Beste Maroela-leser
In die afgelope twee weke is die meeste van ons se wêreld op sy kop gekeer. Myne ook. Die uitsig uit my kantoorvenster, van waar ek die bedrywigheid in die parkeerterrein en gaste wat kom en gaan kon sien, is vervang met ʼn uitsig oor ons tuin, met die geur van die verbleikblombos wat as ʼn bonus hier reg voor die venster ʼn laaste keer voor die winter blom. In plaas van die geluid van kollegas wat vroeg soggens groet en telefone wat lui, hoor ek nou die stilte, en selfs ʼn troppie tarentale wat in ʼn oop erf ʼn hele entjie van hier af broei en deesdae astrant die stil strate patrolleer.
Twee weke gelede nog het Maroela se redaksie mekaar gewaarsku dat Covid-19-nuus Maroela nie mag oorneem nie en dat ons steeds “gewone nuus” ook moet publiseer. Binne twee weke het alles verander: Die Covid-19-pandemie wat oor die wêreld woed, ís skielik die “gewone nuus” en die konteks waarteen ander nuus aangebied word. Selfs goeie nuus vind grootliks ʼn tuiste binne die raamwerk van Covid-19: Só stimuleer jy jou baba tuis; Só kan jy nou virtueel ons erfenisterreine besoek; Só dokter jy jouself tuis vir ligte Covid-19-simptome.
Gister hou ek ʼn digitale vergadering met ʼn paar kollegas. My opvangs in die huis sukkel, en ek skuif vinnig stoep toe sodat ons mekaar beter kan sien en hoor. Ek kan nie help om te lag nie: Hier sit ek en hou ʼn formele vergadering met kollegas met my foon wat op ʼn verfblik staangemaak is en gestut is teen ʼn rolletjie toiletpapier.
Ek weet ek en die res van die Maroela-span is bevoorreg om te kan werk vir ʼn digitale maatskappy wat eenvoudig aanhou funksioneer. Daar is baie uitdagings, en baie planne moes vinnig gemaak word om seker te maak almal kan voluit tuis werk. Maar die punt is, ons deure kan oopbly. Ek is dankbaar dat ons nie afhanklik is van ʼn drukkery en verspreidingspunte nie; dankbaar dat ons lank al mense in staat gestel het om te kan werk waar hulle ook al is; dankbaar dat veerkragtigheid, aanpasbaarheid en kreatiwiteit nog altyd deel was van die Maroela-span se DNA.
Daarom wil ek jou in hierdie moeilike tyd verseker dat die span van Maroela Media alles in ons vermoë doen om seker te maak dat ons jou ingelig hou. Hoewel ons werksomstandighede verander het, het ons doelpale nie verander nie. Ons verantwoordelikheid is om jou, ons leser, van betroubare, gebalanseerde inligting te voorsien, wat jou in staat stel om ingeligte besluite te neem.
Die see van inligting te midde van die Covid-19-storm is oorweldigend. Fopnuus gedy en samesweringsteorieë vlieg op sosiale media rond. In dié see wil Maroela Media vir jou ʼn ligtoring wees. Ons onderneming is om deeglik ondersoek in te stel voor ons enigiets publiseer; om seker te maak van feite; om weg te bly van fopnuus; om ʼn gebalanseerde oorsig te gee oor alles wat nodig is om te weet. En ook, verál, om ook vir jou die silwer randjies rondom die donderwolke te gaan soek sodat jy kan moed hou. Ons werk harder as ooit.
Ons statistiek wys reeds dat ons leserstal van Februarie na Maart met 27% gegroei het, en die aantal stories wat gelees is met 37%. Die aantal gebruikers van Maroela Media se kindervriendelike nuus-app het gestyg met 20% (lees hier hoe om dit gratis af te laai as dit nog nie op jou foon is nie). Ook die aantal mense wat Maroela Media finansieel ondersteun, lyk positief, ten spyte daarvan dat ons weet mense se finansies druk op die oomblik. Ons is dankbaar dat ons vir Maroela se lesers en sommer ʼn klompie nuwe lesers in hierdie tyd ʼn betroubare bron van inligting kan wees.
Terwyl jy saamkuier: Dis dalk sommer nou tyd om jou intrek te kom neem in Maroela-fontein, Maroela Media se digitale dorpie. Dié kuierplek is korona-vry en geen isolasieriglyne geld nie – jy kan kuier met wie jy wil, wanneer jy wil, vir so lank as wat jy wil. As jy ʼn Maroela-fonteiner is, geniet jy allerlei voordele wat ander Maroela-lesers nie geniet nie, soos dat jy kan kommentaar lewer, met emotikone kan aandui hoe jy oor stories en oor ander lesers se kommentaar voel, en oulike e-poskaarte vir die mense om jou kan stuur. Jy het mos nou tyd – pak sommer nou jou digitale koffers en kom neem jou intrek in Maroela-fontein sodat jy nóg lekkerder saam met ons kan kuier.
Mag jy veilig en gelukkig wees, omring met jou geliefdes, daar waar jy is.
Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media
- Lees hier alle Covid-19-verwante nuus en artikels wat op Maroela Media gepubliseer word.
- Klik hier om in te teken vir ʼn nuusbrief wat elke aand aan jou gestuur sal word met ʼn opsomming van Covid-19-verwante artikels wat deur die loop van die dag op Maroela Media gepubliseer is.
Baie dankie vir julle harde onbaatsugtige werk om vir die lesers die nuus te bring wat ek vreeslik sal waardeer is wanneer die ware feite eendag gegee sal word soos dit is sonder vrees en die alewige politiese korrektheid ek verstaan dit nie en hoop eendag in die nabye toekoms sal ons die nuus kan kry soos dit werklik is.
ek hoop en glo ook so Michael 1. hoop ek is nie te naïef nie.
Die Robert-Koch Instituut in Berlyn wil geen autopsies aan mense wat aan „Covid-19“ gesterf het deurvoer nie.
(Nie aanhalingstekens nie , maar glo aan Covid-19 gesterf het.)
Baie dankie jul Pas jul mooi op ons gebede met elkeen van jul.