Redakteursbrief: Klop vrees vir 2020 reeds aan jou deur?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Liewe Maroela-leser

Dis 2020, en ons is almal ʼn bietjie bang.

Dis asof die dreigende gevare wat in 2019 voor ons deur kom staan het, nou hard klop. ʼn Paar van hulle het al ʼn stewige voet in die deur. Niks wat in 2019 sleg was, is beter nie – inteendeel.

Gister toe ons tuis kom, is ons seunskind skoonveld. Ons bly in ʼn veiligheidsbuurt en hy moes letterlik net vir tien minute, nadat sy rygeleentheid hom afgelaai het en voordat ons by die huis kom, die deure sluit en tuis bly. Natuurlik skrik ons ons yskoud. Die deure is gesluit, maar hy is nie hier nie.

My man ry in die buurt rond en soek terwyl ek almal wat ons in die buurt ken, bel om te hoor of hy dalk iewers kuier. Niks.

Ek onthou die twee vreemde mans wat die oggend op die sypaadjie voor ons huis rondgehang het. Ek het nog gewonder wat soek hulle hier; aangeneem hulle is seker maar iemand se kuiergaste, of iets. Gedink daaraan om die sekuriteit in kennis te stel, maar nou wil mens ook nie paranoïes wees nie.

Maar nou is my seun weg, en die paniek trek my keel toe.

Ná ʼn rukkie ontdek ons sy fiets is ook nie hier nie – dis ʼn goeie teken, maar ook een wat groot moeilikheid vir die mannetjie spel. Ons spoor hom ver onder in die buurt op, doodluiters aan ‘t fietsry saam met twee nuwe maats wat hy in die straat ontmoet het. Bitter ontsteld oor hoe kwaad ons is. Maar hy hét mos die deure gesluit, sê hy verontwaardig. Hy was net buite die deure wat gesluit is en nie binne nie.

Later, toe ons kalmer is, dink ek hoe anders dinge sou verloop het as ons gewoon het in ʼn land waar ʼn seun maar na skool sy fiets kon gryp en saam met maats kon gaan ry sonder om vir iemand te laat weet waar hy is.

Só maklik om te dink: Iewers anders sou dit beter gewees het.

Vanoggend blaai ek deur die nuus. Wêreldwyd is dinge aan die roer. Brande in Australië woed onverpoosd en vernietigend voort. In die Filippyne dreig ʼn vulkaan om uit te bars. Honderde gevalle van die Koronavirus is in China aangemeld. Die spanning tussen die VSA en die Midde-Ooste loop hoog. Talle mense is dood in die ergste storm wat Spanje en Frankryk in dekades getref het.

Ai, vlug-plek is daar nie regtig nie. Maar tóg. Dinge kan kwalik erger as hier in SA.

ʼn Verslag van Geopende Deure Internasionaal laat my regop sit. Volgens dié verslag, wat op 15 Januarie vanjaar bekend gestel is, ervaar altesaam 260 miljoen Christene op die lys se top-50-lande uiterste vervolging vir hul geloof. ʼn Verdere 50 miljoen Christene in nóg 23 lande wat nie deel is van die top-50-lande nie, ervaar ook hoë vlakke van vervolging. Op Paassondag verlede jaar is 250 mense, waarvan 45 kinders, in aanvalle op kerke en hotelle in Sri Lanka waar byeenkomste gehou is, doodgemaak, en meer as 500 is beseer. Twintig mense is by ʼn Katolieke kerk in Jolo in die Suidelike Filippyne in bomaanvalle doodgemaak. In Egipte is sewe Koptiese Christene doodgemaak toe hul bus deur terroriste aangeval is tydens ʼn besoek aan ʼn klooster; in Iran is 194 Christene in hegtenis geneem en verskeie huiskerke in nege stede geplunder.

As ons gesin Sondae kerk toe gaan, klim ons in die motor, ry soontoe en neem met oorgawe deel. Die grootste gevaar is die verkeerslig tussen ons huis en die kerk. As ons saans as gesin saam Bybel lees, wonder ons nie of die bure ons sien of hoor nie. As ek soms soggens vir my kinders in die motor voor die skool bid, doen ek dit nie agteraf nie. ʼn Hele rits versamel-Bybels staan oop en bloot op die boekrak in my kantoor. Ek hoef nie twee keer oor my of my gesin se veiligheid te wonder as ek ʼn teksvers op sosiale media deel nie.

Ek maak geen van die chaos wat ons tans in SA beleef, sonder meer af nie. Dis grusaam en verskriklik en vir 2020 lyk dit nie beter nie. Maar ek besef ook dat die woord “vryheid” soveel verskillende betekenisse inhou. Geloofsvryheid is waarskynlik een van die soorte vryhede waaraan ons so gewoond is dat ons nie eens besef dat ons dit het nie.

Hierdie stelling is sekerlik aanvegbaar, want “vervolging” kom ook in talle gedaantes. Ek weet. Maar ek weet ook dat ek hier, te midde van vrees en donkerte en dreigende krisisse, kan weet dat Hy my rots en my veilige skuilplek is; dat Hy my nie ʼn gees van vrees gegee het nie, maar van liefde en krag en selfbeheersing. Dat ek my geloof in Hom openlik kan bely, sonder vrees. Dit is my hoop vir 2020. As ek Hom nie het nie, het ek niks.

Mag 2020 vir jou ʼn goeie jaar wees, een van geloof en hoop en liefde, ten spyte van.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

PietS ·

Ek het jare gelede in ‘n land gebly waar ons vry kon rondloop en fiets ry, selfs in die nag. Dis weg en verby. Nostalgie is partykeer lekker en goed, maar dit kan nie die verlede terug bring nie.

Staal julle self. Dit gaan net erger word. Ons is in die pylvak. Die eindstreep is naby.

Melanie ·

Dankie PietS. Jy is heeltemal reg. Die eindstreep is beslis naby.

Dries du Toit ·

En wie moet ons bedank vir hierdie haglike situasie

Strandloper ·

Sjoe…ek kon nie vinnig genoeg lees in die begin nie en is so bly jou seunskind is ok! Ja soms vergeet mens van die res van die wereld se einas nê. Ek weet net as ons op Hom vertrou en Sy wee volg dan sal ons ok wees wat ook al in ons pad kom. Dankie vir die lekker lees.

HC ·

My ma is doof-blind en sy bly alleen by die huis terwyl ek by die werk is.. Al 9 jaar! Ek bid elke dag “Here, asb bewaar my ma, sy is alleen heeldag by die huis en wat sy iets hou sal besig, Here, asb seen en saam met my ma, veilig geseen” AMEN….. Groot hond en klein hond is elke dag by haar bly terwyl ek by die werk is.

René Joubert ·

Ek het ook my ‘skete’, maar as elkeen van ons ons ‘skete’ en wat ons met die land ervaar hier neerpen, sal niemand meer Maroela lees nie. Daar is ook nie ander plek vir terapie nie. Baie van ons byt maar op die onderlip en hoop sonopkoms die volgende dag bring nuwe hoop. So gaan ons voor slaaptyd daardie aand weer op die knieë en wéér kom die son die volgende oggend soos normaalweg op.

Feite ·

Mense wat op hulle eie kragte staatmaak raak uiteindelik uitgeput van vrees. Hoekom dink julle wil die lafhartige ANC/eff die Afrikaner verarm, onderdruk en vernietig? Omrede die ANC/eff wat hulle kragte put uit die bevrydingsteologie (god van wraak en geweld) en kommunistiese ideologiee, die Afrikaner wie sy krag van die lewende God van Liefde kry, vrees. Dit is hoe dit was, is en sal wees. Ek moet se dat as gelowige Afrikaner ek die ANC/eff nie kan kwalik neem dat die Afrikaner en die Lewende God steeds vrees by die ANC/eff inboesem nie. Ek sou ook bang gewees het as ek die ANC/eff was!

HMB ·

Almal sien net negatiewe raak, almal wil net negatiewe sien, seke waarom ons nuus lees…
Negatiewe houding oor 2020, die land di wereld….
Daar is baie meer posetief in hierdie wereld as wat mense dink, begin dit raaksien, begin dit leef WEES POSETIEF en die negatiewe siening en lewe sal verbeter…
God is groot, n God van genade, voorspoed, liefde die enigste, maar hys beslus ni ons slaaf ni…
Tyd ons ophou om te kla en net te vra, moet begin self ook doen en gee, dinge gan ni in ons skote val…
Ons is en was n sterk nasie, ons kan weer opstan en vorentoe!!!!
Posetiewe gedagtes en lewe vi almal in 2020

Johann Basson ·

Dankie Susan.

Seker ten minste 80% Suid-Afrikaners glo aan die Goue Reël van Naasteliefde: “Doen aan andere wat jy verwag hulle aan jou moet doen”. Wat doen hierdie Suid-Afrikaners afsonderlik en gesamentlik om ware geregtigheid en ware naasteliefde in SA te bevorder? Maak hulle seker dat elke kind in SA relevante kwaliteit onderwys en opleiding kry? Oefen hulle druk op die regering uit om uitmuntende onderwys te verseker?

Watse toekomsmoontlikhede bied ons as Suid-Afrikaners eerbaar aan ons nageslagte? Word ons gesien en gehoor om op te staan en te doen waarin ons glo? Die boom word immers aan sy vrugte geken. Watse en hoeveel lewensvrugte dra ons? Wie se handelsmerk vertoon ons? Elkeen van ons sal eendag aan sy Skepper rekenskap moet gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.