Redakteursbrief: Kom huis toe dié Kersfees

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Ek het ʼn vriendin wat in Felsted, Engeland woon.

Hulle bly op ʼn pragtige plaas waar haar kinders die natuur kan geniet. Die twee slimkoppies is in ʼn vooraanstaande privaatskool met ʼn eeue-oue geskiedenis waar hulle in die skool se eie woud die natuur kan beleef, en perdry as ʼn skoolvak neem. Die kinders is in Engeland gebore. Dit was nie die plan nie: my vriendin het ná universiteit ʼn jaar in Londen gaan werk en haar trouman (ook ʼn Suid-Afrikaner) daar ontmoet. ʼn Jaar het twee jaar geword; eie aan haar persoonlikheid het sy die een nuwe inisiatief na die ander aangepak, tot hul wortels so vasgekoek was aan Britse bodem dat loskom onmoontlik was.

Hulle kom kuier so een keer ʼn jaar in Suid-Afrika. Dan word haar 8-jarige seuntjie ʼn nuwe kind, vertel sy. Die stil Engelse seuntjie word ʼn Afrikaanse babbelbek. Hy hardloop kaalvoet buite rond, swem in yskoue buitelugswembaddens en vang paddas en sprinkane. En as hy terug is in Engeland, skryf hy skoolopstelle oor “bugs”, “sunshine” en “snails”.

Sy huis is daar, maar sy tuiste is hier.

In ons “Oorsee? Kom huis toe met Cell C”-kompetisie lees ons baie stories soos dié een. Mense wat inskryf om hul geliefdes in die vreemde vir Kersfees huis toe te bring, vertel hartverskeurende stories. Ek maak nie meer die foto’s, wat saam met die inskrywings ingedien word, oop nie, want elke tweede foto laat my tjank. ʼn Oupa wat vertel dat hy sy kinders twee jaar laas gesien het, en begeer om sy pasgebore kleindogter se asempie warm in sy nek te voel: die foto is van ʼn pienk bondeltjie in ʼn warm kombersie toegewoel. ʼn Ma wat vertel dat sy nie haar seun se troue in die buiteland kon bywoon nie: ʼn foto van die laggende bruidspaar met ʼn vreemde land se landskap in die agtergrond. ʼn Vrou wat vertel dat sy haar broer elf jaar laas ʼn drukkie kon gee: ʼn foto van dié twee as kinders, hand om die lyf op ʼn groen grasperk voor ʼn voorstedelike huis.

Toe ons, saam met 28 gemeenskapsradiostasies landswyd, ʼn week of wat gelede die “Oorsee? Kom huis toe met Cell C”-kompetisie afgeskop het, het ons nooit kon dink dat ons hierdie aar gaan raak boor nie.

Mense verlang, bitterlik. Soos een ma met ʼn seun in Amerika op ons video oor die veldtog sê: “Soms wens ek ek kan woorde kry waarmee ek kan sê hoe diep my verlange is. Dit gaan verby woorde.”

Die kompetisie is nou maar ʼn week of wat aan die gang, maar die inskrywings stroom in. Elke keer wat ek ʼn nuwe inskrywing in my e-posbus sien, weet ek dit verteenwoordig ʼn nuwe storie, ʼn nuwe stuk verlange, en ʼn nuwe stukkie hoop wat geskep word wat moontlik gaan beskaam, want ons kan uiteindelik net een wenner kies.

Maar klaar met die hartseer: Wat vir my mooi is van elke inskrywing, sonder uitsondering, is dat daar geen verwyt is nie. Mense hierdie kant wat hul geliefdes oorsee mis, wens vir hulle net die mooiste toe. Hulle is nie kwaad nie; hulle verstaan.

As mens mooi daaroor dink, is dit nie moeilik om te verstaan hoekom mense besluit om hul tassies te pak en tydelik of permanent in die buiteland groener weivelde te gaan soek nie. Die redes om weg te gaan, is net so emosioneel en terselfdertyd net so nugter soos die redes om te bly. Enige kant toe kan ʼn mens ʼn baie sterk, goed beredeneerde argument uitmaak.

Ons sal seker eendag die generasie wees wat sal onthou van die dekade of drie toe families in ons land deur emigrasie verskeur is, as gevolg van omstandighede buite hulle beheer. Net soos drie generasies voor ons nog eerstehands kon vertel van ʼn oorlog met krygsgevangene- en konsentrasiekampe, wat families op ʼn ander manier verskeur het. Of twee generasies voor húlle, wat sou kon vertel van ʼn Groot Trek wat families verdeel en verskeur het. Ons kinders sal dalk nog die keuse moet maak om te gaan of te bly. Ná hulle sal ʼn volgende generasie kan vertel dat die besluit wat deur hul ouers geneem is, hul lewe direk geraak het, goed of sleg. En die generasie daarna sal op hoorsê vertel. Nog een generasie verder, en dié stories is nie meer mense se persoonlike stories nie, maar feite en statistiek in geskiedenisboeke, ás ons so gelukkig is dat dit iewers opgeteken word.

Ek sukkel soms om my kop te kry om wat besig is om met ons te gebeur; met ons en ons geliefdes iewers in ander lande.

Maar terwyl my kop af en toe daarmee worstel, weet my hart hierdie “Kom huis toe”-veldtog van ons gaan vir een familie oneindige vreugde bring. Iewers in ons mooie sonskynland gaan iemand wat verlang, hierdie Kersfees hul geliefdes styf teen hulle kan vasdruk. Hulle gaan saam Afrikaanse Kersliedere kan sing, geskenke kan uitruil, waatlemoen kan eet en aan ʼn Karoo-lamsboud kan smul. Hulle gaan mekaar kan vashou, en vir mekaar kan kyk sonder ʼn rekenaarskerm tussenin; net ʼn armlengte van mekaar af weg.

Dit maak my hart bly om daaroor te dink.

Kersfees kom, Kersfees kom
Gee aan God die eer
Skenk ons ʼn helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Flip Sadler ·

Dankie Susan vir die mooi opsomming, ons sit ook in dieselfde bootjie en weet hoe ander voel. Ai !!!

Nita ·

Almal wat familie iewers in die buiteland het, gaan op julle kniee en se dankie dat hulle n heenkome buite hierdie bose land gevind. Moet hulle nooit laat skuldig voel omdat hulle n beter tuiste gevind het nie.

Nico ·

Ons is vandag nog steeds baie bevoorreg en kan maklik komunikeer met familie op ander kontinente. Ek sê baie keer vir my vrou ons voorouers wat van Europa afgekom het kon amper geen betekenisvolle kontak met hulle familie hou nie. ‘n Siklus van briefwisseling was ten minste 2jaar, gewoonlik meer. Daar was amper nooit ‘n geleentheid om terug te gaan nie. Net die top bestuur van die Kolonie het daardie kans gehad. Hulle was baie dapper.

Lance ·

Minstens is hulle baie veiliger daar want in SA word 50 mense per dag vermoor en ons praat nie eers van die hoe verkragtings syfer. Daar word hulle belasting aangewend vir dienste en nie gesteel nie. Daar is die medies verniet …so kom kuier gerus maar gaan terug na beskawing waar daar nog respek is vir ander se lewens en goed want in SA word daar nou klippe gegooi en gebrand

Engela de Klerk ·

Ons woon al 22 jaar in Kanada en ook op ‘n idilliese plasie en verruil hierdie lewe (beste besluit ooit) vir niks. Pas tans ons twee kleinkinders op in Amerika en hulle speel kaalvoet en sorgvry en hoewel hulle Engels groot word, weet hulle wie hul Oupa en Ouma-La is. My seun en skoondogter gaan stap in die woude en ry fiets met hul twee dogtertjies en hulle is veilig. Ek vra nie vir enigiets meer as net dit nie. Mens blom mos maar, daar waar jy geplant is!

Siener van Melbourne ·

Engela, lekker om jou storie te lees. Ek is al 5 jaar in Australië en het sopas burgerskap hier gekry. Veruil dit vir niks. Hier is ook maar misdaad maar dit word aangespreek. Vir die eerste keer in 50 jaar bly ek in n huis sonder heinings en diefwering. Ek stap die buurt vol en ry lekker stad toe met die trein. Groete daar en vrede.

Piet Snot ·

Kinders kan selfs in die buiteland Afrikaans grootword. My snuiters gaan Engels skool, maar hulle bly Afrikaanse boere.

Hendrik ·

Vir ons hier in die buiteland (St Louis) is dit ook maar swaar. Ons gaan minstens een maal per jaar terug na SA, maar hierdie Kersfees is dit nie vir ons beskore nie. Die verlange is maar groot as jy vêr van jou mense, jou taal en jou land is. En dis swaar om jou ouers te sien oud word en sterf terwyl jy skuldig voel omdat jy nie in SA is om te help nie. Sterkte met julle projek – julle gaan iemand baie bly maak! Ons sal weer jagtyd in Suid-Afrika wees :-)

Josef du Toit ·

As ‘n uitgeweke Boere-Afrikaner (wat erg verlang!) kan ek nie die aanwesigheid van ‘n skynbare belangekonflik by my kommentaar ontken nie, maar wou darem net dankie se^ aan Maroela Media en aan sy Uitvoerende Hoof Susan Lombaard vir sulke innige simpatieke begrip vir die heimwee van ons verstrooides.
Groete uit Brussel

Mambanza ·

n Kersfees agter staalhekke en lemmetjies draad? Nee-wat! Dan eerder n Kiwi Kersfees in vrede met goeie vriende en die familie op Skype.

Johann ·

Die wêreld het met hedendagse tegnologie ongelooflik klein geraak. Jy hoef nie uit jou huis te gaan en in ‘n vliegtuig klim om te sien hoe dit in Ysland of Zimbabwe gaan nie, ook nie wat Donald Trump aanvang nie.

Google maps is dan ook in Die Krugerwildtuin!

Selfs die buitenste ruimte is ‘n kopskuif ver.

De Villiers Hauptfleisch ·

Verspreid lê die Afrikaner nou wêreldwyd
Ook het gekom sy tyd
Kinders het hul ouers en die land verlaat
En wat het dit hulle gebaat
Was dit selfsugtig of was hul maar net braaf
Of was hulle net bang
dat Zuma en sy trawante hulle sal vang?

Kosie ·

Ons is soos alle Afrikaners kinders van immigrante. Dit is in ons bloed om nuwe tuislande te bewoon en te geniet.
Al die treurmares en krokodiltrane is onnodig. Jou hart is waar jou huis is.

Sann ·

Susan, so mooi geskryf ek huil sommer en ek het (darem nog) meeste familie hier om my. Ek dink die grootste prys vir hierdie kompetisie, is dat ons mense kan sien ons gee om!

Merkur ·

Heel moontlik in die nie te verre toekoms gaan Suid-Afrika baie veiliger as die USA en Europa wees. En veiligheid is nie altyd die rede vir emigrasie nie.

Dankie vir die Artikel.

Merkur ·

Hiermee will ek geensins sê dat veiligheid nie ’n belangrike rede vir emigrasie is nie. Veiligheid is een van die mees verstaanbare redes vir emigrasie en ek respekteer dit.

Henry ·

Waarom al die geween en gekners van tanne?
Soos ons voorvaders wat vanaf ‘n verskeidenheid lande hier te lande gekom het, sal talle van ons nasate weer na nuwe en beter weivelde verhuis. Hierdie is laaaankal nie meer ‘n veilige en geborge tuiste nie.
Ons wat agter bly moet gewoon die beste van ‘n bitter slegte saak maak.
Waarom?
Omdat ons te oud is om in nuwe oorde aanvaar te word, omdat ons nie genoeg geld het om aan die vereistes van nuwe tuistes te voldoen nie, omdat ons nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie, ens ens ens.
Liv wif iet!!!
Kanse is natuurlik weer goed soos die verlede reeds bewys het, dat hierdie plakkerasie weer deur die skryfster van hierdie artikel verwyder sal word.
Snik.
;-)))

Deon ·

Sal wat gee om een Kersfees saam my bejaarde ouers te kan deurbring. Dit kos eenvoudig net te veel om oor Kersfees/Nuwe Jaar te vlieg Suid Afrika toe hier uit Sydney. Ek bel elke week. My ouers het nie a laptop om te kan Skype nie. Hulle het dan net ‘n selfoon wat kan kan bel en sms. Geen fotos of video nie. Ons is nou al 16 jaar weg. Hoe ouer ek word, wens ek ek was daar vir my bejaarde ouers. Net om te verseker dit gaan so goed soos Moeder altyd sê. Hulle verwyt ons nie, hulle het aangemoedig om te gaan. Ons was toe nog jonk, die wêreld aan ons voete. Partykeer wonder ek…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.