Redakteursbrief: Jou klein oorwinnings is werd om gevier te word

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Ek stap eendag op universiteit by ʼn vriendin se koshuiskamer in. Voor haar staan ʼn kolwyntjie met ʼn enkele kers en ʼn glas wyn langsaan.

“Wat maak jy?” vra ek.

“Ek vier my eerste week sonder my kêrel,” antwoord sy.

Klein oorwinning, maar werd om gevier te word.

As kinders doen ons dit maklik: Ons bak modderkoekies as ʼn hond verjaar en teken prentjies vir die beste pa in die wêreld. As volwassenes vier ons ook maklik ons kinders se oorwinnings. Jou kleinding se eerste suksessie in die toilet tydens “potty training”, haar eerste treetjies en die eerste tien meter op ʼn fiets sonder kantwieletjies word met ʼn draairoomys gevier. Klein verbeterings op skoolrapporte, moeilike toetse wat geslaag is en die eerste rit om die blok agter die stuur van die motor word eweneens gevier met sjokoladekoek of uiteet.

Dis in ons aard om te vier.

Tog doen ons dit te min. Die tempo waarteen ons leef, dwing ons om reeds halfpad in die volgende pylvak te wees teen die tyd dat die vorige projek suksesvol afgesluit is. Klaargemaakte geskenksakkies wat jou die tyd van geskenke toedraai spaar en verjaardagkaartjies waarin die soetsappige boodskappie sommer klaar vir jou uitgedink is, getuig van die gebrekkige tyd wat ons daaraan bestee om die mense in ons lewe se vreugdes en oorwinnings saam met hulle te vier. Ons wens vriende per SMS (of sommer via Facebook) geluk met verjaardae, omdat ons nie tyd het om te bel nie. Ons stuur blomme hospitaal toe na ʼn suksesvolle operasie, kwansuis omdat ons nie die pasiënt wil pla nie.

Dis tog jammer, want die groot vreugde van ʼn vriendin wat voor jou deur opdaag met ʼn bos blomme omdat sy saam met jou bly is oor die mediese toetsuitslae wat negatief teruggekom het, doen wondere vir jou moraal en positiwiteit.

Hier by Maroela glo ons nogal daarin om dinge te vier. Ons eerste 10 000 besoekers is gevier met pizza en rooiwyn. Vir ons eerste verjaardag het ons ʼn kinderpartytjie met honderde gekleurde kolwyntjies gehou. Ons vier nuwe rekords, nuwe vennootskappe, nuwe deurbrake en nuwe suksesse op ʼn verskeidenheid kreatiewe maniere wat soms dalk ons lesers se hare laat rys. En dis goed so, want mense wat bitter hard agter die skerms werk, hoor ʼn eenvoudige boodskap: “Jy het hard gewerk hiervoor, en jy verdien ʼn klop op die skouer.” Dit maak die volgende mylpaal net soveel meer haalbaar.

Vandag vier ons Maroela se 100ste nuusbrief – ʼn nuusbrief wat bo alle verwagtings gegroei het in die afgelope twee jaar, en wat nou reeds duisende mense weekliks bereik met ʼn uitgesoekte verskeidenheid van die beste, lekkerste en vermaaklikste nuus wat in die voorafgaande week op Maroela gepubliseer is. Vandag maak ons ʼn groot pot koffie en iemand gaan McDonald’s koop, want die sperdatums is taai dié tyd van die jaar en die werk moet gedoen kom. Maar vier, sal ons dit vier.

ʼn Groot dankie aan elk van ons getroue Maroela-lesers wat elke week ons Boeretroos-nuusbrief met entoesiasme ontvang, oopmaak, lees en met vriende deel. Julle is vir ons soos familie.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eliza-beth ·

Ek vier sommer gereeld die lewe met ‘n lekker hap sjokolade!

Winston ·

Susan
Ek hoop van harte dat daar sommer nog baie van hulle gaan wees. Geluk.

Johan Oosthuizen in Engeland. ·

Ja, as ons ophou vier gaan ons stadig dood. Om te vier hou ons dankbaar – maak ons dankbaar vir wat regtig saak maak en wat die groot LEWE die moeite werd maak. Dit maak die leed draagliker en die lief mooier. Selfs tot die dood toe en ek stem saam met die begrafnisondernemer in S.A. wat glo dat ‘n begrafnis die VIERING van LEWE moet wees.

Peet Schabort ·

Veels geluk Maroela met die prestasie(s).
My nuutste ‘prestasie’ was vanoggend om my rekenaar weer op lyn te kry na verlede Dinsdag se kennismaking met ‘n slinkse truuk telefonies om my bankbesonderhede in die hande te kry. Ek het betyds agtergekom wat aangaan maar té laat om my rekenaar te red.

Jare gelede as kannetjie is ook ek geleer om fiets te ry wat nie snaaks is maar alledaags. In my geval egter was my eerste rit in ‘n sanitêre laan/steeg op ‘n klein dorpie in die Oos-Transvaal. Dit op sigself is ook nie snaaks maar die twee turksvylanings aan weerskante het bygedra tot my eerste suksesvolle rit. Dit was ‘n groot fiets en ek het deur my maat net ‘n stoot gekry vir momentum en is verder teen die afdraande af. Natuurlik het ek op die fiets gebly want wie wil nou in ‘n turksvybos land. Die laning het egter opgehou waar ‘n dwarsstraat die laning kruis en eers daar het ek neergeslaan. Die suksesstorie is dat ek uit die tuksvylaning gebly het en seker sowat 40m op die fiets gebly het.

Armando ·

Susan, op ‘n ander trant: asseblief help my met ‘n manier om ou materiaal wat op Maroela Media verskyn het op te spoor. Ek is spesifiek op soek na die “doengids” vir sonpanele en alles wat daarmee saamgaan. ‘n E-possie sal doen, Baie dankie.

Dewald Alberts ·

Baie geluk, ek lees gereeld saam en vind Maroela aangenaam, iets wat my kommer in die algemene media is die sensasionele opskrifte, eerlikwaar soms voel ek Maroela neig soontoe maar wel ek verstaan die media bedryf goed, ek was self daarin so klompie jare gelede. As `n reël vier ek gereeld klein geleenthede, soos Maandae waar ek begin met my weeklikse 3 dag droëwors dieët, groete Dewald

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.