurlike vermoë om alle aspekte van hul lewe met mekaar te integreer, ʼn deurslaggewende faktor is in die sukses van vroue in bestuursposisies. Ons kan e-posse lees terwyl ons netbal kyk, wasgoed ophang terwyl ons ʼn werksverwante oproep maak en ʼn oog op spelende kleuters hou terwyl ons ʼn Skype-vergadering inpas. Dis deel van ons DNA.

Boonop kan die meeste vrouebestuurders, veral dié wat ma’s is, waarskynlik daarvan getuig dat hier ʼn goeie skeut nederigheid ter sprake is, wat hulle voete plat op die grond hou. As jy saans, ná ʼn dag op kantoor, spook om jou tiener se wiskundehuiswerk te ontsyfer, of as jou vyfjarige seuntjie jou vertel jou toebroodjies was regtig sleg vandag, of jou tienjarige dogter vertel jou vroegoggend taktvol dat jy dalk maar liewer iets anders moet aantrek, begin jy maar weer elke oggend om 08:00 van voor af om jouself te bewys.

Uiteindelik is die sleutel ʼn gesonde balans tussen mans- en vrouebestuurders wat, net soos in ʼn gesonde huwelik, ʼn balans bring, te danke aan ʼn verskeidenheid natuurlike talente en sterk eienskappe wat na die tafel gebring word, en wat mekaar aanvul.

Ek hoop jy is hierdie week omring deur mense wat die beste in jou na vore bring – of dit by die huis, of by die werk is.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grotman ·

Die mans wat se dat mans beter bestuur as vrouens is waarlik nie getroud nie en het agv dit nie nodig om te vrees dat hulle saam wagter buite gaan hoof te slaap nie. Ons getroude mans weet beter so ons tree eerder trug en se nie n woord nie.

Peet Schabort ·

Susan, hoe mooi het jy my gevang !! Ek begin lees maar my kop is ingestel op MOTORbestuurders !! Ek stem saam met jou oor daardie doen-sommer-alles-met-eenslag van die skoner geslag.
Ter aansluiting by Bruno Stef kan ek byvoeg dat dit egter nie werk vir vrouens (en mans) met die bestuur van ‘n motor om op jou selfoon te gesels, sigaret tussen die vingers vas te knyp, met die karradio te vroetel EN DAN NOG OOK REGS TE DRAAI !!
Soos my pa gesê het is daar egter net die volgende as swakpunte by ‘n vrou en dit is: RIGTING, TYD en AFSTAND waaroor hulle nie ‘n benul het.
Was dit nie so wonder ek wat sou van ons (mans) geword het.

MARTIN ·

Nie ‘n probleem met vroue Bestuurders nie. On gelukkig kry die ding nou ‘n slegte na-draai waar van die vroue in een van ons top maatskappye (wat op die stadium baie beurtkrag veroorsaak)op grond van Ras en kleur aangestel word. Waar die kwalifikasies en kundigheid inkom verstaan ek nie, want dit bestaan wragtig nie. Maar ek stem saam, daar is baie goeie Vroue in Bestuurs poste.

Rupert Ashford ·

Soos met alles: MERIETE. As “sy” die beste kandidaat is/was, hoekom nie, maar as daar gediskrimineer word om een of ander beweerde fout van die verlede te probeer “regstel” is dit ook gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.