Redakteursbrief: Koffie en beskuit op Arendskuil, distrik Maroela-fontein

'n Paar spanlede van Maroela Media by die ateljee saam met die akteurs en klankingenieurs van Maroela Media se radiodrama, Seweweekspoort (Foto: Maroela Media)

‘n Paar spanlede van Maroela Media by die ateljee saam met die akteurs en klankingenieurs van Maroela Media se radiodrama, Seweweekspoort (Foto: Maroela Media)

Maroela Media kuier vroeër hierdie week by die Woltemade-familie van Seweweekspoort in die Groot Swartberg-natuurreservaat, op die afgeleë plaas Arendskuil. As jy op Laingsburg Oudtshoorn se kant toe draai en die Karoo se onherbergsaamheid inry tot geen netwerk meer vir jou selfoonsein gee nie, kom jy af op die dorpie Maroela-fontein. So ʼn ent buite die dorp is Arendskuil, die familieplaas van die trotse Woltemade-familie.

Ons is die oggend vroeg hier uit Centurion weg om betyds te wees vir koffie en beskuit op die plaas. Tydens ons dag lange kuiertjie vra Sewes, ʼn kuiergas op die plaas wie se gladde sjarme jou hare laat rys, ʼn bietjie té belangstellend uit na Beneske, die boer se vrou, se tamatie-allergie. Rocco het op die dorp gaan vlerksleep terwyl Frans, die plaaseienaar, ʼn vuurtjie aansteek om te braai.

Laatmiddag was ons terug op kantoor ná ons kuier in die geheimsinnige Seweweekspoort met al sy intriges.

As jy wonder: Seweweekspoort is Maroela Media se radiovervolgverhaal van 13 weke wat op 30 gemeenskapsradiostasies landswyd uitgesaai word. Te danke aan ʼn borg met ʼn hart vir Afrikaans en Afrikaanse radio kan ons minstens een keer ʼn jaar só ʼn radiovervolgverhaal vervaardig. Ons verskaf dit gratis aan dié radiostasies dwarsoor die land en in Namibië. Seweweekspoort word vervaardig deur die ervare regisseur en vervaardiger Bettie Kemp. Dit beteken dié stasies kan met trots ʼn vervolgverhaal van hoogstaande gehalte uitsaai, al het hulle nie die begroting om dit self te vervaardig nie.

Die ateljee waar Seweweekspoort opgevoer word, is sommer hier anderkant in Roodepoort. By André du Toit van Wow Produksies se ateljee agter in sy erf kom akteurs soos Lochner de Kock, Eloise Kupido, Magda van Biljon en Duncan Johnson elke paar weke bymekaar om die volgende klompie episodes op te neem. In die semi-klankdigte ateljee (wanneer Sulette Thompson, alias Esmerelda Woltemade, met haar Harley Davidson buite stop, is die ateljee allermins klankdig) speel die intriges van die Arendskuil-bewoners en die Maroela-fontein-gemeenskap af. Terwyl Frans en Beneske Woltemade (gespeel deur Richard van der Westhuizen en Karen Wessels) ʼn liefdevolle soentjie in die kombuis steel, klingel Antowan Nothling koppies en pierings teen mekaar vir byklanke. Van agter dubbele glas doen Bettie Kemp die dirigeerwerk en die akteurs verloor haar nooit uit die oog nie: hiér ʼn hand op vir ʼn bietjie meer emosie; dáár ʼn afwaartse handgebaar sodat Beneske onthou sy moet fluister, nie praat nie.

As mens jou oë toemaak, gebeur die storie voor jou: jy ruik die vuurtjie waar die braaivleis netnou gaan sis; sien die bruin kranse wat rondom die plaas uittroon; voel die son wat jou loom warm bak voor dit vroegaand al agter die berg verdwyn.

Projekte soos hierdie laat my hart swel van trots, om meer as een rede. Dis natuurlik lekker om te kan sê dat Maroela Media een van die partye is wat dit moontlik maak dat radiostasies wat dit dalk nie andersins sou kon bekostig nie, ʼn produksie soos hierdie kan uitsaai. Maar ek sien ook die planne wat mense kan maak, en dít maak my trots. Toe die SAUK se drama-ateljees vir Bettie Kemp moeilik bekombaar begin raak, het sy gesoek na ʼn ander plek om op te neem. André se ateljees is veel kleiner as die SAUK sʼn en dalk nie so indrukwekkend nie, maar met tyd, toewyding en baie liefde het hy dit ontwikkel in ʼn ateljee waar ons ʼn radiodrama van presies dieselfde gehalte kan opneem. Dit neem ʼn bietjie langer en is ʼn bietjie ingewikkelder, maar dit word gedóén. Die akteurs is nie bang vir werk nie. Hulle werk amper foutloos; dis selde nodig om iets twee keer op te neem. Hulle konsentreer, gee hulle bes, werk saam, bly vriendelik al is hulle stemme naderhand hees.

Dit laat my dink aan ʼn radio-onderhoud met die Britse aktrise Charlotte Salt, wat die rol van die Engelse Katherine Sterndale in die Afrikaanse film Modder en Bloed speel, wat ek onlangs op ʼn plaaslike radiostasie gehoor het. Op ʼn vraag van die omroeper oor Charlotte se ervaring om saam met ʼn Suid-Afrikaanse filmspan te werk, het sy gesê sy is oorbluf met hoe vinnig en hoe hard die mense werk. Die fliek is, vertel sy, kant en klaar geskiet in ʼn fraksie van die tyd wat dit gewoonlik neem wanneer sy met ʼn nie-Suid-Afrikaanse filmspan werk. En tog staan die gehalte van die produksie nie ʼn tree terug nie.

Dis wie ons is. Ons is nie bang vir hard werk nie, en as dinge teen ons draai, maak ons ʼn plan.

Luister gerus Seweweekspoort op jou plaaslike gemeenskapsradiostasie – kyk hier na ʼn lys van die stasies wat dit uitsaai en hul uitsaaitye. Anders kan jy elke dag se episode sommer net hier op Maroela Media kom luister, en jy kan inhaal op die eerste klompie episodes wat jy reeds gemis het. Die beste van als? Dis gratis. Want dis wie óns is.

Lekker luister!

Groetnis, vanuit Maroela-fontein
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.