Redakteursbrief: Maroela Media se kommentaar-perd bly opgesaal

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Die media en sosiale media is die afgelope week aan ‘t gons oor News24 se besluit om die kommentaarfunksie op hul webwerf te sluit. Volgens Andrew Trench, redakteur van News24, is die eindresultaat van hul interne debatte oor of die kommentaar gesluit moet word al dan nie, dat “ons graag eerder geken wil word aan die kwaliteit van ons inhoud as vir ons kommentare”.

Dis ʼn interessante standpunt, en ʼn geldige een, as mens in gedagte hou dat News24 tans sowat 9.3 miljoen unieke gebruikers per maand het (bron: The Space Station). Om die kommentare van soveel mense te monitor en bestuur, is ʼn perd van ʼn ander kleur. Met Maroela Media se sowat 1 miljoen maandelikse unieke gebruikers sien ons egter nog kans om dié perd op te saal, al is dit ʼn wilde een.

Die mediabedryf is die afgelope paar jaar gekenmerk deur groot veranderings, waarvan die kern die oorgang van gedrukte na digitale media was. Die wyse waarop joernalistiek bedryf word, is ten diepste deur hierdie oorgang geraak. Om ʼn storie te “breek”, het ʼn heel ander betekenis as vyf jaar gelede. Die tyd wat verloop vandat ʼn storiewenk ontvang word tot die storie gepubliseer word, is ʼn fraksie van die tyd wat dit voorheen was. ʼn Hoofstorie is selde langer as ʼn uur of vier die hoofstorie voor ʼn nuwe groot storie hom onttroon. Die lengte van ʼn storie in digitale formaat is dikwels veel korter as die gedrukte formaat, omdat digitale lesers bloot langer stories ignoreer. Media soos foto’s, klank en video’s kan in digitale media ingespan word om lewe aan ʼn storie te gee, waar dit in gedrukte media nie moontlik is nie.

Daar is ook negatiewe aspekte aan hierdie oorgang: Onervare joernaliste maak hulle dikwels skuldig daaraan om inligting wat hulle op sosiale media gekry het, as feite te publiseer sonder om die egtheid daarvan na te gaan. (Dis mos maklik om na die tyd ʼn foutjie op ʼn digitale platform reg te stel.) En ervare indieptejoernaliste het selde die geleentheid om indiepteverslaggewing te doen, omdat min digitale publikasies die luukse het om ʼn joernalis vir dae aan een storie te laat werk.

Buiten die positiewe en negatiewe aspekte van die oorgang van gedrukte na digitale joernalistiek het daar op digitale platforms, myns insiens, ʼn nuwe tipe gemeenskapsjoernalistiek begin ontwikkel. Lesers van digitale platforms, of kom ons verwys maar spesifiek na Maroela-lesers, neem self eienaarskap vir inligting wat gepubliseer word, en word deel van die storie deur in die kommentaar-gedeelte gesprek daaroor te voer. Ja, soms (dikwels) ruk dit hand-uit. Maar meestal ontwikkel daar onderaan stories gesprekke wat vir ons en ons lesers meer vertel oor hoe ander dink en voel; dit gee lesers die geleentheid om met mekaar te redeneer en te stry en mekaar digitale bloedneuse te gee. Dit ontwikkel denke en vorm menings. Lesers besef “almal dink nie soos ek nie”, en “ons hoef nie almal saam te stem nie”. Só ontwikkel ʼn digitale gemeenskap – een van die eienskappe wat Maroela juis anders maak as ander digitale mediaplatforms.

Dit gebeur ook van tyd tot tyd dat die kommentaar wat op stories gelewer word, nuuswenke bevat wat lei tot opvolgstories. ʼn Paar maande gelede berig ons oor ʼn jong vrou van Schweizer-Reneke in Noordwes wat in ʼn koma is na ʼn baie ernstige motorongeluk. Twee dae later deel ʼn Maroela-leser in die kommentaar-afdeling mee dat die jong vrou oorlede is, en almal wat saam gebid en gehoop het, kry die geleentheid om hul simpatie te betuig.

Die funksie van kommentaar wat my die meeste raak, is hoe dit mense wat by die storie betrokke is, in staat stel om self te kom saamgesels. In ʼn onlangse storie met videomateriaal oor ʼn tienermeisie wat plaasaanvallers met ʼn haelgeweer aangedurf het, het die tienermeisie, Su-Márie, na ʼn hewige debat in die kommentaarafdeling oor of sy reg opgetree het of nié, self kom kommentaar lewer: “Hierdie kommentaar wat gelewer word, is ʼn duidelike aanduiding dat ons Afrikaners NOOIT Suid-Afrika ʼn beter en veiliger plek gaan maak nie. Al wat ons doen is die sleg uitwys en kerm! Waar is die boerebloed wat so diep in ons loop? Ek is baie teleurgesteld. Hierdie artikel is nie veronderstel om my op te hemel of ʼn debat te begin oor wat ek moes doen en nie moes doen nie. Hierdie moet ons bewus maak van die gevaar. Wanneer gaan ons ophou onder mekaar rusie maak en begin saamstaan?”

Om ʼn kommentaarfunksie te sluit, beteken dat lesers ontneem word van die geleentheid om hulle uit te druk; om mekaar se standpunte aan te vat en hul eie te verdedig; om met mekaar simpatie te betuig, meelewing te betoon en deel van die storie te word. Nie net van die storie nie, maar ook van ʼn gemeenskap – iets wat in die Suid-Afrikaanse realiteit ʼn baie groot behoefte is.

Dus, solank Maroela Media dié perd kan ry, sal ons hom ry.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Hein ·

Dankie Susan, dit is juis wanneer mense ophou praat dat die moeilikheid begin!

Nell Weyer ·

Baie dankie vir die geleentheid om kommentaar te lewer. Ek hoop dat Maroelamedia sommer gou die grootste nuusnetwerk sal wees.

Melt Olckers ·

Media24 se besluite in die laaste paar jaar is soos iemand wat probeer stroom op swem. Waar baie koerante begin kyk na nuwe maniere om nuus te versprei soos om advertensies te verkoop wil Media24 nog steeds die geld van die leser af kry. Nou met die sluiting van die kommentaar funksie is dit duidelik dat hulle in werklikheid oorweldig was deur hulle lesers wat ‘n ander opinie as hulle adverteerders het.
Media24 bedien nie hulle mark nie, en dit sal die einde beteken van die groep of hulle kan dalk ingesluk word deur ander groepe.

Sarel Strydom ·

Kommentaar of nie, dit is die vraag. Ek stem saam dat lesers kommentaar kan lewer, maar ek het ook beleef dat jy kommentaaar kry wat alles behalwe opbouend. Dit is asof party mense gereed sit met klippe, men sdra hulle dan die geleentheids kry, word die klippe gegooi ongeag wie getref word. Soms is die kommentaar bevlek met vuil en rasistiese taal. Nou daarvoor het ek ander mediums gestop en gebruik ek slegs Maroela. Dankie vir julle kwaliteit beriggewing.
Mag ons net DINK voor jy kommentaar lewer.

cobus coetzee ·

Dankie Susan , jy is voorwaar ‘n goeie Redaktuer wat om sien na mense se lees gewoontes en komentare. Dit is ‘n Riem onder die hard om nog na sulke redakteurs te luister en te lees.

Dave ·

Susan, danksy jou is ons deel van die koerant en nie buitestaanders nie. Niks kan ons meer bind aan jou koerant as juis dìt nie. Dankie daarvoor.

Pieter Cloete ·

Ek is baie trots op Maroela Media !!!
Ek onthou nog die tyd toe Media 24 (Naspers) aangekondig het hulle gaan Nuus24 toe maak (2013) en net fokus op hulle bestaande aanlyn platforms (Beeld, Rapport ens) dmv kyk en betaal. Maroela Media het toe voortgegaan om die Afrikaanssprekende mark op hoogte te hou van nuus in hul eie taal – GRATIS.

Media 24 het vinnig gesien dit werk nie so lekker nie en het toe weer aangekondig dat hulle weer ‘n Afrikaanse nuus platform gaan skep – Netwerk 24 (2014).

Die week het Netwerk 24 aangekondig hul gaan hulle kommentaar onder nuusberigte aftehaal – Kyk, ons Afrikaanssprekendes hou mos van ons opinie lig né!

Goeie nuus is dat Maroela Media nogsteeds kommentaar toelaat. Doen so voort Susan Lombaard en span!!!

Johann Basson ·

Bepalings en voorwaardes: 5 DEELNAME DEUR LESERS: “Kommentaar word outomaties en onveranderd op Maroela Media geplaas soos wat dit gelewer word.”

As leser vind ek enige eensydige redigering van my briewe en kommentare se titels en die inhoudelike deur sekere ander media-redaksies as voortvarendheid en onaanvaarbaar. Hulle ontvang geen verdere briewe en kommentare van my nie. Voorspoed Maroela Media!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.