Redakteursbrief: Kom maak jou tuis in ons splinternuwe sitkamer

’n Skermskoot van Maroela Media se nuwe sitkamer.

As kind het ek ʼn maatjie gehad saam met wie ek gereeld vakansies see toe gegaan het. Haar ma, tannie Corrie, en dié se ma, sussies, niggies en susterskinders het so twee weke vooraf kom help koekies bak in die aanloop tot die vakansie. Dan het die plaaskombuis gegons van tannies wat gesels, die ketel wat elke nou en dan borrel, die gesing van die deegmeuletjie se slinger wat lang stringe koffie- en vlakoekiedeeg uitspoeg en Radio Suid-Afrika wat agtergrondmusiek verskaf. My en Sonja se werk was om die vulsel op die koekies te smeer, om kwaliteitbeheer toe te pas en om die afgekoelde koekies in blikke te pak.

By die see het ek en sy en haar boetie (en soms ʼn oom, nefie of niggie – hang af wie dié jaar saamgekom het) elke oggend vroeg-vroeg gaan swem, nog lank voor die lewensredder se wekker afgegaan het. Die water was ysig, maar ons het baljaar. ʼn Uur of wat later het ons half verkluim, goed gesout en rasend honger teruggestap huis toe, waar ʼn groot blik van die tuisgebakte koekies en koffie op die stoep op ons gewag het. Ek weet nie presies hoe dit gewerk het nie, maar die blik het nooit leeg geword nie.

Dit was wonderlike tye.

Daar is niks so lekker soos om voor te berei vir iets waarna jy uitsien nie – of dit nou die spaarkamer se beddegoed is wat kraakvars oorgetrek word vir Oupa en Ouma wat vir Kersfees kom kuier, of die tafel wat versigtig gedek word vir vriende wat jy lank laas gesien het, of ʼn laag pienk verf in die nuwe babakamer vir die kleinding wat eersdaags haar opwagting maak. Die kinders sit Oupa se gunsteling Switserse sjokolade aan sy kant van die bed, en vir Ouma is daar ʼn botteltjie teeblare, “want dis hoe ʼn dame tee drink”. Gaste se gunsteling geregte word met groot bedagsaamheid deel van die Kersfees-spyskaart gemaak.

Kyk, dan kuier mens darem lekker.

Ons het die afgelope jaar fyn geluister wat “onse mense” hier op Maroela Media vir ons sê, sodat ons ook weet wie drink as ‘t ware hoeveel lepeltjies suiker, en wie hou van warm en koue melk saam met hulle boeretroos. Dis mos ʼn kuierplek, dié, so ons moet sorg dat jy tuis voel. Ons het gehoor dat jy lank al nie meer sê jy lees Maroela Media omdat dit gratis is nie, maar dat jy dit lees omdat jy die nuus kan vertrou; omdat dit gebalanseerd is en die volle prentjie gee. Ons het ook gehoor dat jy sê jy kuier lekker saam met ander Afrikaanssprekendes en dat jy dankbaar is om deel van die Afrikaanse gemeenskap op Maroela te wees.

Daarom het ons besluit om hier aan die einde van die jaar, as ʼn nuwe laag verf so goed is soos ʼn vakansie, die meubels ʼn bietjie rond te skuif en die goetertjies in die dreskas af te stof voor die kinders en kleinkinders voor die stoeptrappies stop. En nou is ons reg vir jou.

Jy sal sien die belangrikste nuwe ding by jou gunsteling kuierplek hier op Maroela Media is die lekker klomp stoele wat ons nader gesleep het. Hier is sitplek vir elkeen in die familie. In die sitkamer staan die gemaklike leerstoel gereed vir die oggendkoffie saam met die oggendnuus. In die studeerkamer is ons ernstiger; hier word gedebatteer en diep gedink – daarom twee diep dink-stoele. In die kombuis kan jy jou neerplak op ʼn kombuisstoel en vir ouma help groenboontjies kerf. In die Gedoriewaar-afdeling waar ons vreemde, wonderlike stories vertel, is jou nuwe saamkuier-stoel net so vreemd en wonderlik. In Karmenaadjies, wat onder meer sorg vir jou geestelike leesstof vir die dag, spog jou stoel met ʼn tong-in-die-kies-hekeloortreksel waar jy lekker lank kan sit. Blaai gerus deur al die afdelings op Maroela Media (gebruik die hoofkieslys heel bo) en laat weet ons wat jy van elke afdeling se nuwe stoel dink. Kom maak jou tuis en kom kuier saam.

Maar met dieselfde nuwe ontwerp wil ons vir jou sê wat jy vir ons sê: Maroela Media is gebalanseerd en betroubaar. As jy wonder of iets waar is, kan jy maar by ons kom kyk. Dis ons werk om seker te maak die feite wat ons in ons nuusberigte publiseer, is korrek. Ons probeer die volle prentjie gee sodat jy nie op ander plekke hoef te gaan soek vir die inligting wat selektief weggelaat is nie. Jy kan veilig voel by ons – ons het ons huiswerk gedoen. So as die lewe ʼn bietjie te veel word vir jou, kom kry jou sit in Oupa en Ouma se sitkamer; haal vir jou ʼn boek van die rak af, verwonder jou aan die familieportrette teen die muur en drink die oues van dae se wysheid in.

Terselfdertyd het niks van dit wat jy so goed ken op Maroela Media, verander nie. Alles is nog steeds op dieselfde plekke. Ouma bêre nog steeds jou gunsteling klapperkoekies in die koekblik met die hondjie op en oupa sorg nog steeds dat daar gekerfde biltong in die bakkie langs die broodblik is. Dit lyk net anders, maar dit is nie regtig anders nie. Dis nog steeds jou kuierplek.

Die kersie op die koek is die splinternuwe Maroela-muurpapier wat ons kreatiewe grafiese ontwerper vir ons ontwerp het. Kyk mooi op elke artikel hoe dié muurpapier in die agtergrond lyk. Mapstieks, dis nou oulik.

O, en as jy dit gemis het: Die Maroela-handelsmerk is ook ʼn klein bietjie vernuwe en verander. (Dis nou natuurlik die voordeur wat afgeskuur en vernis is.) Kyk mooi na die boom-embleem: Die Maroela-boom se takke is gesnoei om dit ʼn skoner, eenvoudiger voorkoms te gee, en boonop dra dié boom nou vruggies. Dis darem al ses jaar later, en enige boom wat sy sout werd is, behoort teen hierdie tyd te begin vrug dra. Ons hoop jy pluk ook van dié vrugte – hierdie boom dra in al vier seisoene.

Ons hoop jy hou van hoe ons nou lyk. Ons is baie trots en opgewonde, en ons hoop jy voel dieselfde. Laat weet ons wat jy dink by [email protected].

Kom maak jou tuis en kuier lekker saam met ons. Onthou – Maroela Media is jou gebalanseerde, betroubare bron van nuus.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CG ·

Baie spoggerig, Susan. Baie geluk met wat julle regkry by Maroela Media! Hoop net nie julle word nog kwaaier met ons wat soms met ons moddervoete daar ingestap kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.