Redakteursbrief: Jesus Christus woon in Suid-Afrika

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ons publiseer vanoggend op Maroela Media ʼn storie deur Liezel Lüneburg oor dr. Tom Catena, ʼn Amerikaanse mediese dokter wat in die oorloggeteisterde Soedanese Noeba-gebergtes praktiseer. Hy is die enigste mediese dokter in ʼn gebied met ʼn bevolking van ʼn halfmiljoen, en werk in ʼn hospitaal met 435 beddens en geen lopende water nie. Hy het in 2013 laas die hospitaalgrond vir ʼn kort tydjie verlaat en werk onverpoosd, ten spyte van die feit dat mediese voorrade van die gebied weerhou word en die hospitaal al 11 keer gebombardeer is.

In ʼn video oor dr. Catena se werk sê ʼn bejaarde man oor hom: “Hy is Jesus Christus. Net soos Jesus wek hy mense uit die dood op, maak hy siekes gesond en laat hy blindes sien. Al die Noebiërs hier rond stem met my saam.”

In die video dra dr. Catena ʼn armbandjie waarop die woorde van Johannes 3:30 staan: “Hy moet meer word en ek minder.”

Lesers se kommentaar op die storie, op die webwerf en op sosiale media, getuig van ontnugtering; ʼn hardheid en sinisme wat my hart net so raak soos dr. Catena se storie self.

“Ek spaar my simpatie, meelewing, hartseer en afgryse vir my eie mense,” skryf een leser. “Hierdie droewe land se moordstatistiek is so skrikwekkend dat ons laaaankal nie meer tyd en ruimte het om oor die moord en doodslag in ander state te teem nie,” skryf ʼn ander.

Ek is nie naïef oor wat in ons land gebeur nie. Inteendeel – in ʼn media-omgewing kry ons elke dag met die slegste van die slegte stories te doen, en kies ons dikwels om die grusaamste feite, stories en video’s van ons lesers te weerhou.

Om nie hard en sinies te word nie, is ʼn uitdaging. Dalk is dit bloot genade. As ek soms sien hoe die joernaliste trane in hulle oë het wanneer hulle met ʼn slagoffer gesels, of hoe hulle eers buite moet gaan asemskep nadat hulle ʼn besonder grusame storie geskryf het, verstom ek my dat hulle nog steeds grappe maak, nog steeds hul werk met oorgawe doen en dit regkry om nie hulle harte hard te maak nie.

Of ons dit regkry om ons harte sag te hou of nie, en of ons dié sagtheid het vir enigiemand wat swaarkry of dit “spaar” vir ons “eie mense”, is nie ter sprake nie. Wat ter sprake is, is dr. Catena se gesindheid: Hy word minder, en Christus meer.

As Jesus Christus in Soedan woon, woon Hy ook in Suid-Afrika. In jou dorp en in jou buurt. In jou huis. Dit hang net af of jy bereid is om minder te word, en Hom toe te laat om meer te word. Want as daar één plek is waar daar meer as genoeg geleentheid is om Jesus Christus vir ander te wees, is dit in Suid-Afrika.

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SE ·

Hoe pragtig geskryf!! Hoe baie waar is dit nie? Jesus leef ook in Suid Afrika, ons maak net nie gebruik vam SY teenwoordigheid nie.

Ben ☺☺☺ ·

Jou kop werk nog reg – en ek glo jou hart ook !!!

Sarel Strydom ·

Hulle vertel, ek dink was Confuseus(spelling?) wat beweer ‘n volk het 4 dinge nodig om te oorleef en dit is: Geloof, Hoop, Liefde en Water. Dit wil vir my egter voorkom of ons volk die eertste drie elemente verloor het en daarom sal ons nie kan voort bestaan nie. Dankie vir jou Redakteursbrief. Indien ons net wil sien en weet daar is ander wat swaarder het s ons maar veral terugkeer tt die Gos van os Voorvaders.

Marie Oosthuizen ·

Jesus Christus leef elke dag vir my. In my hart en siel is hy daar. Maar ek glo geloof en dade help Hy ons Groot Vader ons daagliks mee. Hy is oral. Bedags en Snags. Ek kry baie seeninge van Hom. Ek moes n lyk gewees het vandag, Hy het my lewe gespaar om ander by te staan. Dankie Heer vir ou genade en Liefde. Geloof so groot soos n mostertsaadjie kan wondere verrig.

Thys ·

Susan dit is so waar! Maar iets wat ek nie begryp nie nl “plaas God terug in skole”. Hy is reeds daar in die harte van wedergebore Christene – skoolhoofde, onnies, leerders, werkers wat met Hom in ‘n persoonlike verhouding (relation) leef! Dus wil ons nie soseer God terug in skole hê nie maar godsdiens (religion).

Ansie Geldenhuys ·

Wanneer ons ons jaarlikse seevakansie hou, raak ek weer sooo bewus van Jesus se teenwoordigheid en weet dat Hy die einde sal bepaal. Sonder Sy teenwoordigheid, sou ons nou nie oor Hom kon getuig in die publiek nie. Laat Sy Beeld uit jou handelinge straal.

Johan Oosthuizen ·

Ek het die verhaal iewers raakgelees. ‘n Gehoorsame geroepene het iewers in die sendingveld vir mense gaan vertel van Jesus wat Sy lewe vir die verlore mensdom gegee het. Na ‘n ruk het die oudstes vir hom vertel dat hulle die man ken van wie hy vertel het. Hy kon dit nie begryp nie en toe het hulle hom na ‘n hutjie toe geneem en die deur oopgestoot. Binne-in die hut was ‘n paar aardse besittinkies en ‘n paar Bybels op ‘n klipstapeltjie langs ‘n slaapmat. Die oudstes het vertel dat die man tussen hulle kom bly het toe hulle nog kinders was. Vir hulle was die man, JESUS.

Ons het rede om keelvol te wees. Om hard, koud, woedend en ongenaakbaar te wees. Baie voel dis tyd om wraak te neem. Ons is moeg vir waansinnige politieke hebsug en magslus. Dit was nog altyd so en dit word net erger.

Deur die eeue was daar net een Oplossing: Jesus in mense se lewens wat die vrug van die Gees uitleef. Oor byna ‘n halfeeu heen het ek dit Afrika, Europa, Israel en die Asiatiese land ervaar. Jesus is die algehele Gelykmaker.

Dit gaan nie oor ‘n soetsappige, sentimentele droomteorie nie. Dis ‘n klipharde realiteit. Jesus in harte en lewens maak ‘n verskil want Jesus is die weg, die waarheid en die lewe.

Mag hierdie realiteit Suid-Afrika se hart verander.

Pietertjie ·

Ek wonder of julle Jesus Christus ook ‘n Facebook profiel het? Hy is nie ‘n mens nie, in hemelsnaam!

Suidwester ·

Dankie vir ‘n positiewe brief te midde van soveel hartseer, wrokgedagtes, selfsugtigheid, vooroordeel, en wat nog, in die wereld van vandag. Dr Catena is vir elkeen ‘n voorbeeld. Dankie vir jou moed om sy voorbeeld as ‘n uitdaging vir elkeen wat hom/haar ‘n volgeling van Jesus Christus noem, te stel. Jesus, die Seun van God, het ‘n mens geword en was bereid om slaaf te wees, maar ook ‘n vervloekte dood te sterf, sodat ons van ons selfliefde verlos kon word. Daarom gebeur daar sulke ongewone dinge dat mense te midde van chaotiese liefdelose omstandighede met liefde optree.

E.K. ·

Gemeentes hou gereeld biddae vir reen. En hulle glo so hul smekinge sal verhoor word dat God nie anders KAN as om sy liefde in die vorm van reen te stuur nie. Miskien moet mens gereeld, soos in eenkeer per maand of nog meer gereeld biddae hou om ons regering die Lig en Waarheid te laat sien en absoluut glo dat God ons sal verhoor..wie weet wat se wonderwerke mag gebeur?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.