Redakteursbrief: Ken jy ook ’n hedendaagse Spreuke 31-vrou?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Dis Vrouemaand. So mooi soos wat Spreuke 31 die lof van ʼn deugsame vrou besing, net soveel, vermoed ek, is vroue al ʼn bietjie moedeloos gestem deur die skynbaar eindelose deugde waaroor ʼn vrou, volgens dié bekende hoofstuk in die Bybel, behoort te beskik. So in my stilligheid het ek al gewonder of Spreuke 31 enigiets rep oor wat van dié bykans perfekte vrou se gesindheid verwag word, want sowaar, hoe veelsydig en bekwaam sy ook al blyk te wees, is ek seker daar kan nie bo-op alles nog van haar verwag word om vriendelik, saggeaard en geduldig ook nog te wees nie. Maar my hoop word beskaam. Daar staan dit, in vers 25 en 26: “Alles aan haar spreek van ʼn sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.”

As jy, soos ek, oorweldig voel oor die lys voorskrifte vir ʼn “knap vrou” wat in Spreuke 31 genoem word, kan jy jouself darem so ʼn bietjie troos in die wete dat dié voorskrifte bedoel was vir koning Lemuel van Massa, en dat dit van sy ma afkomstig was. Ek reken as ek ʼn lysie voorskrifte moes neerskryf wat my seun moet gebruik om sy trouvrou mee uit te soek, sou ek dit ook so moeilik as moontlik wou maak vir enige vrou om aan my standaarde te voldoen.

En dan kruis ʼn eietydse Spreuke 31-vrou my pad. Ek ken haar al vir 33 jaar. Sy is ʼn boervrou wat saam met haar man noodgedwonge ander planne moes maak toe dinge in die omgewing waar hulle woon, ʼn klompie jaar gelede begin skeefloop het. Saam het hulle troues en ander funksies op die plaas aangebied, en toe dit nie meer kon uitwerk nie as gevolg van mynbedrywighede wat die eens mooi plaasomgewing op sy kop gekeer het, het hulle die akkommodasie op die plaas omskep in langer termyn blyplek vir personeel van nabygeleë myne en ʼn kragstasie.

Sy is knap. Haar man steun op haar; saam pluk hulle die vrugte van haar werk.

Sy bring vir hom net voordeel: Drie seuns in hulle koker; plaaskinders wat die vreugde ken van bloots perdry, hanskalwers grootmaak en eiers uithaal.

Sy maak wol bymekaar en brei piepklein mussies vir kinders wat by ʼn staatshospitaal waar ʼn vriendin van haar werk, gebore word. Met elke rytjie van haar breiwerk spreek sy ʼn seën oor die onbekende baba se lewe uit.

Sy is soos die handelskepe, sy ry ver tot by ʼn behoorlike supermark om seker te maak haar gesin het alles wat hulle nodig het. Sy bak beskuit en koekies en verkoop dit. Mens kan die liefde daarin proe.

Sy staan op as dit nog nag is. As haar gaste en seuns wakker word, ruik die huis na eierbrood en koffie. Ook dié wat vir haar werk, kry hulle deel.

Sy oorweeg die waarde van elke geleentheid wat oor haar pad kom: Só het sy onlangs, ten spyte daarvan dat sy drie kinders het wat skielik tuis onderrig moet word en gaste wat versorg moet word, ʼn onderwyspos by ʼn nabygeleë skool aanvaar, sodat sy haar man kan help om in ʼn moeilike tyd die wa deur die drif te trek.

Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Terwyl ʼn baksel beskuit in die oond gaar word, stuur sy hul middelste seun om die hanskalf melk te gee en sit sy ʼn vars pot koffie vir haar man op.

Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy reik fakture uit, hou boek van die begroting en doen papierwerk asof sy daarvoor opgelei is.

Sy werk met verf en kwaste, haar hande bly besig agter die esel waar sy werk aan ʼn skildery van hul drie seuntjies wanneer sy ʼn blaaskans kry.

Sy het ʼn oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges. Elke nou en dan vind ʼn enkellopende of ʼn gesinnetjie vir ʼn tyd ʼn veilige heenkome by haar en haar man op die plaas, tot hulle weer op hulle voete kan kom en hul eie koers kan inslaan. Getrou, liefdevol versorg sy hulle, fisiek en geestelik.

Sy is gerus oor haar huisgesin as die ysige hoëveldwind waai: hulle dra almal warm klere. Oor die reusewinkelhaak in haar jongste se nuwe broek, ʼn ongelukkie wat gebeur het terwyl hy saam met sy pa buite iewers was, rol sy haar oë onopsigtelik: sy sal dit later met fyn stekies regmaak.

Alles aan haar spreek van ʼn sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie, want sy weet waar haar hulp vandaan kom. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.

Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Teen die kombuismuur is ʼn witbord met ʼn lysie van dinge wat gedoen moet kom; sy werk doelgerig en pligsgetrou daardeur.

Haar kinders prys haar; haar man bewonder haar. As sy vir haar seuns warmsjokolade maak op ʼn koue wintersoggend, voel hulle veilig en geborge. En langs haar kombuistafel kyk haar man hoe haar skraal hande flits terwyl sy aandete voorberei.

Uiterlike skoonheid hou nie, ʼn mooi voorkoms is nie alles nie – hoewel dié vriendin van my nou, 33 jaar later, mooier as ooit is, omdat wysheid en lewenservaring haar deel geword het.

As sy die Here dien, dán verdien sy om geprys te word. Teen haar sitkamermuur staan geskryf, die hele muur vol sodat ʼn mens dit nie kan miskyk nie: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here; gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ʼn hoopvolle toekoms te gee. (Jeremia 29:11)”

As jy ʼn hedendaagse Spreuke 31-vrou ken, soos ek, deel hierdie met haar. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

  • Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juls

Pink ek nou ‘n traan. Baie mooi geskryf. ‘n Aspirasie vir elke gelowige vrou.

Cheryl

Pragtige inspirasie gebaseer op die woord van God. So bly dat God nie van ons verwag om perfek te wees nie. Dankie Susan.

Vrijburger

Soos altyd, puik geskryf. En ja, ek ken ‘n paar vrouens aan wie hierdie aangestuur gaan word.

Strandloper

Age nee man…hoe laat jy nou n ou topie tjank se vroeg oggend…mooi ware diep woorde wat in elke vrou se gene is. Julle is ons mans en kinders se stukkie hemel op aarde.

Johan

Susan, so kosbaar soos altyd! Ek sit nou en verlang na my ma en my ousus, beide nie meer met ons nie en ek is so dankbaar vir my eie liewe vrou. Ook talle ander dames – almal kosbaarder as koraal lees ons iewers. Wees net versigtig as jy vir jou vrou sê sy moet Spreuke 31 lees … sê vir haar sy moet van vers tien af lees!