Redakteursbrief: Kankerbewusmaking, etiek en goeie bedoelings

Vriendinne van Gerdi McKenna van Centurion wat werklik hul hare vir kanker afgeskeer het Foto: Albert Bredenhann van Pixel Pro (Foto met sy vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Vriendinne van Gerdi McKenna van Centurion wat werklik hul hare vir kanker afgeskeer het Foto: Albert Bredenhann van Pixel Pro (Foto met sy vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Dit was ʼn week van groot nuuswaardighede. Oscar word gevonnis. Oorlogstoestelle uit die Tweede Wêreldoorlog ontplof in Pretoria. Malema stamp ʼn man in ʼn kitskoswinkel rond en word van aanranding aangekla.

Een van die eintlike nuusstories wat hierdie week so amper van die radar verdwyn het te midde van die “groot” nuus, is dié van twee Suid-Afrikaanse tydskrifte wat bekendes se hare digitaal verwyder het ter ondersteuning van kanker. Die feit dat die foto’s geredigeer is, is darem aangedui met aanhalingstekens op die regte plekke: “Bekendes ‘verloor’ hul hare”. Selfs die redakteursbrief verwys in ʼn blitsige sinnetjie daarna dat die bekendes darem nou nie régtig hulle hare afgeskeer het nie.

Om Maroela Media se koffiepotte is lang gesprekke hieroor gevoer. Nie die bekendes wat deelgeneem het óf die redaksies van die tydskrifte blyk te verstaan waarom die publiek so ontsteld is nie. Hulle reken hulle het dit met die beste bedoelings gedoen om kankerbewusmaking te skep, en hulle was boonop deursigtig oor wat hulle gedoen het. As mens se bedoelings goed is, is etiek skynbaar nie ʼn kwessie nie.

Terwyl ʼn mens nog kan verstaan dat die bekendes wat deelgeneem het, dit met ʼn positiewe gesindheid en goeie bedoelings gedoen het, beland die vraagteken oor die koppe van die besluitnemers by die betrokke tydskrifte. Dis immers mense wat weet dit gaan oor meer as goeie bedoelings.

Hierdie is maar een voorbeeld van talle etiese besluite waarvoor die media daagliks te staan kom. Ons publiseer dalk ʼn storie van ʼn grusame ongeluk, en het ʼn foto van ʼn slagoffer wat halflyf by die wrak uithang. Is dit eties om die foto te gebruik? Sê nou sy familie sien dit? Sê nou hulle weet nog nie eens hy is dood nie? In digitale media word ʼn storie immers soms gepubliseer binne minder as ʼn uur na die voorval plaasgevind het. En sê nou hulle weet hy is dood – is dit dan eties om die foto te gebruik? Sê nou ons besluit om Photoshop te gebruik om die liggaam uit die foto te verwyder – tree ons eties op? Ons beskerm immers ons lesers. Ons bedoelings is mos goed.

Dit raak ingewikkelder. Ons publiseer ʼn storie oor ʼn wrede plaasaanval. Die boer skiet twee van die rowers dood, neem ʼn foto van die bloedige toneel in sy gang en stuur dit vir ons. Wat maak ons daarmee? Die rowers lê gesig ondertoe en is onherkenbaar. Kan ons dié foto maar publiseer? Hulle is immers wrede booswigte wat nie respek verdien nie, en die kans is skraal dat ons lesers hulle sal herken. Buitendien weet ons ons lesers gaan “lekkerkry” as hulle sien hoe die booswigte hul moses teëgekom het. En die foto ís nuuswaardig. Lê die etiese besluit in of die persone herken kan word, of nie? Of in die wreedheid van die toneel? Of in die goeie bedoelings van die media-instansie?

Daar is baie definisies vir etiek, maar uiteindelik is dit maar een van daardie konsepte waarvoor jy jou pensgevoel moet vertrou. Mens weet sommer of ʼn ding eties is of nie. Die jammerte is dat ons in ʼn samelewing leef waar ons aanvoeling vir iets soos etiek dikwels al lelik verwater en verwronge is.

Maar foto’s van bekendes wat hul hare “afskeer” vir kanker? Nee wat. Mens se pens draai sommer dadelik.

(Gelukkig is daar soortgelyke stories wat mens régtig inspireer, oor dit regtig gebeur het. Soos dié video van ʼn pa wat saam met sy 11-jarige dogter kansel toe gestap het, omdat hy sterwend is aan kanker en weet hy sal dit nie kan doen die dag as sy trou nie. Of dié video oor Mario, ʼn dieretuinwerker in Nederland, wat deur die kameelperde van die dieretuin gegroet word op sy sterfbed. Of die video van Gerdi McKenna  van Pretoria, wie se vriendinne almal (regtig) hul hare afgeskeer het om vir Gerdi te ondersteun (klik hier om nog foto’s van die dag te sien.)

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nadia ·

Ek kan nie verstaan waarom die mense so gal braak oor die kanker voorblad nie…. daar is dan die “no make-up” selfies wat geneem is vir kanker – as jy my vra het meer mense wat dit gedoen het nie eens geweet waaroor dit gaan nie en dan was dit die een kompliment na die ander van vriende wat hul vertel hoe mooi hul eintlik is. Ek het dit dood eenvoudig nie gedoen nie want dit help niemand niks, skenk eerder geld. Die bekendes wat op die voorblad verkyn het doen dit wel vir goeie doel en weet hoekom hul dit doen – ek wil dan net vir mense wat kanker het vra: hoekom is die bekendes goed genoeg vir ‘n “cause” as hul gratis moet optree soos jy wil he hul moet by kanker tee of enige ander funksie, maar hul mag om die dood nie self besluit of hul ‘n artikel wil ondersteun nie???? ‘n Mens kan tog mos nie kies wat goed genoeg is vir jou as dit kom by liefdadigheid nie. En net voor iemand se ek weet nie waaroor Kanker gaan en hoe siek dit mense maak nie – ek het iemand baie na aan my verloor agv breinkanker en het van die eerste tot die laaste dag gesien wat dit aan hom gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.